Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

10/28/2011

Skaapkop is nie vir sissies nie

Met die ore nog aan, ’n mond, tande, ’n tong en oë wat vir jou staar van die bord af is skaapkop nie sommer vir die oningewydes nie. Vir meeste van ons is dit vreesaanjaend net om daaraan te dink. “En dit is ’n jammerte, want jy sal ver en wyd moet kyk vir ’n lekkerder tradisionele gereg.” So sê professor Reidar Mykletun van die Universiteit van Stavanger in Noorweë.

Skaapkop word hier plaaslik beskou as ’n Suid-Afrikaanse lekkerny, maar dit is al veel langer gesog in Noorweë. Met goeie aartappels, kool, bier en aquavit laat skaapkop talle Noorweërs se mond water – maar ook nie almal s’n nie.

Professor Mykletun het saam met professor Szilvia Gyimóthy van die Universiteit van Aalborg navorsing gedoen oor kos wat ons bang maak en hoe hierdie disse geleentheid bied aan die entrepreneurs onder ons.

Volgens Mykletun is die eet van kos wat jou bang maak ’n avontuurlike ervaring. Aanvanklik bestaan daar konflik tussen die uitdaging om ’n nuwe smaak aan te durf en die vrees vir ’n slegte smaak. Dit is veeleisend, maar wanneer jy dit bemeester raak dit iets waarop jy trots is.

Skaapkop is veral vreesaanjaend, want dit voel ongemaklik baie soos om iets te eet wat lewendig is. Die voorkoms van die kop is skrikwekkend en om aan iets se gesig te begin eet is weersinwekkend. Almal van ons het ’n basiese gevoel oor wat reg en wat verkeerd is om te eet, en koppe val meesal in laasgenoemde kategorie.

Boonop is die reuk van gerookte skaap ’n hindernis op sigself. Dit is ’n kragtige aroma wat ’n onbewuste invloed op ons het. Dit is ’n waarskuwing dat ons te doen het met iets gevaarlik of onaangenaam. Wat dit nog moeiliker maak om die skaapkop aan te pak.

Mykletun wys egter daarop hoe verskeie entrepreneurs in Noorweë die eet van skaapkop iets nuwerwets gemaak het waarvoor mense weer toustaan. Koppe word op nuwe, innoverende maniere gaargemaak, soos om die wol af te brand sodat die vleis uiteindelik ligter van kleur is. Dit maak dit meer aanvaarbaar vir diegene wat dit die eerste keer wil probeer.

Verskeie restaurante bemark dit as ’n uiterste ervaring, wat dit ’n aantreklike bestemming maak vir toeriste. Ivar Løne, groot verskaffer van skaapkoppe, het ’n restaurant op sy plaas wat spesialiseer in skaapkop. Smalahovesleppet is ’n Noorweegse fees, spesiaal vir skaapkop. ’n Hotel in Noorweë, die Fleischer Hotel, hou selfs spesiale skaapkoppartytjies. Heelwat toeriste gaan deesdae huis toe met skaapkopaandenkings.

Volgens Mykletun is daar verskeie sulke geregte in die wêreld wat vrees inboesem. In Swede eet hulle gegiste haring uit ’n blik. In Ysland is verrottende haaivleis ’n spesiale bederfie. Die Skotte sweer by haggis, die skaap se maag wat met sy binnegoed gestop is. Die Franse eet paddas, die Chinese het honde op die spyskaart en Nieu-Seelanders eet seemeeue. In verskeie Asiatiese lande is slang niks snaaks op die spyskaart nie.

Enkele township restaurante in Suid-Afrika bedien reeds hoenderpote en ander ongewone disse. Dalk is die tyd nou ryp vir ’n entrepreneur om die geleentheid aan te gryp om die wêreld bekend te stel aan ons “minder gewone” etes.

Skaapkop / Smiley resep >>

(foto Svein Halvor Halvorsen)

No comments :

Post a Comment