Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/09/2013

Verroomde broccolisop met feta / Creamed Broccoli Soup with Cream

'n Elegante sop met 'n eiesoortige aroma. Presies wat jy nodig het om by jou repertoire te voeg hierdie winter.

Voorbereidingstyd:    30 minute
Kooktyd: 20 minute
Die resep is genoeg vir 6 persone.

30 ml botter of margarine
± 500 broccoli, afgespoel en in blommetjies verdeel
1 medium ui, fyngekap
1  knoffelhuisie, fyngedruk
60  ml meel
1 liter water
10 ml hoenderekstrakpoeier
250 ml melk
knypie neutmuskaat
250 ml room
30 ml sjerrie of witwyn
200 g feta, in blokkies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
gekapte stingeluie of pietersielie

Plaas die botter, broccoli, ui en knoffel in 'n soppot en kook stadig vir 10 minute. Die groente moet sag raak, nie verbruin nie.

Roer dan die meel by, daarna die ekstrakpoeier en water. Bring tot kookpunt.
Draai die hitte af en prut vir 20 minute.
Laat dit vir 'n paar minute afkoel.

Verwerk dit nou in 'n voedselverwerker tot glad, of soos jy dit verkies.
Gooi dit nou terug in die pot en roer die melk en neutmuskaat by.
Bring tot kookpunt en laat vir 3 minute prut.

Roer die room en sjerrie by en geur liggies met sout. Onthou dat indien jy in Suid-Afrika is en gewone supermark feta gebruik, dit reeds baie sout is.
Geur met swartpeper en bring weer tot kookpunt net voor jy dit bedien.

Gooi die feta in die sop net voor jy dit uitskep.
Strooi stingeluie oor elke porsie en bedien dit saam met volgraan of varsgekapte brood.


Variasies
Vir 'n minder ryk sop kan jy die room vervang met 250 ml melk waarby 30 ml mieliemeel geroer is.

Jy kan ook die feta vervang met mozzarella of halloumi.


Jy kan dit as 'n koue sop in die somer bedien deur dit in die yskas te verkoel voor jy die feta bygooi. Die feta wat jy uiteindelik bygooi moet baie fyn gekap wees.


Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

No comments :

Post a Comment