Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/26/2013

Neut-, semel- en saadbeskuit

Doop dié allerheerlikste bros gesondheidsbeskuit in die eerste koppie koffie of tee om die oggend op 'n eg Suid-Afikaanse manier te begin of peusel enige tyd van die dag daaraan.

Voorbereidingstyd: 20 min
Baktyd: 45 min
Lewer: Ongeveer 50 beskuite, afhangend van die grootte

Wenk: Die mengsel van vrugte, sade en neute moet altesaam 750 ml / 3 koppies wees. Wissel die aparte items af soos verkies of volgens wat beskikbaar is.

375-500 ml suiker (na smaak vir soeter of minder soet beskuit)
1,125 ml koekmeelblom
1,125 ml spysverteringsemels
30 ml bakpoeier
7,5 ml sout
60 – 125 ml pitlose rosyne (opsioneel)
250 ml sonneblomsaad
125 ml pampoensaad
125 ml lynsaad of sesamsaad
125 ml grofgekapte neute, bv. brazil-, pekan- of okkerneute
450 ml botter, gesmelt maar nie warm nie
625 ml melk
10 ml koeksoda
60 ml wit asyn

Smeer ‘n groot oondpan (± 40 x 30 cm) met botter en voorverhit die oond tot 180ºC.

Meng die droë bestanddele in ‘n mengbak en maak ‘n holte in die middel. Voeg die botter en melk by en meng die koeksoda en asyn saam voordat dit ook bygevoeg word. Meng goed en keer uit in die oondpan.
Bak ongeveer 45 minute of totdat die beskuitlaag ferm voel en bo-op verbruin het maar nie te bruin is nie.

Laat heeltemal afkoel voordat dit in vingers gesny word.

Pak die beskuite effens uitmekaar op ‘n bakplaat in die oond en plaas ‘n lepel in die oonddeur om dit effens oop te hou sodat die vog kan verdamp terwyl die beskuit uitdroog.
Droog die beskuit uit in ‘n baie koel oond gestel tussen 60-70ºC vir ongeveer 5-6 ure lank of tot heeltemal droog. Pak in lugdigte houers om te bêre.

Resep: Carolie de Koster

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment