Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

12/07/2013

Appel sneeu nagereg / Appel sneeupoeding

Daar is 'n paar variasies van die resep:

Appel sneeu – Op sy eie is hierdie 'n ultra ligte nagereg.
Appel sneeu met vla – Jy kan die eiergeel gebruik vir vla. Skep die sneeupoeding by die afgekoelde vla.
Gevriesde appel sneeu – Word appel roomys wanneer jy dit vries. Jy kan nog room bysit as jy wil.

Voorbereidingstyd: 5 minute
Gaarmaaktyd: 5 minute, 10 minute indien jy dit saam met die vla bedien
Bedien: 6 – 8

2 Granny Smith appels, geskil, ontpit en in stukkies gesny
30 mℓ water
75 mℓ suiker
knippie sout
75 mℓ ekstra water
4 eierwitte

Vanilla vla
5oo mℓ melk
4 eiergele
60 mℓ suiker
knippie sout
30 mℓ mieliemeel
5 mℓ vanillageursel

Bestanddele vir roomys
125 mℓ geklopte room (opsioneel)
30 mℓ suiker
'n paar druppels vanillageursel



Plaas die appels in 75 mℓ water in 'n souspan en prut stadig tot die appel sag is. Jy kan dit ook in die mikrogolf in 'n half-bedekte beker op Hoog sagmaak. Gebruik 'n voedselverwerker om die appel tot 'n sous te verwerk.

Meng die suiker, sout en 75 mℓ water en bring tot kookpunt. Prut vir 1 minuut tot dit stroperig is.

Nou klop jy die eierwitte styf en gooi die warm stroop stadig by terwyl jy klop. Hou aan tot dit blink en styf is.

Vou die appelsous by en verkoel.

Jy kan dit in langsteel glase bedien.

Indien jy die vla opsie wil gebruik (Appel sneeu met vla), kan jy sommer jou mikrogolf inspan. Verhit die melk in die mikrogolf tot kookpunt.
Klop die eiergeel, suiker, sout en mieliemeel saam in 'n groot mikrogolfbak en voeg die warm melk by. Mikrogolf op hoog vir 1 minuut – die mengsel moet net begin verdik.
Klop dit goed en mikrogolf vir nog 30 sekondes tot 1 minuut. Die mengsel moet dik wees en borrel.
Klop dit weer en laat dan staan om af te koel tot kamertemperatuur.

Jy kan dit in bakkies of glase skep en dan bedek met die sneeupoeding. Hou dit in die yskas tot jy dit bedien.

Om die roomys te maak (Gevriesde appel sneeu) meng jy die afgekoelde vla en die sneeupoeding en vries dit tot dit begin yskristalle vorm. Dit neem omtrent 2 uur.
Klop dit goed om die yskristalle op te breek en vries weer.

Jy kan ook 'n meer ryk roomys voorberei deur die geklopte room, suiker en vanilla by die laaste roer te voeg.

Vries dit vir ten minste nog 3 – 4 uur voor jy dit bedien.

Resep: Carolie de Koster

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment