Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/06/2012

Oeufs Princesse Elizabeth

Met die Olimpiese Spele in gedagte is vandag se resep iets spesiaals. Die resep is 'n skepping van die bekende Tour d’Argent restaurant in Parys, Frankryk. Volgens die restaurant bestaan hulle al sedert 1582, maar daar is net bewyse dat hulle wel in 1860 reeds bestaan het.

Hulle spesialiteit is eend en die restaurant besit 'n plaas waarop hulle eende geteel word. Indien jy 'n eend bestel ontvang jy 'n poskaart met die eend se reeksnommer op.

Tour d’Argent se wynkelder, wat 24 uur bewaak word, is ook indrukwekkend, met 450 000 bottels ter waarde van meer as R300 miljoen.

So wat het die hotel met die Engelse te doen? In 1948 het 'n jong prinses Elizabeth die area besoek. Ter viering hiervan het die restaurant se sjef spesiaal 'n dis geskep vir die jong prinses Oeufs Princesse Elizabeth.

Hierdie weergawe is so bietjie meer bekostigbaar as die oorspronklike wat baie truffels bevat.

Jy begin met 2 hardgekookte eiers per persoon. Sny die punte van die eiers af, net so dat die geel sigbaar is.
Nou druk jy die geel versigtig uit die wit.
Druk die geel van die eier fyn met 'n vurk saam met saggekookte artisjokharte, 'n paar druppels truffelolie, sout, peper en 'n knippie neutmuskaat.

Vul die eierwit versigtig met die mengsel.
Hou die groter punt van die eier plat, sodat die eier kan regop staan. Maak die bokant mooi rond met die mengsel.
Probeer nou die eiers staan maak op gekookte artisjokharte in 'n oondbak. Sny die harte indien nodig.
Vul die bodem met Mornay-sous en gooi 'n bietjie daarvan oor elke eier.
Strooi gerasperde parmesaan oor die eiers en verbruin dit by 180°C vir 10 minute.

Jy kan dit bedien saam met gesnyde sampioene wat in botter en 'n bietjie soetwyn gebraai is.


No comments :

Post a Comment