Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/16/2013

Hollandse ertjiesop

Die sop is geurig en besonders ryk in voedingswaarde.

250 g groen split-ertjies
500 g beesskenkel of varkpootjie
2 liter koue water
2 groot selderystingels met blare, grof gekap
1 ui, grof gekap
1 prei, in ringe gesny
2 groot wortels, in ringe gesny
2 groot aartappels, in kwarte opgesny
125 g swoerdlose spekrepies (±6)
50 ml koekmeelblom
500 ml water of melk
5 ml biefekstrakpoeier
2,5 ml sout
30 ml gekapte pietersielie
1 - 2 gerookte kontinentale worse (opsioneel), byvoorbeeld 1 Hollandse kookwors of 2 Frankfurters
sout en wit / vars gemaalde swart peper
'n bietjie ekstra water om te verdun (opsioneel)

Plaas die ertjies, vleisbene en 1 liter van die water in 'n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, bedek gedeeltelik en prut stadig vir ongeveer 1 ½ uur of totdat die vleis en ertjies heeltemal sag is. Laar 'n rukkie afkoel.

Plaas intussen die oorblywende water in a kastrol saam met die seldery, ui, prei, wortels en aartappels en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, bedek en prut totdat die groente heeltemal sag is, Laat 'n rukkie afkoel.

Lig die vleisbene met 'n dreineerlepel uit die eerste kastrol en plaas die ertjies en vloeistof in die bak van 'n voedselverwerker. Versap tot glad en giet die puree terug in die kastrol.

Plaas 'n sif oor die kastrol en giet die groente en vloeistof daardeur. Plaas die groente in die bak van 'n voedselverwerker en versap to glad. Voeg by die kastrol met die ertjiepuree en vloeistof.

Verwyder die vleis van die bene, doen weg met die vet en bene en sny die vleis in klein stukkies, Voeg die vleis by die kastrol.

Kap die spek grof en braai in 'n aparte kastrol tot gaar maar nog nie bros nie. Roer die meelblom en water of melk by en bring tot kookpunt terwyl met 'n ballon draadklitser geroer word om 'n gladde verdikte sous te verkry. Voeg die sous by die sop.

Roer die mengsel tot egalig vermeng en voeg die biefekstrakpoeier, sout, pietersielie en gerookte wors by en prut stadig vir 15 minute lank. Pas die geurmiddels aan en voeg nog 'n bietjie water by om die sop te verdun indien nodig.

Haal die wors uit en sny in skyfies by die sop te voeg of bedien apart indien verkies. Bedien stomend warm met warm roosterbrood en botter, volgraan-en-rogmeelbrood of broodrolletjies, tuisgemaak of gekoop.

Bedien 10 tot 12 persone.

Berging
Indien die sop slegs met water gemaak is kan dit tot 'n week lank in die yskas bewaar word. As melk bygevoeg is, verkoel die sop vinnig en hou nie langer as 3 dae in die yskas nie want die sop mag suur word.

Bevriesing
Die sop vries baie goed, tot 'n maand lank. Laat oornag in die yskas ontdooi of ontdooi in die mikrogolfoond. Verhit stadig bo-op die stoof terwyl af en toe geroer word of in die mikrogolfoond op medium tot stomend warm.

Variasie
Vegetariese split-ertjiesop

Om 'n heerlike vegetariese ertjiesop te maak, laat die vleisbene en wors weg en vervang die biefekstrakpoeier deur groente-ekstrakpoeier om the verseker dat die sop geurryk en bevredigend sal wees.


Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

No comments :

Post a Comment