Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/24/2013

Bobotie fillopasteitjies

Fillodeeg gee ‘n fynproewersvoorkoms aan alledaagse kos. Tradisionele bobotie bees of lam maalvleis maak ‘n heerlike vulsel vir pasteitjies. Bedien met geurige geelrys, Mev. HS Ball se blatjang (sien resepte) en bakkies met sambals soos pynappelblokkies, komkommerskyfies, gemengde groen -, rooi- en geel soetrissies, en geroosterde kasjoeneute of grondboontjies (sien foto).

Wenk
Die pasteitjies kan vooraf gevul en gevorm word en ‘n dag of twee in die yskas gehou of gevries word tot kort voordat dit gebak word. Ontdooi bevrore pasteitjies ‘n rukkie lank terwyl die oond voorverhit word en bestryk met gesmelte botter voordat dit gebak word.

Voorbereidingstyd: 45 min
Gaarmaaktyd: 20 min
Lewer: 12 pasteitjies

8 velle fillodeeg
125 ml gesmelte botter

Bobotievulsel
500 g maer bees- of lamsmaalvleis
2 middelslag uie, fyngekap
20 ml matige of sterk kerriepoeier
1 ml borrie
5 ml gemaalde koljander
1 ml gemaalde gemmer OF 5 ml gerasperde vars gemmer
5 ml gekapte knoffel (1 huisie)
1 ml gekapte groen brandrissie (opsioneel)
2 grasuie, fyngekap
30 ml appelkooskonfyt
15 ml wit asyn
2.5 ml beesvleisekstrakpoeier
2.5 ml sout
15 ml koekmeelblom
1 eier



Plaas die vleis, ui, kerriepoeier, borrie, gemaalde koljander en (gemaalde) gemmer in ‘n kastrol en roer-braai 8 - 10 minute totdat die vleis krummelrig en gedeeltelik gaar is.
Voeg die (vars) gemmer, knoffel, brandrissie en grasui by en roer en braai nog 2 minute.
Roer die appelkooskonfyt, asyn, ekstrakpoeier en sout by en roer en braai nog 2 minute. Voeg die meel en eier by en meng goed. Laat tot kamertemperatuur afkoel en verdeel in 12 ewe groot hopies om die pasteitjies te maak.

Plaas 8 velle fillodeeg opmekaar en vou ⅓ van die wydte van die deeg van die regterkant na die middel en druk plat en dan die ander ⅓ van die linkerkant en druk op die voulyne plat met die handpalms. Vou die deeg weer oop en sny op en deur die voulyne om 24 stroke te maak, elk ⅓ van die wydte van die deeg. Plaas die stroke opmekaar en bedek met n kombuisdoek.

Voorverhit die oond tot 180 ºC terwyl die pasteitjies gevul en gevou word. Bestryk ‘n oondpan met gesmelte botter.

Bestryk die eerste strook deeg met gesmelte botter en bedek met ‘n tweede strook. Skep een van die porsies vulsel 2,5 cm weg van die basislyn en vou die 2,5 cm stukkie deeg oor die vulsel om die pasteitjie te verseël.

Om driehoeke te vou, lig die deeg en vulsel by die basislyn op en vou oor na links sodat dit in lyn kom met rand van die strook. Vou vorentoe, dan na regs en weer vorentoe totdat die hele strook gebruik is en ‘n driehoek vorm. Herhaal met die oorblywende stroke en vulsel.

Plaas die driehoeke netjies op die bakplaat sodat die lang kante teen mekaar lê en twee pasteitjies saam ‘n vierkant vorm. Bestryk die pasteitjies met gesmelte botter en bak 15 – 20 minute of tot 'n ligte goudbruin en bros.

Resep: Carolie de Koster

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment