Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

12/05/2013

Neut, groente en kruisskyf noedelslaai

'n Geurige Viëtnamese slaai met 'n verskeidenheid teksture. Jy kan dit oor en oor maak, met 'n aanpassing hier en daar om daardie dag se giere en beskikbare bestanddele te akkommodeer.

Let wel:
• Dit kan enige soort olie wees – sonneblom, sesam, grondboontjie of olyf.
• Rys noedels kom nie altyd maklik los vanmekaar nie. Die maklikste manier is om net die die deel van 'n pak vermicelli rys noedels wat jy wil gebruik in kookwater te dompel. Sodra dit sag word sny jy dit los van die res van die noedels. Laat die nat punte van die oorblywende noedels eers droog word voor jy bêre.
• Indien jy 'n ander gunsteling Thai slaaisous het, kan jy dit gebruik inplaas van die een in die resep.
• Jy kan die kruisskyf vervang met hoenderborsies of skoongemaakte garnale.

Voorbereidingstyd: 20 minute plus 1 uur om die vleis te marineer
Gaarmaaktyd: 20 minute
Lewer: 6

Vleis
± 300 g skywe kruisskyf (rump steak), die vet verwyder – gebruik gerus meer of minder vleis
30 mℓ sojasous
30 mℓ sjerrie
5 mℓ heuning of bruinsuiker
5 mℓ balsemasyn
5 mℓ vars gerasperde gemmer
15 mℓ olie

Noedels
±125 g vermicelli rys noedels
15 mℓ olie

Groente 15 mℓ olie
1 medium wortel, in 1 cm julienne-repies gesny
¼ elk rooi, groen en geel soetrissie, sny in repies
1 – 2 huisies knoffel, fyn opgesny
½ medium komkommer, in 1 cm julienne-repies gesny
3 medium stingeluie, diagonaal in stukkies gesny
5 mℓ fyn gesnipperde suurlemoengras (opsioneel)
5 mℓ fyn gesnipperde kruisement en/of koljander (opsioneel)

Slaaisous
5 mℓ rooi Thai kerriepasta of Thai geurmengsel
15 mℓ soet rissiesous
15 mℓ lemmetjie- of suurlemoensap

Garnering
sout en varsgemaalde swartpeper
125 mℓ geroosterde grondboontjies of kasjoeneute
diagonaal gesnyde groen punte van stingeluie

Meng die sojasous, sjerrie en heuning / bruinsuiker, balsemasyn en gemmer en gooi dit dan oor die vleis in 'n mengbak. Laat die vleis marineer vir 1 uur. Draai dit om van tyd tot tyd.

Bedek die noedels met kookwater vir 5 minute.
Dreineer die noedels in 'n vergiettes en spoel af met koue water.
Werk die olie deur die noedels met jou vingerpunte.
Gebruik 'n skêr om deur die noedels te knip. Probeer om die stukkies sowat 10 cm lank te kry. Hou die noedels eenkant.

Dreineer die vleis, maar behou die marinade.

Verhit 'n swaarboom souspan tot baie warm en gooi dan die olie by.
Verbruin die vleis aan albei kante – dit neem sowat 2 minute aan 'n kant. Dit moet nog rou tot medium-rou in die middel wees.
Laat die vleis afkoel, sny dit in dun skyfies en gooi dit in 'n mengbak.

Plaas die noedels in dieselfde souspan saam met die gereserveerde marinade en kook vir 4 – 5 minute.
Gooi dit nou by de vleis.

Verhit die olie vir die groente in 'n skoon souspan. Braai die wortels vir 1 minuut.
Voeg die soetrissie by en braai nog 1 minuut.
Nou kom die knoffel, komkommer, stingelui en suurlemoengras by. Braai 1 minuut.
Verwyder van die hitte.

Gooi die kruisement / koljander en slaaisous by die groente en meng goed. Gooi dit by die bestanddele in die mengbak.
Gooi die helfte van die neute by en meng liggies.
Geur met sout en peper.

Gooi die slaai uit in die bak of bord waarin jy dit gaan bedien.
Strooi die oorblywende neute en die stingeluie oor.



Hierdie slaai kan effens warm, by kamertemperatuur of koud bedien word.

Resep: Carolie de Koster

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment