Loading

Braai | Brood | Drankies | Eier | Graan | Groente | Happies | Inlê | Kaas | Koek | Koekies | Nagereg | Pasta | Pluimvee | Slaai | Sop | Souse | Vegetaries | Vis en Seekos | Vleis | Wild | Voorgereg | Hoofgereg | Slaai | Nagereg

Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Wyn | Wynwoordeboek

7/02/2008

Indeks S

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
saadbal
Die manlike geslagklier wat die saad voortbring. Veral die van 'n ram, bul of lam word graag geëet. Ook bekend as die testis, testikel of teelbal.
saffraan
Saffraan is 'n spesery berei uit die stampers van die krokusplant Crocus sativus.
sago
'n Soort voedsel wat verkry word uit die die murg van sekere palmsoorte, veral die sagopalm. Dit word ook van aartappels verkry.
sagopalm
'n Soort palm waarvan sago verkry word, veral van die geslag Metroxylon
sagopoeding
'n Poeding berei uit sago. resep ->
salie
Salie is ’n kruid met ’n sterk, pikante smaak.
salot
'n Salot is 'n klein soort ui met die geur en vorm van knoffel.
salpeter
'n Kristalvormige delfstof (kaliumnitraat) waarvan potas 'n hoofbestandeel is.
sambal
'n Gekruide slaai wat tradisioneel saam met vleis geëet word. sambal resep uie sambal resep piesang sambal resep
samma
'n Wilde waatlemoen, Citrullus vulgaris, wat in woestynagtige streke groei. Ook bekend as die tsamma.
sampioen
'n Groep fungi (sien fungus) met 'n sambreelagtige voorkoms. Slegs party soorte is eetbaar, ander is giftig. Die soort Agaricus campestris kan kunsmatig gekweek word. Ook genoem kampernoelie of paddastoel.
sandappel
'n Struik, Parinari capense, met 'n donkerbruin, sterk ruikende, soet vrug met grys spikkels. Dit word in dele noord van die Vaalrivier in Suid-Afrika aangetref.
sandkruiper
'n Soort eetbare seevis wat in vlakkerige water voorkom en in die sand wegkruip.
satsuma
'n Ronde pruim met 'n donkerrooi skil.
sauerkraut
Fyngesnyde witkool wat gesout en gefermenteer word. Dit is 'n Duitse woord wat "bitter kruid" beteken. In Afrikaans ook "suurkool" genoem.
sauté
Wanneer jy voedsel verbruin met vet in 'n pan. Wanneer die voedsel ter sprake dik is, soos byvoorbeeld met hoender, dan moet die pan na die verbruining bedek word. Wanneer die pan of pot bedek is word dit van tyd tot tyd wild geskud om te verseker dat alles eweredig aan alle kante kook. Die vloeistof wat oorbly na die kookproses word gewoonlik gebruik as 'n sous. Die woord beteken 'spring' en verwys na die manier wat die kos beweeg as jy die pan skud. 'n Afrikaanse woord wat vir die proses gebruik word is opskud.
sauvignon blanc
'n Witdruifsoort uit Bordeaux in Frankryk.
seebaars
'n Seevis met delikate vleis.
seegras
'n Plant wat in vlak seewater groei.
seekomkommer
Dit is 'n wurmagtige seedier. Dit word in die Ooste as 'n lekkerny beskou. Dit staan ook bekend as 'n holoturium.
seekos
Alle eetbare soorte voedsel wat uit die see kom.
seldery
'n Plant waarvan die blare, stingels en wortel as groente gebruik word.
selonspampoen
'n Soort pampoen wat soos 'n kalbas lyk. Ook genoem kalbaspampoen.
semels
Die fyngemaalde doppe van graankorrels wat uitgesif is.
semolina
Semolina is 'n korrelrige meel.
sesam
Saad van 'n tropiese plant.
Seviche
'n Tradisionele Suid-Amerikaanse gereg van vis gemarineer in suurlemoen- of lemmetjiesap. Alternatiewe spellings is Ceviche of Cebiche.
Sharp se grysbok
'n Soorte wildsbokkie, Rhaficerus sharpei, wat in die Noordelike Provinsie van Suid-Afrika en Swaziland tot Malawi voorkom.
Shimeji
'n Sampioen met 'n neutagtige geur.
Shitake
'n Shitake met 'n sponserige tekstuur en 'n rokerige geur.
sider
Drank berei uit gegiste vrugtesap van appels of pere.
sigorei
Die geroosterde en gemaalde wortel van die plant word by koffie gevoeg. Wanneer dit as groente gebruik word, word meesal daarna verwys as witloof, of soms ook brusselslof.
sirkhomo
Sirkhomo is 'n tradisionele Moslem melkdrankie.
sitrus
'n Algemene naam vir vrugte van die geslag Citrus met sagte huisies en 'n dik skil. Dit word aangetref aan bome wat immergroen is.
sjampanje
Sjampanje is vonkelwyn uit die streek Champagne in Frankryk.
sjerrie
'n Wit of donker gefortifiseerde wyn met 'n neutgeur. Die naam is afgelei van die plek van oorsprong, Jerez in Spanje.
sjokolade
Lekkers gemaak van kakao, suiker en kakaobotter.
skaap
'n Herkouende, woldraende hoefdier, waarmee veral ter wille van sy wol en vleis geboer word.
skaapkop
Die kop van 'n skaap. In Suid-Afrika word ook daarna verwys as Smileys. skaapkop resep ->
skaldeer
Om tot net voor kookpunt te verhit.
skeet
'n Haai met 'n plat lyf. Ander name vir die haai is rog of vleet.
skelvis
'n Seevis met 'n swart systreep en 'n donker kol.
skenkel
Die deel van 'n dier se agterpoot wat ooreenkom met 'n mens se onderbeen.
skemerkelkie
'n Drankie wat teen die aand se kant gedrink word - veral 'n alkoholiese mengeldrankie.
skietmielies
Mielies wat oopbars tot sagte, ronde vorms wanneer dit verhit word.
Dit word ook genoem kiepiemielies, springmielies of kuikenmielies.
skilferkors
Tertdeeg wat, nadat dit gebak is, bros skilfers afgee.
skimmel
’n Draadvomige plant wat ’n swamvlok en swamdrade vorm en deur spore voortplant.
skon
'n Broodjie van fynmeel wat onder andere by ontbyt en middagtee geëet word.
skuimpies
Eierwitte wat saam met suiker styfgeklop en gebak word. Beter bekend as meringues. resep vir meringues / skuimpies ->
skumbani
'n Kwart brood, uitgehol en gevul met vleis, aartappels of enige van jou gunsteling bestandele.
slaai
'n Gereg gemaak van groente. Dit is ook die naam vir 'n plant, Lactuca sativa, ook bekend as blaarslaai.
smaakmiddel
Iets wat die smaak prikkel en smaak aan kos moet gee.
Smiley
Die kop van 'n skaap. Dit word so genoem as gevolg van die "glimlag" wat ontstaan wanneer die lippe opkrul as die kop gebraai word. Smiley resep ->
smoor
Langsaam gaar maak oor lae hitte in 'n toe pan, gewoonlik met 'n bietjie vog en vet.
smoorbraai
Langsaam gaar maak oor lae hitte in 'n toe pan, gewoonlik met 'n bietjie vog en vet.
snoek
'n Byna gladde, getande seevis, Thyrsites atun, blouswart met klein skubbetjies, tot 102 cm lank, wat aan die Suid-Afrikaanse kus op gesette tye in skole voorkom en as eetvis veral gesout verkoop word. Die naam word ook gebruik vir 'n vraatsugtige Europese soetwatervis, Esox lucius.
sodomsappel Die appelvormige geel vrug van 'n kruipplant met 'n bitter smaak (Solanum sodomaecum).
soe-soe
Soe-soe is 'n geel peervormige groente. Dit is beter bekend as 'n botterskorsie.
soetpappie
’n Eetbare plant met ’n blomkoolsmaak wat in die Hardeveld voorkom. Dit kan rou geëet of gebraai word. Ook genoem kannie, jakkalskos of kanika.
Soetrissie
Rissies wat nie brand nie.
sojasous
'n Sous berei uit wit sojabone.
sooi
Die proses om kos in 'n bietjie kokende water vinnig gaar te maak oor medium hitte.
sop
Vloeibare voedsel wat gemaak word deur die bestandele in water te kook.
sorbet
Gevriesde water wat sagter is en 'n meer korrelrige tekstuur het as roomys. Die basiese bestandele is water, vrugtesap of vrugtepuree, wyn, spiritus, likeur of 'n aftreksel van tee of kruisement. Die woord is afkomstig van die Turkse woord chorbet en die Arabiese woord sjarbat, wat beteken "om te drink". Die dis is van Arabiese afkoms. Sneeu is oorspronklik gebruik om die gereg te maak. Dit was die eerste gevriesde nagereg, roomys het eers in die 18de eeu verskyn. Dit word bedien as nagereg of tussen gange in 'n maal. Sorbets met 'n alkoholiese basis word bedien tussen hoofgeregte.
sosatie
Vleisrepe wat eers ingelê is en dan aan 'n spit geryg en gebraai is. Ook genoem kebab.
soufflé
'n Gereg berei met witsous, eiergeel en styfgeklopte eierwit, gebak met 'n smaakmiddel soos kaas. Die gereg rys met die ontwikkeling van stoom daarin. Dit moet vinnig gebak en vinnig bedien word, anders slaan dit neer. Dit kan ook as werkwoord gebruik word om te verwys na die proses van die gereg in 'n oond te bak.
sous
'n Bereide vloeistof wat gebruik word om die smaak van kos te verbeter.
sous américaine
'n Sous gemaak van kreef, botter en vis velouté.
sout
’n Wit harde stof, NaCl, wat gebruik word om 'n spesifieke smaak aan kos te gee of om dit teen bederf te bewaar.
soutgees
’n Suur bestaande uit ’n oplossing chloorwaterstof in water. Ook genoem soutsuur.
soutsuur
’n Suur bestaande uit ’n oplossing chloorwaterstof in water. Ook genoem soutgees.
Spaanse ertjie
Die eetbare peulgroente, Cicer arietinum, is van die oudste groente wat deur die mens verbou word. Die ertjie bevat baie proteïene. In Afrikaans is dit ook bekend as die keker, kekerertjie, dwergertjie, Indiese ertjie en garbanzo.
spaghetti
'n Tipe pasta. "Spago" beteken tou in Italiaans. Die pasta is oorspronklik 'n produk van die Italiaanse stad Napels. Dit bestaan uit toue pasta wat tradisioneel met 'n tamatiesous en Parmesan bedien is as 'n bykos vir pluimvee of kalfsvleis. Die inwoners van Napels eet dit graag saam met sampioene, ertjies en Mozzarella.
spanakopita
Spanakopita is 'n Griekse pastei van fillodeeg gevul met spinasie en feta.
spanspek
'n Soet, sappige vrug.
spatlo
'n Kwart brood, uitgehol en gevul met vleis, aartappels of enige van jou gunsteling bestandele.
spek
Die laag vet tussen die vel en vleis van varke.
spinasie
’n Groente met ’n subtiele smaak en hoë voedingswaarde. Jong spinasie kan in slaai gebruik word en hoef nie gaargemaak word nie.
spiritualieë
Sterk alkoholiese drank met uitsluiting van bier en wyn.
spoelkombuis
Die deel van die kombuis waar skottelgoed opgewas word.
spesery
Kruie en ander stowwe wat by voedsel gebruik word vir geur.
springer
Enigeen van verskeie soorte eetbare seevisse. Ook bekend as 'n harder.
springmielies
Mielies wat oopbars tot sagte, ronde vorms wanneer dit verhit word.
Dit word ook genoem kiepiemielies, skietmielies of kuikenmielies.
sprinkel
Die proses om 'n nat bestanddeel oor kos te drup.
sprot
'n Haringagtige seevis wat veral in die Baltiese see voorkom.
spruitkool
Kool met 'n aantal klein knoppies in die blaaras.
Ook genoem knoppieskool of Brusselse spruitjies.
spysvertering
Die omsetting in die liggaam van voedsel tot stowwe wat deur die bloed opgeneem kan word. Daar word ook hierna verwys as digestie.
spysverteringsemels
Die buitenste omhulsel van koringkorrels wat verwyder is.
stamp and go
Stamp and go in Jamaika is 'n poffertjie gemaak van 'n gekruide puree van groente of vis wat bedek word met deeg. Dit is veral gewild in die Karibiese Eilande. Dit word baie warm bedien as voorgereg of as 'n happie met 'n skemerkelkie. Stamp and go is beter bekend as acras maar word ook genoem marinades, bonbons à l'huile en surullitos in Puerto Rico.
stamper
'n Voorwerp wat gemaak is om mee te stamp.
steen
'n Druifsoort waarvan wyn gemaak word. Oorspronklik verbou in die Loire-vallei in Frankryk. Dit is beter bekend as chenin blanc.
steranys
'n Plant, Illictum anisalum, waarvan die stervormige sade 'n anysagtige smaak het.
steur
'n Eetbare, kraakbenige soetwatervis, Acipenser sturio. Die eiers word gebruik vir kaviaar.
stokvis
'n Donkerkleurige seevis wat tot 1,2 meter lank word en veral aan die Suid-Afrikaanse Weskus gevang word.
stoof
Die woord kan beteken die kombuistoestel met 'n oond, vir kook en verwarming. Dit verwys ook na die kookproses waar voedsel met 'n bietjie vloeistof langsaam in 'n geslote pot gaargemaak word.
stoom
'n Kookproses waartydens voedsel blootgestel word aan die stoom van vogtigheid met 'n egalige hitte.
stoomeier
'n Geposjeerde eier. Ook genoem 'n kaaleier of kalfsoog.
strem
Die proses van verdikking.
stremsel
Stremsel is voedsel wat verdik is. Dit verwys normaalweg na die preparaat uit die maag van diere wat gebruik word om melk te verdik.
strooi
Om droë bestanddele oor kos te gooi of sif.
strooisuiker
Dit het fyner korrels as suiker en los vinniger op. Dit room makliker en verleen 'n ligter tekstuur aan gebak.
struif
Eiers met melk, kaas en ander bestandele geklits en soos 'n pannekoek gebak.
Beter bekend as 'n omelet.
stysel
'n Meelproduk uit aartappels, graan of ander plante.
suédoise
'n Suédoise is 'n gestolde nagereg, gewoonlik van vrugtepuree, bedien met room of vla.
suiker
'n Soet plantaardige stof wat uit die sap van verskillende plantsoorte verkry word.
suikerklontjie
Suiker, min of meer, in die vorm van 'n blokkie.
Ook genoem klontjiesuiker, klontsuiker, klontjie en blokkiesuiker.
sult
Sult is 'n koue, jellieagtige gereg wat gemaak word van die afkooksel van die kop en pote van diere. Dit staan ook bekend as hoofkaas.
suring
'n Plant met 'n suur smaak. Dit word rou geëet of gaargemaak.
surullitos
Surullitos is 'n poffertjie gemaak van 'n gekruide puree van groente of vis wat bedek word met deeg. Dit is veral gewild in die Karibiese Eilande. Dit word baie warm bedien as voorgereg of as 'n happie met 'n skemerkelkie. Surullitos is beter bekend as acras maar word ook genoem marinades, bonbons à l'huile, sowel as stamp and go in Jamaika.
suur
'n Skeikundige verbinding wat suurstof met ander elemente bevat.
suurdadelboom
'n Boom (Tamarindus indica) uit tropiese Afrika waarvan die peule en sade as spesery gebruik word. Dit is ook bekend as tamarinde.
suurdeeg
Versuurde deeg wat as rysmiddel gebruik word.
suurkool
Fyngesnyde witkool wat gesout en gefermenteer word. Die oorspronklike Duitse naam hiervoor is "sauerkraut", wat "bitter kruid" beteken.
suurlemoen
'n Liggeel sitrusvrug ryk aan vitamine C, met baie suur sap.
suurmelk
Melk wat deur bakteriese werking dik geword het.
Suurtjie
Enige groente of vrugte wat gebruik is vir die maak van atjar.
suurvy
Die vrug van die kruipende vetplant Carpobrotus edulis. Ook genoem hotnotsvy of hottentotsvy.
swartbaars
'n Silwergroen varswaterroofvis met swart rugstekels.
Ook genoem kleinbekbaars of kleinbekswartbaars
swam
'n Soort plant wat nie blare het nie, op ander plante en verrottende plantaardige stowwe groei en voortplant deur middel van spore.
swartkoppersie
'n Swartkoppige Persiese skaap, Alaris alario.
syg
Die proses van 'n vloeistof deur 'n poreuse voorwerp, bv. 'n doek, te laat loop om dit te suiwer.


5 vrae en kommentaar:

  1. Wat is "sprietuie"? en wat is dit in Engels?

    ReplyDelete
  2. Sprietuie is "spring onions". Elke supermark hou dit aan.

    ReplyDelete
  3. Ek merk op dat 'n persoon appelkose eers vir 5 ure moet swawel voordat jy dit droog. Ek weet egter nie hoe swawel 'n mens 'n appelkoos nie. Kan enige iemand my asb uithelp?

    ReplyDelete
  4. Ek is op soek na 'n resep vir skaapstertjies. Kan iemand help? DUP

    ReplyDelete
  5. http://www.kookkuns.com/2012/02/skaapstertjies.html

    ReplyDelete