Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

G Glossarium, Woordelys van kookterme - voedsel en wyn

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
gaar
Genoeg gebak, gestoof, gebraai en of gekook.

gaarbak
Genoeg bak tot dit gaar is.

gaarkook
Genoeg kook tot dit gaar is.

gaarmaak
Genoeg gebak, gestoof, gebraai en of gekook.

gache vendéenne [ghash-ê-von-deen]
’n Tradisionele Paas-koek uit die Vendée-streek van Frankryk.

galangal
’n Spesery soortgelyk aan gemmer, net met ’n soet smaak. Dit is veral gewild in Thaise kookkuns en word meesal in sop of kerrie gebruik.

galantien
’n Koue vleisgereg bestaande uit gestopte en gekruide hoender of wild wat in hul eie jellie opgedien word.

galantine [gha-lan-teen]
’n Koue Franse vleisgereg bestaande uit gestopte en gekruide hoender of wild wat in hul eie jellie opgedien word. Dit is ook die naam wat die Franse gee aan hulle namaaksel van die Nederlandse broodkaas.

galette [gha-let]
’n Ronde, plat koek gemaak van blaardeeg. Dit word tradisioneel op Driekoninge-aand in Frankryk geëet. Die woord word ook gebruik vir ’n plat koek gemaak van gesnyde en fyngemaakte aartappels.
Asparagus and Feta Galette

galjoen
’n Eetbare seevis, Coracinus capensis, wat aan die Suid-Afrikaanse kus voorkom en tot 5 kg weeg.

gallia
Die gallia lyk soos ’n spanspek, maar dit is ’n meloen met netelagtige patrone op die skil. Die skil is ’n gouerige kleur wanneer dit ryp is.

gamay noir
’n Swart druifsoort wat gereeld dra en goed bestand is teen siektes.

Gamelost [gaym-lost]
’n Skerp, pikante Noorse kaas gemaak van afgeroomde melk wat vinnig ryp word tot ’n sagte bruin pasta. (Gammelöst)

Gammelöst [ghamme-lost]
’n Skerp, pikante Noorse kaas gemaak van afgeroomde melk wat vinnig ryp word tot ’n sagte bruin pasta. (Gamelost)

Ganache [gha-nash]
’n Sous van sjokolade en room wat gebruik word as vulsel vir koeke.

gans (goose)
Een van verskeie soorte swemvoëls van die familie Anserinae.

gansbors
Die bors van ’n gans.

gansmis
Die plantjie Anacampseros papyracea. Dit het lae takkies wat soos gansmis lyk.

gansnek
Die nek van ’n gans.

gapermossel
’n Mossel met ’n eiervormige skulp.

gapermosselbredie
’n Dik Amerikaanse bredie van vis of gapermossels.

garam masala
In Hindi beteken “garam” warm en “masala” beteken mengsel. Dit is ’n mengsel van gemaalde Indiese speserye. Die samestelling wissel van streek tot streek in Indië, maar die algemene bestanddele is swart en wit peperkorrels, komyn, kaneel, kardamom, neutmuskaat, steranys en koljander.(gharum masala)

garbanzo [gar-van-tho]
Die Spaanse naam eetbare peulgroente, Cicer arietinum, is van die oudste groente wat deur die mens verbou word. Die ertjie bevat baie proteïene. In Afrikaans is dit ook bekend as die keker, kekerertjie, dwergertjie, Spaanse ertjie en Indiese ertjie. (garvance)

garbure [ghar-buur]
’n Groentesop gemaak van kool en spek.

garebiltong
Biltong gemaak van die rugstring van ’n dier.

garingbiltong
Biltong gemaak van die rugstring van ’n dier.

garingvleis
Vleis afkomstig van die rugstring van ’n dier.

garnaal
Enigeen van verskeie kreefagtige see- en varswaterdiertjies van die onderorde Macrura. Crangon vulgaris word geëet.

garnaalkelkie
’n Voorgereg wat hoofsaaklik uit garnale bestaan en in ’n kelkie bedien word.

garnalebroodjie
’n Brood wat uitgehol en met gaar garnale gevul is.

garneer
Versier met een of ander toevoegsel.

garneersel
Dit waarmee ’n hele skottel kos versier is.

garnering
Iets wat bygevoeg word om ’n gereg se voorkoms of smaak te verbeter.

garniture [jar-nie-teur]
Frans vir garnering.

gars
’n Soort graan van die geslag Hordeum.

garsbrood (bannock)
’n Skotse brood gemaak van garsmeel, eiers en melk.

garvance
Die Spaanse naam eetbare peulgroente, Cicer arietinum, is van die oudste groente wat deur die mens verbou word. Die ertjie bevat baie proteïene. In Afrikaans is dit ook bekend as die keker, kekerertjie, dwergertjie, Spaanse ertjie en Indiese ertjie. (garbanzo)

gasel
Enigeen van verskeie wildsbokke van die geslag Gazella. Hulle word in Sentraal- en Noord-Afrika en Asië aangetref.

gasmaal
’n Deftige maaltyd waarna gaste genooi word.

gasoond
’n Oond wat met brandende gas verhit word.

gasstoof
’n Stoof wat gas as brandstof gebruik.

gastronomie
Die kuns om kos smaaklik voor te berei. Dit verwys ook na die nuttiging van goed voorbereide kos en bypassende drank.

gastronoom
Iemand wat gesteld is op lekker eet en drink.

gâteau [gha-tou]
Frans vir “koek”.
Swartwoudkoek / Schwarzwälder Kirschtorte / Gâteau de la forêt-noire

gatgaai
’n Knolplant van die geslag Peucedaneum wat in Malmesbury, Suid-Afrika, voorkom en waarvan die knol eetbaar is. (gatgai)

gatgai
’n Knolplant van die geslag Peucedaneum wat in Malmesbury, Suid-Afrika, voorkom en waarvan die knol eetbaar is. (gatgaai)

gaufres [ghou-fr]
Frans vir “wafel”.

gaufrette [ghou-fret]
Frans vir “wafeltjie”.

gazeuse [gha-zuuz]
Frans vir “gekarboneerde water”.

gazpacho (gha-spa-tjo)
’n Spaanse sop gemaak van tamaties, soetrissies en enige ander slaaigroente.
Gazpacho

gebak
’n Gebakte lekkerny.

gebakte Alaska (baked Alaska)
’n Gereg van roomys en koek.
Gebakte Alaska resep

gebakte eier (fried egg)
Eier wat in olie of botter in die pan gebraai is.
Gebakte eier met room

gebraai
Dit wat deur braai gaargemaak is.

gebraaide beesvleis en Yorkshire-poeding (roast beef and Yorkshire pudding)
’n Engelse gereg van gebraaide beesvleis wat tradisioneel gemaak word met Yorkshire-poeding beslag in die braaivet in ’n pan.

gedekaffeineerde koffie (decaffeinated coffee)
Koffie waaruit die kafeïen verwyder is.

geelbek (Cape salmon)
’n Groterige soort seevis, Atractoscion aequidens.
Geelbek met botterskorsie

geelmielie
’n Mieliesoort met geel pitte.

geelperske
Enigeen van verskeie taaipitperskes met geel vleis en ’n geel skil.

geelrys
Rys wat met borrie gekleur is.
Geelrys resep

geelstert (yellowtail)
Enige van ’n aantal vissoorte met ’n gelerige stert, veral die albakoor.
Geelstert à la Provençal

geelsuiker
Ongeraffineerde suiker met ’n geel kleur.

geelvis
Enigeen van verskeie soorte varswaterroofvisse van die die geslag Barbus, wat veral in snelvloeiende water hou en silwerkleurig is en ’n mate vergeel soos hulle ouer word.

geelwaterbok
Die basterwaterbok Kobus leche.

geelwortel
Die plant Dauicus carote, ’n geel of oranje wortel.

gefilte fish
’n Gewilde Joodse gereg van gemaalde vis met eiers en broodkrummels, in bolletjies gevorm en warm of koud voorgesit. (gefüllte fish)

gefortifiseerde wyn
Wyn wat versterk is met alkohol tydens of na die gistingsproses. Port en sjerrie is voorbeelde.

gefüllte fish
’n Gewilde Joodse gereg van gemaalde vis met eiers en broodkrummels, in bolletjies gevorm en warm of koud voorgesit. Beter bekend as gefilte fish.

gehomogeniseer
Die proses waardeur die room- of bottervet-inhoud van melk opgebreek word en eweredig versprei word.

gekondenseerde melk (condensed milk)
Melk wat afgekook en geprosesseer word. As dit versoet word word dit kondensmelk genoem.

gekookte eier (boiled egg)
Eier gekook in die dop.
Hardgekookte eier

gekrui
Iets wat kruie of speserye as smaakmiddel bevat.

gekruid
Iets wat kruie of speserye as smaakmiddel bevat.

gekruide wyn
Wyn wat verhit word met suiker en speserye.

gekruie
Iets wat kruie of speserye as smaakmiddel bevat.

gelatien
’n Jellieagtige, lymerige stof wat berei word uit dierlike weefsel soos bene, vel en senings. (gelatine)

gelatine
’n Jellieagtige, lymerige stof wat berei word uit dierlike weefsel soos bene, vel en senings. (gelatien)

gelatinase
’n Ensiem wat gelatine vloeibaar maak, maar nie eierwit/eiwit aantas nie.

gelée [zje-ly]
Frans vir jellie.

gemarineer
In sous ingelê voor dit gaargemaak is.

gemarmer
Normaalweg verwys dit na vleis wat opsigtelike vetdeeltjies bevat. Die woord word egter ook gebruik vir die effek wanneer vanielje- en sjokolade-koekmengsels in lae in ’n koekpan gegooi word en effens gemneg word.

gemengde kruie (mixed herbs)
’n Mengsel van kruie wat gebruik word om geregte te geur.

gemengde speserye (mixed spices)
’n Mengsel van piment, naeltjies, neutmuskaat, kaneel en/of gemmer wat gebruik word om gebak of groente te geur.

gemmer (ginger)
Die gedroogde wortelstok van die Oos-Asiatiese plant Zingiber officinale. Dit het ’n skerp, branderige smaak en word gebruik as spesery.

gemmerbier (ginger beer)
’n Tipe drankie met gemmer as die kenmerkende bestanddeel.
Gemmerbier resep

gemmerbrandewyn
Brandewyn op gemmer getrek.

gemmerbrood (gingerbiscuit)
Soet plat koekies wat met gemmer gegeur is. Dit word in verskillende vorms gemaak.
Gemmerbrood resep

gemmerkoekie
’n Koekie met gemmer as die kenmerkende bestanddeel.
Gemmerkoekies

gemmerkonfyt
Stukke gekookte gemmerwortel in suikerstroop ingelê.

gemmerlim
Limonade gegeur met gemmer. (gemmerlimonade)

gemmerlimonade
Limonade gegeur met gemmer. (gemmerlim)

gemmerrolletjie
Bros beskuitjies gemaak van botter, suiker, meel, gemmer en goustroop. Dit word dikwels in ’n tuit opgerol terwyl dit nog warm is en gevul met geklopte room gegeur met brandewyn (brandy snaps).

gemoute-asyn
Asyn met ’n byvoeging van graan.

gemoute gort-asyn
Asyn met ’n byvoeging van gort.

gemsbok
’n Ligbruin Suid-Afrikaanse wildsbok, Oryx gazella. Dit word tot 1 meter hoog met wit in die gesig en wit bene. Die regopstaande horings is tot 1 meter lank.

gensbok
Ander woord vir gemsbok,’n ligbruin Suid-Afrikaanse wildsbok, Oryx gazella. Dit word tot 1 meter hoog met wit in die gesig en wit bene. Die regopstaande horings is tot 1 meter lank.

gentiaanwortel
Die wortelstok en wortels van die Gentiana lutea (familie Gentianaceae), of geelgentiaan. ’n Aftreksel hiervan word as eetlusbevorderende middel gebruik of waaruit gentiaanbitter berei word.

gentiaanbitter
’n Bitter drank berei uit gentiaanwortels. Die drankie is oorspronklik van Switserland.

Genua-koek (Genoa cake)
’n Vrugte-en-amadelkoek.

Genuese koek (Genoese cake)
’n Ryk Sponskoek.

gepelde amandels
Amandels met die velletjies verwyder.

geposjeer
Sonder dop in water of melk gaargemaak.

geposjeerd
Sonder dop in water of melk gaargemaak.

geposjeerde eier (poached egg)
Eier wat so gestoom word dat die wit die geel omring en sodoende amper rond gaar word.

gereg
Die gedeelte van ’n maaltyd wat tegelyk opgedien word.

gerooster
Op ’n rooster gaar gebraai.

geroosterd
Op ’n rooster gaar gebraai.

gesondheidskos
Kos waarvan geglo word dat dit goeie gesondheid bevorder of dat dit genesende eienskappe bevat.

geurkruid
Enige kruid wat gebruik word om voedsel mee te geur.

geurmiddels
Bestanddele wat geur by kos voeg.

geursel
Enige middel wat gebruik word om aan voedsel of drank ’n aangename geur te gee.

Gewürztraminer
’n Druifsoort wat gebruik word vir die maak van ’n wit speseryagtige wyn.

ghaap
’n Naam wat gebruik word vir verskeie plantsoorte met dik, vlesige, hoekige of geriffelde, blaarlose stamme, meestal met dorings of getand op die riffels en met onwelriekende blomme waaruit horingvormige peulvrugte ontwikkel.

gharum masala
In Hindi beteken “garam” warm en “masala” beteken mengsel. Dit is ’n mengsel van gemaalde Indiese speserye. Die samestelling wissel van streek tot streek in Indië, maar die algemene bestanddele is swart en wit peperkorrels, komyn, kaneel, kardamom, neutmuskaat, steranys en koljander. Ook genoem garam masala.

ghee
Ghee is verhelderde botter. Die Indiese botter word afgekook sodat dit helder en loperig is.

ghitaarvis
’n Soort eetbare seevis wat in vlakkerige water voorkom en in die sand wegkruip.

ghoelasj
’n Hongaarse dis. Gestoofde biefstuk met groente en gegeur met uie en paprika. Die naam beteken "herders se stoofgereg". (gulyás)
Paprika-ghoelasj

ghoena
Een van verskeie kruipende vetplante van die geslag Carpobrotus waarvan die vrugte geëet kan word.

ghôkum
Een van verskeie kruipende vetplante van die geslag Carpobrotus waarvan die vrugte geëet kan word. Die naam kan na die plant of die vrug verwys. Dit woord word veral in die Kaapland gebruik.

ghwarrie
’n Groenblywende struik, Euclea undulata. Dit word aangetref in die Groot- en Klein-Karoo en word tot 3 meter hoog. Die blare word gebruik vir tee.

ghwarrieko
Dit is 'n soort kambro, Fockea crispa, met 'n eetbare ondergrondse knol.

ghwarrietee
’n Tee gemaak van ghwarrieblare. Dit word ook gedrink as geneesmiddel teen hartkwale.

gibier [zji-bie-jy]
Frans vir “wild”.

giers
’n Graansoort wat gebruik word vir brood.

gigot d’agneau [zjie-gho dagh-nou]
Frans vir “lamsboud” of “skaapboud”. De mouton word ook daarvoor gebruik.

gill
’n Inhoudsmaat vir vloeistof gelyk aan ’n kwartpint; ongeveer 150 mℓ.

ginkgo-neut
’n Ovaal geelbruin neut wat in Cinese en Japannese kookkuns gebruik word.

girasol
’n Distelagtige groente. (artisjok)

girofle [zjee-rofl]
Franse woord vir die gedroogde blomkop van die kruienaeltjiesboom wat as spesery gebruik word. Beter bekend as naeltjies.

gis
’n Proses waarby opbruising of skuimvorming gewoonlik plaasvind. Die woord verwys ook na die rysmiddel self.

giskoekie
’n Gisstof in die vorm van ’n saamgeperste blokkie.

Gjetöst
’n Semi-harde, soet Noorweegse weikaas gemaak van bokmelk. Dit het ’n ligbruin kleur. Die kaas word word gewoonlik gebruik in peuselhappies, nageregte of souse.

glacé [ghla-sei]
Die Franse woord vir bevries of verys. Dit verwys ook na ’n gereg bedek met suiker of versiersel. Dit word ook gebruik om te verwys na die oorblyfsel onder in ’n pot nadat vleis gebraai of gerooster is.

gladdejantjie
’n Gladde, dik drank gemaak van vars vrugte of groente verpulp saam met ’n vloeistof. (smoothie)

gladdeperske
’n Perske met ’n gladde skil. ( kaalgatperske, kaalperske, nektarien)

glaseersel (glaze)
’n Blink bedekking van ’n soet of sout stroop of sous. Die woord word ook gebruik om te verwys na ysglans (ice-coat) - wat die gevolg is van iets in water doop en dan bevries.

glibdruif
’n Ligrooi Amerikaanse druifsoort wat teen somerreën bestand is. Die naam is afkomstig van die Catawba-rivier in Carolina, VSA.

Gloucester
’n Volroomkaas met ’n sagte smaak wat in slaaie en toebroodjies gebruik word.

Glühwein
’n Warm alkoholiese drankie gemaak van rooiwyn gegeur met naeltjies, kaneel, suurlemoen en versoet met suiker (kruiewyn)
Glühwein

glukogeen
’n Wit, amorfe, smaaklose, reuklose stysel van dierlike herkoms.

glukose
’n Soort suiker wat in heuning en sekere plantsoorte voorkom. Dit is nie so soet soos rietsuiker nie.

glutamien
’n Aktiewe stof wat in lewerekstrak voorkom.

glutamine
’n Aktiewe stof wat in lewerekstrak voorkom.

gluten
’n Mengsel van plantproteïnes wat in graankorrels voorkom.

gluten-meel
’n Koringmeel ryk aan gluten omdat abie van die stysel verwyder is.

glutenbrood
Brood wat met koringgluten voorberei word.

glutineuse rys (glutinous rice)
’n Wit of swart glutenvrye rys wat in fyngebak en in die maak van bier gebruik word. Dit raak soet wanneer dit gekook word.

gnocchi [njok-kee]
’n Italiaanse pasta, tradisioneel gemaak van aartappels.
Gnocchi

godiveau [gho-die-wou]
Franse vleisbolletjies gemaak van klasvleis en –vet.

goeiechristenpeer
’n Groot peer met sappige vleis.

goewerneursboontjie
Een van twee rankboontjiesoorte met plat sade.

Golden Delicious
’n Soet appel met ’n geel-goue kleur.

gomlekker (jubjube)
’n Taai lekker.

gongelhopf
’n Duitse gebak gemaak van kugelhopf. Dit word tradisioneel op Kersoggend geëet met botter en konfyt. (gugelhopf, Duitse tulband-koek)

gorgonzola [ghor-ghon-zo-le]
Gorgonzola is ’n sterk Italiaanse kaas wat met groen skimmeldrade deurgroei is. Dit is vernoem na die dorpie Gorgonzola in Italië.

gort (groats)
Gort is garskorrels wat afgedop is en deur die mens as voedsel gebruik word. Die lid van die grasfamilie is die stapelvoedsel van duisende mense en dit word ook gebruik om bier mee te brou.

gouda
’n Soort soetmelkkaas oorspronklik van Gouda in Nederland.

goudpiesang
’n Strooikleurige piesangsoort; Musa paradisiala. Die suring-agtige blare kan ook geëet word. Beter bekend as okra.
Goudpiesang

goue koek
’n Ligte koek versier met sjokolade- of karamelversiersel.

goueappel
Die vrug van die boomsoort Spondias cyntherea, wat in tropiese streke gekweek word.

gougère [ghoe-zjer]
’n Ligte Franse gereg gemaak van choux-deeg met ’n soutvulsel.

goujon [ghoe-zjô] (gudgeon)
Franse naam vir ’n vis wat in klein stukkies diepgebraai word.

goulache
’n Hongaarse beesvleis- of kalfsvleisbredie met groente. Dit word gegeur met paprika. (goulash, goulasch)

goulash
’n Hongaarse beesvleis- of kalfsvleisbredie met groente. Dit word gegeur met paprika. (goulache, goulasch)

goulasch
’n Hongaarse beesvleis- of kalfsvleisbredie met groente. Dit word gegeur met paprika. (goulash, goulache)

gourmand [ghoer-mahn]
Frans vir iemand wat graag baie en lekker eet.

gourmet [ghoer-my]
Frans vir ’n fynproewer van kos en drank.

graan (cereal)
’n Plant van die grasfamilie waarvan die saad as voedsel gebruik word.

graan korrel (grain)
Die saad van ’n graangewas.

graankorrel (grain)
Die saad van ’n graangewas.

graankos
Voedsel, veral ontbytkos, berei uit ’n graansoort.

graanmeel
Gemaalde graan.

graanvlokkies
Ontbytkos berei uit ’n graansoort.

graat
Enige beentjie in ’n vis se liggaam.

graatvis
Enige vis met baie bene.

Graham flour
’n Amerikaanse volgraan ongesifte meel wat semels en koringkiem bevat.

gramkalorie
Die warmte wat nodig is om die temperatuur van een gram water een graad Celsius by ’n druk van een atmosfeer te laat styg.

granaat (pomgranate)
’n Bolronde vrug van die Punica granatum. Die vrug is rond met ’n leeragtige skil, talryke rooi, waterige, soetsuur pitte. (granaatappel)

granaatappel (pomgranate)
’n Bolronde vrug van die Punica granatum. Die vrug is rond met ’n leeragtige skil, talryke rooi, waterige, soetsuur pitte. (granaat)

granadella (passion fruit)
Die vrug van enige van die rankplante bekend as passieblomme. (grenadella)

grand cru [grahn kru]
’n Wynterm wat in Frankryk gebruik word om wyn van ’n superieure gehalte aan te dui. In Suid-Afrika word dit gebruik vir droë witwyn.

granita
Italiaans vir “waterys”.

granité [ghra-nie-ty]
Frans vir ’n sorbet met ’n korrelagtige tekstuur.

Granny-Smith
’n Appel met ’n groen skil, harde vleis en ’n effe suur smaak.

granola
Voedsel gemaak van ’n mengsel van graansoorte.

granulose
’n Vorm van stysel of amilose in fyn korreltjies.

gras [ghra}
Frans vir ’n vetterige bestanddeel.

grasuie (chives)
’n Kruidagtige plant soortgelyk aan 'n ui met dun lowwe en plat knolle. (uiegras, bieslook)

gratin
Die woord verwys na die kors wat op ’n dis vorm in die oond of onder ’n rooster. Ook die naam van ’n dis gebak of gerooster met 'n beskermde kors. Normaalweg is die bokant van die dis bedek met kaas, broodkrummels of eier.

gravad lax
’n Skadinawiese metode vir salm berei met sout, suiker en wit peperkorrels. (gravalax, gravlax, gravlaks)
Gravlaks / Gravlax / Gravad lax / Gravalax resep

gravalax
’n Skadinawiese metode vir salm berei met sout, suiker en wit peperkorrels. (gravad lax, gravlax, gravlaks)
Gravlaks / Gravlax / Gravad lax / Gravalax resep

gravlaks
’n Skadinawiese metode vir salm berei met sout, suiker en wit peperkorrels.(gravad lax, gravlax, gravalax)
Gravlaks / Gravlax / Gravad lax / Gravalax resep

gravlax
’n Skadinawiese metode vir salm berei met sout, suiker en wit peperkorrels. (gravad lax, gravlaks, gravalax)
Gravlaks / Gravlax / Gravad lax / Gravalax resep

gremolata [ghrê-mo-la-ta]
’n Italiaanse sous wat tradisioneel saam met osso bucco bedien word, maar is oor die algemeen geskik vir vleisgeregte.
Gremolata

grenache
’n Swart druifsoort waarvan die stokke goed bestand is teen windskade.

grenadella
Die vrug van enige van die rankplante bekend as passieblomme. (granadella)

grenadine [ghre-na-deen]]
Frans vir die stroop van die granaat of rooi-aalbessie. Die woord word ook gebruik vir gesnyde, gelardeerde en geglaseerde kalf- of pluimveefilette.

grenouille [ghre-noe-jee]
Frans vir “padda”.

griekse hooi
’n Kruid met wit blomme en aromatiese saad. Die blare word normaalweg as kruie gebruik en die saad as 'n spesery. (fenegriek)

griesmeel
Meel wat nie baie fyn gemaal is nie en nog met klein semeldeeltjies vermeng is.

griestorte
Griestorte is ’n Duitse woord wat beteken "semolina tert". Gries, semolina, en torte, ’n oop tertdeeltjies wat in ’n vlak, ronde bak gebak word.
Griestorte

griller [ghrie-êr]
Frans vir rooster, oondbraai of op ’n rooster gebraai.

grissini [grees-see-nee]
Italiaans vir “broodstokkies”.

grodin [ghro-dih]
Frans vir “knorhaan”.

groenamandels
Die pitte van die steenvrug van die boomsoort Pistacia vera. Die pitte het ’n groenerige kleur en ’n amandelgeur en word vir die vervaardiging van lekkers gebruik. Die boom kom voor in westelike Asië. Ook in Afrikaans genoem pimperneut, pistachio, pistasie of pistasieneut.

groenboon(tjie) (green bean)
Die onryp boontjiepeul wat as groentesoort gebruik word.

groendruif
’n Wyndruifsoort met twee variëteite waarvan die kleur van die druif in die een geval groenerige wit en in die ander geval rooi is.

groenertjie
’n Ertjiesoort waarvan die pit as groente gebruik word.

groenkaas
’n Kaassoort met ’n groen kleur. Die groen kleur word verkry deur 'n poeier van gedroogde klawer by te voeg na die rypwordingsproses.

groenmamba
’n Naam wat gebruik word vir pepermentlikeur of mampoer.

groenmielie
’n Mieliekop waarvan die pitte nog onryp en derhalwe sag is.

groenmieliebrood
’n Brood gemaak van groenmielies.

groenpruim (greengage)
’n Pruimvariëteit met 'n groengeel skil en vleis.

groente
Eetbare plante of plantdele.

groentebotter
Soliede plantaardige olie.

groentemes
’n Mes waarmee groente geskil, geskraap of gesny word.

groenteslaai
’n Slaai wat net van groente gemaak is.

groentesop
’n Sop wat net van groente gemaak is.

groentewater
Die water waarin groente gaargemaak is. Dit kan as aftreksel of sop gebruik word.

groenvrugtesap (verjuice)
Suur vloeistof verkry van vrugte wat nie ryp is nie.

groenvyekonfyt
’n Konfyt wat gekook is van heel, groen vye.
Groenvyekonfyt resep

grofgemaalde mosterd (stone-ground mustard)
’n Volgeurige mosterd met ’n growwe tekstuur.

grok (grog)
’n Alkoholiese drank met warm water en suiker of ’n ander smaakmiddel.

grondboon(tjie) (peanut, monkey-nut, groundnut)
’n Ertjieagtige plant, Arachis hypogaea, wat peule met sade onder die grond dra. (katjang, katjangboontjie, katjangghorie)

grondboontjiebotter
Fyngemaalde, gaar grondboontjies wat gemeng is met olie en smaakmiddels.

grondboontjietameletjie (peanut brittle)
’n Laag gekaramelliseerde grondboontjies.

grootbekbaars
’n Donkergroen varswatervis, Micropterus salmoides, met ’n opvallende groot bek.

grootbekbaber
’n Groot aalagtige varswatervis. Dit word kommersieel geteel as eetvis. (katvis, skerptandbaber))

grootbekgeelvis
’n Groot geelvis, Barbus kimberleyensis, wat in die Oranjeriviersisteem in Suid-Afrika voorkom.

grootbekswartbaars
’n Donkergroen varswatervis, Micropterus salmoides, met ’n opvallende groot bek.

grootmes
’n Mes met ’n lang lem wat gebruik word om vleis mee te sny.

grootvee
Groot plaasdiere soos beeste.

grootvis
Enige vissoort met groot afmetings.

grootwild
Wild van groot gestalte.

growwebrood
Brood van ongesifte meel.

grutte (hominy grits)
Grofgemaalde gedopte mieliemeel.

Gruyère [ghru-jêr]
’n Switserse kaas gemaak van koeimelk. Dit het ’n ferm tekstuur en neutagtige smaak met ’n kleur wat wissel van ivoorgeel tot goudbruin. Dit is vernoem na die dorp Gruyères in Switserland. Die kaas word vir ses maande tot ’n jaar verouder.

grysappel
’n Struik, Parinari capense, met ’n donkerbruin, sterk ruikende, soet vrug met grys spikkels. Dit word in dele noord van die Vaalrivier in Suid-Afrika aangetref.

grysbok
Een van twee soorte wildsbokkies, die Kaapse grysbok en Sharp se grysbok.

grysduiker
’n Soort duiker, Sylvicapra grimmia.

guacamole [ghwa-ke-mo-la]
Guacamole is ’n Mexikaanse doopsous gemaak van fyngestampte avokado, uie, rissie, lemmetjie- of suurlemoensap en sout.
Guacamole

gugelhupf
’n Duitse gebak gemaak van kugelhopf. Dit word tradisioneel op Kersoggend geëet met botter en konfyt. (gongelhopf, Duitse tulband-koek)

Guernsey
’n Beesras, oorspronklik afkomstig van die eiland Guernsey.

gulyás
’n Hongaarse dis. Gestoofde biefstuk met groente en gegeur met uie en paprika. Die naam beteken "herders se stoofgereg". (ghoelasj)

gumbo
’n Amerikaanse gereg, half sop half bredie gemaak van ’n verskeidenheid van vleis, skulpvis, groente, rys en kruie.

Wynwoordeboek

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

No comments :

Post a Comment