Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/10/2011

Lamsblad chasseur

'n ontbeende lamsblad
60 g botter
60 ml witwyn

Vulsel:
30 g botter
1 ui, fyngekap
250 g varkwors, die vleis uitgedruk
250 g fyngemaakte, gaar patat
10 ml vars, gekapte pietersielie
5 ml vars tiemie
sout en peper
1 eier, geklop

Sous:
30 ml olyfolie
15 ml wortel, fyngekap
15 ml ui, fyngekap
20 g meel
550 ml vleisaftreksel / bouillon
10 ml tamatiepuree
bouquet garni

110 g knopiesampioene, fyn gesny
15 g botter

tou
vleisnaald

Berei die vulsel voor deur die botter in 'n kastrol te smelt.
Voeg die ui in, plaas die deksel op en kook tot sag - nie bruin nie.

Meng die vark, patat en kruie saam.
Voeg die uie by en geur.
Roer die eier by.

Plaas die vulsel in die vleis en werk dit toe met die naald en tou.

Smeer die vleis met die botter.
Plaas in 'n braaipan en gooi die wyn in die pan.
Bedek die vleis met bakpapier en bak 1½ uur by 200ºC.
Bedruip die vleis dikwels met die sous in die pan en draai elke 30 minute om.

Intussen berei jy die sous voor deur die olie te verhit in 'n kastrol en dan die groente te smoor tot sag - nie bruin nie.

Voeg die meel by en kook stadig tot dit amper begin bruin lyk.
Haal die kastrol van die hitte af en laat dit effens afkoel.

Plaas die kastrol terug op die hitte en roer die tamatiepasta en driekwart van die aftreksel by.
Roer aanhoudend tot die sous kook.
Voeg die bouquet garni by, verlaag die hitte en laat die sous stadig prut vir 30 minute met die deksel half skuins op.

Voeg die helfte van die orige aftreksel by. Hou die kastrol skuins en skuim af. Laat weer kook.

Gooi die orige aftreksel by en skuim weer af. Laat weer kook en prut dit dan vir nog 5 minute.
Gooi deur 'n fyn sif in 'n mengbak.

Vee die kastrol uit wat jy gebruik het vir die sous.
Smelt die 15 g botter daarin en soteer die sampioene tot goudbruin.

Gooi die sous by die sampioene en verhit.
Proe vir sout en peper.

Sny die vleis in skywe, rangskik op 'n warm bak en skep 'n bietjie sous oor. Bedien die res van die sous apart.

Bedien die Lamsblad chasseur saam met gebraaide aartappels en gesmoorde groen groente.

1 comment :

  1. Hallo Errieda,
    Ek het 'n resep van jou "Gemmer-gamon met marmelade-glasuur vir Kersdag. Nou wat ek wil weet kan ek die resep net so volg en 'n gewone varkboud gebruik i.p.v. gammon.

    Dan het Alet 18 Desember 2011 jou bedank vir 'n verruklike lemoen en dadelslaai. Is dit dalk vir jou moontlik om bogenoemde slaai resep ook vir my te stuur.

    Baie dankie en ek dink julle resepte is hemels.

    Groete
    Mari Basson

    ReplyDelete