Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/07/2013

Ouma se boerewors roosterkoek brood

Maak een groot brood (kan 4 to 6 bedien)

1 pakkie Ouma se boerewors, gebraai en gaar
roosterkoek deeg
1 liter witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
30 ml suiker
7,5 ml sout
25 ml botter, bietjie sag gemaak
300 ml louwarm water (die hoeveelheid sal wissel)
meel vir knie

Bestanddele vir bo-op die brood:
2 knoffelhuisies, grofgekap
240 g songedroogde tamaties, in 'n olyfolie vinaigrette, grofgekap
sout en peper na smaak
10 ml suiker
50 g tamatiepasta
300 g mozzarella, gerasper
5 ml gedroogde oreganum
olyfolie om te sprinkel
roketblare vir bediening

Braai die wors in 'n verhitte pan, laat dit 'n klein bietjie afkoel en sny in dun snytjies.

Om die roosterkoek te maak:
Meng die meel en gis deeglik in 'n groot mengbak, voeg die suiker by en meng weer.
Vryf die botter in die meel. Maak 'n holte in die middel en voeg geleidelik die louwarm water by. Voeg dit bietjie vir bietjie by, terwyl jy die bestanddele bymekaar bring. Moenie al die water gelyk byvoeg nie, aangesien die hoeveelheid water sal verskil van waar jy bak. Hou aan om die bestanddele bymekaar te bring tot dit 'n deeg vorm.
Keer die deeg uit op 'n meelbestrooide werksoppervlak. Indien die deeg te nat is sprinkel nog meel oor.
Knie vir ongeveer 10 minute, totdat die deeg glad, blink en elasties is.
Plaas die deeg in 'n bak, bedek met 'n doek en laat dit in 'n warm plek rys vir 35 tot 40 minute of tot dubbel in grootte.
WENK: Om te verhoed dat die deeg vassit in die bak terwyl dit rys, smeer die bak met 'n bietjie olie.
WENK: Om te verhoed dat jou deeg krake bo-op maak, smeer so bietjie olie oor die deeg voor jy die doek oorsit.

Vir bo-op die brood: Voorverhit die oond tot 180 °C.
Braai die uie en knoffel in verhitte olie, tot sag, maar nie bruin.
Voeg die songedroogde tamaties by en braai.
Voeg van die vinaigrette by wanneer dit droog word.
Voeg sout en peper na smaak by, asook die suiker. Proe om seker te maak die balans is reg.

Om die brood te berei:
Strooi meel op 'n skoon werksoppervlak en knie die deeg af.
Rol dit uit in 'n reghoek, om die bakplaat te pas waarin jy die brood gaan bak.
Berei die bakplaat deur liggies met 'n bietjie olie te smeer, of spuit met kleefvrye sproei.
Plaas die uitgerolde brood op die bakplaat.
Smeer die tamatiepasta oor die brood, om dit heeltemal te bedek.
Bedek die brood dan met die songedroogde tamatie-mengsel.
Rangskik die gesnyde wors op die brood.
Sprinkel die kaas oor.
Bedruip dan met 'n bietjie olyfolie, sprinkel sout, swartpeper en die gedroogde oreganum oor.
Laat die brood in die voorverhitte oond bak vir 20-25 minute of tot dit heeltemal gaar is.
Bedien dit met vars roketblare bo-oor gestrooi. En sit 'n bakkie balsamiese asyn ook by.

Resep: Tannie Poppie

No comments :

Post a Comment