Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

3/27/2013

Paella

Het jy geweet die 27ste Maart is Spanje se Nasionale Paella Dag? Vier die dag saam met aanhangers van die gewilde gereg oral oor die wêreld met hierdie resep uit Art of Cooking.

Lande se nasionale kookkuns-erfenis word lank nie meer ingeperk deur grense nie. Deur jou kombuis oop te maak vir geregte van die wêreld, word resepte 'n interessante ontdekking van kleure en geure in jou hande. Art of Cooking is die skatkis wat die wêreld se kookkuns vir jou sal ontsluit.

Paella se naam kom van die wye vlak pan wat gebruik word vir die gereg met die wonderlike kontrasterende kleure, geure en tekstuur. Om tyd te spaar en die proses te vereenvoudig kan jy die onderskeie bestanddele ter gelyke tyd kook in twee kleiner souspanne en die groot paella-pan.

Let Wel:
1. Deel van die sukses van jou paella gaan afhang van die rys. Moet nie rys gebruik wat klewerig is nie. Gebruik halfgekookte of gepoleerde rys.
2. Saffraan word gewoonlik gebruik vir kleur en geur, maar dit kan vervang word met die goedkoper borrie.
3. Gevriesde of geblikte mossels en oesters word gewoonlik gebruik vir die gereg. Dit kan net so of gekrummel (doop in meel, geklitste eier en broodkrummels, braai in olie) gebruik word as garnering.

150 ml sonneblom- of olyfolie, of helfte van elk
2 groot uie, grof gekap
2 – 3 naeltjies of knoffel, fyngedruk
2 groot ryp tamaties, geskil en in klein blokkies gesny
1 medium groen soetrissie, die saad verwyder en in repies gesny
250 g / 300 mℓ halfgekookte of gepoleerde rys
750 ml kookwater
7,5 ml hoenderaftreksel
1 ml saffraan of 2,5 ml borrie
200 ml witwyn (semisoet of droog)
7,5 mℓ sout
± 300 g gerookte of gekookte ham, in dik repe gesny
250 ml gevriesde ertjies
± 1 kg ontbeende hoenderborsies, vel verwyder en in blokkies van 2 cm gesny
60 g / 125 ml koekmeel
nog 'n knypie saffraan of 1 mℓ borrie
1ml swartpeper
± 1 kg seekos, byvoorbeeld ferm wit vis en skoongemaakte steurgarnale – die steurgarnale kan in die dop gelos word, maar onthou om die aar te verwyder
'n paar druppels Tabasco of 'n skeut rooipeper

Vir bediening en garnering: ± 200 g geblikte afgedopte mossels of mossels in die halwe skulp, gedreineer en afgespoel OF gevriesde mossels of mossels in die halwe skulp, afgespoel met kookwater en gedreineer – oesters kan in plaas van of saam met die mossels gebruik word
swart calamata olywe
gekapte pietersielie
takkies kruie



Jy het 'n groot souspan nodig of 'n paella-pan, en 2 kleiner souspanne. Gooi 50 mℓ olie in elke pan. Sauté die uie en knoffel liggies in die groot pan tot sag, terwyl jy van tyd tot tyd roer.

Voeg die tamatie, soetrissie en rys by en roerbraai vir nog 5 minute.

Voeg die water, hoenderaftreksel, 1 mℓ saffraan, wyn en 2,5 mℓ sout by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat liggies kook tot die vloeistof net-net die rys bedek.

Plaas die ham, ertjies, mossels en oesters op die rys. Plaas die deksel op en kook liggies tot die rys sag en droog is en die bestanddele bo-op gaar is.

Meng die hoender met die meel, 2,5 mℓ sout, knypie saffraan en swartpeper. Verhit die olie in een van die kleiner panne en roerbraai die hoender tot goudbruin. Hou dit eenkant.

Indien jy gevriesde seekos gebruik, spoel dit af in 'n vergiettes en verwyder enige stukkies ys en droog goed af. Sny die vis in 2 cm blokkies. Verhit die olie in die ander kleiner pan en roerbraai die seekos tot dit gaar is en begin verbruin. Strooi 2,5 mℓ sout oor en hou eenkant.

Plaas nou die twee kleiner panne se inhoud op die rysmengsel en meng, alles behalwe die steurgarnale. Bedien die gereg in die paella-pan, garneer met die steurgarnale en, indien so gebruik, gekrummelde mossels en oesters. Strooi gekapte pietersielie oor. Strooi die swart olywe oor en garneer met takkies kruie.

Bedien met vars brood en 'n groenslaai.

Die resep is genoeg vir 8 tot 10 persone.

Behou: Paella moet liefs voorberei word net voor dit geëet word. Indien nodig kan jy dit vir 'n klein tydjie warm hou. Dit wat oorbly kan gevries word en later in 'n mikrogolfoond warm gemaak word op medium.
Vries: Paella moet nie voorberei word om te vries nie, maar dit wat oorbly kan op bogenoemde manier gevries en verwarm word.
Vermeerder: Om vir meer mense paella te maak gaan jy meer souspanne nodig kry om te sorg dat die rys droogkook en die ander bestanddele reg kook.

Variasies:
Seekos Paella
Los die hoender en ham uit en vermeerder die seekos met omtrent 2 kg.

Groente Paella
Los die hoender, ham en seekos uit. Voeg sowat 2 kg gemengde groente by wat liggies gekook of gerooster is.


Art of Cooking wys jou ook hoe om die hoeveelhede vir die resep aan te pas, hoe om die gereg lank te laat hou, te vries en nóg variasies van dié resep. Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

No comments :

Post a Comment