Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

V - Glossarium, Woordelys van Kookterme - voedsel en wyn

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)
vaalblaar
’n Witwyn- en tafeldruiwesoort waarvan veral sjerrie en droë wyn gemaak word.

vaalhaas
’n Grysbruin knaagdier met 'n pels, gesplete bolip, kort stert, lang ore en lang agterbene, Lepus europaeus.

vaalhartbees
’n Wildsboksoort, Alcelaphus lichtensteini. Ook bekend as die mofhartbees.

vagaar
In die Indiese kookkuns verwys dit na die geur wat vrygestel word uit sade en speserye wat in botter of ghee in ’n toe kastrol by hoë hitte gaargemaak word voordat enige ander bestanddele vir kerrie bygevoeg word.

vakuumgepakte
Voedsel verseël in ’n lugdigte houer of omhulsel.

Valencia
’n Soort lemoen.

valesniki
’n Voorgereg van roomkaas.

Van der Hum-likeur
Van der Hum-likeur is 'n eg Suid-Afrikaanse produk. Dit is 'n kruiebrandewyn met 'n nartjiegeur.

vanielje (vanilla)
’n Soet geurige plant, Vanilla planiflora, wat 'n spesery oplewer.

vanieljesuiker
Suiker gegeur met vanielje.

vanner [wa-nie]
Frans vir wanneer ’n sous van tyd tot tyd geroer word om te verhoed dat dit ’n vel vorm.

variëteitsvleis
Verskeie soorte vleis gemeng.

vark
’n Soogdier wat geteel word om sy spek en vleis.


varkkos
’n Plant wat algemeen in tuine voorkom en vir onkruid aangesien word. Dit kan egter as groente gebruik word. (porselein, portulak, postelein)
Varkkos resep

varkribbetjie (spareribs)
Ribbebene met baie min vleis tussen die bene.

varkvleis
Die sagte vleis van varke.

västerbottensost
’n Gewilde Sweedse kaas met ’n komplekse smaak en romerige tekstuur.

vasteskilnartjie
’n Klein, oranje sitrusvrug met baie pitte. (tangerien)

VDQS (vins délimités de qualité supérieure)
’n Amptelike Franse klassifikasie vir ’n uitstekende streekswyn.

veau [wou]
Frans vir “kalfsvleis”.

vegaan
Iemand wat geen diereprodukte eet nie.

vegetariër
Iemand wat nie vleis eet nie.

veil [wy]
Die Franse term vir wanneer jy koue nagereg met geweefde suiker versier.

vel
Die buitenste, natuurlike bedekking van ’n dier se liggaam.

veldkool
Veldkool is ’n leliesoort, Anthericum jalcatum, wat op sanderige grond groei. Dit is tradisioneel as groente gebruik.

velouté
’n Sous wat gemaak word deur ’n aftreksel van hoender, kalfsvleis of vis te verdik met ’n blond roux. Dit word normaalweg gebruik saam met pluimvee en vis of as basis vir ander souse.
Velouté

verbena
’n Suurlemoen geurige kruid waarvan die blare gebruik word in-tee of slaaie. (ysterkruid)

verbruin (brown)
Om die buitekant van kos bruin te verkleur met hitte.

verdikker
’n Gladde pasta wat by kos gevoeg word om dit te bind of te verdik.

verduursaming (cure)
Die behandeling van voedselprodukte daarom langer te laat hou, bv. deur droging, insouting of roking.

vergiet (colander)
’n Houer, gewoonlik van metaal, met gaatjies. Dit word in die kombuis gebruik as filtreerder. Ook bekend as ’n vergietbak of vergiettes.

vergietbak (colander)
’n Houer, gewoonlik van metaal, met gaatjies. Dit word in die kombuis gebruik as filtreerder. Ook bekend as ’n vergiet of vergiettes.

vergiettes (colander)
’n Houer, gewoonlik van metaal, met gaatjies. Dit word in die kombuis gebruik as filtreerder. Ook bekend as ’n vergiet of vergietbak.

verhelder (clarify)
Om onsuiwerhede in bv. botter of aftreksel te verwyder.

verjuice
Die sap van druiwe wat nog nie ryp is nie.

verjus [wer-sjoe] (verjuice)
Frans vir die sap van druiwe wat nog nie ryp is nie.

verkil (chill)
Koud te maak sonder om te bevries.

verkoel (cool)
Om kos af te koel daardeur teen kamertemperatuur te laat staan of dit in ’n yskas te laat.

vermeng
Bestanddele met ’n klitser, lepel of vurk vermeng tot ’n eenvormige mengsel.

vermicelli
’n Tipe fyn pasta. Die naam beteken "klein wurmpies". Dit word soos spaghetti gebruik, in sop en selfs in nagereg. Chinese vermicelli verskil van die Italiaanse soort deur dat dit van sojameel gemaak word. Die witterige vermicelli uit die verre Ooste word van rysmeel gemaak en soos noedels gebruik. Sien ook engelhaarpasta.

vermoet
’n Soort witwyn wat alsem en ander kruie bevat. Die naam is van die Duits Wermut.

Veronique
’n Klassieke wit, romerige sous met druiwe wat gewoonlik saam met hoender en vis voorgesit word.

veroudering (ageing, ripening)
Die ryp maak van vleis daardeur buite te hou.

verpulp (pulp)
Om tot ’n moes of pulp te verwerk.

verseël (seal, sear)
Om die buitekant van vleis vinnig te skroei om te verdonker en te keer dat die sap uitloop.

versierbuis
Lees spuitsak.

versiersak
’n Keëlvormige sakkie wat gebruik word vir garnering en versiering. (spuitsak)

versiersel
’n Soet suikerbedekking wat as fyngebak gebruik word.

versiersuiker
Suiker met 'n poeieragtige tekstuur. Dit los onmiddelik op.

versnapering (snack)
’n Klein etetjie.

versnit (blend)
’n Wyn gemaak van ’n kombinasie van druiwe – verskillende variëteite of oesjare.

versuiker (candy, candied)
Bedek met suikerkristalle afkomstig van suikeroplossing wat afgekook word.

versuikerde druiwe (frosted grapes)
Druiwekorrels in eierwit gedoop en met fynsuiker besprinkel.

vert [wêr]
Frans vir “groen”.

veselperske
’n Subtropiese, peervormige vrug. Dit staan ook bekend as ’n mango.

vesiga [wê-sie-ka]
Frans vir die gedroogde murg van die steurvis.

vet
Die organiese stof, wat bestaan uit koolstof, waterstof en suurstof, wat in mengsels in dierlike en plantaardige weefsel voorkom.

vetderm (chitterling, chitillins)
Varkderm gebruik om wors in te stop.

vetkoek
’n Koekie van ligte deeg wat in olie gebraai word.

viande [wie-aand]
Frans vir “vleis”.

vichyssoise [wie-sie-sjwaas]
’n Romerige sop van aartappels en preie, altyd koud voorgesit.

Victoria sponge sandwich
’n Sponskoek met ’n vulsel van vrugte of konfytstukke tussen die lae. Dit is vernoem na koningin Victoria.

vier-en-sewentig (74)
’n Vis met geurige, stywe vleis.

vin [vih]
Frans vir “wyn”.

vin d'Alsace
Wyn wat geproduseer is in die Elsas-streek in Frankryk.

Vin Ordinaire [wihn or-di-nêr]
’n Tafelwyn of huiswyn wat nie duur is nie en dikwels per glas verkoop word.

vinaigrette
Slaaisouse wat bestaan uit ’n mengsel van olie, asyn, kruie, sout, peper en suurlemoensap.

vindaloo
’n Spesery-gegeurde pasta wat by verskeie Indiese geregte gevoeg word. Dit bestaan normaalweg uit knoffel, brandrissie, gemmer, koljander, komyn en borrie.

vingerbeskuitjie
Beskuitjies in die vorm van vingers. (suikerbroodvinger)

vinkel
’n Aromatiese Europese plant, Foeniculum vulgare, met geel blomme en ovaalvormige vrugte waarvan die saad as geursel gebruik word.

vino [wie-no]
Wyn in Spaans.

Vins de Pays
’n Franse, amptelike klassifikasie vir ’n goeie tafelwyn uit ’n spesifieke streek.

Vins de Table
’n Franse, amptelike klassifikasie vir ’n tafelwyn uit ’n spesifieke streek.

vins délimités de qualité supérieure (VDQS)
’n Franse, amptelike klassifikasie vir ’n uitstekende streekswyn.

Viognier [voe-ô-niejei]
’n Franse witdruifsoort.

vioolvis
’n Soort eetbare seevis wat in vlakkerige water voorkom en in die sand wegkruip.

vis
’n Koudbloedige, gewerwelde waterdier van die klas Pisces met kiewe en soms skubbe.

viseter
Iemand wat hoofsaaklik van vis leef. So persoon word ook ’n igtiofaag genoem.

vislym (isingglass)
’n Soort gelatien wat uit vis verkry word

visolie
Olie verkry uit sekere seediere.

vla (custard)
Vla is ’n vloeibare mengsel van melk, eiers en ander bestanddele wat as sous of alleen as nagereg bedien word.

vlakbraai (shallow fry)
Om kos in klein hoeveelhede botter of olie te braai.

vlakhaas
’n Grysbruin knaagdier met ’n pels, gesplete bolip, kort stert, lang ore en lang agterbene, Lepus capensis.

vleet
’n Haai met ’n plat lyf. (rog, skeet).

vleihaas
’n Grysbruin knaagdier met ’n pels, gesplete bolip, kort stert, lang ore en lang agterbene, Lepus monticularis.

vleis
Die sagte stof wat die bene van warmbloedige diere bedek.

vleishaak
’n Haak waaraan vleis opgehang word.

vleisjellie
’n Jellie gemaak van van die olieryke dele van ’n skaap, bees of vark.

vleispen (skewer)
’n Hout- of metaalpen waaraan vleis geryg word.

vleissap
Die vloeistof waarin vleis gaargemaak is. Dit kan vir aftreksel of vleissous gebruik word.

vleisstuk (joint)
’n Groot stuk vleis van ’n karkas.

vleisvulsel (forcemeat)
’n Vulsel van verskeie bestanddele wat met eier gebind word. Dit kan sonder vleis gemaak word.

vlek
’n Metode waarvolgens vis so gesny word dat dit plat lê.

vlierbessie (elderberry)
Swart, pers of rooi bessies wat gebruik word vir pasteie en terte. Dit kan ook gebruik word om wyn van te maak.

vloerbrood
’n Ronde brood wat op die vloer van ’n outydse bakoond in die as gebak word.

vlok (flake)
Om vis in klein stukkies te breek.

voedselverwerker
’n Kombuistoestel wat verpulp, meng, fynkap, rasper en versap.

voëltjienes
Die tipe voëltjienes wat in die kookkuns gebruik word word gebou deur ’n Chinese swaeltjie. Die swaeltjie eet seewier in die tydperk voor hulle nesmaak, dit beïnvloed die voël se speeksel op so ’n manier dat die nes voedingswaarde het vir die mens.

vol-au-vent [wol-ou-win]
’n Dop gemaak van tertdeeg, gevul met vleis, pluimvee of seekos wat met ’n sous gemeng is, met ’n deeg-dekseltjie bo-op.

volkoringmeel (whole-wheat meal, Nutty wheat)
Volkoringmeel is witbroodmeel waarby spysverteringsemels gevoeg is.

volaille [wo-lai-je]
Pluimvee of wilde voël in Frans.

volstruis (ostrich)
’n Groot wilde voël waarvan die vleis en eiers gebruik word.

vonkelwyn
Wyn met ’n byvoeging wat veroorsaak dat dit ’n vonkeling vertoon. (bruiswyn)

voorgereg
Die eerste gereg van ’n maaltyd wat die hoofgereg voorafgaan. Dit staan ook bekend as ’n entree.

voorkwart (forequarter)
Die blad en sye van ’n dier.

voorsnymes
’n Mes met ’n lang lem wat gebruik word om vleis mee te sny.

vou
Om bestanddele liggies by ’n gesifte, belugte og geklopte mengsel in te meng.

vrank (tart)
’n Bytende suur smaak.

vries
Om voedsel te bewaar daardeur tot by vriespunt af te koel.

vrug
’n Eetbare deel van ’n plant wat uit die blom ontwikkel en die saad dra.

vrugteslaai
Gemengde, gekapte vrugte, versoet met suiker of stroop en soms gegeur met likeur.

vrugtevla (fool)
Verkilde vrugte-puree gemeng met geklopte room.

vulsel (stuffing)
’n Gegeurde mengsel wat gebruik word om kos te stop of te vul.

vurk
’n Stuk tafelgereedskap met tande waarmee iets opgetel word.

vuurtes
’n Metaaltoestel wat van onder verhit word en gebruik word om kos mee warm te hou.

vy
’n Sagte, peervormige vrug wat vars of gedroog geëet word.

vyfde kwart
Die oneetbare dele van ’n dier.

vysel
’n Vysel is 'n koper-, yster- of graniethouer waarin iets met 'n stamper fyngestamp word.



Wynwoordeboek

1 comment :

  1. Ek soek asb die 5 wenresepte van vrugtekoeke wat in Huisgenoot geplaas was

    ReplyDelete