Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

N - Glossarium, Woordelys van Kookterme - voedsel en wyn

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
naanbrood
’n Effens gesuurde brood van Noordwes-Indië, gemaak van meelblom en in ’n blaarvorm in ’n tandooroond gebak.
Naan

nacho
’n Gebraaide Mexikaanse happie wat gewoonlik bestaan uit ’n driehoekige stukkie tortilla met kaas, brandrissie en ander bestanddele. Dit is moontlik vernoem na Ignacio Anaya, die Mexikaanse kok wat dié gereg in 1943 geskep het.

nadors
Die dors wat ontstaan na die oormatige gebruik van alkohol.

nadruif
’n Druif wat na die gewone oes ryp raak.

naelbol (allspice)
’n Spesery wat verkry word deur die gedroogde, onryp bessies van die Wes-Indiese pimentboom (Pimenta officinalis) fyn te maal. Een teelepel fyngemaalde bessie is gelyk aan 5 bessies. Indien jy nie dit het vir 'n gereg nie kan jy 'n mengsel gebruik van gelyke dele fyngemaalde kaneel, naeltjies, neutmuskaat en swartpeper. (jamaikapeper, piment, wonderpeper)

naeltjie
Die naeltjie is die gedroogde blomkop van die kruienaeltjiesboom wat as spesery gebruik word. (kruinaeltjies)

naeltjiebrandewyn
Brandewyn wat op naeltjies getrek is.

nagereg
Poeding of ander soetigheid wat as laaste gereg van ’n maaltyd opgedien word.

nagskade
Nastergal is ’n onkruid wat meesal in bewerkte lande groei en tot 1 meter hoog word. Die plant dra trosse bessies kleiner as ertjiekorrels. Dit is donkerpers wanneer dit ryp is en geëet kan word. Die onryp bessies bevat ’n giftige alkaloïed solanien wat mens en dier kan doodmaak. (nastergal)

nalisniki
’n Russiese vulsel vir pel’meni (soortgelyk aan Italiaanse ravioli). Dit is gewoonlik spinasie gegeur met neutmuskaat en gemeng met room. Die naam word ook gebruik vir ’n vulsel vir pannekoek en pasteie.

nammies
Afrikaanse alternatief vir lekkergoed.

namnam
Afrikaanse alternatief vir eetgoed.

nangka
Groot vrugte van die Asiatiese boom Artocarpus integrifolia. Die vrugte smaak laf, maar die voedsame pitte word gerooster. (jakkavrug, jakvrug)

Nantua (à la)
Die naam word gegee aan ’n verskeidenheid disse wat kreef bevat. Nantua is ’n klein dorpie in Frankryk.
naoes
Tweede oes in dieselfde seisoen.

Napoleon
’n Beskuitjie met ’n vulsel van konfyt en room of vla.

napper [na-pie]
Frans vir om iets te bedek met ’n sous.

narra
’n Blaarlose, stekelrige plant wat veral in die Namibwoestyn voorkom. Die vrug kan geëet word.

nartjie
’n Klein sitrusvrug met ’n los skil en soet vleis. (mandaryn)

nasi goreng
’n Indonesiese gereg van gebraaide en gegeurde rys met groente en vleis of seekos.

nastergal
Nastergal is ’n onkruid wat meesal in bewerkte lande groei en tot 1 meter hoog word. Die plant dra trosse bessies kleiner as ertjiekorrels. Dit is donkerpers wanneer dit ryp is en geëet kan word. Die onryp bessies bevat ’n giftige alkaloïed solanien wat mens en dier kan doodmaak. (nagskade)

Natalpruim
’n Struik met groot eetbare bessies. Beter bekend as die noem-noem.

natriumbikarbonaat (baking soda)
’n Chemiese poeierstof gebruik as rysmiddel in bak. Beter bekend as koeksoda.

natriumchloried
Beter bekend as tafelsout.

natros
’n Tros druiwe wat bly hang nadat die oes reeds ingesamel is.

navarin [naa-wa-rih]
’n Franse skaap- of lamsbredie.

navet [naa-we]
Frans vir “raap”.

nawel
’n Pitlose lemoen met ’n naeltjievormige punt.

Neapolitaans
Afwisselende lae Italiaanse roomys en ’n mousse-mengsel in verskillende geure en kleure. Die naam word ook gebruik vir sekere Italiaanse nougat.

Neapolitaanse toebroodjie
’n Toebroodjie wat uit verskillende lae met kleurryke vulsels bestaan.

Nebukadneser
’n Nebukadneser is ’n bottel vonkelwyn met ’n inhoudsmaat gelykstaande aan 20 gewone bottels. Nebukadneser was ’n koning van Babilon en die vader van Baltasar.
nektar
’n Soet vloeistof waaruit bye heuning maak.

nektarien
’n Perske met ’n gladde skil. (kaalgatperske, kaalperske, gladdeperske)

nemour [ne-moer]
’n Franse tertjie gevul met konfyt en bestrooi met versiersuiker.

netvet
Vet om die pens van ’n herkouende dier.

Neufschâtel-kaas
’n Sagte kaas met ’n sagte smaak.

neut
’n Vrug met 'n harde of taai dop om die eetbare gedeelte.

neut-kotelette
’n Mengsel in die vorm van ’n kotelet gemaak van neute, broodkrummels, uie, geurmiddels en eier in witsous. Dit word afgekoel en in olie gebraai.

neutboom
Enige boom wat neute dra.

neutekoek
’n Koek met neute.

neutekraker
’n Tang om neute mee oop te breek.

neutmuskaat
Die neut van die muskaatboom wat as spesery gebruik word. Die netvormige vliese van die neut word ook as spesery gebruik en staan bekend as foelie.

niçoise [nie-swaaz]
’n Franse slaai met tuna, tamaties, aartappels en snyboontjies.

nierboontjie (kidney bean)
Die bone is so genoem as gevolg van die vorm van die boon en die rooi kleur. (niertjieboon)

niere
Twee bolvormige organe in die buikholte van ’n dier wat urine afskei. (niertjie)

nieroogkreef
’n Klein skulpvis met lang knypers wat soos steurgarnale voorberei word. Beter bekend as scampi. (Dublin Bay prawn, langoestien, langoustine, langoestien, Norwegian lobster)

niertjie
Twee bolvormige organe in die buikholte van ’n dier wat urine afskei. (niere)

niertjieboon (kidney bean)
Die bone is so genoem as gevolg van die vorm van die boon en die rooi kleur. (nierboontjie)

niervet (suet)
Vetweefsel rondom die niere.

niervetpoeding (suet pudding)
’n Poeding gemaak van gekapte niervet, meel, broodkrummels en rosyne.

nieskruid (yarrow)
’n Kruid wat amper smaak soos kerwel. (nieswortel)

nieswortel (yarrow)
’n Kruid wat amper smaak soos kerwel. (nieskruid)

njabba
’n Eetbare paddastoel.

njala
’n Mediumgroot wildsbok van Suidoos-Afrika.

noedel
Pasta van meel, eiers en water gemaak en in dun plat repe gesny. Die oorspronklike herkoms is van die Duitse woord "Nudel". Net die geel van die eier word vir die beste noedels gebruik. Geel noedels word eiers, meelblom en nuoc-mâm gemaak. Die bekendste Italiaanse noedels is fettucine en tagliatelle Dit word gaar gekook in ’n groot pot soutwater. Dit kan as hoofgereg bedien word met ’n sous of au gratin. Dit is die klassieke bykos vir ryk stowewildsvleisgeregte, coq au vin en alle soorte wit vleis. Dit word in gedroogde vorm as garnering in sop en consommés gebruik, gereeld in die vorm van ’n kort noedel met ’n fatsoen van skulpies ens. Noedels is ook baie gewild in die Chinese, Thaise en Viëtnamese kookkuns. Geel noedels word saam met enige vleis in ’n sauté styl bedien of as garnering vir sop. Vermicelli, ’n soort rysnoedel, word gestoom en saam met verglansde vark, brochettes, chop suey of plat noedels bedien.

noem-noem
’n Struik met groot eetbare bessies. (Natalpruim)

noenmaal
’n Deftige middagete vir ’n deftige geleentheid.

Noilly Prat
Noilly Prat is ’n soort droë vermoet, oorspronklik uit die suide van Frankryk.

noisette [nwha-set]
’n Klein ronde biefstuk, gewoonlik lam, gesny van die rib of lende. Die biefstuk word omring deur ’n dun lagie vet. Die biefstuk is sag en kan in botter gebraai word.

noisette de beurre [nwha-set de buhr]
Frans vir “’n klontjie botter”.

noir [nwhaar]
Frans vir “swart”.

noix [nwha]
Frans vir “neut”.

nonna
’n Stamlose plant waarvan die wortels geëet word. (bergpatat, norra, norretjie, norretjiepatat)

nonpareil
’n Soort appel. Die woord word ook gebruik vir ’n druppeltjie sjokolade bedek met fyn suiker.

nooientjie-onder-die-kombers
'n Stuk vleis in deeg gebak. (hotnotjie-in-die-kombers, oumeid-onder-die-kombers, ouvrou-onder-die-kombers)

nori
Die Japanese naam vir seegras.

norra
’n Stamlose plant waarvan die wortels geëet word. (bergpatat, nonna, norretjie, norretjiepatat)

norretjie
’n Stamlose plant waarvan die wortels geëet word. (bergpatat, nonna, norra, norretjiepatat)

norretjiepatat
’n Stamlose plant waarvan die wortels geëet word. (bergpatat, nonna, norra, norretjie)

Norwegian lobster
’n Klein skulpvis met lang knypers wat soos steurgarnale voorberei word. Beter bekend as scampi. (Dublin Bay prawn, langoustine, langoestien, nieroogkreef)

nougat
Nougat is lekkergoed gemaak van suiker, heuning en neute. Die nougat wat ons tans eet is ontwerp in Marsaille, Frankryk, in die 16de eeu. In Frankryk word dit tradisioneel as nagereg na die Kersmaal bedien.
Klassieke resep vir nougat.

nouilles [noe-jee]
Frans vir “noedels”.

nouvelle cuisine [noe-wel kwi-zien]
’n Kookstyl gekenmerk deur ’n terugkeer na eenvoudige kookmetodes en opdien van kos, met die klem op vars bestanddele en ligte souse.

noyaux
Dit is ’n ratafia wat veral gemaak word met appelkoos- of kersiepitte. (noyeaux)

noyeaux
Dit is ’n ratafia wat veral gemaak word met appelkoos- of kersiepitte. (noyaux)

nuoc-mâm
Dit beteken letterlik "viswater". 'n Viëtnamese smaakmiddel wat gemaak word deur klein vissies in soutwater te marineer en dan fyn te stamp tot 'n pasta. Dit word normaalweg in disse gebruik as 'n plaasvervanger vir sout of as 'n smaakmiddel op die tafel bedien in 'n fles of klein bakkie. Dit is gewild saam met roereier, bredies, sop en Chinese rolletjies.

nuttig
Om te eet.




Wynwoordeboek

No comments :

Post a Comment