Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/30/2016

Kook saam Kaaps

Boontjiestowe, koolfrikkadelle, tamatiebredie, sagopoeding en broodpoeding – eerlik gemaak, sonder fieterjasies en moderne byvoegings – is die onopgesmukte huiskos waarna ons elkeen verlang.

Die hartskos wat met ’n stewige dosis van ma se liefde voorberei is en ons instinktief laat weet dat ons by die huis is. Dit is in die reuk van speserye en gebraaide uie, van varsgebakte brood en heerlike soet poeding.

Kook saam Kaaps, in samewerking met RSG, stel die kos van Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, twee afgetrede tannies van Bonteheuwel in die Kaap, bekend. Met onfeilbare resepte, perfek-beproef na jare se ondervinding, kan elkeen weer huiskos, soos ons ma’s dit gemaak het, in hul eie kombuise voorberei. Die bestanddele is bekombaar in enige winkel, die resepte nie uitgerek nie, en die resultate is gewaarborg.

Beide Koelsoem en Flori word gereeld deur Amore Bekker van RSG geskakel om hul resepte op haar program, Tjailatyd, te deel.

Kook saam Kaaps / Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker -- LAPA, Maart 2016; 112 p. ; sagteband. -- ISBN 9780799375039

Kook saam Kaaps,
Bettie Blom,
30 Junie 2016.

2

6/29/2016

Eierbotter

125 mℓ botter
3 hardgekookte eiers, fyngedruk deur ’n sif
Worcester- of tamatiesous
Sout en peper

Meng al die bestanddele saam. Gebruik jou sous en sout en peper na smaak.
Druk dan weer die mengsel deur ’n sif.
Meng die bestanddele en vorm dan of druk in ’n spuit.



(foto: Hope Moore)

6/24/2016

Tamatie-fondue

2 middelmatige ryp tamaties, die skil en pitte verwyder en dan fyngekap
2,5 mℓ gedroogde basiliekruid
1 knoffelhuisie
30 mℓ botter
125 mℓ droë witwyn
500 mℓ gerasperde cheddar
Paprika

Meng die basilie en die tamatie. Voeg die botter en knoffel in ’n souspot en verhit sodat die botter smelt. Wanneer die botter begin borrel – dit moet nie verbruin nie – voeg die tamatie by. Laat dit 6 tot 8 minute lank kook.
Geur die mengsel met paprika en gooi die wyn by. Laat dit saggies kook tot alles goed gemeng is. Roer deurentyd.

Voeg nou die kaas by. Hou aan roer. Wanneer die kaas gesmelt is en dit is baie warm is dit gereed om bedien te word. Bedien dit op roosterbrood, as fondue-sous of oor pasta.

6/22/2016

Tiramisu pampoenpastei

450 gaar fyngedrukte pampoen
250 mℓ vars room
3 eiers, geklits
180 mℓ Tiramisu roomlikeur
167 g demerara suiker / bruinsuiker
knippie sout
1 22cm blind gebakte soet deegkors

Voorverhit die oond tot 200°C.

In 'n groot bak, klits die pampoenmoes, room, eiers en likeur saam.
Roer dan die suiker en sout by.
Giet in die voorbereide tertkors bak vir sowat 45 minute.

Haal uit die oond en laat dit afkoel voor dit bedien word.

6/16/2016

Wilde-eend bredie

2 wilde-eende, skoongemaak
300 mℓ port
150 mℓ aftreksel
2 uie, fyngekap
Sap vaan 1 bitterlemoen
Sout en peper
Knippie rooipeper

Braai die wilde-eende halfgaar en sny dan op in porsies.

Plaas 150 mℓ port, die aftreksel, uie, lemoensap, sout en peper en rooipeper in ’n kastrol. Laat prut oor lae hitte vir 5 minute.
Gooi die res van die port by en bring tot kookpunt.
Plaas die eend in die sous en proe vir sout en peper. Laat prut tot die eend sag is. Proe dan weer vir sout en peper.
Die gaarmaaktyd behoort so om en by 45 minute te wees.

Bedien hierdie eend saam met groenbone en geroomde aartappels.

6/15/2016

Piesang flambé

Piesang flambé is baie maklik om te maak.

Halveer die piesang in die lengte en braai in botter tot dit begin blink.
Bedien dit in ’n warm bakkie en strooi suiker oor.
Gooi dan warm rum oor en steek dit aan die brand.

Bedien saam met roomys.


6/13/2016

Gestoomde mieliegereg

Roer 500 mℓ gekookte groenmielies (klik op die skakel vir die resep) by 2 geklitste eiers.
Roer by 15 mℓ suiker en ’n knippie sout, neutmuskaat en peper.
Klits die mengsel saam met 125 mℓ melk en 125 mℓ room.
Vul ’n gesmeerde vorm met die mengsel en stoom dit vir 30 minute.

Haal uit die vorm en bedien.

6/12/2016

St Agur

St Agur is ’n bloukaas gemaak van koeimelk uit die dorpie Beauzac in Frankryk. Die melk word met room verryk en vir ten minste 60 dae verouder.

St Agur se tekstuur maak dit een van die beste bloukase om te gebruik in warm geregte.

6/11/2016

Die kykNET Kos-crawl 2016

Sedert 2014 is die kykNET-koscrawl een van Innibos se heel gewildste produksies.

Dit is soos pub-crawling, maar hier word daar rondom kos, kokkedore, sjefs en kunstenaars gekuier. Die feesgangers klim op ’n bus en dan vertrek hulle na Nelspruit Hoërskool waar daar vier verskillende aandoenplekke is. By hierdie venues tree daar verskillende sjefs en kunstenaars op.

Die eerste aandoenplek is Huis Hermann Davin. Voeg ʼn befaamde kokkedoor en ʼn geliefde sanger en storieverteller bymekaar en jy het ʼn resep vir ʼn heerlike gereg. Tiaan Langenegger en Jak de Priester span kragte saam in hulle produksie Kos en Woorde vir die Siel waar hulle heerlike geregte en sielvolle stories kombineer vir ’n egte sensoriese ervaring. Hulle gaan smullekker geregte demonstreer en wys hoe Clemengold-produkte vernuftig in disse gebruik kan word.

Die tweede aandoenplek is fleur de Lis-restaurant waar die befaamde sjef Nicolas van der Walt sy slag met fyngebak gaan wys. Hy het opslae gemaak as een van die mees belowende sjefs veral wat suiker- en sjokolade handwerk betref. Hy het die suikerkuns vervolmaak en is ook ʼn leier op die gebied sjokolade. Hy is tans direkteur en mede-eienaar van die FBI Chef school and Patisserie Academy. Hier gaan jou soettand beslis bevredig word.

Die derde aandoenplek is Huis Maré waar die hoogaangeskrewe sjef Bertus Basson optree. Hy is veral bekend is vir die sukses van Overture, ’n restaurant bekend vir sy fynproewerdisse. Hierdie restaurant wat in die pragtige wynlande geleë is, het al vele pryse gewen en word beskou as een van Suid-Afrika se top uiteetplekke. Bertus hou daarvan om met vars produkte te werk en sy aandag aan detail is die sleutel tot sy kookkuns-sukses. Hierdie supersjef was ʼn beoordelaar van The Ultimate Braai Master en is tans aanbieder van die splinternuwe Afrikaanse reeks Brood en Botter.

Dan vir die letterlike kersie op die koek gaan feesgangers langs die swembad by H2M vir Anmar Odendal – al die pad vanuit Engeland - in aksie sien. Hierdie flambojante en energieke kok is veral bekend vir haar kreatiewe en innoverende versiering van koeke en fyngebak. Sy is onder die top 20 troukoekbakkers van die Verenigde Koninkryk. Sy is in 2012 as die beste troukoekontwerper in die ooste van Engeland aangewys. Sy is tans pastry chef van Swan Hotel and Spa in Lavenham, Suffolk. Saam met haar tree storieverteller Andries Vermeulen op wat feesgangers met staaltjies oor koeke en kos gaan verras.

Die kykNET koscrawl word afgesluit met ’n reuse verrassing. Kom ontmoet die Koekedoor 2016 se wenners en kom proe van die fyngebak wat uit hulle kombuise kom.

Vanjaar se kykNET koscrawl beloof een van die hoogtepunte op die program te wees. Moenie dit misloop nie!

Die feesgangers kry slegs ’n peuselhappie by al die aandoenplekke - nie ’n volledige ete nie.

Met Met Bertus Basson, Tiaan Langenegger en Jak de Priester, Nicolas van der Walt, Anmar Odendal en Andries Vermeulen

Genre: Kookkuns
Ouderdomsbeperking: Slegs volwassenes
Plek: Bus optelpunt: NG Gemeente Westergloed, Koraalboomstraat 36
Kaartjies: R252
Datum: Busse vertrek Vr 1 Julie 2016 om 9:00, 11:00 en 13:00

Innibos 2016

Die kykNET Kos-crawl 2016,
Roekeloos,
11 Junie 2016. 2

6/09/2016

Botter vir peuselhappies

Botter is ’n maklik en eenvoudige pasmaat vir peuselhappies. Omtrent enige bestanddeel kan by botter gevoeg word. Sorg net altyd dat dit glad en fyn is en dat jy dit korrek kombineer, ’n visbotter by ’n vleisgereg werk byvoorbeeld nie altyd lekker nie.

As jy ’n klein hoeveelheid southappies het, gebruik liefs die botter net so saam met ander smeersels. Vir iets soos reënboog-toebroodjies kan jy die botter kleur.

Berei die botter en bottersmeersels reeds die vorige dag.

In die winter is die botter geneig om baie hard te wees. Moet dit nie in ’n pan of mikrogolfoond smelt nie. Dit maak die botter olierig. Meng dit met ’n skeut kookmelk.

6/08/2016

Geroosterde kaasbroodrolletjies

Rasper 500 g cheddar en smelt dit in ’n kastrol saam met 125 mℓ botter.
Roer 60 mℓ medium sjerrie en 2,5 mℓ Worcester-sous by.
Laat dit effens afkoel.

Smeer nou die mengsel om 24 dun snytjies witbrood (sonder korsies).
Rol elke snytjie styf op en halveer dit.
Plaas dit op ’n oondpan en rooster. Draai dit gereeld om sodat dit rondom bruin word.
Bedien dadelik.

Hierdie resep maak 48 rolletjies.

(foto: Keira Morgan)

6/06/2016

Artisjokharte / Fondi di carciofo

Artisjokharte kan gewoon in aftreksel gekook word. Die maklikste is maar om ’n blikkie daarvan te koop.

Gooi ’n fyngekapte knoffelhuisie en ’n klein bietjie varsgekapte pietersielie by die aftreksel voor jy dit begin verhit. Moet dit nie te lank kook nie anders sal die artisjokke begin disintegreer.

6/05/2016

Laat die potte sing

Marlise Scheepers, oftewel Sjef Snoekie, is soos Neopolitan-roomys wat destyds almal se gunsteling was – sy sing, blog en kook.

En vir die kersie op die koek behartig sy ook die nuusredaksie en kosstilering van Farmers Weekly. Haar aweregse sin vir humor en slag met kos word in Laat die Potte Sing gekombineer om nie net heerlike resepte te skep nie, maar ook die lewe te blaas in raakvat-stories en beskrywings.

Laat die potte sing / Marlise Scheepers -- LAPA, Maart 2016; 140 p. ; sagteband. -- ISBN 9780799374957

Laat die potte sing,
Bettie Blom,
5 Junie 2016.

2


6/03/2016

Spaghetti reggio

Kook spaghetti volgens die aanwysings op die verpakking.
Spoel af en dreineer.

Verhit 15 mℓ olyfolie saam met 1 fyngekapte salot.
Roer die spaghetti en 30 mℓ gerasperde parmesaan by. Roer tot alles warm is en bedien dadelik.

Resep: Ernest Amiet

6/02/2016

Wynproewer verklap haar geheim

Sout en peper, koppies en pierings, aarbeie en room ¬– hierdie dinge pas eenvoudig by mekaar. Ané Wait, hoofsjef by die Brasserie de Paris-restaurant in Pretoria, het ook ‘n perfekte pasmaat in wyn gekry.

Sy gaan eersdaags in Liechtenstein op die wêreldverhoog teen ander jong wynkenners deelneem aan Chaine de Rottisseurs se kompetisie vir jong sommeliers.

Sy gesels oor hoe om kos en wyn by mekaar te laat pas.

Tydens ons besoek aan die Brasserie de Paris het sy hierdie trio van beesfillet saam met De Toren se La Jeunesse Delicate bedien.

6/01/2016

Ryk vanilla sous

400 mℓ vla
400 mℓ styfgeklopte room
30 mℓ Cointreau

Maak die vla aan volgens hierdie vla resep.
Meng dit dan met die room en Cointreau. Gooi meer of minder Cointreau by soos jy verkies.

Gebruik die sous vir nagereg.