Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/30/2008

Wenke B

WENKE A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

Bak

Indien jy 'n spesifieke vorm soek om mee te bak en jy kan dit nêrens opspoor nie kan jy jou eie maak uit foelie.


Bakpoeier

'n Plaasvervanger vir 20 ml bakpoeier is 10 ml kremetart plus 5 ml koeksoda.


Beskuit

Wanneer jy beskuit bêre, strooi 'n laag suiker onder in die houer om dit langer vars te hou.

♦♦♦

Beskuit kan tot 3 maande in 'n lugdigte houer gehou word.

♦♦♦

Botter gee 'n beter geur aan beskuit as margerien.

♦♦♦

Sny vars beskuit met 'n elektriese mes. Dit voorkom dat dit te erg breek.

♦♦♦

Plaas 'n koppie water in die mikrogolfoond as jy gevriesde beskuit ontdooi. Die vog sal verhoed dat dit uitdroog.


Beskuitjieblik

'n Eetlepel suiker hou die inhoud van 'n beskuitblik vars.


Beskuitjies

Om beskuitjies maklik te verkrummel, plaas hulle in 'n sterk plastieksak. Druk hulle eers met 'n rolstok stukkend en rol hulle daarna fyn.


Blaarslaai

Plaas 'n papierservet in die yskashouer saam met blaarslaai. Dit absorbeer die vog en sorg dus dat die blaarslaai langer hou.

♦♦♦

Sit blaarslaai in suikerwater en dit sal weke vars bly.


Blikkieskos

Skryf die datums op jou blikkieskos. Dan kan jy seker maak jy gebruik altyd die oues eerste.


Blikpanne

Skrop muwwerige panne wat roes skoon met asyn en laat droog word in die son.


Blomkool

Kook 'n paar lourierblare saam met blomkool indien jy nie van die reuk in jou kombuis hou nie, dan ruik jou kombuis baie lekkerder.

♦♦♦

Sit 'n stukkie suurlemoenskil in die water as jy blomkool kook. Dit hou die blomkool mooi wit.

Botter

Botter moet kamertemperatuur wees wanneer jy dit vir gebak gebruik.

♦♦♦

Kookolie kan as 'n plaasvervanger vir gesmelte botter gebruik word.

♦♦♦

Wanneer jy botter room, spoel eers die bak met kookwater uit. Dit maak dit baie makliker.

♦♦♦

Hou die botterpapier wanneer die botter op is. Jy kan dit gebruik om oondbakke te smeer.


Braaipan

'n Elektriese braaipan kan met foelie uitgevoer word om dit vlekloos te hou.


Bredie

Voeg 'n avokadopeer by 'n bredie net voordat u dit opskep, dit gee die bredie 'n heerlike smaak.


Broccoli / Brokkoli

Maak 'n X-vormige snit in broccoli-stingels voordat jy dit in die pot sit. Die stingels sal gelyk met die blommetjies gaar word.


Brood

Braaibrood op die rooster is geneig om op te krul en die vulsel val dan uit. Bind net oorkruis vas met 'n stukkie gare en die brood sal sy vulsel hou. Die gare sal nie brand nie.

♦♦♦

’n Fyn sproei water aan die binnekant van jou oond tydens die eerste paar minute wat jou brood bak sal die brood ’n dunner kors gee.

♦♦♦

As jy 'n brood bak en 'n lekker bros kors bo-op wil hê, smeer die brood halfpad deur die bakproses met soutwater.

♦♦♦

Jy kan brood in 'n leë skoendoos in jou mikrogolfoond bak.

♦♦♦

Hou 'n brood langer vars deur 'n stuk seldery saam met die brood in 'n papiersak te bêre.

♦♦♦

Doop ou brood in water en bak dit dan weer in die oond. Dit sal vars smaak.

♦♦♦

Plaas 'n pakkie sout in die broodblik om jou brood vars te hou.

♦♦♦

'n Halwe aartappel in die blik hou brood vars.

♦♦♦

Plaas 'n koppie water in die mikrogolfoond as jy gevriesde brood ontdooi. Die vog sal verhoed dat dit uitdroog.


Broodbord

Indien die hout broodbord kromgetrek is, plaas dit op 'n plat oppervlakte met 'n klam doek bo-op vir ten minste 24 uur.


Broodkrummels

As jy 'n gereg maak en jy sit sonder broodkrummels, gebruik graanvlokkies. Gooi 'n handvol in 'n plastieksakkie en druk fyn voordat jy dit by die res van die bestanddele voeg.


Brosbrood

Brosbrood bak ewerediger as dit oraloor met 'n vurk geprik is.


Bruinsuiker

'n Stuk brood in die houer oornag maak bruinsuiker wat hard geword het weer sag.


Bruismeel

Hou bruismeel in 'n lugdigte houer om die rysmiddel in die meel vars te hou.

♦♦♦

Sif bruismeel altyd voor gebruik om lug in te werk.

♦♦♦

'n Plaasvervanger vir 250 ml bruismeel is 250 ml koekmeel plus 5 ml bakpoeier (binneland) of 7 ml indien jy op seevlak is.

No comments :

Post a Comment