Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

L Glossarium, Woordelys van Kookterme - voedsel en wyn

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
La Havre boudin blanc
Franse wors sonder enige vleis, gemaak van varkvet, melk, eiers, brood en meel.

laagkoek
’n Koek wat uit verskeie lae bestaan.
Victoria-laagkoek

laatoes
Verwys na die druiwe wat laat in die seisoen geoes is en wyn van gemaak is. Spesiale laatoes (Special late harvest): bevat 20-50g suiker per liter, Edel laatoes (Nobel late harvest): bevat meer as 50g suiker per liter.

laban
’n Midde-Oosterse joghurt-drankie.

labberdaan
Ingesoute vis - veral kabeljou.
Ingesoute kabeljou / Gesoute kabeljou / Labberdaan

Labneh
’n Sagte Lebanese kaas gemaak van jogurt. Dit word normaalweg bedien met soutige geurmiddels as ’n doopsous of smeersel.
Labneh

Lady cake
’n Ligte koek gemaak van eierwitte, roosgeursel en suurlemoen- of amandelekstrak.

laf
Smaakloos; soutloos.

lager
’n Ligte soort bier. (lagerbier)

lagerbier
’n Ligte soort bier. (lager)

Laguipière-sous
’n Witwyn-sous met vis-aftreksel.

lait [lê]
Frans vir “melk”.

lait batu
’n Belgiese spesialiteit, beter bekend as bottermelk. Dit is melk wat vir 1½ uur lank gekook saam met gort en bruinsuiker. Dan word dit gemeng met heuning, rosynties en droëvrugte wat vooraf geweek is in warm water. In Frankryk noem hulle dit lait batu.

laitance [lê-taans] (roe)
Frans vir sagte viskuite of viseiers.

laitue [lê-tu]
Frans vir “kropslaai”.

laktose
Melksuiker wat voorkom in die melk van diere.

laloentjie (muskmelon)
’n Soort klein spanspek. (leloentjie)

lam (lamb)
’n Lam is die kleintjie van veral ’n skaap, bok of wildsbok.

lamb fries
Gebraaide lamslewer.

lamsboud
’n Vleisgereg wat hoofsaaklik bestaan uit die boud van ’n lam.
Gebraaide lamsboud met kruie

lamskotelet
’n Kotelet van lamsvleis.

lamsribbetjie
Die ribbetjie van ’n lam.

lamsrugstring-met-ribbes (rack of lamb)
’n Deel van die lamsrib wat bestaan uit agt tjops aan mekaar verbind is.

lamsvleis
Vleis van ’n lam.

Lancashire
’n Engelse koeimelkkaas.

Lancashire hotpot
Lam- of skaapvleisbredie.

landgoedwyn
Wyn verkry van druiwe van een bepaalde plaas.

landwyn
Jong wyn wat meesal net by die plaas waar dit gemaak word te koop is.

langmelk
Draderige melk.

langnek-Chinese gans
’n Ganssoort. (knobbelgans)

langoestien
’n Klein skulpvis met lang knypers wat soos steurgarnale voorberei word. Beter bekend as scampi. (Dublin Bay prawn, langoustine, langoestien, nieroogkreef, Norwegian lobster)

langouste [lang-ghoest]
Frans vir “kreef”.

langoustine [lang-ghoe-stien]
Geurige skulpvis van ’n hoë kwaliteit soortgelyk aan, maar groter as steurgarnale, maar kleiner as kreef. (Dublin Bay prawn, langoustine, langoestien, nieroogkreef, Norwegian lobster)

langue [laangh]
Frans vir “tong”.

langue-de-chat [laangh-de-sha]
Frans vir “vingerbeskuitjie”.

lapin [la-pih] (rabbit)
Frans vir “konyn”.

lapvleis
Die liesstuk.

lardeer (larding)
Met repies spek opstop.

lardeerpriem
’n Priem waarmee gate in vleis gesteek word vir lardeersel.

lardeersel
Spek wat gebruik word om vleis te lardeer.

lardeerspek (lardoon)
’n Dun repie vetterige spek wat vir lardering gebruik word.

lardon [laar-doh]
Frans vir “lardeerspek”.

lasagna
’n Italiaanse gereg berei uit lang plant noedels en ’n vulsel soos maalvleis en tamatiesous. (lasagnia, lasagne, lazagne)
Lasagna

lasagne
’n Italiaanse gereg berei uit lang plant noedels en ’n vulsel soos maalvleis en tamatiesous. (lasagnia, lasagna, lazagne)
Lasagne

lasagnia
’n Italiaanse gereg berei uit lang plant noedels en ’n vulsel soos maalvleis en tamatiesous. (lasagne, lasagna, lazagne)
Lasagnia

lavas (lovage)
’n Aromatiese plant wat in kos en drank gebruik word. Die plant is oorspronklik van die Skandinawiese lande. (angelika, engelkruid, engelwortel)

laventel
’n Struik met blomme en blare wat ’n sterk kanferreuk het.

lazagne
’n Italiaanse gereg berei uit lang plant noedels en ’n vulsel soos maalvleis en tamatiesous. (lasagnia, lasagna, lasagne)
Lazagne

Le Mans boudin blanc
Wors gemaak van varkvleis en -vet, eiers, melk en uie.

Lebkuchen
Duitse soet bruin koekies.

leeg bak (bake blind)
Om ’n tertdop met ’n tydelike vulsel te bak tot dit deurgaar en bros is. (blind bak)

leervis
’n Sportvis waarvan die vleis (van die jong vis veral) baie gesog is.

Leghorn
’n Mediterreense ras van kleinerige hoenders.

legume [lê-ghuum]
Frans vir “groente”.

legumine
’n Stof soortgelyk aan kaseine wat in peulplante aangetref word.

Leicester
’n Stewige, oranjekleurige Engelse kaas.

Leiden
’n Droë Nederlandse kaas met komynsaad. (Leyden)

lekker (sweet)
’n Versnapering wat 'n mengsel van soetighede is.

lekkerbek
’n Persoon wat van kos en drank hou. (smulpaap)

lekkerbekkig
Om op lekker eet gesteld te wees.

lekkergoed (sweets)
’n Versnapering wat 'n mengsel van soetighede is.

lekkermaakkoek
Koek wat brandewyn bevat.

lekkerny
Iets wat lekker smaak.

lekseltjie
’n Baie klein hoeveelheid.

lekstokkie
’n Stokkie wat in iets lekkers gesteek word en dan afgelek word.

leloentjie (muskmelon)
’n Soort klein spanspek. (laloentjie)

lemmetjie (lime)
’n Groen suurlemoenagtige vrug van die boom Citrus aurantifolio.

lemoen (orange)
’n Sappige sitrusvrug met soet sap en ’n oranje skil.

lemoendrank (orange squash)
’n Gekonsentreerde vloeistof wat verdun kan word om ’n drankie te maak. (lemoenkwas)

lemoenhuisie
’n Skyfie van die vleis van 'n lemoen, wat in ’n vlies ingesluit is.

lemoenkonfyt
Konfyt gemaak van lemoene.
Lemoenkonfyt

lemoenkwas (orange squash)
’n Gekonsentreerde vloeistof wat verdun kan word om ’n drankie te maak. (lemoendrank)

lemoenpampoentjie (gem squash)
Murg-van-groente wat geel word soos ’n lemoen.

lemoenspanspek
’n Geelgroen gestreepte spanspek met ’n aangename geur wat omtrent so groot is soos ’n lemoen.

lende
Die onderste deel van die rug van ’n dier met die aangrensende dele aan die linker- en regterkant.

lendeskyf (sirloin)
’n Skyf gesny uit die lendestuk.
Lendeskyf met sampioene en wyn

lendestuk
’n Stuk vleis gesny uit die boonste deel van die lende van ’n bees.

lensie (lentil)
’n Eetbare peulplant; familie van die ertjie.
Lensie- en rysslaai

lepel
’n Stuk tafelgereedskap wat bestaan uit ’n ronde ovaalvormige bakkie met ’n steel.

lepel bedek (coat a spoon)
Wanneer gaar sous, sop of vla die agterkant van ’n houtlepel egalig bedek.

lepelvol
Die hoeveelheid wat ’n lepel bevat.

lewer
’n Groot klier by diere wat onder andere gal afskei en belangrik is vir spysvertering.
Lewer

lewertraan
Olie verkry uit sekere seediere.

lewerwors
Wors met lewer as hoof bestanddeel.

Leyden
’n Droë Nederlandse kaas met komynsaad. (Leiden)

liason [lie-a-son
Frans vir ’n verdikkingsmiddel gebruik in soppe en souse.

Liederkranz-kaas
’n Sagte, ryk Amerikaanse camembert-agtige kaas.

lies (flank)
Die vleis tussen die maag en die been van die dier.

lietsjie
’n Sappige vrug wat natuurlik voorkom in tropiese streke. (Chinese pruim)

lièvre [lie-y-wr]
Frans vir “haas”.

likeur
Sterk maar fyn alkoholiese drank met suiker en aromatiese stowwe berei en gewoonlik ’n klein glasie opgedien. Dit kan as apéritif bedien word, gewoonlik op ys, na ete, tussen drankies, as ’n bestanddeel van ’n mengeldrankie of as ’n bestanddeel van ’n resep. Franse monnike het ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van likeur. Bekende handelsmerke is Chartreuse, Bénédictine, Izarra, Amaretto en Grand Marnier.

likeurpoeding (diplomat pudding)
Versuikerde vrugtepoeding gevorm met Beierse room, verkrummelde sponskoekvingers en appelkooskonfyt, voorgesit met ’n vrugte-en-likeursous.
Ook genoem diplomaatpoeding.

likeursjokolade
Sjokolade gevul met likeur.

limaboontjie (lima bean)
’n Plat, verrimpelde, niertjievormige Amerikaanse boontjie.

Limburger
Dit is ’n sagte Belgiese kaas met ’n besondere sterk geur en smaak. Die kaas word sagter namate dit verouder.

limonade
Koeldrank wat oorspronklik van suurlemoensap, suiker en water gemaak is. Moderne weergawes is meesal van sintetiese geurmiddels vervaardig. Limonade resep

Limoux Nature
’n Witwyn wat naby die dorp Limoux in Frankryk gemaak word. Dit word gemaak van mauzac-druiwe.

lingonbessie (cranberry)
’n Klein, ronde, vrank, rooi bessie soortgelyk aan die rooibosbessie en die veenbessie.

linguine
Pasta in lang plat repe. Dit is dunner as tagliatelle.
Linguine met suurlemoen en safraan

liqueur [lie-kuhr]
Frans vir “likeur”.

litdeling (jointing)
Die opsny van pluimvee of wild by die litte in porsies.

loekwart
’n Suurderige vruggie van die lukwartboom.
Ook genoem lukwart.

loganbessie (loganberry)
’n Eetbare rooi bessie van n struik wat ’n kruising is tussen ’n braam en ’n framboos.

lollo biondo
Blaarslaai met ’n groen geriffelde rand. Dit het matige smaak en ’n delikate tekstuur.

lollo rosso
Donker blaarslaai met ’n rooi geriffelde rand. Dit het ’n delikate tekstuur.

Long Island Ice Tea
’n Mengeldrankie wat dateer uit die dae toe daar streng wetgewing oor drankverbruik was in Amerika. Dit is destyds uit teekoppies gedrink.
Long Island Ice Tea

longe de veau [lohn de wou] (loin of veal)
Frans vir “kalfslende”.

loopdop
’n Afskeidsdrankie.

losange [lo-zaansh]
Frans vir “diamantvormig”.

losboompan (spring-form tin)
’n Koekpan met ’n skarnier of veer aan die eenkant wat gebruik word wanneer delikate koeke gebak word.

lospitperske
Perske met ’n losserige pit wat maklik oopgebreek kan word.

lourierblaar (bay leaf)
Blaar van die lourierboom wat as geurmiddel gebruik word.

lugbraaier (air fryer)
’n Lugbraaier is ’n elektriese oond waarin kos gaargemaak word met behulp van die sirkulasie van warm lug. Tegniese kombineer dit die voordele van ’n diepbraaier (wat ’n bros kors aan kos soos slaptjips gee) met dié van ’n konveksie-oond (waarvoor geen diepbraai-olie benodig word nie en wat geen onaangename reuke veroorsaak nie).

lukwart
’n Suurderige vruggie van die lukwartboom. (loekwart)

lusmakertjie
Iets, veral ’n drankie, wat die eetlus prikkel.

lustrer [loe-strê]
Frans vir die proses van glasering met aspiek.

lutfisk
’n Ongesoute Noorse kabeljou. Hulle noem dit ook stockfisk.

Lyon-wors
’n Luggedroogde Franse varkwors.

Lyonnaise [lie-ohn-nêz]
Beteken afkomstig van Lyon, ’n Franse stad.

Lyonnaise-sous
’n Witwyn- en uiesous.

lysterbessie
Vrug van die sorbeboom. (sorbe)




Wynwoordeboek

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

No comments :

Post a Comment