Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/30/2008

Wenke K

WENKE A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

Kaas
Vul 'n leë speserybottel met meel en gebruik dit om oor kaas te sprinkel op pizza of 'n pastagereg. Dit voorkom dat die kaas drade trek.

♦♦♦

Rasper kaas wat hard geword het, met die fynste deel van die rasper en gebruik dit in plaas van parmesaan.

♦♦♦

Sorg dat daar altyd gerasperde kaas in die yskas is - dit bespaar tyd wanneer 'n gereg berei word.

♦♦♦

Hou jou kaas in foelie. Dit hou langer en muf nie.


Kakao
‘n Knippie kaneel verleen ´n pikante smaak aan kakao.


Kapokaartappels

'n Knippie bakpoeier op kapokaartappels maak dit lig en sag.


Kerfplank

Raak ontslae van sterk en onaangename kosreuke wat aan 'n kerfplank kleef deur dit met 'n halwe pomelo of suurlemoen te vryf en dan af te spoel.

Kerrie

Hoe donkerder die kersies, hoe soeter is dit.

♦♦♦

'n Kerrie kan tot drie dae in die yskas gehou word en sal waarskynlik verbeter oor die tyd.

♦♦♦

Voeg ’n paar druppels vanilla-ekstrak by kerrie-geregte. Dit neutraliseer die hitte van die rissie effe, maar bring die geur meer na vore.

♦♦♦

Wanneer jou mond brand as gevolg van warm kosse soos kerrie eet, eet brood of seldery of drink melk - moet glad nie water drink nie.


Kersie

Kersies smaak op hul beste as dit by kamertemperatuur geëet word.


Ketel

Aanpaksels aan 'n ketel se element kan verwyder word deur te kook met asyn.

♦♦♦

Vul 'n nuwe ketel met helfte witasyn en helfte water. Kook en laat oornag staan. Spoel die volgende dag uit met skoon water. Dit voorkom verkalking.

Klapper

Hou klapper in 'n lugdigte houer en vries dit. Dan kan dit tot 6 maande lank hou.


Kleefplastiek
Hou jou kleefplastiek in die yskas. Dit hanteer dan makliker.

♦♦♦

As kleefplastiek opfrommel, hou dit 'n minuut lank oor warm water. Die stoom sal dit ontplooi.


Knoffel
Vir 'n gematigde knoffelsmaak in 'n gereg, voeg die knoffel vroeg in die kookproses by. Vir 'n sterk knoffelsmaak, voeg dit teen die einde by.


Koek

As jy ‘n druppel of twee kookolie by die gesmelte sjokolade voeg wat jy oor koek of eclairs gaan smeer, sal dit ‘n blink, professionele voorkoms hê.

♦♦♦

Twee eetlepels stroop in jou sjokoladekoekmengsel sal sorg dat die koek klam en smaaklik bly.

♦♦♦

5 ml gliserien gee enige koekmengsel 'n ligter tekstuur.

♦♦♦

Voeg bakpoeier heel laaste by koekbeslag - die koek sal dan baie lig uitrys.


Koekies

Hou ’n stuk skoon waspapier bo-op droë koekies in ’n digte koekblik. Dit hou die koekies vars.

♦♦♦

Wanneer jy droë koekies bêre, strooi 'n laag suiker onder in die houer om dit langer vars te hou.

♦♦♦

Onversierde koekies wat begin sag word kan weer bros gemaak word deur dit vir 5 minute by 180 grade te verhit.

♦♦♦

Gebruik die meel spaarsamig wanneer jy koekiedeeg op 'n meeloppervlak uitrol. Te veel meel kan die koekies hard maak.

♦♦♦

Vir ekstra bros koekies, gebruik bruinbroodmeel in plaas van koekmeel.

♦♦♦

Druk die vurk waarmee jy koekiedeeg platdruk in meel. Dit voorkom dat die deeg aan die vurk vassit.

♦♦♦

Wanneer jy koekies se deeg verseël, bestryk die rande eers met water of melk.

♦♦♦

Indien jy nie 'n koekiedrukker het nie, kan jy koekies met 'n glas uitdruk.

♦♦♦

Botter, hoewel duurder as margarien, is altyd beter vir geurige kleinkoekies.

♦♦♦

Maak kleinkoekie deeg 'n dag voor die tyd aan, bedek met kleefplastiek en bêre in die yskas. So verkry die koekies 'n beter tekstuur.

♦♦♦

As jy kleinkoekies bak, trek eenvoudig die oondrak oor met tinfoelie, strooi meel daaroor en plaas dan die rou koekies bo-op. Geen bakpanne om agterna skoon te maak nie.

♦♦♦

Verhit koekies langs 'n koppie water in 'n mikrogolfoond. Hou hulle klam en verhit dit vinniger.


Koekpanne

Laat altyd ’n minimum 25 mm toe om koekpanne in die oond vir egalige hitteverspreiding.

♦♦♦

Wanneer jy op meer as een oondvlak gelyk bak, ruil die koekpanne halfpad deur die baktyd.

♦♦♦

Voer jou koekiepanne uit met swaardiensaluminiumfoelie voor jy koekies bak. Dit voorkom dat die koekies merke laat.

♦♦♦

As jy kleinkoekies bak, trek eenvoudig die oondrak oor met tinfoelie, strooi meel daaroor en plaas dan die rou koekies bo-op. Geen bakpanne om agterna skoon te maak nie.


Koeksisters

Koeksisters vries goed in lugdigte houers. Haal uit 30 minute voor jy dit wil bedien.


Koekversiersel

Om te keer dat jou koekversiersel versuiker, gooi 'n paar druppels asyn by wanneer jy dit aanmaak.


Koffie

Bêre koffie in die yskas om dit vars te hou.


Koffiebekers

Week jou koffiebekers oornag in 'n bleikmiddel om van vlekke ontslae te raak.


Koffiefles

Gooi 'n paar eetlepels koeksoda in jou koffiefles saam met warm water en laat staan vir 'n tydjie. Spoel goed uit. Jou fles sal nou silwerskoon wees.


Koffiemasjien

Maak jou koffiemasjien skoon deur wit asyn deur die masjen te laat sirkuleer. Daarna moet die proses herhaal word met skoon water.


Koljander

Voeg koljander by geregte wat brand om 'n balans aan die smaak te verskaf. As koljander nie beskikbaar is nie maak 'n mengsel van pietersielie, sprietuie en gerasperde komkommer.


Kolwyntjies
Bak kolwyntjies vir kinderpartytjies in stomp roomyshorinkies.


Kondensmelk

Kondensmelk kan soos room geklop word as dit eers vir 10 minute lank (in die blik) in 'n pot kookwater warm gemaak word.


Konfyt

Chantelle Geldenhuys: Jy kan 'n bietjie suurlemoensap by konfyt gooi om sandsuiker te voorkom.


Konfyttertjies

Doop die konfyt in meel voor jy dit in die degie toevou / druk. Dan sal dit nie uitloop nie.

♦♦♦

Mimi het geskryf: Het iemand ´n wenk of voorstel sodat appelkooskonfyt nie sal uitloop by appelkooskonfyttertjies nie?
Probeer :- 1 eierwit en 1 teelepel suiker - klits goed en smeer aan rand. (Petro van der Westhuizen)


Kookoliebottel

Sny die onderste deel van 'n wynbottelhouer af en bêre jou kookoliebottel daarin. Die kartonhouer suig olie wat drup op.


Kool

Kook 'n paar lourierblare saam met kool indien jy nie van die reuk in jou kombuis hou nie, dan ruik jou kombuis baie lekkerder. 'n Sny wit brood saam met die kool vat ook die reuk weg.

♦♦♦

Plaas bietjie botter in water waarin kool gekook word, dit sal verhoed dat kool oorkook.


Koper

Sprinkel koeksoda in aangebrande koperpotte en voeg te genoeg water by om die oppervlak te benat. Laat staan vir drie ure en maak dan skoon.


Kosblik

Soms ruik 'n kosblik muf na baie maande se gebruik. Week 'n sny brood in asyn en los dit oornag in die kosblik. Was die kosblik die volgende dag.


Koue vleis

Hou koue vleis in tinfoelie sodat dit nie slymerig word soos in plastiek nie.


Kremetart

Plaasvervangers vir 5 ml kremetart is 15 ml suurlemoensap of 15 ml asyn of 3 ml wynsteensuur.

Kristalglas

Om kristalglase weer daai ekstra glans te gee, gooi bietjie ammoniak by hulle waswater. Spoel dit dan af met asynwater.

Kweper

Anita Veldman: Om te verhoed dat 'n gesnyde kweper verbruin, sprinkel suurlemoensap bo-oor. Sal nie verbruin nie.


Krummels

Om fyn krummels vir gebak te maak, sit koekies in 'n plastieksak en rol fyn met 'n koekroller.

No comments :

Post a Comment