Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/30/2008

Wenke V

WENKE A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Vanielje / Vanilla

Dit is 'n natuurlike versoeter en beklemtoon die geure van groente.

Sny 'n vanillapeul deur en plaas dit in 'n bottel olyfolie. Gebruik die olie om vleis, pluimvee en vis mee te geur


Vark

Sprinkel 'n bietjie neutmaskaat oor varktjops voordat dit gaargemaak word. Dit verleen 'n baie lekker smaak, en neem die wilde smaak van vark uit.

Fyn gemmer verleen 'n besondere geur aan potgebraaide varkvleis.

Hou varkvleis in die plastiekverpakking tot jy dit gebruik. Indien die verpakking gebreek is hou dit op 'n bord en vou dit toe met waspapier of foelie. Dit sal 3 tot 5 dae in die yskas hou.


Vasgebrande kos

Kos wat vassit in 'n kastrol of pan kan losgemaak word deur 2 eetlepels koeksoda daarin te gooi en dit vol te maak met warm water. Laat staan 'n tydjie.


Versiersuiker

As jy 'n koek se versiersuiker te slap aangemaak het en jou versiersuiker is op, voeg bakpoeier of mielieblom by om dit stywer te maak.


Vet

Gooi bietjie sout in die braaipan om te keer dat die vet spat.

As jou sous vir die ete te vetterig is, sit 'n ysblokkie daarin vir 'n minuut of twee. Die vet sal om die ys vasplak en kan dan verwyder word.


Vis

Om beslag lekker aan vis te laat kleef, voeg 'n bietjie asyn by die beslag.

Om die velletjie van vis te verwyder, plaas dit met die vel na bo onder 'n warm rooster. Die vel sal hard word en maklik aftrek.

Volg die raad vir vis wat te maklik vlok en te fyn kook: Vryf die filette met sout in en laat vir ten minste 10 minute lê. Spoel die vis af met yskoue water. Gebruik nou soos gewoonlik. Die sout maak die vis effens gaar en daarom behou dit beter vorm tydens die kookproses.

Week vis in 'n mengsel van witasyn en water voor jy dit gaarmaak. Die vis se vorm bly dan beter behoue gedurende die gaarmaakproses. As jy vis posjeer kan jy 15 ml witasyn in die water gooi om te help dat die vis nie so gou breek nie.


Viskerrie

Jy kan kerrie maak van enige vis, maar 'n sterk kerrie is veral geskik vir vis met donker vleis, soos tuna of ansjovis.


Visreuk

Verwyder 'n visreuk van jou hande deur dit met suurlemoen en sout te was.

Verwyder visreuk van eetgerei deur dit in asynwater af te spoel.


Vla

'n Skeppie appelkooskonfyt by 'n bak vla ingeroer sal dit heerlik opkikker en die smaak aangenaam verander.

Gebruik karamelbruinsuiker as jy weer vla aanmaak vir 'n heerlike karamelagtige smaak.

Gooi 'n stukkie botter in vla - dit voorkom dat dit ´n velletjie maak.


Vleis

Sout vleis voor jy dit kook. Dit help om die natuurlike suikers van die vleis te karamelliseer, wat die vleis sappig en geurig maak. Gebruik growwe sout.

Gooi suurlemoensap by vleis om dit sag te maak.

'n Bietjie asyn in die olie verhoud dat vleis wat in krummels gerol is gou vasbrand in die pan.

Marineer taai vleis in gelyke hoeveelhede marinade en asyn.

Asyn en sout aan vleis gesmeer, sal verhoed dat dit gou bederf en sal dit sag maak.

Gooi asyn by vleis om dit sag te maak.


Vleispasteie

Draai vleispasteitjies in botterpapier toe voor jy dit bak. Dit hou die korsies sag.


Vleissous

Maak 'n vleissous vetvry deur dit vooraf te berei en in die yskas te laat afkoel. Die vetterigheid sal stol en kan dus maklik afgeskep word.


Vlekvrye staal

Vlekvrye staal kan wel vlek. Vryf die vlek met 'n lappie wat in brandspiritus geweek is. Spoel af met koue water.

Gebruik 'n sagte lap en witasyn om vlekvry staal mee skoon te maak.


Vlekke

Warm seepwater is die beste raad vir vlekke op tafellinne.

Nat sout verwyder die vlekke van koppies en pierings.

Verwyder vrugtevlekke van jou hande deur dit met asyn te was.


Voedselverwerker

Om jou voedselverwerker skoon te maak laat jy die masjien werk met warm water en 'n paar druppels opwasmiddel.


Volstruiseier

Dit neem omtrent 40 minute om ’n volstruiseier hard te kook.


Vries

Vries oorskiet kos, dubbele porsies en sop in 'n vierkantige plastiekhouer (bv. Tupperware houer). Nadat dit hard is, druk dit uit die houer en draai toe in kleefplastiek. Jy het dan nie 'n klomp houers in die vrieskas wat spasie opmaak nie en jy kan die houers weer vir iets anders gebruik. (Alta Jooste)


Vrieskas

Om 'n vrieskas maklik en gou skoon te maak. Smeer gliserien aan die kante nadat dit skoongemaak is en volgende keer sal die ys aanpaksels gou groot stukke afval nadat dit begin afsmelt en dan kan die groot stukke weggegooi word en jy sit nie met 'n klomp water om op te droog nie. Moet net nie die ys op plante gooi nie, dit sal die plante brand. Laat eers in 'n houer afsmelt tot kamertemperatuur voor jy die water op die plante gooi. (Alta Jooste)


Vrugte

Kook engelkruid se blare saam met suur vrugte om die smaak te neutraliseer.


Vrugtevlieë

Meng 500 mℓ water met 30 mℓ suiker, 30 mℓ appelasyn en 'n paar druppels opwasmiddel. Dit sal vrugtevlieë aantrek. Verwyder ook enige verrotte organiese materiaal uit jou kombuis.

Indien jy ’n probleem het met vrugtevlieë in die kombuis. Plaas ’n koeldrankdoppie vol vanilla-ekstrak naby aan die vlieë.


Vullisblik

Sit bietjie katsand onder in jou vullisblik as dit ruik. Vervang wanneer klam.

Hou die vullisblik higiënies deur kalk en amoniak op die bodem te gooi.

5 comments :

  1. Ek kry dikwels gaste en wil graag geregte vooraf berei en vries. Dan kan ons soveel lekkerder kuier. Ek het al bobotie, ens. gevries. Kan ek dieselfde doen met lasagna of ander pastageregte?

    ReplyDelete
  2. Jy kan omtrent enigeiets vries maar doen dit in klein hoeveelhede want anders vries die middelgedeelte nie goed nie. Hou dit so plat moontlik en gebruik asseblief vriessakkies, nie gewone plastiek nie. Noedels kan goed gevries word en dan in kookwater ontvries word - dit is 'n vinnige proses

    ReplyDelete
  3. Jammer maar die raad om te verhoed dat vla 'n velletjie vorm is nie heeltemal korrek nie, want ek sit altyd margarien(vir die smaak en tekstuur) in my vla en dit vorm nog steeds 'n vel bo-op. Tensy daar bedoel word dat dit egte botter moet wees, het dit nog nie probeer nie.

    ReplyDelete
  4. Dit lees beslis botter in die wenk. Dalk moet jy dit probeer en laat weet.

    ReplyDelete
  5. Anonymous8/2/11 10:12

    Andriesa,
    Botter werk, dalk margarien ook, maar jy moet dit byroer NADAT die vla van die hitte verwyder is.

    ReplyDelete