Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/31/2009

Kok en Skinker

Dirk Nagtegaal beskryf homself as ’n lekkerbek wat die lewe met sy tong beproef. Lekker kos en goeie wyn is by hom ’n passie. Die resepte in Kok en Skinker is oor drie generasies versamel, wat die boek uiters volledig maak met meer as 400 resepte, uitgewerkte menu’s en nuttige wenke oor kos en wyn.

Elke resep is deur die skrywer persoonlik getoets met die fokus op eenvoud in kookkuns en pretensieloosheid oor wyn. ’n Heerlikheid vir almal wat die kuns van moeitelose kook wil verstaan.

Hierdie is nie net ’n resepteboek nie, maar ’n ware kookboek, met beskrywings oor die belangrikste kooktegnieke en wynkultivars wat elke tuiskok en skinker behoort te ken.

Basiese souse, kruie, slaaie, brood, sop en bredies, pastas, al die verskillende braaitegnieke, alles oor ontbyt, vetvrye kos en fyngebak word bespreek.

Die gedeeltes oor wyn is kernagtig, maar omvattend genoeg om die mees algemene kultivars te dek en die leser met ’n wyd genoeg kennis te laat om met selfvertroue ’n geskikte bottel wyn vir ete te kan uitsoek.

Die boek bevat meer as 400 volkleur foto’s.

8/30/2009

Visvoorgereg

Dit is altyd suksesvol en ´n mens kom ver die bestanddele.

2 blikkies tuna (olie afgegooi en fyngemaak)
2 blikkies mossels
1 blikkie geroomde sampioene
1 pakkie Cream of mushroom-sop
500 ml Ultramel room.

Meng alles, bring tot kook in mikrogolf. Kook 5 minute op 100% krag.

Bedien op gekookte rysnoedels.

bydrae: Martie Martin

8/29/2009

Varkspit

Om ´n vark te spit gaan jou sowat 4 ure neem. Die bors moet natuurlik oopgevlek wees as jy die vark op die spit sit, maar jy kan maar die kop aan hou.

Sodra die vark goed vas is op die spit moet jy kruis en dwars snye in die vel maak, verkieslik met ´n matmes. Sit die vark op die kole, NIE IN DIE SON NIE.

Vir die 1 ste uur maak jy net die buitenste laag crackling gaar. Dit sal begin los kom van die vetlaag. Mens trek dit maklik los. Saam met ´n bietjie Aromat maak dit ´n heerlike voorgereg.

Die laaste uur kan jy die vark begin verf met jou sous, maar net aan die buitekant. Cobus gebruir Knorr se ribbetjiesous. Net voor jy begin met die sous vryf jy ´n growwe sout of Marina Braaisout aan die buitekant.

Cobus gebruik ´n vleistermostaat om te bepaal wanneer die otjie reg is. Hier by 65 grade is jou vark reg om voorgesit te word.

8/28/2009

Boontjiesop

1 koppie droë bone
1 fyngekapte ui
4 koppies koue water
1 eetlepel meel
1 eetlepel botter
1 koppie melk
1 eetlepel suurlemoensap

Week die bone oornag in koue water. Gooi die water af en sit op die stoof in vars water en verhit stadig. Laat dit kook vir so ´n uur.

Sit ui by en laat nog ´n uur kook.

Druk die bone fyn en verhit weer. Wanneer dit kook gooi jy sout en peper by.

Meng meel, melk en botter. Roer dit oor stadige hitte tot dit dik is en gooi dan by die sop. Kook vir ´n kwartier. Voeg die suurlemoensap by voor jy dit opdien.

8/27/2009

Kookkuns prut saam in kunsskool se pot

Die kok in die bos beoefen ook ’n kookkuns. Dis die man (of vrou) wat op ’n oop vuur, ’n ysterpot en net die basiese toebehore aangewese is. Dis die sjef wat ver van huishoudelike toebehore ’n plan moet maak. Maar dit is ook die bereiders wat in ’n land van toerisme sterk moet staan.

Groentesop

Neem jou gunsteling groente, 1 aartappel in blokkies gesny en jou groenteekstrak en plaas dit in ´n groot kastrol met net genoeg water om alles te bedek. Kook 1 uur lank.

Neem 2 eetlepels gort en was dit in koue water. Gooi dit saam met ´n halwe koppie hawermout in die sop en kook vir ´n verdere 30 minute. Die gort en hawermout help om die sop te verdik.

Ek meng altyd ´n klein bietjie room ligweg in voor ek sop opdis.

RESEP 2

Koop sop-groente in jou supermark. Kook tot sag en versap. Ek hou groot stukke wortels en/of rape en uie en as ek die sop inskep stapel ek dit bo-op en drup bietjie room daaroor. Die sop kan verdik word met 1 eetlepel maizena of gebruik ´n pakkie - vir ± 2 liter sop, poeiersop na jou smaak. Poeiersop is ook lekker as jy dit met melk of room aanmaak. Voeg spaghetti of enige noedels by. Indien jy die sop nie wil verdik nie lyk dit mooi met spaghetti wat nie te klein gebreek is nie. Gebruik ook croutons (sny brood in klein blokkies en braai vinnig in bietjie olie en geur na smaak).

8/26/2009

Klassieke Waldorf-slaai / Classic Waldorf Salad


1 koppie appelstukkies (verkieslik Granny smith)
1 eetlepel suurlemoensap
1 koppie selderystukke
kwart koppie mayonnaise

Besprinkel die appels met die suurlemoensap nadat dit opgesny is en voeg dan al die bestanddele by mekaar.

Vir ´n voorgereg kan jy repies hoenderborsies, vark of salm byvoeg.

8/25/2009

Mieliegereg

60 ml gesmelte margarien
60 ml suiker
60 ml koekmeel
3 tl bakpoeier
2 blikke geroomde suikermielies
4 geklitste eiers
Gerasperde kaas

Meng gesmelte margarien en suiker.
Meng koekmeel, bakpoeier, suikermielies en eiers.
Voeg suikermengsel by en meng.
Plaas mengsel in gesmeerde bakskottel.
Bak ± 45 minute tot 1 uur by 1800C.
Strooi kaas oor sodra dit uit die oond kom.

bydrae: Jani Allen

8/24/2009

Dolmades

30 jong wingerdblare
rys, gekook
ui, fyngekap
wonderpeper, gemaal
rosyne
amandels
suurlemoensap
suurlemoenskil
olyfolie

Doop die blare vinnig in kookwater om hulle sag te maak en hou in koue water eenkant. Met die res van die bestandele maak jy vir jou die vulsel in hoeveelhede soos jy goed dink. Lê die blare plat en sit ´n eetlepel van die vulsel in die middel. Vou die blaar toe soos ´n pakkie. Pak almal in ´n dikboom pot en voeg een koppie water en een koppie witwyn en 40ml suurlemoensap by. Plaas iets met gewig op die dolmades sodat hulle nie losraak nie. Kook op lae hitte vir een uur tot die vloeistof amper weggekook het. Koel af, pak in ´n fles en gooi ´n mengsel van suurlemoensap en olyfolie oor. Hou in die yskas.

Bedien as voorgereg saam met ´n goeie witwyn.

Aspersiegereg

1 blik geroomde suikermielies
1 blik aspersiestukke
3 eetl maiziena
1 kop gerasperde kaas
1 kop dik witsous
knippie rooipeper
broodkrummels en margarien

Meng al die bestanddele saam, behalwe broodkrummels en margarien. Strooi broodkrummels oor en stip met klontjies margarien. Bak in gesmeerde bakskottel (sonder deksel) by 1800C vir ± 1 uur.

bydrae: Jani Allen

8/23/2009

Grenadella yskastert

1 blik ingedampte melk, verkoel
1 pakkie tennisbeskuitjies
1 pak lemoenjellie (of net waarvan jy hou)
1 blikkie grenadellamoes
½ koppie strooisuiker
1 koppie kookwater

Maak jellie aan met kookwater en laat afkoel. Klop verkoelde ingedampte melk en vou suiker geleidelik in. Vou jellie en moes in. Klop tot roomerig. Pak lae beskuitjies in bak en gooi mengsel bo-oor. Versier met geklopte room en kersies.

bydrae: Petro van der Westhuizen

8/22/2009

Slaphakskeentjies

Suid-Afrikaans soos kan kom.

1,5 kg klein uietjies, skoongemaak
2 eiers
2 eetlepels bruinsuiker
2 eetlepels druiweasyn
2 eetlepels water

Dompel die uie in ´n pot kokende soutwater en kook tot dit net gaar is. Gooi die water af. Maak ´n sous deur die eiers te klits en die suiker by te voeg. Klits dan die asyn en water by. Kook die hele mengsel tot dit begin dik word en gooi oor die uie.


Dit kan warm of koud bedien word, maar verkieslik koud.

Slaphakskeentjies gaan veral goed saam met beesvleis en enige tipe koue vleis.

bydrae: Petro van der Westhuizen

8/21/2009

Wortelsop

30 ml olyfolie
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
3 ml gemaalde komyn
500 g wortels, skoongeskraap en in stukke gesny
1 aartappel, geskil en in stukke gesny
1 liter groenteaftreksel
'n blikkie (410 g) cannelini boontjies
sout en varsgemaalde swartpeper
suurroom om mee te bedien
gekapte pietersielie

Verhit die olie in 'n swaarboompot en braai die uie tot sag.
Voeg die knoffel, komyn, wortels en aartappels by. Braai tot die aartappel glaserig begin lyk.
Voeg die aftreksel by en bring tot kookpunt.
Verminder die hitte en kook stadig tot al die groente sag is.
Voeg die bone by en kook stadig tot die bone verhit is.

Bedien met 'n skeppie suurroom en pietersielie.

(Bedien 4)

8/20/2009

Polentabrood

500 ml polenta
250 ml koekmeelblom
2,5 ml sout
5 ml bakpoeier
2 eiers, geklits
125 g botter, gesmelt
50 ml heuning
250 ml karringmelk
papawersaad om oor te sprinkel

Voorverhit die oond tot 200ºC. Voer ‘n broodpan uit met papier en smeer.
Meng die droë bestanddele.
Voeg eiers, botter, heuning en karringmelk by en roer tot gemeng.
Skep in broodpan en sprinkel papawersaad oor.
Bak vir 35 minute.
Keer uit en laat afkoel.

8/18/2009

Klapperkoekies

625 ml klapper
83 ml strooisuiker
30 ml bruismeel, gesif
1 eier, geklits
62 ml melk
2 ml vanieljegeursel

Verhit die oond tot 180 ºC.
Meng die klapper, strooisuiker en bruismeel.
Voeg die geklitste eier, melk en vanieljegeursel by. Meng alles goed saam.
Vorm balletjies van 2 cm. Plaas die balletjies op ’n gesmeerde bakplaat.
Bak vir 20 – 25 minute.

bydrae: Lynnet van Vuuren

8/17/2009

Kaapse roomlikeur

1 blikkie kondensmelk
5ml kitskoffie
5ml vanieljegeursel
1 klein blikkie ingedampte melk
250ml vars room
375ml brandewyn

Meng al die bestanddele en hou in yskas.

8/16/2009

Maklike Mieliebrood

500 g self-raising koekmeel
1 blikkie room mielies
1 blikkie ingedampte melk
200 g gerasperde kaas
sout en peper

Meng alles saam. Gooi in gesmeerde brood pannetjie en bak 45 min (of tot bruin) by 180gradeC.

bydrae: Elise Vorster

8/15/2009

Portstyle vir almal

Besoek die bekroonde wynkelder Boplaas in Suid-Afrika se porthoofstad, Calitzdorp, 55 km vanaf Oudtshoorn vandag as deel van die eerste Klein Karoo Klassique.

Die verskillende portstyle (wit port, pienk port, ruby port, tawny port, vintage port en vintage reserve port) word verduidelik en ook die proses hoe dit gemaak word. Die verskillende portstyle word ook te proe aangebied.

Tydens ’n keldertoer na die proe sal daar uit die vate geproe word.

Klein Karoo Klassique 2009

60 min * R30 * Boplaas Wine Cellar, Calitzdorp * 15 Augustus * 11:00, 14:00

8/14/2009

Kaaps-Maleise buffet

De Krans Wynkelder en die Kolonie Restaurant span saam om ’n Kaaps-Maleise kos-en-wynervaring te bied.

Vyf wyne van De Krans is ingesluit in die prys. Die spyskaart sluit in kerrie-mosselsop met tuisgebakte brood, snoekfrikkadelle met tamatiesmoortjie, hoenderbreyani, tradisionele bobotie, lamskerrie, groentesamoesas, tamatie-slaphakskeentjies, geelrys met rosyne, koeksisters, malvapoeding, kwepergegeurde vla en gebakte Langkloof-appels.

Klein Karoo Klassique 2009

R220 * Kolonie Restaurant * 14 Augustus * 20:30

8/13/2009

Karoo Braaibuffet

Suid-Afrikaners se gunsteling met chef Garth Bradfield wat jou Karoo-tjoppie hier voor jou oor die kole gaan braai tydens die Klein Karoo Klassique 2009.

Geniet ’n aand van stories om die braaivleisvuur en smul aan lekkernye soos potbrood met groenvye.

Sit agteroor terwyl die strelende klanke van Ziske Burger se klassieke kitaar jou meevoer.

Prys sluit ete en glas port met aankoms in.

8/12/2009

Wonderlike streekskosse en -wyn

Dit is wat Oudtshoorn bied wanneer die eerste Klein Karoo Klassique die naweek van 14 tot 16 Augustus op Oudtshoorn afskop. Dié fees, wat die kollig gaan laat val op klassieke musiek, beloof ook om elke liefhebber van goeie kos en wyn mee te voer met ’n verskeidenheid smaakervarings soos min.

Sjokolade en vonkelwyn, port en vlamgebraaide volstruis, kruiebrood en snoekfrikkadelle, slaphakskeentjies en malvapoeding beloof om dié naweek elke lekkerbek se voete skoon onder hom of haar uit te slaan!

Een van die hoogtepunte is ’n werksessie by ’n splinternuwe wynkelder in die Schoemanshoekvallei net buite Oudtshoorn, Karusa Vineyards. Hiertydens kan feesgangers die proses van vonkelwynmaak volgens die Franse metode stap vir stap volg en proe. Karusa stel ook by die werksessie (From Base to Bubbly to Karoo Classique) die eerste vonkelwyn bekend wat in die Klein Karoo geproduseer is.

By nog ’n wynkelder, Kango Wyne, kan feesgangers by die vertoning Sjokoladefees met ’n neus vir bypassende wyn proe-proe leer hoe om die plaaslik vervaardigde Belgiese sjokolade en wyn saam te gebruik.

Dié gewilde vertoning was tydens vanjaar se Klein Ka­roo Nasionale Kunstefees uitverkoop.

Die bekende glanskok Francois Frreira tree by twee geleenthede by Jemima’s Restaurant op. Saterdag bied hy in Classic Food, Classic Port and Port Cultivars ’n agtgang-proespyskaart aan saam met die pryswennerporte van Calitzdorp. Die Vrydagaand bied hy saam met Barrydale se Joubert-Tradauw Privaatwynkelder ook ’n besonderse kos-en-wynervaring aan.

Nog lekkereet wag by die Kolonie Restaurant - die Vrydagaand met ’n betowerende Kaaps-Maleisiese buffet met onder meer kerriemosselsop, snoekfrikkadelle, hoenderbreyani, bobotie, lamskerrie, groentesamoesas, tamatie-slaphakskeentjies, geelrys, koeksisters, malvapoeding én vyf wyne van De Krans Wynkelder. Die Saterdagaand is ’n tradisionele Karoo-buffet met vyf wyne van Boplaas Wynkelder op die spyskaart en kan gesmul word aan lekkernye soos boontjiesop, visbobotie, geroosterde Karoo-plaashoender, Springbokpastei, piekelkwepers, vlamgebraaide volstruis, Adamsvy-en-okkerneuttert, brandewynpoeding en bruinsuiker-pavlova.

By die Pomegranate Restaurant bied bobaas-chef Garth Bradfield immer gewilde buitelugkos - die Vrydagaand unieke potjiekoskombinasies en die Saterdagaand ’n bobaas-braaibuffet.

Een van die lekkerste kuierplekke die Saterdag is ’n plaasmark in Schoemanshoek. The Orchard Fine Foods is ’n plaasmark in ’n appelkoosboord, aan die voetheuwels van die Swartberge, met meer as 30 stalletjies wat met kos en kuns besoekers gaan be­koor. Toegang is boonop gratis. Hier wag topkwaliteit-deliprodukte, witblits, gourmet-worsbroodjies, Franse pannekoeke, Belgiese sjokolade, plaasontbyte, potjiekos, brode, en die klassieke musiekgroep Musica Romantica op besoekers. Donkiekarritte, perdry, ’n springkasteel en plaasdiere sal die kinders vermaak.

Ander gastronomiese geleenthede sluit in ’n piekniek by die familierestaurant Wilgewandel, ’n broodbakdemonstrasie saam met Turkse operamusiek en Montagu-muskadel deur Nettie Pikeur, rubriekskrywer van Die Burger, twee heerlike etes (Vrydag en Saterdagaand) by Die Neelsie in die Langenhoven Sentrum op die dorp en ’n portdemonstrasie by Boplaas Wynkelder in Calitzdorp, 55 km vanaf Oudtshoorn.

• Die Klein Karoo Klassique, fees van klassieke musiek, streekskos en wyn en visuele kuns, vind die naweek van 14 tot 16 Augustus op Oudtshoorn plaas. Kaartjies vir etes en werksessies is te koop by by Computicket en Checkers. Vir die volledige program besoek www.klassique.co.za. Vir verblyf kontak Groter Oudtshoorn Toerisme by tel 044 279 2532.

8/11/2009

Sampioenpatee

1 salot, fyngekap
250 g sampioene
7 ml vars gekapte tiemie
5 ml suurlemoensap
sout en peper
90 g sagte botter
2 ml tabasco
100 ml neute, gekap

Soteer salot in bietjie botter. Voeg sampioene by -fyn gesny- en kook vinnig tot ingedamp (kookkunsterm). Voeg suurlemoensap en tiemie by en geur. Skep uit en laat koud word. Voeg res van botter by, neute en tabascosous by.

8/10/2009

Sitrusmarmelade

2 lemoene
2 pomelos
2 suurlemoene
1,5 - 2 liter water
witsuiker

Sny die skil van vrugte in repies en trek versigtig af. Sit in gaasdoekie en bind vas. Sny heel vrugte in wiggies en verwyder die pitte. Verwyder die witgedeeltes. Meet hoeveel pulp en sit in kastrol. Voeg 500 ml water by vir elke 250 ml pulpmengsel. Verhit tot kookpunt. Verlaag temperatuur en kook vir nog 40 minute oor stadige hitte. Giet die mengsel in maatbeker en voeg dan 250 g witsuiker by vir elke 250 ml pulp. Giet alles - ook skilsakkie - in kastrol. Verhit stadig tot suiker opgelos is. Verhit en kook mengsel vir 25 minute - totdat dit nie meer waterig is nie. Laat afkoel - as dit stewig en nie meer loperig is nie is dit reg. Skep warm marmelade in gesteriliseerde bottels.

Lewer sowat 2 liter marmelade.

1 gesnyde pynappel kan ook bygevoeg word. Vir iets anders.

8/09/2009

Briyani / Breyani / Biriani

1 kg skaapvleis, in blokkies gesny
10 ml vars gemmer, fyn opgesny
10 ml knoffel, fyn opgesny
10 ml sout
250 ml bruin lensies
500 ml water
500 g basmati rys
250 ml olyfolie
300 ml kookwater
6 aartappels, in skywe gesny
3 uie, in dun skywe gesny
50g botter
6 hardgekookte eiers, gehalveer

Maak ´n marinade van:
3 stukke kaneel
5 kardamonsade
2 groen rissies
2 ml borrie
5 ml masala
5 heel naeltjies
5 soetpepers
safraan
1 tamatie, fyn opgesny
250 ml karringmelk

Vryf 5ml sout en die knoffel en gemmer in die vleis in. Marineer die vleis vir ten minste 3 ure. Kook die lensies vir 20 minute. Spoel af. Was die rys tot die water maklik afspoel. Verhit 50ml olie in ´n pan en voeg die rys by. Voeg 100ml kookwater by en kook bedek vir 5 minute op matige hitte. Verhit die res van die olie in ´n pot en braai die aartappels aan alle kante tot bruin, sowat 4 minute. Verwyder die aartappels en hou eenkant. Voeg die uie by en braai bruin, sowat 8 minute. Hou ´n kwart van die uie eenkant. Voeg die vleis en speserye by die uie en kook bedek vir 30 minute. Haal die vleis uit en hou eenkant warm. Pak lae aartappels in, gooi die helfte van die rys oor die aartappels en strooi 2,5ml sout oor die rys. Die vleis word nou bo-op die rys geplaas. Nou volg die lensies met die res van die rys en sout daarna. Die uie wat jy eenkant gehou het kom nou oor. Sit stukkies botter op en besprinkel met die oorblywende kookwater. Maak die pot goed toe. Kook op hoë hitte vir 5 minute en dan op lae hitte vir 1 uur. Moet nie die pot oopmaak nie.

Garneer die dis met die eiers en bedien saam met slaai.

(resep bedien 10)

8/08/2009

Lemoenhoender

Hierdie is ´n baie lekker resep.

Plaas hoenderstukke in ´n kaserolbak. Sny so ´n ui of twee fyn en strooi oor die hoender. Gooi nou Lemoensap (die 100% suiwer, maar ander kan ook doen) oor tot amper al die hoender bedek is. Sit in oond met deksel op @ 180 grade vir omtrent 3/4 uur. Sit so ´n handvol klein aartappels in en sit weer terug in oond tot aartaapels sag is. Haal deksel af en verbruin. Sous behoort nou dik te wees indien nie maak dit dik met een of ander poeier-gedoente.

Dien op met lekker baie rys en ´n lekker mengelslaai.

Dankie

bydrae: Frik Lombard

8/07/2009

Koring roerbrood

5 x 250 ml gaar koringkorrels
6 x 250 ml bruinbroodmeel
2 x 10 g kitssuurdeeg
25 ml sout
60 ml bruinsuiker
125 ml kookolie
1 liter louwarm water

Meng die koringkorrels, bruinbroodmeel, suurdeeg en sout in´n mengbak. Plaas die suiker, olie en water in ´n ander mengbak en roer tot goed gemeng. Voeg dié mengsel by die droë bestanddele en roer goed deur. Skep die deeg in twee gesmeerde broodpannetjies Laat op ´n warm plek rys tot gelyk met die borand van pan. (Dit duur sowat ´n halfuur - die brood rys ook terwyl dit bak). Stel intussen die oond op 200ºC. Wanneer die deeg gereed is, bak sowat een uur tot gaar in die voorverhitte oond. Die brood is gaar as ´n mens ´n hol klank kry wanneer jy dit onder met die kneukels klop.

8/06/2009

Frik se skottel

Sny een ui en so twee tamaties op en gooi in kaserol bak. Plaas ´n paar lekker skaap tjops bo- op die uie en tamatie mengsel. Los ´n bief blokkie op in ´n halwe koppie warm water. Vul koppie op met tamtiesous en worcestersous (na smaak) en gooi oor die vleis. Sit deksel op en plaas in warm oond. Los vir so ´n uur. Sny so ´n paar aartappels in dun skywe. Plaas bo oor die tjops. Sit terug in oond vir nog ´n uur of tot aartappels sag is. Haal deksel af en verbruin die aartappels.

Dien op met rys en slaai.

bydrae: Frik Lombard

8/05/2009

Worsbroodjies met kaas

Sorg dat jy genoeg worsbroodjies en viennasvir al jou eters het. Kook die viennas in water vir 5 minute. Sny die worsbroodjies in die helfte, maar moet nie deursny nie. Rooster jou worsbroodjie in die oond vir 1 minuut. Haal die worsbroodjies uit en smeer tamatiesous op die een helfte en mayonnaise op die ander. Rasper 'n blok cheddar. Plaas die viennas in die broodjies en bedek met kaas. Rooster die worsbroodjies weer in die oond. Die keer vir 5 minute met die kaas na bo.

8/04/2009

Aspersie-en-ertjiesop

400 g vars aspersies
250 ml water
30 ml botter
10 ml olie
1 ui, fyn opgesny
1 aartappel, geskil en in blokkies gesny
400 g gevriesde ertjies, vooraf ontdooi
500 ml groente-aftreksel, gebruik twee blokkies
sout en varsgemaalde swartpeper
250 ml room

Sny die aspersies se punte af en hou eenkant. Sny die oorblywende aspersie in stukke. Stoom die die aspersiestukke vir 4 minute. Hou die gestoomde aspersies eenkant.
Gebruik dieselfde water en kook die aspersiepunte vir 4 minute. Behou die water.
Verhit die olie en botter in jou soppot. Voeg die uie by en sauté tot deurskynend. Moet nie die uie bruin braai nie.
Voeg die aartappel by en roerbraai vir 1 minuut.
Voeg die water wat jy gehou het by en kook vir 15 minute.
Voeg die ertjies, aspersiestukkenie, 'n kwart van die aspersiepunte en die aftreksel by. Bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Prut vir 10 minute.
Purée die sop tot glad en gooi dan terug in pot.
Geur met sout en peper, verhit dit, maar sonder om toe te laat dat dit kook.
Roer die room en die res van die aspersiepunte by.

Bedien met warm Franse brood.

8/03/2009

Gemmerbrood

250 ml olie
3 eiers
250 ml gouestroop
250 ml louwarm water
5 ml koeksoda opgelos in 60 ml louwarm water
750 ml koekmeelblom
knippie sout
5 ml bakpoeier
15 ml fyn gemmer
10 ml gemengde speserye
250 ml suiker

Voorverhit die oond tot 180ºC. Smeer twee broodpannetjies met margarien. Klits die olie, eiers, gouestroop en water saam in 'n mengbak tot goed gemeng. Sif die droë bestanddele een vir een oor en voeg dan die suiker by. Klits tot goed gemeng, sowat 5 minute. Giet in voorbereide panne. Bak sowat 45 minute lank of totdat 'n mespunt skoon uit die middel van die brood kom. Laat effens afkoel en keer op 'n draadrak uit. Laat heeltemal afkoel en bedien met botter.

8/02/2009

Fooi tog

Ou tannies tip eenvoudig nie. As dit kom by ´n fooitjie agterlaat staan ou tannies agter in die ry. ´n Meningsopname onder kelners en kelnerinne wys duidelik vingers na die suiniges onder ons.

8/01/2009

Tuiniersop

25 g botter
3 gesnyde klein uie
3 gesnyde klein wortels
1 gesnyde raap
1l water
2 gesnyde en geskilde tamaties
3 bone met punte af
1 klein koolkop geskeur
sout
peper
5 ml tiemie
5 ml roosmaryn
5 ml basiliekruid
25 g kort macaroni
gerasperde Cheddar vir bo-oor
1 eetlepel gekapte pietersielie

Smelt die botter in ´n pan en braai die uie daarin tot sag. Voeg die wortels en raap by en laat kook vir ´n verdere 5 minute. Voeg die water by en bring tot kookpunt. Voeg die res van die bestandele by, behalwe die kaas, pietersilie en macaroni. Bedek en kook stadig vir 45 minute. Voeg die macaroni by en kook vir ´n verdere 15 minute. Maak fyn in ´n voedselverwerker.

Die sop moet baie warm bedien word. Besprinkel dit met Cheddar en pietersielie voor opdiening.