Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

3/31/2012

Een-twee-drie op die tafel

“Wat eet ons vanaand?” is ’n vraag wat ons almal gereeld laat kopkrap. Een-twee-drie op die tafel maak antwoorde maklik.

Dié inspirerende, vrolike boek gee jou vinnig ’n groot verskeidenheid idees vir maklike en blitsige disse. Heerlike, vinger-aflekmaaltye wat in 10 tot 40 minute gemaak kan word.

Die boek is in vier afdelings verdeel: maaltye binne 20 minute; maaltye binne 30 minute; maaltye 40 minute; en ’n hoofstuk met splinternuwe idees vir maaltye wat bestaan uit klaargaar kositems wat jy koop en eenvoudig bymekaar sit.

Een, twee, drie en kos is op die tafel!

Also available in English One-two-three on the Table.


Een-twee-drie op die tafel / deur Bernice van der Merwe -- Human & Rousseau, 2011. -- 160 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798156424 : R 195.00

3/30/2012

Gerookte snoekomelet

Om 'n omelet met gerookte snoek te maak gebruik jy die basiese resep vir 'n omelet.

Strooi 3 eetlepels gevlokte snoek oor die omelet voor jy dit toevou.

3/29/2012

Peusel en Proe

#KKNK: Calitzdorp ontmoet Oudtshoorn en Portugal in 'n fees van smaak. Die fokus hier is op die herkoms en geskiedenis van port en volstruisvleis. Tussenin is daar vermaak met ’n tikkie Portugese klank. Wyne en port word geproe saam met peuselhappies.

Aanbieders: Lizz Meiring en Carel Nel van Boplaas

KKNK 2012

R120
Absa Wynsaal, Oudtshoorn
1 & 4 April 11:30
Ouderdomsperk vir wynproe: 18 jaar

3/28/2012

Rugby en Wyn

#KKNK: Kom kuier saam terwyl rugby uitgesaai word. Koffie en ontbyt is vroeg-vroeg te koop!

Vermaak word deur kunstenaars soos Henri Alant, Daniel Hofman, Wicus van der Merwe en Dillon Lerm verskaf wanneer die rugby nie aan is nie.

Wynsaal open 10:00.

KKNK 2012

31 Maart Absa Wynsaal
Deure open 06:30
6 en 7 April Absa Wynsaal
Deure open 09:00
Toegang by deure: R50
Ouderdomsperk vir wynproe: 18 jaar

3/27/2012

Olifant-ontbyt

#KKNK: Kom geniet ’n wonderlike ervaring en vars Karoo-ontbyt saam met die drie grootpote Malaika, Bolelo en Jabari.

Word meegevoer deur die aangrypende verhaal van drie wees-Afrika-olifante wat ’n gelukkige tuiste by Buffelsdrift in Oudtshoorn gevind het. Persoonlike interaksie met die olifiante en hope foto-geleenthede sal deel uitmaak van hierdie ervaring.

KKNK 2012

R175
Buffelsdrift, Oudtshoorn
31 Maart – 7 April 10:00

3/26/2012

Kuier Connections

#KKNK: Die tydskrif Kuier se groot makietie!

Die kosredakteur, Karen Hart, doen ’n kookdemonstrasie en hulle mode-redakteur, Vana Cloete-Collison, gee gelukkiges in die gehoor ’n make-over!

Hope gelukkige prystrekkings en ’n verrassing of twee!

Vir meer inligting kontak 021 446 1452.

KKNK 2012

Bridgton Sekondêre Skoolsaal, Oudtshoorn
7 April 10:00 – 15:00

3/25/2012

Gebraaide hoenderboudjies met lemmetjie en gemmer / Fried Chicken with Lime and Ginger

6 hoenderboudjies
die sap van 4 lemmetjies
2 stukke suurlemoengras, fyn opgesny
4 rissies, ontpit en fyn opgesny
50 mℓ gerasperde vars gemmer
4 stingeluie, fyn opgesny
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
40 mℓ heuning
5 mℓ sout

Maak 'n paar diep snye in elke hoenderboudjie.

Meng die res van die bestanddele saam. Gooi dit oor die hoenderborsies en vryf dit in die snye. Plaas dit eenkant vir 2 ure. Na 'n uur moet jy dit omdraai.

Braai oor warm kole tot dit goudbruin is. Dit neem omtrent 20 minute.

Bedien warm.

3/24/2012

Geroosterde nektariens / Roasted Nectarines

Die resep is eenvoudig, maar vertoon baie mooi. Gebruik 1 nektarien per persoon.

Halveer die nektariens en verwyder die pitte versigtig.
Vul elke holte met brandewyn en laat dit vir ten minste 30 minute staan sodat die vrug goed deurweek kan raak met die brandewyn.

Strooi 5 mℓ bruinsuiker in elke holte en plaas die vrugte onder 'n oondrooster tot die suiker gesmelt is en begin borrel. Dit neem omtrent so 5 minute plus.

Bedien die nektariens dadelik saam met room.

3/23/2012

Calamari, diepgebraai / Deep Fried Calamari

100 g koekmeel
100 g mielieblom
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
olie
200 g calamari buise, in ringe gesny

Meng die meel, mielieblom en sout en peper.

Strooi die meelmengsel oor die calamari en diepbraai dit in warm olie tot dit goudkleurig is. Dit neem omtrent 4 minute.

Dreineer die calamari op kombuispapier en bedien dit saam met Tatare sous en skyfies suurlemoen.

Hierdie resep is genoeg vir 4 persone.

3/22/2012

Harvey Wallbanger

75 mℓ wodka
150 mℓ lemoensap
ysblokkies
25 mℓ Galliano

Meng die wodka en lemoensap in 'n lang glas en maak die glas vol met ysblokkies.
Gooi die Galliano versigtig by sodat dit bo-op dryf.

Garneer met skyfies lemoen.

3/21/2012

Ricotta frittata

6 eiers
250 mℓ ricotta
1 ui, in blokkies gesny
20 mℓ vars gekapte pietersielie
10 mℓ olyfolie
sout en peper na smaak

Gebruik 'n pan wat jy in die oond kan sit en braai die ui in die olyfolie daarin tot dit glaserig begin raak.

Klits die eiers liggies met 'n draadklitser, roer die ui en pietersielie by en geur na smaak.
Gooi die mengsel in die pan en plaas in 'n 180°C oond vir 20 minute.

Bedien met 'n groenslaai.

3/20/2012

Kuier en kook in jou taal

’n Lekker kuieraand wag op jou by vanjaar se KKNK in Oudtshoorn.

Vier persoonlikhede word elke aand genooi om saam te kuier. Hulle kry elkeen ’n mandjie met produkte en moet dan tydens die vertoning met ’n eetbare dis vorendag kom.

Wyn, olywe, kaas en volstruisvleis word te koop aangebied. ’n Kinderhoekie word verskaf as speelplek vir die jongklomp, onder toesig.

Kom kuier saam met Lize Beekman (1 April), Elvis Blue (2 April), Jak de Priester (3 April), Danie Niehaus (4 April) en Anna Davel (5 April).

Die kuiertjies vind saans plaas om 19h30 in die Absa Wynsaal. Toegang is R100.

Ouderdomsperk vir wynproe: 18 jaar.

3/19/2012

Mojito

Vir die klassieke drankie het jy nodig:

50 mℓ wit rum
die sap van 1 lemmetjie
5 mℓ strooisuiker
'n hand vol kruisement
4 ysblokkies
sodawater

Gooi die rum, lemmetjiesap, strooisuiker en kruisement in 'n lang glas. Kneus die kruisement en meng alles goed. Die agterkant van 'n houtlepel werk goed hiervoor.

Gooi die ysblokkies by en maak die glas vol met sodawater.

Garneer met kruisement en skywe lemmetjie.


(foto Ines Hegedus-Garcia)

3/18/2012

Tamatie- en fetaslaai

200 g feta, verkrummel
50 mℓ olyfolie
20 mℓ balsemasyn
Knypie suiker
sout en peper na smaak
4 tamaties, in dun skywe gesny
'n hand vol basilieblare, geskeur

Meng al die bestanddele saam behalwe die tamaties en basilie en laat vir 30 minute in die yskas in 'n geseëlde houer.

Haal uit die yskas, meng met die tamaties in 'n slaaibak, strooi die basilie oor en bedien.

3/17/2012

Pimm's Cup

Hierdie klassieke drankie maak jy aan in 'n glasbeker.

250 mℓ Pimm’s No. 1
'n halwe komkommer, in skywe gesny in die lengte
'n hand vol kruisement
8 ysblokkies
lemonade

Meng die Pimm’s, komkommer en kruisement in die beker en laat dit staan vir 20 minute.

Gooi die ysblokkies by en maak vol met die lemonade.
Meng en verkoel. Dit moet yskoud bedien word.


(foto Reese Lloyd)

3/16/2012

Hoe om halloumi te braai

Dreineer die halloumi en maak dit droog. Sny dit in dun skywe.

Strooi 100 g koekmeel op jou werkoppervlak en geur dit met sout en peper.

Verhit 'n bietjie olie in 'n pan en druk die halloumi liggies in die meel voor jy dit braai tot goudbruin aan beide kante. Verwyder uit die pan en plaas op kombuispapier om te dreineer. Bedien dadelik met skywe suurlemoen.

Onthou halloumi raak rubberagtig wanneer dit koud raak.


(foto Stijn Nieuwendijk)

3/15/2012

Omelet met aspersies / Omelette aux asperges

Om 'n omelet met aspersies te maak gebruik jy die basiese resep vir 'n omelet.

Plaas aspersies wat in botter gebraai is in die omelet voor jy dit toevou.

(foto Alexandre Lemieux)

3/14/2012

Dombolo

Finaal iets om saam met umleqwa te eet, uit Xoliswa Ndoyiya se boek Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen. Hier geplaas met vergunning.

600 g koekmeel
5 mℓ sout
5 mℓ suiker
10 g droë gis
625 mℓ louwarm water
30 mℓ botter

Sif die meel en sout saam in 'n mengbak en meng die suiker en gis by.
Voeg die water geleidelik by, tot 'n sagte deeg gevorm het.
Knie die deeg tot dit glad en elasties is. Bedek die bak met kleefplastiek en laat dit op 'n warm plek staan vir 'n uur. Die deeg behoort te verdubbel in daardie tyd.

Kook water in jou ketel terwyl jy die botter smelt in 'n kastrol.

Rol die deeg in balletjies so groot soos die palm van jou hand. Plaas dit in die botter en gooi die kookwater by tot dit 2 cm diep is.
Plaas die kastrol se deksel op en laat dit kook oor medium hitte. Dit sal na sowat 20 minute reg wees. Soos die water verdamp sal die botter die onderkant van die balletjies braai. Jy moet hulle egter dophou om te sorg dat hulle nie aanbrand nie. Gooi nog water by indien dit lyk asof hulle kan brand.

Bedien dit warm saam met umleqwa. Om uit te vind wat umleqwa is, moet jy Xoliswa se boek aanskaf.

(Uit Ukutya kwasekhaya Kopiereg © 2011 deur Xoliswa Ndoyiya)



(foto © Real African Publishers)

Koop / Buy Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

Lees meer oor Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

3/13/2012

Beesstertbredie / Umsila wenkomo

Xoliswa Ndoyiya se beesstertbredie. Hier geplaas met vergunning uit haar boek Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen.

3 kg beesstert (oxtail), met die vet verwyder
5 mℓ paprika
15 mℓ braaivleisspeserye (barbeque spice)
350 g wortels, geskil en in ringe gesny
250 g groenboontjies, in stukke gesny
800 g aartappels, geskil en in kwarte gesny
60 g beesstertsoppoeier (oxtail soup powder)
sout en witpeper na smaak

Voeg die beesstert in 'n groot kastrol saam met net genoeg water om dit te bedek.
Bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte en kook verder tot al die water verdamp het. Die vleis sal verbruin in die vet.

Voeg die paprika en braaivleisspeserye by en bedek die vleis weer met water. Plaas die kastrol se deksel op en kook oor lae hitte tot die vleis sag is. Dit neem omtrent 2 uur. Die water moet ten alle tye die vleis bedek. Kyk gereeld en vul die water aan indien nodig.

Voeg die wortels, groenboontjie, aartappels en soppoeier by en kook tot sag – omtrent 30 minute.

Geur met sout en peper en bedien.

Die 3 kg stert is genoeg vir 8 tot 10 persone.

(Uit Ukutya kwasekhaya Kopiereg © 2011 deur Xoliswa Ndoyiya)



(foto © Real African Publishers)

Koop / Buy Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

Lees meer oor Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

3/12/2012

Jamstreet Plaasjol

Kom dans onder die Karoosterre. Hulle maak musiek, brand vure, eet iets lekker en jol om die kroeg.

Kom ontvlug na ’n kreatiewe venue ’n klipgooi uit die dorp. Vervoer na en van Jamstreet Plaas met die pendeldiens.

Kontak: 082 510 0516

KKNK 2012

Jamstreet Plaasteater, Oudtshoorn
31 Maart 20:00 2 - 6 April 20:00

3/11/2012

Martini

So maak mens 'n ordentlike martini:

50 mℓ jenewer (gin) – asseblief nie 'n goedkoop soort nie, verkieslik Tanqueray of Blackwoods. Bombay Sapphire se smaak is dalk te kruidagtig vir die tradisionele martini.
5 mℓ vermoet (vermouth)
'n olyf vir garnering

Jy kan dit meng of skud:


Gemeng:

Gooi die jenewer en vermoet in 'n glas en meng met 'n mengstokkie.


Geskud:

Indien jy dit soos James Bond verkies gooi jy die jenewer en vermoet saam met 'n paar ysblokkies in 'n cocktail menger, skud en gooi die vloeistof in 'n glas.


Garneer met 'n olyf.


3/10/2012

Hoe om tamaties te droog

Was en droog die tamaties.
Sny die stingels uit en sny in die helfte in die lengte.
Verwyder die saad.

Plaas kombuispapier op 'n bakplaat en lê die tamaties daarop, gesnyde kant na onder.
Plaas die bakplaat in die son op bakstene – sodat die lug om die plaat kan sirkuleer. Los dit so vir 3 dae.
Draai die tamaties om en laat nog 2 dae in die son.

Pak die tamaties in 'n lugdigte houer en bedek met olyfolie.

3/09/2012

Reuben Riffel praatjie

Reuben Riffel, chef extraordinaire, restaurateur en skrywer, laat jou mond sommer sonder kos al water. Sy fenomenale opgang van kelner en kroegman tot gesogte Sjef van die Jaar, en die aanwysing van Reuben’s as Restaurant van die Jaar, is merkwaardig. Kom vind uit watter aandete maak hierdie beskeie man, wat'n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword het, saans vir sy eie gesin!

Woordfees 2012

10 Maart 09:00 | De Vette Mossel | 50min | R90

3/08/2012

Wynproe saam met Riaan Cruywagen

Delheim se mede-eienaar, Nora Sperling-Thiel, stel gaste voor aan die landgoed se beste druifprodukte.

Riaan Cruywagen, ʼn ware Suid-Afrikaanse ikoon, sorg vir sjarmante, gevatte en uitstekende geselskap.

Woordfees 2012

9 Maart 12:00 vir 12:30 | Delheim, R300, Stellenbosch | 180min | R250

3/07/2012

Neil Ellis en Sandra Prinsloo

Neil Ellis van Neil Ellis Wyne trakteer gaste op ʼn wynproe, waarna vir ʼn heerlike middagete aangesit word saam met Sandra Prinsloo, Suid-Afrika se bekende en beminde aktrise.

9 Maart 12:00 vir 12:30 | Neil Ellis Wyne, Helshoogtepad, R310, Stellenbosch | R250

Woordfees 2012

3/06/2012

Aan tafel by Erfurthuis

Op hierdie gewilde staptog begelei Pietman Retief en ander kenners van Stellenbosch se geskiedenis feesgangers op die dwaalroete van onrustige geeste deur die geskiedkundige dorpskern.

Hierna word in die historiese Erfurthuis aangesit vir ’n welverdiende maaltyd saam met die dapperes van gees.

Bespreek by 021-887 2937 – as jy genoeg murg in jou pype het!

Woordfees 2012

8 Maart 19:00 | Erfurthuis, Stellenbosch | 120min | R120 (ete ingesluit)

3/05/2012

'n Agtgang seekosmaal terwyl jou voete jeuk

Storievuur is 'n instelling op die Woordfeesprogram! Vanjaar sorg die knapste storievertellers vir vermaak wat die tone laat tintel en die hartsnare roer.

Kyk of jy De Vette Mossel se agtgang seekosmaal kan baasraak terwyl die Kaapse Affodille jou voete laat jeuk vir passies in die seesand.

Die storievertellers is Johan Bakkes, Christiaan Bakkes, Gerrit Rautenbach, Ronelda Kamfer en Ulla Pakendorf.

Woordfees 2012

8 Maart 18:00 | De Vette Mossel, Stellenbosch | 150min | R200

3/04/2012

ʼn Verruklike driegangmaal saam met sout+peper skrywer

In dié verrykende driegesprek gesels Sonja Jordt met Niël Stemmet oor sy nostalgiese debuutboek, sout+peper, wat sy eie lewensreis deur landskappe van stories en kos vertel.

Renata Coetzee, erfeniskos-doyen, hou 'n wakende oog. Wyn uit Knorhoek se privaat kelder word geskink en 'n verruklike driegangmaal word voorgesit.

Woordfees 2012

8 Maart 12:00 vir 12:30 | Towerbosch Aardkombuis, Knorhoek | 200min | R180

3/03/2012

Middagete saam met André P. Brink

Die internasionaal gevierde André P. Brink gesels oor Philida, sy slaweroman wat later vanjaar verskyn.

Dié roman speel af op die destydse plaas Zandvliet (vandag Delta) tussen Stellenbosch en Franschhoek.

Kom sit aan vir ʼn heerlike maaltyd saam met een van Afrikaans se grootstes!

Woordfees 2012

5 Maart 12:00 vir 12:30 | Towerbosch Aardkombuis, Knorhoek | 200 minute | R190

3/02/2012

Stampmielies en bone / Umqusho (Samp and Beans)

Xoliswa Ndoyiya se resep vir stampmielies en boontjies. Hier geplaas met vergunning uit haar boek Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen

500 g samp (stampmielies), goed afgespoel
800 g gedroogde suikerboontjies, goed afgespoel
water, om te bedek
2 blokkies vleisaftreksel
sout en witpeper na smaak
45 mℓ botter

Plaas die stampmielies en bone in 'n kastrol, bedek met water en bring tot kookpunt.
Stel die hitte laer en kook tot sag, ten minste vir 2 uur. Moet dit nie roer nie, maar hou 'n ogie daaroor sodat dit nie aan die bodem vassit nie. Gooi nog water by indien nodig. Na 1 uur voeg jy die blokkies aftreksel by.

Wanneer die mengsel sag is gooi jy enige oortollige water af, geur en roer die botter by.

Bedien saam met vleis.

(Uit Ukutya kwasekhaya Kopiereg © 2011 deur Xoliswa Ndoyiya)



(foto © Real African Publishers)

Koop / Buy Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

Lees meer oor Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

3/01/2012

Hoendersop vir Nelson Mandela

Xoliswa Ndoyiya se resep vir hoendersop. Hier geplaas met vergunning uit haar boek Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen

45 mℓ olyfolie
2 medium uie (ongeveer 200 g), fyn opgesny
1 knoffelhuisie, fyn opgesny
5 mℓ paprika
300 g skoongemaakte hoenderfilette, die vel verwyder en in repe gesny van 1 cm dik en 5 cm lank
3 medium tamaties (ongeveer 250 g), gerasper
1,5 liter water
2 blokkies hoenderaftreksel
60 mℓ vars pietersielie, fyn opgesny

Verhit die olie in 'n soppot en braai die uie, knoffel en paprika tot die uie sag en goudkleurig is. Dit neem omtrent 5 minute.
Voeg die hoender by en kook vir 5 minute oor medium hitte.
Voeg die tamaties, water, aftreksel en pietersielie by en kook tot jy 'n dik, heilsame sop het – vir omtrent 20 minute.

Bedien die sop warm.

Die resep is genoeg vir 4 tot 6 persone.

(Uit Ukutya kwasekhaya Kopiereg © 2011 deur Xoliswa Ndoyiya)



(foto © Real African Publishers)

Koop / Buy Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>

Lees meer oor Ukutya Kwasekhaya: Tastes from Nelson Mandela’s Kitchen >>