Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

4/30/2012

Huisgenoot Wenresepte Stap-vir-Stap

Uiteindelik! Die topverkoper Huisgenoot-Wenresepte reeks is nou ook toegangklik vir nuwe kokke of mense wat sukkel in die kombuis. Nooit weer hoef jy onseker te voel of te wonder oor presies wat die resep nou eintlik bedoel met ’n kookterm nie ... Elke stappie van die kosmaakproses is hier duidelik uiteengesit en word volledig verduidelik met volkleurfoto’s.

Die boek kan met ewe veel vrug deur beginnerkokke, jongmense en selfs kinders gebruik word. Dis sonder tierlantyntjies en sluit resepte in wat ’n wye verskeidenheid van smake sal pas.

Elk van die 66 resepte gaan gepaard met foto’s wat elke stap, van bestanddele bymekaarkry tot voorbereiding, bak, kook en voorsit volledig toelig. Dis so na aan ’n werklike kookklas as wat jy kan kom sonder om jou eie kombuis te verlaat.

Uit die vertroude pen van Carmen Niehaus en met die wye aanklank wat die Huisgenoot naam verskaf, het ons hier verseker ’n voltreffer.


Huisgenoot Wenresepte Stap-vir-Stap / deur Carmen Niehaus -- Human & Rousseau, 2012. -- 240 p. ; hardeband. -- ISBN 9780798155601 : R 199.95

4/29/2012

Salotbotter / Bercy-botter

Bercy is 'n deel van Parys wat lank die grootste wynmark in Europa gehad het. Hierdie resep het waarskynlik sy oorsprong gehad in een van die talle klein restaurante wat aan die begin van die 19de eeu in die gebied bedryf is. Die restaurante was veral bekend vir visgeregte. Die botter is dan ook perfek vir vis, maar is net so geskik vir vleis. Drup die botter oor geroosterde vis of vleis of bedien dit apart.

500 g murg, in blokkies gesny
20 mℓ fyn opgesnyde salotte
200 mℓ droë witwyn
200 g botter, gesmelt
20 mℓ vars gekapte pietersielie
die sap van ½ suurlemoen
2,5 mℓ sout
'n draai varsgemaalde swartpeper

Posjeer die murg vinnig in soutwater en verwyder dit.

Voeg die salotte en wyn by die oorblywende vloeistof, terwyl jy wag dat dit afkoel.

Wanneer die vloeistof afgekoel is gooi jy die botter, murg en res van die bestanddele by.




(Foto: Jean-Louis Zimmermann)

4/28/2012

Roereier resep / Oeufs brouillés

Vir die Franse is dit 'n sagte romerige mengsel wat net-net aan jou vurk bly klou tot by jou mond ... en jy gebruik altyd vars eiers vir roereier.

Die eiers moet goed geklits word met die hand. Moet nie meer as 30 sekondes hieraan spandeer nie.

Smelt twee eetlepels botter in 'n swaarboompan. Dit moet vinnig oor hoë hitte gedoen word, maar moenie dat die botter verbruin nie. Draai die hitte tot op die laagste merk sodra die botter gesmelt het.

Gooi die eiermengsel in die pan en roer dit aanhoudend met 'n spatel of houtlepel - gebruik lang hale. Dit neem so 2 tot 3 minute voor daar tekens va stolling is. Besluit oor hoeveel dit moet stoel en verwyder dan van die hitte..

Druk jou stempel af op jou roereier deur 1½ eetlepel sagte botter of 2 eetlepels room nou by te roer.

Garneer dit met pietersielieblaartjies of en bedien altyd roereier dadelik. Dit werk goed saam met gebotterde roosterbrood.


(foto Raphaël Labbé)

4/27/2012

SA Kaasfees beloof 'n simfonie vir die sintuie

Indien jy gedurig op die uitkyk is vir die nuutste neigings oor kaas is daar vir jou geen beter plek as die SA Kaasfees wat plaasvind van 27 - 30 April 2012 nie. Hier bly kaas immers die juweel in die feeskroon.

Hierdie gewilde fees neem kaasliefhebbers op ‘n verruklike ontdekkingstog waar smullekker handgemaakte kase, suiwel- en ander produkte al jou sintuie sal bederf. Proe ‘n groot verskeidenheid kaas in die Checkers Kaasemporium, geniet ‘n happie gourmet hemel wanneer Checkers weer ‘n unieke konsep na die Fees bring met bekende sjefs en glanspersoonlikhede wat hul kookgeheime met jou deel, en laat die feestelike atmosfeer van die Karnaval Park jou bui bepaal. Hope gesonde vermaak in die Wilde Vrugtesap Kinderhoekie en ‘n besoek aan die Santam Landbou Melkfabriek by die Waterfront sal die kleingoed se geesdrif oor koeie, melk en kaas aanwakker en hulle terselfdertyd besig hou terwyl ouers ‘n ruskansie geniet. ‘n Op-en-wakker sessie saam met kosbloggers en kaasmakers in die DStv Kosteater sal jou wegstuur met nuwe skietgoed vir jou kookavontuur. ‘n Wandel verder deur die Meander en die Absa Mall sal jou sensoriese ekspedisie perfek afrond.

Kom geniet ‘n luilekker kuierdag in die platteland op Sandringham wat homself reeds as die ideale feesterrein bewys het. Sandringham is gerieflik geleë langs die N1, halfpad tussen Kaapstad en die Paarl.

Koop jou R110 kaartjie by jou naaste Computicket of Checkers (geen kaartjies by die hekke). Senior burgers betaal R90 en kinders 13-jaar en jonger verkry gratis toegang. Die hekke is daagliks oop tussen 10:00 en 18:00 en die laaste dag tot 17:00.

4/26/2012

Boek, Bek en Brood

Kom geniet die bekende en bekroonde skrywer Kerneels Breytenbach se humor en spitsvondige aanbiedingstyl oor ‘n glasie van Klawer Kelders se spogwyne. Breytenbach se jongste boek, Piekniek by Hangklip, word bespreek. Die boek word ook teen ‘n spesiale feesprys te koop aangebied!

‘n Wynproe word saam met die boekbespreking aangebied om jou meer van Klawer Kelders se produkte te vertel. Ons voed ook jou kultuurhonger met lekker musikale vermaak, vars gebakte brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt!

Cederbergfees 2012

Reinholds Restaurant, Clanwilliam
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R50 wat spys en drank insluit
Besprekings: Cederbergfeeskantoor by telefoon 027 482 1090

4/25/2012

Harissa

Verhit 10 mℓ komynsaad en 2 mℓ karwysaad saam in 'n pan tot warm.
Maak dit nou saam fyn tot 'n poeier.

Voeg by 2 knoffelhuisies wat fyngemaak is, 75 g gedroogde rissie en 100 mℓ water. Verwerk tot glad in 'n voedselverwerker. Met die voedselverwerker aan drup jy 50 mℓ olyfolie by.

Laat die mengsel vir ten minste 30 minute staan voor jy dit gebruik.

4/24/2012

Gebakte skelvis / Baked Haddock

300 g skelvisfilette, skoongemaak en ontvel
10 mℓ gekapte vars dille
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
250 g tamaties, ontpit en in stukke gesny
2 murgpampoentjies, in lang repe gesny
sout na smaak
10 mℓ olyfolie

Pak die filette in 'n gesmeerde oondbak.

Strooi en 5 mℓ dille en helfte van die knoffel oor.
Pak die tamaties bo-op gevolg deur die murgpampoentjies.
Strooi nou sout en die res van die kruie en speserye oor.
Bak vir 30 minute by 200°C.

(bedien 3 persone)

4/23/2012

Omelet soufflé

Hierdie omelet word effens anders voorberei as die basiese omelet.

Jy het 1 eier, 2 eiergele en 3 eierwitte nodig per persoon.

Klits die eierwitte tot dit styf is, maar nie te droog nie.

Klits die eier en eiergele saam.
Vou die eiergele by die eierwit.

Smelt 'n stuk botter in 'n swaarboompan. Dit moet oor lae hitte gesmelt word – moenie dat die botter verbruin nie!

Stel die hitte op medium en gooi die eiermengsel by.
Sodra die eier gestol het maak jy die kante los.
Plaas die omelet nou onder 'n oondrooster vir 1 minuut.

Haal die omelet uit. Die omelet soufflé word nie gevou nie. Bedien met jou gunsteling bestanddele bo-op.

4/22/2012

Perlemoensous

Perlemoensous word saam met vis bedien.

Maak 'n witsous (klassieke witsous resep) en maak 'n perlemoen gaar (J. Visser se resep vir perlemoen).

Maal die gaar perlemoen fyn in 'n voedselverwerker.

Roer die perlemoen by die witsous en ou 5 mℓ rissiepoeier by. Kook vir 'n paar minute.

Nou roer jy 'n skeut suurlemoensap en die geklitste geel van 'n eier by.

4/21/2012

Tempura

Tempura is 'n deeg wat gebruik word om groente en vis te diepbraai.

Meng 1 eier met 500 mℓ yskoue sodawater.

Voeg 150 mℓ gesifte koekmeel en 250 g mielieblom by. Meng dit liggies. Hou die mengsel in die yskas tot jy dit benodig. Deel van tempura se geheim is dat dit so koud as moontlik moet wees wanneer jy dit gebruik.

Bedek die groente of vis daarmee en diepbraai teen 180°C.

Kos wat in tempura gebraai is word gewoonlik bedien met 'n doopsous van sojasous en mirin
.

4/20/2012

Appelkoossap / Apricot Juice

Was die appelkose en verwyder die pitte. Weeg die vrugte.

Gooi 250 mℓ water by elke 1 kg vrugte in 'n kastrol en kook tot sag.

Vryf die vrugte deur 'n sif.

Syg die sap deur.

Voeg 500 g suiker by vir elke 1½ liter sap, verhit en roer tot die suiker opgelos is.
Gooi dadelik in gesteriliseerde bottels.

4/19/2012

Salm geposjeer in witwyn en kruie / Salmon poached in White Wine and Herbs

Die bestanddele is genoeg vir 1 kg salm. Die salm moet skoongemaak wees, met net die vel aan die een kant van die filette.

150 mℓ witwyn (sauvignon blanc)
40 mℓ vars gekapte dille
40 mℓ vars gekapte pietersielie
2 stingeluie, fyn opgesny
sout en varsgemaalde swartpeper

Meng die wyn, kruie en uie en laat dit stadig prut in 'n pan wat groot genoeg is vir die filette. Die pan moet 'n deksel hê.
Wanneer die mengsel prut plaas jy die salm in die pan. Prut stadig vir 20 minute.

Strooi die swartpeper en (goeie) sout oor voor jy dit bedien.

4/18/2012

Spanspek-voorgereg / Melon Starter

Skep balletjies spanspek uit die vrug.

Meng dit met Griekse jogurt, drup heuning oor en strooi gekapte neute oor.

Versier met kruisementblare en bedien.

4/17/2012

Perskes geposjeer in witwyn / Peaches poached in White Wine

Jy benodig 1 ryp perske per persoon.

Pak die perskes op die bodem van 'n swaarboomkastrol met die holtes na bo.
Gooi witwyn (viognier of 'n vrugtige sauvignon blanc) in die pot totdat die perskes net-net bedek is.
Strooi 5 mℓ strooisuiker per perske oor die wyn en plaas 'n paar kruisementblare in die pot.
Plaas die deksel op en laat dit prut oor baie lae hitte. Die mengsel mag nooit kook nie. Prut net tot die perskes sag, maar steeds ferm is. Dit neem omtrent 7 minute.

Verwyder dit van die hitte en laat dit so in die pot afkoel.

Bedien teen kamertemperatuur saam met room.

4/16/2012

Appelkoosstafies

250 mℓ bruismeel
5 mℓ gemaalde kaneel
2 mℓ sout
60 mℓ spysvertering semels
80 mℓ bruinsuiker
170 mℓ gedroogde appelkose, gekap
80 mℓ okkerneute, gekap
80 mℓ heuning
30 mℓ melk

Sif die meel, kaneel en sout saam.

Meng die semels by die meelmengsel.

Voeg die res van die bestanddele by en meng goed.

Sprei die mengsel in 'n gesmeerde koekpan.

Bak vir 25 minute in 'n 180°C-oond.

Haal uit en sny in blokkies of stafies.

(Die resep maak ongeveer 15 stafies.)

4/15/2012

Tuna-omelet / Omelette au thon

Om 'n omelet met tuna te maak gebruik jy die basiese resep vir 'n omelet.

Sny vars tuna in baie dun skywe en braai dit baie vinnig in botter.
Plaas die tuna in die omelet en strooi gekapte pietersielie oor. Vou toe.

4/14/2012

Worcestersous

Worcestersous is oral beskikbaar en dis seker makliker om dit te koop, maar as jy hou van 'n uitdaging, probeer om dit self te maak. In die proses ontwerp jy dalk jou eie sous.

Sny 'n hand vol salotte baie fyn.

Meng die salotte met 5 ml ansjovisaftreksel, 60 mℓ okkerneutsous, 40 mℓ sojasous en sout en peper.

Kook 750 mℓ asyn en gooi dit by die mengsel. Bedek en laat dit op 'n koel plek staan vir 10 dae.

Na 10 dae syg jy die mengsel deur 'n doek en bottel die sous in 'n gesteriliseerde bottel of fles.


(foto Richard Giles)

4/13/2012

What’s cooking?

Abigail Donnelly gesels met Reuben Riffel (Reuben Kook: Terug na toentertyd), Marita van der Vyver (Somerkos in Provence) en die susters Zuretha Roos en Annalie Nel (Roast Duck on Sundays) oor hulle kookboeke.

Franschhoekse Letterkundefees 2012

Kerksaal, Franschhoek
11 Mei

4/12/2012

Praatjie oor Leipoldt die koskenner

Leipoldt se bekende kookboek Kos vir die Kenner is in 2010 herdruk met Daleen van der Merwe as opdraggewende redakteur. Kom luister wat Daleen te vertel het oor hierdie bekende kosmens.

27 April 2012
Leipoldt Nortier Biblioteek, Clanwilliam
Tydsduur: 45 minute
Toegang: Gratis

Cederbergfees 2012

4/05/2012

Dukkah

Meng 70 mℓ geroosterde sesamsaad met 50 mℓ koljandersaad, 30 mℓ komynsaad, 70 g geroosterde haselneute en 5 mℓ sout.

Gooi die mengsel in 'n menger en maak fyn. Nie te fyn nie, dit moet nog effens grof wees.

Die resep maak sowat 100 mℓ dukkah.


Hierdie speserymengsel is baie verslawend.

4/04/2012

Wynmakers positief oor Cape Wine

Cape Wine, wat deur Wines of South Africa (WOSA) aangebied word, is ná vier jaar terug. Soos in die verlede, is daar groot geesdrif aan die kant van produsente om internasionale wynkopers, restaurant-eienaars, sommeliers en die media die vordering te laat ervaar wat daar in dié tyd in Suid-Afrikaanse wyn was.

Die handelsuitstalling, wat oor drie dae van 25 tot 27 September in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) aangebied word, het reeds sterk steun onder twee derdes van die land se wynmakers gekry. Dit sluit die groot maatskappye in, maar ook onafhanklike en kleinskaalse wynmakers wat reeds hul deelname bevestig het.

Volgens Su Birch, WOSA se uitvoerende hoof, gaan afgevaardigdes van oral in Europa, die VK, Noord-Amerika asook Afrika, Latyns-Amerika, Hongkong, China en Japan hier wees. "Ons is veral opgewonde omdat die reaksie van Asië en Afrika veel beter as ooit tevore is."

Birch is reeds sedert 2000 WOSA se uitvoerende hoof, en is onlangs deur die Britse wynmark-navorsingmaatskappy Wine Intelligence as een van die voorste tien persoonlikhede in wyn aangewys weens haar "wesenlike rol" in die bevordering van Suid-Afrika se reputasie as ʼn wynproduserende land.

Sy het gesê vanjaar se bedryfsuitstalling sal ʼn oorsig bied van die geweldige vordering met die kweek, maak en bemarking van wyn in Suid-Afrika sedert land 20 jaar gelede vir die wêreldhandel toeganklik geword het. By verre die meeste van die leidende gevestigde én nuwegeslag-wynmakers sal teenwoordig wees.

"Benewens die aanbieding van ʼn groot verskeidenheid van proegeleenthede, seminare en werkwinkels gaan die program die klem lê op veranderings in wynstyle, produsente se reaksie op klimaatsverandering en die bestuur van skaars natuurlike hulpbronne, asook die beskerming van ou wingerde as deel van die bedryf se erfenis."

Sy glo die belangstelling in Cape Wine 2012 onder sowel uitstallers as besoekers, wat in dié vroeë stadium - ses maande voor die opening - reeds geweldig groot is, kan aan verskeie faktore toegeskryf word: "Ondanks sy betreklik kort betrokkenheid by internasionale wynmarkte, het Suid-Afrika hom reeds onderskei wat betref gehalte en sy baanbrekersinisiatiewe om eko-volhoubaarheid te bevorder.

"Ons is ook in die gelukkige posisie dat ons reeds `n stewige reputasie vir Cape Wine as `n voorste handelsuitstalling gebou het. Van die mees vooraanstaande afgevaardigdes is van mening ons vorige uistallings was van die mees geslaagde in die suidelike halfrond wat aanbieding en logistiek betref.

"Ons het van ons tweejaarlikse siklus afgesien toe Suid-Afrika die FIFA-wêreldbeker in 2010 aangebied het, en daarom is plaaslike wynmakers geesdriftig om na vier jaar waartydens hulle belangrike ontwikkelings aangevoor het, hul jongste wyne ten toon te stel.

"Nog `n aspek wat ons meen breë belangstelling in die uitstalling sal prikkel, is die sterk klem op omgewingsvolhoubaarheid. Dit strook met die land se baie progressiewe benadering tot ekovriendelike wynmaakpraktyke. Ek verstaan ons is die eerste wynuitstalling ter wêreld wat herbruikbare stalletjies aan deelnemers bied. Die sterk, plaaslik vervaardigde saamgestelde veselborde wat ons gebruik, kan weer verpulp word. Hulle bevat geen vesels van vars gekapte bome nie, en hulle kan ook volledig opvou sodat die uitstallers dit elders weer kan gebruik."

Birch sê die groen tema word in talle aspekte van die uitstalling weerspieël. Afgevaardiges kry verblyf binne loopafstand van die uitstalling, en gaan hul vlugte verreken deur inheemse bome te koop sodat dié in die Wynland geplant kan word.

Die aand voor die uitstalling, 24 September, gaan gebruik word vir `n "groen das"-partytjie by die V&A-Waterfront, waar wyn by allerlei plaaslike disse gepas gaan word. WOSA se Wine Link-fasiliteit gaan afgevaardigdes vooruit reeds toegang gee tot `n databasis wat hulle geheel en al kan deursoek om hul besoek te beplan. Hulle kan selfs `n lys van wyne uit bepaalde streke, met `n bepaalde styl en sekere prys vir hulself opstel, sê sy.

Om met Cape Wine 2010 saam te val, gaan `n vennootskap van Suid-Afrikaanse toerismeliggame met die wynbedryf saamwerk en Vindaba, `n handelsuitstalling van die land se indrukwekkende wyntoerisme-aanbiedings, aanbied. Dié inisiatief sal gelykertyd ook by die KIKS plaasvind, en behels SA Toerisme asook die verskeie wynroetes, Kaapse Toerisme, Cape Town Routes Unlimited en die Wes-Kaapse Departement van Finansies, Toerisme en Ekonomiese Ontwikkeling.

4/03/2012

Truffels

500 mℓ sjokoladekoekkrummels
125 ml pekanneute, gekap
125 mℓ droë klapper
60 mℓ strooisuiker
15 mℓ rum
30 mℓ botter
150 g donker sjokolade
gesmelte sjokolade om in te rol

Meng al die bestanddele behalwe die botter en sjokolade.

Smelt die botter en donker sjokolade en meng met die res van die bestanddele.
Rol teelepels van die mengsel in balletjies.
Rol die balletjies in gesmelte sjokolade.

Die resep lewer sowat 30 truffels.

4/02/2012

Piekniek op stel van nuwe Suid- Afrikaanse fliek

Die Suid Afrikaanse filmbedryf was nog nooit so lewendig en opwindend soos nou nie, en jy het nou die kans om pens en pootjies in die middel daarvan te wees!

Skop uit jou skoene, gooi jou poniestert terug, kry jou piekniekmandjie en kom vryf skouers met die sterre op die stel van die nuutste Suid-Afrikaanse fliek, Swartberg, onder die regie van Regardt van den Bergh en met oorspronklike musiek deur Chris Chameleon.

Uitdunne van ’n tiener-toneelspelkompetisie begin 17:00 op dieselfde perseel en is oop vir die publiek wat die dag op die stel deurgebring het. Vir meer inligting skakel Alma by 083 657 5411.

KKNK 2012

180 minute
R100 (sluit piekniekmandjie en kombers in)
Vertrek vanaf Pendeldiensbasis in Oudtshoorn
2 - 6 April 10:00 en 14:30

4/01/2012

Proe die beste uit Afrika

Die trots Suid-Afrikaanse Pinotage-wyne, saam met die beste kosse uit Afrika, sorg vir ’n onvergeetlike ervaring. Die Pinotage Assosiasie word verteenwoordig deur Beyers Truter (Beyerskloof), André Mosterd (Mosterdsdrift), De Wet Viljoen (Neethlingshof) en Johan Jordaan (Spier). Saam met Koos Kombuis en Johan Badenhorst toer jy deur Afrika. KKNK 2012
120 minute R120 Absa Wynsaal, Oudtshoorn 2,3 & 5 April 11:00 Ouderdomsperk vir wynproe: 18 jaar