Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

D Glossarium, Woordelys van kookterme - voedsel en wyn

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
d’Artois [dar-twa]
’n Bonesop vernoem na koning Charles X van Frankryk.

dadel (date)
’n Klein soet vrug van die dadelpalm.

dadelpruim
Die Amerikaanse dadelpruim met 'n geel vrug wat 'n besondere soet smaak het. (persimmon, saronvrug, tamatiepruim)

dagga
’n Plant waarvan die stingelvesels gebruik word vir matte, toue en klerasie en waarvan die blare gekou, gerook, in voedsel gebruik of as ’n tee gedrink word.

dahi
’n Indiese jogurt gegeur met rissie, peper en koljander.

dahl
’n Indiese woord wat verwys na verskeie soorte splitertjies.

daiquiri [da-ke-rie]
’n Mengeldrankie met rum as basis. Dit is vernoem na ’n dorp in Kuba.
Daiquiri

Damara
’n Beesras waarmee in Namibië geboer word. Dit is ook ’n soort skaap, ook oorspronklik van Namibië.

damasblom (rocket; Italian cress)
Damasblom is ’n eetbare plant, Eruca sativa. Dit word veral in slaai gebruik. (roket)

damaspruim (damson; plum)
’n Donkerpers pruim met sappige vleis.

Dampfnudeln (potato dumpling)
’n Duitse aartappelkluitjie gewoonlik voorgesit met konfyt of gestoofde droëvrugte.

Danish Blue
’n Deense bloukaas.

dariole [daa-ree-oul]
Die Franse naam vir ’n silindervormige bakkie gemaak van metaal wat gebruik word om voedsel in ’n vorm voor te berei.

darne [daarn]
Frans vir ’n dik skyf gesny van die dikste deel van ’n ronde vis.

daube [dohb]
Frans vir gestoofde of gesmoorde vleis.

de árbol
’n Klein, dun rissie met ’n gladde, rooi skil en ’n erg brand smaak.

de mouton [de moe-tô]
Frans vir “lamsboud” of “skaapboud”. Gigot d’agneau word ook daarvoor gebruik.

deeg
Meel gemeng met water, melk of ’n ander vloeistof vir die maak van byvoorbeeld brood of koek.

deegwieletjie
’n Klein, getande hout- of metaalwieletjie wat gebruik word om deeg te sny.

Deense bloukaas (Danish blue)
’n Krummelrige, souterige bloukaas.

Deense tertdeeg (Danish pastry)
’n Baie ligte, vlokkige, botterryke suurdeeg-deeg wat vir baie soorte koek en Deense gebak gebruik word.

déglacer [dee-ghla-sy]
Ontglans in Frans.

dégorger [dei-ghor-zjer]
Die proses waartydens groente soos komkommer en eiervrug met sout bestrooi word om bitterheid en oortollige vloeistof te verwyder.

degraissis [dei-ghre-sie]
Vet wat afgeskep word van aftreksel, sop of sous.

déjeuner [dei-zjoe-nihr] (lunch)
Middagete in Frans.

delikatesses
Spesialiteitsvoedsel, dikwels gereed om te bedien, wat in ’n delikatessewinkel verkoop word.

Demerara-suiker
Swart bruinsuiker wat meesal in gebak gebruik word.

demi [de-mie]
Halwe, half of helfte in Frans.

demi tasse [de-mee tas]
’n Klein koppie koffie in Frans.

demi-glace [de-mie ghlaas] (demi-glace sauce)
’n Sous met ’n bruin kleur wat van vleis gemaak is en gewoonlik met sjerrie gegeur word. Dit word soms verdik met meelblom wat in vet bruin gemaak is. Chinese bruinsous word van sojasous gemaak, terwyl die bekende handelsmerk HP Sauce ’n basis van asyn het. (bruinsous)
Sauce Demi-glace

demi-sec [de-mie sek]
Halfdroog in Frans.

dennepit
Dennepitte word verkry uit die keëlvormige vrug van die denneboom (den).

dépoullier [de-poe-jêr]
Die handeling om ’n demi-glace-sous te verhelder, af te skep.

derm
Die buisvormige deel van die spysverteringskanaal van ’n dier.

dessert [de-sêr] (dessert)
Poeding of ander soetigheid wat as laaste gereg van ’n maaltyd opgedien word. (nagereg)

dessertlepel
’n Lepel wat gebruik word om nagereg mee te eet.

dessertwyn
’n Soet, gefortifiseerde wyn wat na of saam met nagereg gedrink word.

détendre [die-tan-dre]
Franse beskrywing vir “om te verdun”.

détrempe [die-tramp]
Franse beskrywing vir ’n pasta gemaak met meel en water of eiergeel.

deurbak
Goed gaar bak.

deurknie
Deeglik knie.

deurroer
Roer sodat al die bestanddele saammeng.

deurwas
Deurwaste vleis is deurstreep met vet.

deurweek
Goed nat maak.

devil’s food cake
Sjokoladekoek met fudge-versiersel of sjokoladeroomvulsel.

Devonshire-room (clotted cream, Devonshire cream)
Dik room.

dhaltjie
’n Diepgebraaide spesery-groentepoffertjie. (bhadjie)

dhania
Dhania is ’n ander naam vir koljander.

diepbraai (deep fry)
Om kos in ’n diep pan of kastrol in diep olie of vet te braai.

digestie
Die omsetting in die liggaam van voedsel tot stowwe wat deur die bloed opgeneem kan word. Daar word ook hierna verwys as spysvertering.

Dijon-mosterd
’n Baie sterk mosterd wat ontwikkel is in die Franse stad Dijon.

dikbiltong
Biltong uit die agterste dik spier in die boud van ’n dier.

dikmelk (curdled milk)
Melk wat deur bakteriese werking dik geword het.

dikmelkkaas (cottage cheese)
’n Sagte wit wrongelkaas wat van suurmelk gemaak word in korrel of gladde vorm. Beter bekend as maaskaas.

dikrib
’n Stuk vleis uit die nek, skouerblad en eerste drie ribbe van ’n dier.

dille (dill)
’n Europese plant, Anethum graveolens, met aromatiese blare wat na vinkel lyk, waarvan die blomme en saadskerms gebruik word om voedsel mee te kruie.

dillepiekels (dill pickles)
Groterige komkommerpiekels gegeur met dilleblare.

dim sum
Gestoomde Chinese kluitjies met verskeie soorte vulsels.

dinee
’n Feestelike maaltyd.

diner [dee-ner] (dinner, dine)
Frans vir hoofmaal, dinee en die geniet van ’n maaltyd.

dindon [dih-dôn]
Frans vir kalkoen.

diplomaatpoeding (diplomat pudding)
Versuikerde vrugtepoeding gevorm met Beierse room, verkrummelde sponskoekvingers en appelkooskonfyt, voorgesit met ’n vrugte-en-likeursous. (likeurpoeding)
Diplomaatpoeding resep

diplomaatsous (diplomat sauce, rich sauce)
Vissous gegeur met brandewyn en Cayenne-peper.

dis
Die woord kan verwys na ’n eettafel, die voedsel daarop of 'n enkele gereg.

distillasie
’n Proses waarby 'n vloeistof gesuiwer word deur gas of damp af te dryf en die gekondenseerde damp te versamel soos onder andere met die vervaardiging van brandewyn.

doekpoeding (plum duff)
’n Poeding wat in ’n doek toegebind en gekook word. (jan-in-die-sak, janne-in-die-sak, jans-in-die-sak)
Doekpoeding

doerian
’n Stekelrige vrug van ’n Oosterse boom, Durio zibethinus, wat ’n walglike geur het, maar as lekkerny beskou word.

dolcelatte [dol-tje-lat]
Dolcelatte is ’n sagte, Italiaanse bloukaas. Die naam beteken 'soet kaas'. Dit het ’n soet smaak.

dolmades
’n Turkse happie van gemaalde lamsvleis en rys opgerol in wingerdblare en gaargemaak.
Dolmades resep

Dom Pedro
’n Romerige alkoholiese drankie. Dit is baie gewild in Suid-Afrika. (Don Pedro)
Dom Pedroresep

dompel (dunk)
Om in ’n sous of ander vloeistof te doop.

Don Pedro
’n Romerige alkoholiese drankie. Dit is baie gewild in Suid-Afrika. (Dom Pedro)
Don Pedro resep

doodgekook (overdone)
Te lank gekook.

doodkook
Wanneer voedsel te lank gekook word.

dooierswam
’n Geel, eetbare, bekervormige sampioen, Catharellus cibarius. (kantarel, hanekam)

doopsous (dip)
’n Geurige romerige sous wat apart voorgesit word en waarin stukkies roosterbrood, seekos, repies of takkies groente ens. gedoop word.

dop
Die buitenste skil van vrugte of groente, of die proses om dit te verwyder.

dopbrandewyn
’n Minderwaardige brandewyn.

dop
Die harde stywe omhulsel van ’n eier, neut of ander vrug of die handeling om dit te verwyder daarvan. Die woord verwys ook na 'n klein hoeveelheid vloeistof om te drink; veral sterk drank.

dop-en-dam
’n Mengsel van (dop-)brandewyn en water.

dopertjie
’n Gewone ertjie met groot peule wat maklik uitdop.

dopkoring
Koringkorrels wat nie heeltemal uitgetrap is nie en dus nog doppies om het.

dorado
’n Goudkleurige, eetbare seevis.

dorer [do-rê]
Frans beskrywing vir verf met eiergeel en bak tot dit goudkleurig is.

dorper
’n Skaapras vir vetlamproduksie wat half-om-half opgebou is uit ’n dorsethornram en swartkoppersie-ooi.

dorsethorn
’n Skaapras vir wol- en vleisproduksie wat hoofsaaklik opgebou is uit die Portland.

dortelappel
Die appelvormige geel vrug van ’n kruipplant met ’n bitter smaak (Solanum sodomaecum).

dourissie
’n Soeterige rooi rissie. Dit is oorspronklik in die Limpopoprovinsie gekweek. Peppadew is ’n bekende handelsnaam vir hierdie rissie. (pikantrissie)

doux [doe] (sweet)
Frans vir soet; wanneer dit na wyn verwys.

draadstadium
’n Stadium tydens die kook van suiker wanneer die stroop 106°C - 112°C bereik en ’n draad vorm wanneer dit tussen die vingers gedruk an dan van mekaar getrek word.

draaiblad (turntable)
’n Blad waarop die voedsel in ’n mikrogolfoond roteer sodat die mikrogolwe dit eweredig kan gaarmaak.

draaispit
’n Spit wat stadig ronddraai en waarop heel karkasse gebraai word.

dragon (tarragon)
Dragon is ’n speseryplant, Artemisia dracunculus, waarvan die blare in kos gebruik word.

dragon-asyn
Asyn gemaak met ’n byvoeging van dragon.

Drakensberg-kaas
’n Sagte, romerige, donkergeel kaas met ’n ryk geur.

drakensberger
’n Suid-Afrikaanse beesras ontwikkel uit friese en afrikaners.

drakenstein
’n Tipe droë witwyn.

drank
Alles wat mens drink.

drankmenger
’n Persoon wat drankies meng of 'n houer waarin mengeldrankies gemaak word.

dreineer (drain)
Om water of kookvloeistof te laat wegloop.

dresseer (dress)
Om pluimvee of wildsvleis skoon te maak; om ’n gaar gereg te versier; om seekos skoon te maak of om sous by slaai te voeg.

driebeenpot
’n Pot met drie bene waarin potjiekos gemaak word oor ’n vuur.

driepootpot
’n Pot met drie bene waarin potjiekos gemaak word oor ’n vuur.

droë wyn
Wyn met hoostens 4 g suiker per liter.

droëlewer
Die eetbare vruggie van die klimplant Cassine tetragona.

droëmelk
Ontwaterde melk.

droëlewer
’n Klimplant (Cassine tetragona) met ’n eetbare vrug.

droëperske
’n Gedroogde perske.

droesem
Afsaksel, van byvoorbeeld wyn.

droëmelk
Ontwaterde melk in die vorm van ’n poeier. Dit is beter bekend as melkpoeier.

droëvrugte
Vrugte wat behandel en gedroog word.

droëwors
Gedroogde wors.

droogbak
Voedsel bak tot dit uitgedroog is.

droogkook
Voedsel koek tot alle water of vog verdamp het.

droogrooster
Om neute, sade of speserye in ’n pan te rooster tot dit geur vrystel.

druif (grape)
’n Eetbare bessie van 'n tros van ’n plant van die geslag Vitris.

druipvet (dripping)
Uitgebraaide vet. Ook genoem uitgebraaide vet.

druiweasyn
Asyn uit die sap van druiwe.

druiwestok (vine)
’n Plant wat druiwe dra. (wingerdstok, wynstok)

drukkastrol
’n Kastrol met lugdigte deksel wat veroorsaak dat die temperatuur tot 130°C styg, 30°C hoër as die van ’n gewone kastrol. Dit veroorsaak dat die kos gouer gaar word. Ook genoem drukkoker of drukpot.

drukkoker
’n Kastrol met lugdigte deksel wat veroorsaak dat die temperatuur tot 130°C styg, 30°C hoër as die van ’n gewone kastrol. Dit veroorsaak dat die kos gouer gaar word. Ook genoem drukkastrol of drukpot.

drukpot
’n Kastrol met lugdigte deksel wat veroorsaak dat die temperatuur tot 130°C styg, 30°C hoër as die van ’n gewone kastrol. Dit veroorsaak dat die kos gouer gaar word. Ook genoem drukkoker of drukkastrol.

drupbestandheid (dropping consistency)
Wanneer rou beslag net dik genoeg is om van ’n lepel gedrup te word, byvoorbeeld vir plaatkoekies.

drupbottel
’n Bottel met 'n toestel wat die vloeistof in druppels laat uitloop.

drywende meringue-eilande
’n Nagereg gemaak van meringues in ’n koue vlasous.
Drywende meringue-eilande / Floating Island Dessert

Dubaree [doe-baa-ree]
’n Vleisgarnering van blomkooltakkies bedek met Mornay-sous en gerasperde kaas.

dubbelkoker
In ’n situasie waar jy ’n glas- of metaalbak op ’n pot kookwater op ’n stoofplaat plaas. Die bak moet nie aan die water raak nie. Dit word gewoonlik gebruik waar direkte hoe hitte vermy moet word.

Dublin Bay prawn
’n Klein seediertjie met lang knypers wat soos steurgarnale voorberei word. Beter bekend as scampi. (langoustine, langoestien, nieroogkreef, Norwegian lobster)

duchesse-aartappel
Fynaartappel gemeng met eier en deur ’n spuitbuis op ’n bakplaat gespuit en dan onder ’n oondrooster verbruin.
Duchesse aartappels / Duchess aartappels / Pomme de terre duchesse

duiker
Een van drie soorte wildsbokkies, van die familie Cephalophinae, met skerp horings wat tussen pluisies hare groei.

Duitse tulband-koek
’n Duitse gebak gemaak van kugelhopf. Dit word tradisioneel op Kersoggend geëet met botter en konfyt. Ook bekend as gugelhopf en gongelhopf.

duiwelruitertjies (devils-on-horseback)
Gevulde pruimedante toegedraai in repe spek en daarna gerooster.

duiwelsdrek
Die gom van skermblomme. Dit ruik soos knoffel. Dit word veral in die Indiese kookkuns gebruik in die plek van sout. (asafoetida, asafoetida).
dukkah
’n Egiptiese speserymengsel.
Dukkah

Dundee-koek
’n Ryk vrugtekoek.

dun sop (English broth)
’n Engelse sop gemaak met groente- of vleisaftreksel.

durum
’n Koringsoort, Triticum turgidum, wat gewild is vir die maak van pasta.

duxelles [du-sel]
’n Garnering van fyngekapte sampioene, salotte, uie, pietersielie en eier, gesorteer in botter tot sag en gebruik vir vulsels, souse, stowegeregte en in sop.

dwerg-appelliefie (strawberry tomato)
’n Kleiner vrug as die appelliefie. Dit word ook aan ’n peul gedra en kan vars geëet word of in konfyt gebruik word. (jodekers)

dwergertjie
Die eetbare peulgroente, Cicer arietinum, is van die oudste groente wat deur die mens verbou word. Die ertjie bevat baie proteïene. (keker, kekerertjie, garbanzo, Spaanse ertjie, Indiese ertjie)

dy (silverside)
Growwe vleis van ’n bees se dy sonder die been. Dit word normaalweg gebruik vir potbraai. Die klein spierbundel wat in die vleis aangetref word, kan gepiekel en gerook word.




Wynwoordeboek

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

No comments :

Post a Comment