Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/30/2009

Meer as samoesas

Nazeeha Abrahams se kosreis het begin toe sy as pasgetroude verlore gevoel het in die kombuis. Sy het haar ma se hulp ingeroep, elke resep getrou neergeskryf, dit voorberei en haar man beïndruk met die verruklike vermenging van Kaaps-Maleise disse, gegeur met die eksotiese speserye van Durban-kerrie.

Nou deel Nazeeha haar kleurryke versameling resepte met almal wat wil kennis maak met die geure van haar kombuis. Maklik, maar nooit eentonig nie. Daar’s iets vir elkeen se smaak: tandoori masala hoender tot denningtjops, bykosse soos groenboontjie-bajie en dhaltjies met bietjie byt. Vier saam fees met Kaapse kreef, oondgebraaide Eid-hoender en Maffrou (bruilof-gereg ryklik gegeur met skoonma se masala). Uit die oond kom aartappelpoeding, klapperkoekies en melktert wat subtiel gegeur is met kardomom en neutmuskaat. Sy deel ook haar flatervrye sjokoladekoek uit haar kook-bruidskat.

6/29/2009

Lemoenskil-lekkers

Hierdie is ´n baie eenvoudige resep om versuikerde lemoenskil te maak.

Sny die skil van twee groot lemoene (pomelos werk ook goed) in 1cm skuiwe.
Kook met water en 3/4 koppie suiker en knypie gemmer vir omtrent 40 minute of totdat die water weggekook is.
Laat afkoel op droograk.
Terwyl nog lou, strooi suiker oor die skuiwe (of dompel in bak suiker).
Doop nou die een helfde van elke skuif in warm sjokelade en laat afkoel op droograk.

Geniet die resep, dit is baie maklik en my vriende hier in Kanada geniet dit baie.

bydrae: Pieter van den Berg

6/28/2009

Beetblaarbredie

1,5 – 2 kg beesskenkel
sout en peper
10 ml fyn koljander
olie
3 uie, in ringe gesny
3 knoffelhuisies, fyngedruk
1 groen of rooi soetrissie, in ringe gesny
250 ml warm water
6 aartappels, in dik skywe gesny
5 wortels, skoon gesny
1 bossie beet se blare in stukke gesny

Sny die vliese van die vleis plek-plek in sodat die vleis nie omkrul tydens die gaarmaakproses nie. Geur die vleis na smaak met sout, peper en koljander. Giet ‘n bietjie olie in ‘n diep kastrol of drukkoker en braai die vleis bietjie vir bietjie tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant. Soteer die uie, knoffel en soetrissie in die olie tot sag. Voeg die vleis, asook die warm water by. Bedek, verlaag hitte en prut vir nog sowat 25 minute of totdat die vleis so te sê sag is. Voeg die groente by en prut totdat die groente sag is. Voeg nog water by indien nodig. Geur met sout en peper.

6/27/2009

Ma Marie se rysslaai

4 koppies gekookte rys
1 ui (in blokkies gesny)
1 tamatie (in blokkies gesny)
2 piesangs (in blokkies gesny)
kaas na smaak (in blokkies gesny) - verkieslik Cheddar kaas
1/2 koppie olie
1/2 koppie tamatiesous
1 eetlepel matige kerrie
sout en peper na smaak

Meng ui, tamatie, piesang en kaas. Geur met sout en peper. Meng olie, tamatiesous en kerrie saam. Voeg by rysmengsel en roer goed.

Hierdie slaai is op sy beste as dit vir ongeveer 4-6 ure voor die okkasie voorberei word.

bydrae: Charmaine Denysschen

6/26/2009

Vriend se vis

Vir ´n slag het ´n man weer vir my ´n resep gestuur. Dankie aan Stephen Koen vir sy resep. Hy skryf:

´n Kosmaak vriend maak die ander dag die volgende dis, en ek (baie konserwatief) het amper ge...... maar dit is regtig baie lekker en goedkoop!

Dit het my laat dink aan my suster se kinders wat hulle brood "dip" in hulle koffie (Hulle laaik dit...ek nie)

2 blikke ingelegte vis in tamatie sous.
´n paar aartapels gekook soos vir M*A*S*H

Smeer ´n bak met vet en sit die vis en mash in lae in die bak, eindig met vis. (haal net die bene uit die vis) Strooi so bietjie kaas bo-oor en bak in ´n warm oond todat die kaas mooi gesmelt het en begin bruin word.

Eet saam met ingelegte beet (Wat jou ma vir jou stuur) en ´n lekker vars en warm Pick&Pay brood.

bydrae: Stephen Koen

6/25/2009

Varkboud met appels

2 - 2,3 kg varkboud, ontbeen
1 knoffelhuisie, in skywe gesny
vars gekapte salie
sout
2 rooi appels
30 ml botter
30 ml suiker
15 ml koekmeelblom
300 ml droë appelwyn (cider)

Voorverhit die oond tot 220ºC. Bind vleis in ‘n rol en sny kepies in vel. Stop kepies met knoffel en salie en vryf sout oor die boud. Plaas in die oond en rooster 10 minute lank. Verlaag hitte na 190ºC en bak 20 minute per 450g plus nog 10 minute. Ontkern die appels en sny in skywe. Smelt botter in braaipan en bruin appels tot bruin. Voeg die suiker by terwyl die appels nog braai. Plaas die appels in oondpan rondom die vleis, vir die laaste 30 minute baktyd. Verwyder vleis en appels uit pan en plaas in lou-oond. Giet vet van pansap af, roer meelblom by en verhit tot kookpunt. Voeg die appelwyn by.

Dien appelwyn-sous op saam met die varkvleis.

6/24/2009

Visgereg

1 blik vis in tamatiesous
2 koppies noedels (verkieslik die skroef een) Kook volgens aanwysings op pak.
1 ui
gerasperde kaas

Smoor uie tot bruin.
Voeg vis by (haal bene uit)
Voeg nou die gaar noedels by en meng dit.

Sit in oond vaste bak en maak witsous aan en voeg bo-oor.
Voeg laastens gerasperde kaas bo-oor.
Bak tot kaas gesmelt is.

Dit is ´n baie gou resep en ook goedkoop, baie lekker vir baie mense.

bydrae: Mishka Abrahams

6/23/2009

Wildevark-boud marinade

Hierdie resep is onverbeterlik. Dit werk ook vir wildsbokke en selfs skaapboud. Ekself is nie lief vir wildsvleis nie, maar kan nie nee sê vir die een nie.

10 ml fyn koljander
10 ml swartpeper
5 ml fyn naeltjies
5 ml mosterdpoeier
2,5 ml fyn gemmer
3 ml neutmuskaat
sout
repies varkspek
knoffelhuisies
suurlemoenblare / lourierblare
1 blikkie bier
75 ml asyn of 125 ml suurlemoensap
75 ml worcestersous
125 ml olie

Vryf boud in met droë kruie. Kombineer sousbestanddele en marineer 24 uur of langer.
Bak in stadige oond, in die marinade. (selfs oornag teen 100 grade... dit maak BAIE sous)

bydrae: Kotie d J, New Zealand

6/22/2009

Gebakte skaapskenkels

6 skaapskenkels (opgesaagde skenkels werk ook, maar dit is baie lekkerder as elkeen sy eie skenkel kry)

Marinade:
3 groot uie fyn gesny
½ koppie blatjang
½ teelepel fyn gemmer
2 huisies knoffel, fyn gekap
12,5 ml heuning
½ koppie bruin asyn
½ koppie tamatiesous
25 ml appelkooskonfyt
1 blokkie biefekstrak
5 ml mosterdpoeier
'n knypie fyn naeltjies, neutmuskaat en tiemie
sout en peper na smaak
25 ml sjerrie

Braai die uie en knoffel in 'n klein bietjie olie tot sag en voeg die ander bestanddele by. Prut stadig vir sowat 'n halfuur en roer.
Plaas die skenkels in 'n oondbak en giet die marinade bo-oor. Maak die bak toe en los oornag in 'n oond gestel op 100ºC.
Voor opdiening, bedruip weer en plaas vir 20 minute oop in 'n baie warm oond 220ºC. Draai ná tien minute en bedruip weer.

6/21/2009

Drie bone kerrie

100 g margarien
2 uie, fyn gesny
3 knoffelhuisies, fyn gesny
1 eetlepel gemaalde koljander
1 teelepel masala
1 teelepel rissiepoeier
1 teelepel suiker
sout
peper
1 blik tamaties, opgesny
1 blik botterbone
1 blik niertjiebone
1 blik cannellini bone

Smelt die margarien en braai die uie daarin vir 10 minute.

Voeg die knoffel en kruie by en braai vir ´n paar sekondes. Roer dan die tamaties, sout, peper en suiker by. Verminder die hitte en laat kook vir 10 minute.

Voeg die bone by en kook tot die dis goed warm is.

6/20/2009

Mexikaanse koffie

120 ml koffielikeur
40 ml suiker
1 liter sterk koffie
100ml room
50 ml gerasperde sjokolade
kaneel

Meng alles saam behalwe die room en kaneel.
Gooi in koppies, bedek met room en besprinkel met kaneel.

(bedien 4 persone)

6/19/2009

Hoenderlewerpatee / Chicken Liver Pate

250 g vars lewers
1 middelslag ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
25 g botter
5 ml gemengde kruie
1 lourierblaar
2,5 ml gedroogde tiemie of een vars takkie
5 ml vars gekapte pietersielie
sout en varsgemaalde peper
1 teelepel fyn neutmuskaat
15-30 ml brandewyn
100 g botter

Plaas al die bestandele behalwe brandewyn en 100g botter in kastrol en kook stadig tot ui deurskynend is. Roer af en toe. Onthou om lewer stukkend te sny. Haal af en maak gaar in mikro vir 5 minute op hoog. Onthou om te bedek. Plaas mengsel saam met orige botter en brandewyn in voedselverwerker en vermeng tot sagte puree laat afkoel.


Die patee kan lank in yskas gehou word.

6/18/2009

Beesvleispotbraad / Beef Pot Roast

50 ml olie
1,3 kg binneboud of dikrib, in een stuk

Geurige sous:
300 ml tamatiesous
300 ml water
50 ml suurlemoensap
15 ml aangemaakte mosterd
‘n Paar druppels tabascosous
75 ml vrugte blatjang
13 ml worcestersous
40 ml heuning
3 lourierblare
7 ml sout
40 ml koekmeelblom
50 ml pietersielie, fyn gekap

Verhit die olie oor hoë hitte in ‘n kastrol. Braai die vleis alkante bruin. Skep uit en hou dit eenkant. Giet alle oortollige olie uit die kastrol.

Sous:
Berei die geurige sous: Voeg al die bestanddele vir die sous, behalwe die koekmeelblom en pietersielie in ‘n kastrol. Klits goed met ‘n draadklitser. Verhit die sous tot kookpunt. Voeg die vleis by. Laat dit weer opkook. Plaas die deksel op en laat dit 1½ uur lank oor lae hitte prut, of totdat die vleis sag is. Draai die vleis af en toe om. Skep die vleis uit die sous en sny dit met ‘n lang, skerp mes in skywe. Rangskik die skywe in ‘n verhitte, vlak oondbak. Maak die koekmeelblom met ‘n klein bietjie koue water aan in ‘n bakkie. Voeg dit by die sous in die kastrol. Roer dit met ‘n houtlepel oor matige hitte tot dik. Giet die sous oor die vleis en garneer met pietersielie.


Bedien 4 - 6 persone.

6/17/2009

Groen piekel brandrissie / Green Pickle Chili

600 g brandrissie (kan ook rooi wees, maar dan is dit baie sterker)
15 swartpeper korrels
5 lourierblare
2 eetlepels koljandersade of een eetlepel perperkorrels en een eetlepel mostertsade
5 teelepels sout
6 eetlepels strooisuiker
1 liter wit asyn
1 eetlepel paprika
1 teelepel borrie

Sny rissies oop en verwyder sade - indien verkies- Gooi kookwater oor rissies en laat 1 minute staan en dreineer. Plaas rissies, peperkorrels, lourier blare, koljander en geurmiddels in fles. Verhit suiker en asyn tot suiker gesmelt is en terwyl nog warm, nie gekook, gooi dit in fles. U kan dit ook deel in kleiner flessies soos u verkies.

6/16/2009

Oondgebraaide skaaprib / Oven-roasted Lamb Ribs

Vryf rib in met sout en peper. Bak by 180 grade met vetkant na bo (sonder die sous)

SOUS
1 Koppie tamatiesous
200ml bruin suiker
halwe koppie asyn
2½ tot 3 ml tobasco

Kook sous vir 5 minute, gooi oor rib en bak verder vir 15 minute tot taaierig.

bydrae: Chantelle Geldenhuys

6/15/2009

Skaapboud / Lamb Shank

500 ml water
1 vleisekstrakblokkie
5 ml uievlokkies of 1 ui gekap
10 ml sout
7,5 ml mosterdpoeier
10 ml suiker
5 ml swartpeper
7,5 ml fyn gemmer
2 knoffelhuisies
2 kg skaapboud
25 ml meelblom
25 ml olie
50 ml tamatiesous
25 ml worcestersous
25 ml blatjang
37,5 ml botter of margarien, gesmelt
10 ml suiker
5 ml asyn
1 ml tabascosous
10 ml mielieblom

Berei die aftreksel die dag vantevore deur die water, vleisaftrekselblokkie en ui 10 minute lank saam te kook en dit dan deur ‘n sif te gooi. Ook ‘n dag vantevore: Meng die sout, mosterdpoeier, suiker, swartpeper en gemmer en vryf dit oor die oppervlakte van die vleis. Laat staan oornag. Stel die oond op 200ºC. Skil en sny die knoffel in repies. Druk die knoffel op verskeie plekke naby die been in die vleis in. Strooi die meelblom oor die vleis. Verhit die olie in die oondpan en plaas die vleis op ‘n vleisrak in die oondpan. Bak die vleis ‘n uur lank in die vooraf verhitte oond. Bedruip elke tien minute met die olie in die pan. Die hitte kan na 30 minute verlaag word. Berei die sous deur die aftreksel wat die vorige dag berei is, met die tamatiesous, worcestersous, blatjang, gesmelte botter, suiker, asyn en tabascosous te meng. Verdik die sous met die mielieblom wat met ‘n bietjie water aangemaak is en gooi dit oor die vleis.

Resep 2

2½ - 3kg ontbeende skaapboud
sout en peper na smaak
braaivleis spesery (opsioneel)
fyn appelkooskonfyt (verdun met asyn)
½ tot 1 koppie room

Voorverhit die oond tot 180ºC. Vryf sout, peper en speserye oor boud binne en buite. Smeer konfyt oor boud binne en buite. Bind vas met tou. Plaas op foelie (foelie blink kant na binne), gooi room oor en maak toe sodat room nie uitloop nie. Sit in oondpan en bak vir ongeveer 2 ure toets en sit voor.

6/14/2009

Chicken a la King / Hoender à la king / Hoender in sampioenroomsous

Gaar Hoender - ontbeen en velle af. Sny in klein stukke.
2 eetlepels botter
250 g sampioene
2 koppies room
1 teelepel suurlemoensap
1 groot eetlepel tamatiepasta
1 groot eetlepel meelblom
½ teelepel sout
1 klein ui gerasper
½ teelepel rooipeper - of peri peri
Braai sampioene en ui in botter tot uie deurskynend is. Meng meel met room tot glad en voeg by uiemengsel en voeg sout by. Kook op stadige hitte en roer. Voeg res van bestanddele by en kook. Voeg hoender by. Kook vir ± 20 minute tot 30 minute.

bydrae: Petro van der Westhuizen

Resep 2

1 heel hoender
2 uie, gekap
1 groenpeper, gekap
25 ml margarien
100 ml chicken stock
1 pakkie sampioenroomsoppoeier
1 pakkie hoenderroomsoppoeier
700 ml melk
12,5 ml chutney
10 ml brandewyn of sjerrie (ek sit meer by)

Kook hoender tot gaar. Hou 100 ml chicken stock eenkant. Verwyder vel en bene en sny in blokkies.
Gebruik ´n groterige kastrol en braai die uie en groenpeper in die margarien tot sag.
Meng chicken stock met sop, melk en chutney en voeg by die uiemengsel.
Prut ongeveer 10 min tot die mengsel dik en gaar is.
Voeg hoender by en prut ´n paar minute.
Roer die brandewyn / sjerrie by en sit warm voor op rys.

bydrae: Chantelle Geldenhuys

6/13/2009

Rooi drieboneslaai / Red Three Bean Salad

1 x basiese tamatiesous

2 blikke groenbone gedreineer
2 blikke botterbone gedreineer
2 blikke bone in tamatiesous
2 uie gekap
2 soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
Paar druiwekorrels - opsioneel
Voeg bestanddele by kokende sous en laat goed deur kook. Bottel en verseël warm.

6/12/2009

Hoenderpotjie in roomsous - heerlikste dik, ryk roomsous met 'n hoender- en spekgeur. / Chicken Stew with a Cream Sauce

Die potjie het die heerlikste dik, ryk roomsous met ´n hoender- en spekgeur. Genoeg vir 4 tot 6 mense en ´n No 2 pot word aanbeveel.

6 hoenderdye
braaivleisspeserye na smaak
250 g swoerdlose ontbytspek, in stukkies gekap
4 middelslag uie, gekap
60 ml fyn appelkooskonfyt
100 ml water
15 ml worcestersous
12 heel uitjies, geskil
10 jong heel aartappeltjies, geskil
750 ml gevriesde gemendge groente
300 g sampioene, in skywe gesny
aromat na smaak
1 pakkie beesstertsoppoeier
1 pakkie dik wit uiesoppoeier
500 ml vars room OF 250 ml room en 250ml melk

Sprinkel die braaivleisspeserye oor die hoender. Verhit die pot en braai die spek daarin vir 5 minute. Voeg die uie en appelkooskonfyt by en braai tot sag.
Voeg die hoender, water en Worcestersous by die uiemengsel, sit die deksel op en laat prut vir 15 minute. Voeg die uitjies en aartapels by en laat prut vir nog 10 minute.

Voeg nou die groente en dan die sampioene by. Sprinkel die geuropwekker oor, sit die deksel op en laat prut vir 30 minute.

Meng die soppoeier met die room en voeg dit by die potjie. Laat prut vir 30 minute.

6/11/2009

Toebroodjies

Avo & Kropslaai
Maak avokadopeer fyn saam met ´n bietjie suurlemoensap en gebruik saam met kropslaai.

Avo & Maas
Maak avokadopeer, bietjie suurlemoensap en maaskaas saam fyn.

Kaas, Appel & Sultanas
Gerasperde kaas, gerasperde appel en sultanas op brood.

Kaas & Blatjang
Gerasperde kaas en blatjang.

Kerrie-eier
Druk ´n hardgekookte eier fyn met mayonnaise, jogurt en ´n knippie kerriepoeier.

Linda-broodjie
Fyn opgesnyde groen soetrissie en ui saam met kaas op brood waarop botter en blatjang gesmeer is.

Piesang & Dadel
Maak ´n piesang fyn en smeer dit saam met dadelsmeer op brood.

Piesang & Grondboontjiebotter
Meng piesang en grondboontjiebotter.

Roomkaas & Appelkoos
Smeer roomkaas oor brood en sprinkel gedroogde appelkoosstukkies oor.

Roomkaas, geroosterde sesame & kropslaai
Smeer roomkaas op broodjie, besprinkel met sesame-saad en bedek met kropslaai.



Die Wilna Jackson
Hierdie resep vir heerlike toebrootjies is baie handig as jy 'n hele klomp toebrootjies moet voorberei en jy het net beperkte hoeveelhede van sekere vulsels. Dit is ook ongelooflik maklik en spaar baie tyd as jy vinnig moet maak.
Rasper kaas
Sny tamaties in klein blokkies (verwyder saad)
Kap uie baie fyn
Sny oorskiet koue vleis in klein stukkies
Kerf blaarslaai baie fyn
Kap gekookte eiers baie fyn
Agurkies fun gesny
Gekleurde soetrissies fyn gekap
Aromat of ander geurselsout na smaak
Plus enige ander lekkernye (net nie advokado nie)
Meng alles saam in 'n groterige skottel met 'n klein bietjie mayonaise of gelyke hoeveelhede mayonaise en maas/roomkaas om die bestandele bymekaar te hou sodat dit nie uitval waneer jy die toebrooijie vashou nie.
Jy hoef nie eers die brootjies te smeer nie want die bestandele is klam genoeg van die mayonaise mengsel. Dit smaak absoluut fantasties en jy hoef te bekommer oor die mense wat nie van uie hou nie want hulle kan dit nie onderskei nie en kan nie glo hoe lekker dit smaak nie.

6/10/2009

Kombuis


Kombuis is 'n versameling van 120+ van Sonia Cabano se gunsteling resepte. Resepte wat sy geërf, gebedel, geleen en geleer het vandat sy kleintyd weggespring het as haar ma se handlanger in die kombuis, tot jare later as professionele sjef en spysenier in Londen en Kaapstad. Haar program wat aanvanklik vir KykNet ontwikkel is, Pampoen tot Perlemoen word tans op SABC3 uitgesaai.

Die boek is saamgestel met die Suid-Afrikaanse klimaat en leefstyl in gedagte – maklike, vinnige resepte vir die haastiges, ‘n tikkie nostalgie om tradisie te gedenk en laastens, maklike maar onweerstaanbare onthaalkos wat ons hartlike gasvryheid weerspieël. Met Kombuis nooi Sonia die leser om saam aan te sit rondom haar tafel.

Die boek is in drie afdelings verdeel:

BLITSKOMBUIS bevat gesonde kitskosresepte wat selfs avontuurlike kokke tevrede sal stel.

HUISKOMBUIS het die lekker tradisionele boerekosresepte en familiegunstelinge waarsonder ons nie kan klaarkom nie.

KUIERKOMBUIS is propvol flinke idees en voorstelle vir ‘n behaaglike samesyn, van teepartytjies tot ‘n swierige uithangete vir 16.

Daar’s dus die lekker tradisionele Suid-Afrikaanse boerekos, sowel as moetmaakresepte uit Europa, Amerika, Australië, die Midde- en Verre Ooste, en liplek-inspirasie vir okkasies groot en klein met temaspyskaarte en onthaalwenke. Kombuis is ’n kosjuweel uit eie bodem, geïllustreer met volkleurfoto’s geneem deur gesoute kosfotograaf Adriaan Oosthuizen.

Koffie met roomys / Coffee wit Ice-cream

Meng 3 eetlepels room, 1/3 koppie sterk soet koffie en 100 ml Coke in 'n glas. Skep ´n bal roomys bo-op.

6/09/2009

Wyn - wat by wat?

Hierdie is 'n eenvoudige gids vir diegene met 'n baie beperkte kennis oor die onderwerp en onder druk om 'n keuse uit te oefen:

Sop - Helder droë wyn tot halfsoet wyn
Roomsop - Droë wit wyn
Dik groente sop - Enige wyn, selfs rooiwyn saam met minestrone
Voorgeregte - Met kruie byv. Knoffel - sauvignon blanc
Aspersies met bottersous - chardonay of sauvignon blanc
Artisjokke, bokkaas, Visgeregte - sauvignon blanc
Vissop en bredies - sauvignon blanc
Geregte met Mayonaise - Enige sauvignon blanc
Spanspek ens. - Enige halfsoet wyn
Pasta - Ligte rooiwyn
Wildsvleis, Braaivleis - merlot
Paté - Sterk houtverouderde wyn
Pizza - enige rooiwyn
Steurgarnale - ligte rooiwyn

bydrae: Petro van der Westhuizen

6/08/2009

Café Brûlot

15 ml bruinsuiker
5 heel naeltjies
5 ml lemoenskil, gerasper
5 ml suurlemoenskil, gerasper
1 stuk pypkaneel
1 vanieljepeul
160 ml brandewyn
700 ml warm sterk koffie
room
kaneel

Verhit suiker, naeltjies lemoen en suurlemoenskil, pypkaneel, vanieljepeul en brandewyn saam oor lae hitte tot suiker opgelos is. Steek aan met vuurhoutjie en laat 30 sekonder brand. Verwyder pypkaneel en naeltjies en vanieljoe peul. Gooi 4 glase ¾ vol met koffie en vul verder met brandewynmengsel. Giet room bo-oor. (Klits room effens gooi oor agterkant van eetlepel) strooi kaneel bo-op.

6/07/2009

Appelkoos doopsous / Apricot Dipping Sauce

1 ui gekap
15 ml olie
1 x 410g appelkose gekap
1 ml sout
Vars gemaalde swart peper
15 ml vars gemmerwortel gekap of 1 ml droë gemmer
10 ml mielieblom

Soteer ui in olie. Voeg appelkose en geurmiddels by. Kook vir 5 minute. Verdik sous met mielieblom en kook nog 5 minute. Sit warm voor. Appelkose kan met blik fyn pynappel vervang word.

6/06/2009

Kaviaar patee / Caviar Pate

50 g botter
200 g gladde maaskaas
100 g Deense kaviaar

Meng al die bestanddele.

Kan ook op roulade bedien word.

6/05/2009

Kaapse salm en piesang / Cape Salmon and Banana

4 Kaapse salm-fillete, sonder bene en vel
250 ml groente-ekstrak
30 ml soja-sous
2 rooi rissies, sonder sade en fyn opgesny
Sap en skil van een lemmetjie
1 rooi soetrissie, fyn opgesny
6 piesangs, skuins opgesny

Verhit die oond tot 200°C. Meng alles behalwe piesangs saam. Plaas die vis in ´n pan en gooi die mengsel oor. Gooi piesang by en bak vir 20 minute.

Bedien saam met bruin rys, gemeng met sprietuie, suurlemoenskil en avokado.

6/04/2009

Gemarineerde artisjokke en bokmelkkaas / Marinated Artichokes and Goat's Milk Cheese

10 geblikte artisjok harte
sout en varsgemaalde swartpeper
200 ml olyfolie
1 suurlemoen, sap en gerasperde skil
200 g ferm bokmelkkaas, in blokkies gesny

Dreineer die artisjokke en halveer. Plaas die artisjokke in ´n bak en gooi sout en peper oor. Voeg die res van die bestanddele by en plaas bedek in yskas. Laat oornag staan voor opdiening.

6/03/2009

Waatlemoenslaai met baba-spinasie en feta / Watermelon Salad with Baby Spinach and Feta

450 g waatlemoen, instukke gesny
125 g baba-spinasie, gewas
400 g geblikte salm, gedreineer
125 g feta, gekrummel
125 g rooi uie, fyn opgesny
75 g swart olywe, pitloos en gehalveer
45 ml balsemasyn
65 ml olyfolie
vars gemaalde swartpeper

Plaas die waatlemoen en spinasie op ´n slaaibord of 6 kleinbordjies. Plaas die salm bo-op. Sprinkel die feta, uie en olywe oor. Besprinkel met die asyn, olie en swartpeper.

(bedien 6 persone)

6/02/2009

Marmelade & Moerkoffie: Plaaslike, organiese en seisoenskos, uit die Kamdeboovlakte


Langer as 'n eeu al woon die Palmer-familie op die plaas Cranemere in die middel van die uitgestrekte, verlate Groot-Karoo. Op Cranemere het die noodsaaklikheid om volgens die seisoene te kook 'n kosmaaktradisie geslyp waarin die kuns van kreatiewe improvisering altyd seevier, en boonop het elke geslag Palmer-vroue unieke elemente en invloede bygedra tot die Karoogeure wat ons vandag ken.

Die resepte in Marmelade & moerkoffie is bymekaargemaak deur vyf geslagte vroue in die Palmer-familie, en die resultaat is dat daar in die titel iets vir almal is – van die eksotiese tot die bekende.

Soek troos in geregte soos tarentaalpastei, nostalgie in 'n potbraaihoender soos dit op die plaas gemaak word, en plesier in die lewendige kleur van 'n poeding wat bestaan uit fyngedrukte granaatpitte met rooswater.

Marmelade & moerkoffie is 'n titel oor kos soos dit moet wees - seisoenaal, eenvoudig en propvol geur.

6/01/2009

Koeskoes-slaai met botterskorsie en feta / Couscous Salad with Butternut Squash and Feta

500 g koeskoes
10 ml heuning
1 botterskorsie, skoongemaak en in 1cm blokkies gesny
400 g Rosa-tamaties, gehalveer
200 g feta
20 g basilieblare, geskeur
80 ml olyfolie
30 ml Balsemasyn
30 ml mayonnaise
sout
vars gemaalde swartpeper

Berei die koeskoes voor soos hulle op die verpakking aandui en hou eenkant. Plaas die botterskorsie in ´n oondbak, gooi 20ml olyfolie oor en bak vir 30 minute lank teen 180ºC. Laat die botterskorsie afkoel terwyl jy die res van die olyfolie, die asyn, die heuning en die mayonnaise meng vir die slaaisous. Om die slaai te maak plaas jy die koeskoes onder op ´n slaaibord, bedek met die tamaties, botterskorsie, feta en basiliekruid. Gooi die sous oor.

Bedien saam met ´n lekker Chardonnay.

(bedien 6)