Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/30/2010

Japie se gunsteling

2 eiers, geskei
500 ml suiker
60 ml meel
500 ml melk
180 ml lemoensap
15 ml suurlemoensap
gerasperde skil van 'n lemoen
25 ml gesmelte botter

Klop die geel van die eiers en vou die suiker by. Die melk en meel kom om die beurt by.
Voeg nou die lemoensap, suurlemoensap, skil en botter by.
Klits die eierwit styf en vou by die mengsel.

Gooi die mengsel in 'n oondbak en plaas die bak in 'n pan warm water in 'n 180ºC oond vir 45 minute.

11/29/2010

Bokkoms / Bokkems

Enige vis kan gebruik word vir bokkoms.

Maak die vis skoon, sny dit oop en verwyder die ingewande.
Vryf die vis met suurlemoen.
Nou vryf jy die vis goed in met sout.

Hang op om droog te word.


(foto Andy Carter)

11/28/2010

Patrys bredie

Twee patryse is gebruik vir die resep. 4 persone behoort lekker te kan eet hieraan.

Jy het ook nodig:

30 g botter
’n wortel, in blokkies gesny
’n raap, in blokkies gesny
2 uie, in blokkies gesny
3 selderystele, in blokkies gesny
450 mℓ aftreksel
bouquet garni
250 mℓ uitgebrande wyn
sout
peper

Smelt die botter in ’n swaarboom pot.
Braai die skoongemaakte patryse bruin in die botter.
Haal uit en hou warm.

Smoor die groente in dieselfde pot tot dit begin verkleur.

Voeg die aftreksel by en bring tot kookpunt.

Voeg nou die bouquet garni, patryse en wyn by.
Draai die hitte af en kook stadig vir 40 minute. Bedruip gereeld die patryse met die sous.

11/27/2010

Uitgebrande wyn

Uitgebrande wyn is 'n sous om te gebruik by vleis. Dit is ook geskik as 'n bedruipsous.

Verhit rooiwyn in 'n souspan, maar moet nie dat dit kook nie.
Wanneer dit baie warm is steek jy dit aan die brand.
Wanneer die vlam uitgebrand is voeg jy geurmiddels by wat pas by jou gereg.
Hou die souspan se deksel op tot jy jou sous gebruik.

11/26/2010

Suurlemoenpoeding / Lemon Pudding

3 eetlepels botter
½ koppie suiker
2 eetlepels suiker
die sap en gerasperde skil van een suurlemoen
500 ml melk
2 eetlepels meel
2 eiers, geskei

Klop die botter en ½ koppie suiker saam tot dit romerig is.
Klits die eiergele en voeg by die bottermengsel.
Voeg die res van die bestanddele by - uitsluitend die eierwitte.
Klits die eierwitte en vou dit dan by die mengsel.

Gooi die mengsel in 'n oondbak en plaas die bak in 'n pan warm water in 'n 180ºC oond vir 45 minute.

11/25/2010

Argentynse vleisgereg

Neem jou steak en sny dit in blokkies, genoeg vir 4 koppies. Hierdie resep is genoeg vir 8 persone.

Sny wortels in blokkies, 1 koppie vol.
4 uie, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
Aartappel in blokkies gesny, 1 koppie vol
’n Halwe pakkie spaghetti.
’n Halwe blikkie ertjies.
’n Klein blikkie tamatiepasta.
3 lourierblare
2 eetlepels olie
’n paar basiliekruidblare
sout en peper

Jy het ’n groot kastrol nodig. Begin deur die vleis in die olie te braai vir 20 minute lank.
Voeg die uie en knoffel by en braai nog 5 minute.
Maak nou ’n laag met die aartappels bo-op, gevolg deur ’n laag van wortels en laastens die spaghetti. Druk die lourierblare tussenin.
Gooi genoeg kookwater by sodat alles net bedek is. Kook stadig vir 30 minute. Moenie roer nie.

Roer die ertjies en tamatiepasta by en roer deur. Verhit tot alles warm is en bedien.

Bedien saam met gerasperde cheddar.

resep: Hannah du Plessis

11/24/2010

Duiwe met tamatiesous

Hierdie resep is vir 4 duiwe.

Verdeel elke skoongemaakte duif in twee. Braai elke helfte om die beurt bruin in botter. Braai net aan die velkant.

Pak die gebraaide duiwe in 'n kasserol.

Sny 'n groot ui in skywe en braai in dieselfde pan as die duiwe. Voeg nog botter by indien nodig. Plaas die uie oor die duiwe.

Meng 'n klein blikkie sampioene met 500 ml tamatiesous. Gooi die mengsel oor die duiwe.

Sit die kasserol se deksel op en plaas in 'n 180ºC oond vir 1½ uur.

11/23/2010

Roomhoender

1¼ kg gaar hoendervleis
1 liter hoenderaftreksel
40 ml botter
40 ml meel
½ teelepel sout
¼ teelepel peper
knippie neutmuskaat
250 ml room
125 ml sjerrie
1 blikkie sampioene
125 ml gerasperde Parmesan

Smelt die botter en roer die meel, sout, peper en neutmuskaat by.
Voeg die aftreksel by en kook stadig tot glad.
Voeg die room en sjerrie by.
Voeg die hoender sampioene en kaas by.
Hou oor die hitte tot alles warm is.

Bedien met rys.

resep: Janine van Zyl

11/22/2010

Broodpoeding

500 ml ou witbroodkrummels (sonder korsies)
1 liter warm melk
250 ml suiker
125 ml gesmelte botter
2 eiers
½ teelepel sout
5 ml vanillageursel

Week die broodkrummels in die melk en laat afkoel.

Klits die eiers en suiker saam en voeg die res van die bestanddele by.
Voeg by die broodmengsel en meng.
Gooi in 'n gesmeerde oondbak.
Bak 1 uur lank by 180ºC.

Bedien warm.

11/21/2010

Geurige hoendergereg

1 hoender, in porsies gesny
2 uie, fyngekap
6 wortels, fyngekap
5 aartappels
20 mℓ gekapte pietersielie
5 naeltjies
5 peperkorrels
2 lourierblare
250 ml ertjies
250 ml jong mielies
1 koppie vleisaftreksel (gebruik 1 blokkie vleisekstrak as jy wil)
sout
olie

Gebruik ’n swaarboompot en braai die uie en wortels saam met die hoender in 25 mℓ olie tot die hoender aan alle kante bruin is.
Voeg die aftreksel by asook die naeltjies, peperkorrels en lourierblare. Plaas die pot se deksel op en plaas in ’n 120ºC oond vir 3 uur.

Voeg nou die aartappels, ertjies en wortels by en sout na smaak. Plaas terug in die oond vir nog ’n uur.

Bedien met rys.

11/20/2010

Fluweelpoeding

½ koppie suiker
¾ koppie meelblom
½ teelepel sout
4 koppies melk
4 eiers, geskei
4 eetlepels botter
1 teelepel vanillageursel
2 eetlepels appelkooskonfyt

Meng die suiker, meel en sout.

Verhit die melk tot dit amper kook en gooi dit dan stadig oor die droë mengsel. Roer aanhoudend.
Kook stadig en bly roer tot dit dik begin word.

Klop die eiergele en gooi die warm mengsel daaroor.
Voeg die botter en vanilla by.

Gooi in ’n gesmeerde oondbak en bak in ’n 180ºC oond vir 40 minute. Dit behoort ligbruin te raak bo-op.

Haal uit die oond en smeer ’n dun lagie appelkooskonfyt oor.
Klop die eierwit styf met 3 eetlepels suiker. Bedek die appelkooskonfyt met die eierwit.
Plaas die poeding nou in ’n koel oond tot die eierwit ligbruin word.

11/19/2010

Gekookte koolraap

Verwyder die koolraap se blare, maar los die wat teen die bol is.
Was deeglik.

Kook vir 45 minute in kookwater.

Voeg ½ teelepel sout by wanneer dit amper gaar is.

Bedien met ’n witsous en gekapte pietersielie.

11/18/2010

Eenvoudige bone en mieliegereg / Simple Bean and Corn Dish

Braai ’n ui, soetrissie en rissie wat in blokkies gesny is saam in 20 mℓ olyfolie tot sag.

Gooi 1 blikkie baked beans en een blikkie mielies by.
Kook oor baie lae hitte tot alles is.

Bedien op bruinrys en strooi gerasperde kaas oor.

Hierdie resep is genoeg vir 4 persone.

11/17/2010

Eenvoudiger Franse broodpizza

Hierdie is ’n vinniger weergawe van die Franse broodpizza.

Halveer ’n baguette in die lengte.

Smeer elke helfte met tamatiesous voor jy jou gunsteling “toppings” opsit. Probeer skywe gebraaide sampioen, uie en ontpitte olywe.
Bedek met gerasperde kaas.

Bak by 200ºC vir 10 minute.

11/16/2010

Hoender bonne femme / Chicken bonne femme

1,4 kg hoender
30 g botter
85 g spek, in repies
12 klein uie
60 g sampioene, in kwarte gesny
1 eetlepel meel
500 mℓ aftreksel
bouquet garni
12 klein aartappeltjies, in die lengte deur in kwarte gesny
gekapte pietersielie

Smelt die botter in ’n kastrol en braai die heel hoender daarin rondom bruin.
Verwyder die hoender en sny dit op in porsies.

Blansjeer die uie en spek in ’n aparte kastrol - begin met koue water.

Braai nou die uie, spek en sampioene in die kastrol waarin die hoender gebraai is. Braai net tot dit begin verkleur.
Gooi die meel en die aftreksel by en bring tot kookpunt.
Plaas die hoender terug in die kastrol en voeg die bouquet garni by.
Sit die deksel op en plaas in ’n 180ºC oond. Voeg na 20 minute die aartappels by. Na die hoender 1 uur in totaal in die oond was voel jy of die aartappels sag is. Wanneer die aartappels reg is, kan jy jou gereg bedien.

Strooi pietersielie oor voor jy dit bedien

11/15/2010

Uintjies

Die knolle van die plantjies word as kos voorberei.
Grawe die uintjies uit en kap die stingels af.
Kook die knolle in water met 'n bietjie sout tot sag.
Laat dit afkoel, skil af en bedien.

11/14/2010

Jongby-poeding

2 koppies meelblom
knippie sout
1¼ koppies suiker
2 koppies melk
1 koppie gouestroop, maa dit warm om te verdun net voor jy dit gebruik
4 eiers
4 eetlepels botter
4 eetlepels asyn
2 teelepels koeksoda

Klop die iers, botter en suiker saam.
Voeg die meel bietjie vir bietjie om die beurt met die melk by.
Meng alles deeglik saam.
Voeg die stroop stadig by, terwyl jy dit aanhoudend klits.

Meng die koeksoda en asyn.

Voeg die koeksoda en asyn by jou mengsel en klits dit baie goed.

Bak in ’n gesmeerde oondbak met ’n deksel by 150ºC vir 2 uur.

Bedien met vla.

11/13/2010

Snoekgereg

1,5 kg vars snoek
1 ui, gekerf
1 blikkie sampioene, in skyfies gesny
sout
250 mℓ witwyn
gerasperde cheddar

Kook die snoek in soutwater saam met die ui.
Gooi die water af, verwyder die grate, vlok die vis en pak dit in ’n gesmeerde oondbak. Gooi die witwyn oor.
Pak die sampioene op die vis.
Bedek met witsous.
Strooi cheddar oor en bak in ’n 180ºC oond vir 30 minute.

resep: Elize van Staden

11/12/2010

Witwortels

Hoe maak mens witwortels gaar?

Was die witwortels goed en sny dit in skywe.

Kook 30 minute in kookwater en voeg ½ teelepel sout by net voor dit gaar is.

Gooi die water af en bedien met ’n klont botter en gekapte pietersielie.


Alternatiewelik kan jy dit ook met ’n vurk fyn druk voor jy dit bedien.



(foto Albert Cahalan)

11/11/2010

Kerrie maalvleis / Curry Mince

500 g maalvleis
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel tamatiepasta
2 naeltjies
1 stuk pypkaneel
sout
suurlemoensap
2 eetlepels olie
klapper

Verhit die olie in ’n pot en braai die ui en knoffel tot dit begin bruin verkleur.
Voeg die kerrie en ander speserye by, asook die tamatiepasta. Meng goed.

Na 5 minute voeg jy die maalvleis by, asook ’n bietjie suurlemoensap, sout en ’n bietjie klapper.

Bedien saam met rys sodra die vleis gaar is.


resep: Marie Diederichs

11/10/2010

Hoender met aartappelskyfies / Chicken and Chips

½ hoender, in porsies gesny
aartappelskyfies, fyngedruk
koringvlokkies, fyngedruk
250 g botter, gesmelt
sap van 1 suurlemoen
2 knoffelhuisies, fyngedruk
sout
peper

Braai die hoenderstukke bruin in ’n bietjie botter.

Strooi sout, peper en knoffel oor die hoender.

Meng die botter en suurlemoensap.
Gooi ’n bietjie oor die hoender.
Strooi nou aartappelskyfies en koringvlokkies oor.
Gooi nog bottersous oor. Hou ’n bietjie van die sous eenkant warm vir wanneer die hoender uit die oond kom.

Plaas die hoender in ’n 180ºC oond en bak vir ’n uur.

Gooi die res van die bottersous oor wanneer die hoender uit die oond kom. Bedien dadelik.

resep: Madeleine Swanepoel

11/09/2010

Rape

Hoe maak mens rape gaar?

Skil die rape.

Bedek met water en kook vir 45 minute. Voeg ½ teelepel sout by die water wanneer dit amper gaar is.

Dreineer die rape, sprinkel 5 mℓ suurlemoensap oor en bedek met ’n witsous. Bedien dadelik.

11/07/2010

Geroosterde kaastoebroodjie / Toasted Cheese Sandwich

Hierdie broodjie kan onder die oondrooster of op die braai gemaak word. Rooster net tot die kaas smelt.

Vir een broodjie neem jy twee snye brood. Botter aan albei kante.

Plaas skywe rooi ui en tamatie op een sny en bedek met cheddar. Plaas die ander sny bo-op en siedaar, jou broodjie is gereed vir die rooster.

11/06/2010

Gebakte marakkas

Was en skil die marakkas af en sny dit in stukke.

Pak die stukke in ’n gesmeerde oondbak en sit 1 sny witbrood, wat in kwarte gesny is, tussen die pampoen. Strooi sout en suiker oor.
Sit ’n paar stukke botter oor, 3 teelepels olie en ’n paar stukke pypkaneel.
Sit die deksel van jou bak op en plaas in ’n oond van 180ºC. Bak tot die marakkas sag en effens bruin is.

11/05/2010

Groenmielies / Corn

Hoe maak mens mielies gaar?

Trek die blare af en verwyder al die drade.

Sit die mieliekoppe is ’n kastrol kookwater en laat dit 30 minute lank kook.

Voeg sout by NET VOOR jy die mielies uithaal.

Bedien warm met botter.


11/04/2010

Uie-ragoût / Onion Ragout

450 g uie, geskil (kleinerige uie werk die beste)
30 g botter
5 mℓ suiker
250 mℓ witwyn

Blansjeer die uie. Begin met koue water.
Dreineer en plaas die uie in ’n kastrol.
Voeg die res van die bestanddele by en maak styf toe.
Kook in ’n 180ºC oond vir 45 minute - tot sag.

11/03/2010

Hoender-in-die-pot

1,8 kg hoender
30 g botter
3 repies spek
1 ui, in skywe gesny
1 wortel, in skywe gesny
1 selderysteel, in skywe gesny
bouquet garni
sout
peper

Smelt die botter in ’n kastrol en braai die hoender rondom bruin.

Haal die hoender uit en gooi enige vet af.

Plaas die spek onder in die kastrol en die hoender bo-op dit.
Pak die groente rondom die hoender, strooi sout en peper oor en plaas die bouquet garni ook in die kastrol.
Bedek die kastrol met foelie en sit die deksel op.
Plaas die kastrol in ’n 150ºC oond vir 3 ure lank. Hou die deksel net op vir die eerste 1½ uur.

11/02/2010

Skaapkopsop

Maak die kop en pootjies van ’n skaap goed skoon en laat dit in soutwater lê vir ’n paar uur.

Kloof die kop in twee en plaas dit in ’n kastrol saam met 18 koppies water en 200 g gort. Voeg sout en peper by en bring tot kookpunt. Skep die skuim af en laat dit stadig kook vir ’n halfuur.

Sny ’n paar wortels en rape in ringe en plaas in die pot, asook ’n hand vol ertjies. Laat alles stadig kook to gaar.

Die sop met en groente en die kop word apart bedien.

11/01/2010

Ratafia van appelkoospitte

Indien jy al ooit gewonder het wat om met daardie erdekanne te maak wat jou pa versamel het. Hier is die perfekte oplossing, ’n ratafia.

(Vir ’n verduideliking van wat ratafia is kyk in ons woordelys.)

Maak een van daardie erdekanne goed skoon en maak dit tot in die helfte vol appelkoospitte.
Vul die kan met brandewyn.
Seël die kan sê bek en plaas dit in die son vir 6 weke. Skud die kan eenmaal per week.

Na 6 weke haal jy ’n ¼ van die pitte uit en kraak dit met ’n hamer. Plaas dit terug in die kan en laat dit nog 15 dae staan.

Syg die vloeistof deur en meet dit af.
Meet dieselfde volume water af asook 340 g suiker vir elke 1 liter water.
Verhit die water en suiker tot kookpunt en kook dit 2 minute lank.
Syg die stroop deur en laat dit afkoel.

Meng die brandewyn en stroop. Laat dit 10 dae verouder in skoon erdekanne en bottel dit dan.