Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Pluimvee. Show all posts
Showing posts with label Pluimvee. Show all posts

2/06/2015

Hoender, sampioen en knoffel pasta

600 g skoongemaakte hoenderborsies, been en vel verwyder
150 g tamaties, ontpit en fyngekap
500 g pasta, strikkies pas by die gereg
200 g knoffelhuisies, fyngekap
90 mℓ olyfolie
750 g sampioene, in skywe gesny
125 mℓ gekapte stingeluie
5 mℓ fyngekapte rissie, vooraf ontpit
500 mℓ hoenderaftreksel
120 g vars gekapte koljander

Rooster die hoenderborsies onder ’n oondrooster of op die braai tot dit nie meer rou in die middel is nie. Dit neem gewoonlik so 6 tot 8 minute.
Laat die hoender afkoel, sny dit in blokkies en hou in die yskas tot jy dit nodig kry.

Kook die pasta volgens die aanwysings op die verpakking en hou eenkant.

Verhit die olyfolie in ’n diep pan oor medium hitte. Roerbraai die knoffel in die olie tot dit begin verbruin.
Voeg die tamaties, uie, sampioene en rissie by. Roerbraai vir 2 minute.
Voeg die aftreksel by en prut die mengsel tot dit ’n bietjie afgekook het.

Voeg die hoender, pasta en helfte van die koljander by en prut tot alles deurwarm is.

Garneer met die res van die koljander en bedien.


(foto Tony Alter)

2/02/2015

Hoender met soetrissie en artisjokke

45 mℓ koekmeel
Sout en varsgemaalde swartpeper
6 hoenderborsies, vel en been verwyder
30 mℓ olyfolie
30 mℓ botter
1 ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
250 g kersietamaties
6 artisjokharte
2 rooi soetrissies, ontpit en in repe gesny
30 mℓ vars oreganum

Meng die meel met sout en peper.
Doop die hoenderborsies in die meel en hou dit eenkant.

Verhit die olyfolie en botter in ’n pan en braai die ui en knoffel daarin vir 2 minute.
Verwyder die ui en knoffel en hou eenkant.
Braai die hoender in dieselfde pan oor medium hitte tot bruin aan alle kante.
Voeg die tamaties, soetrissie, artisjokke en oreganum by.
Geur met sout en peper, bedek en kook tot die hoender sag is – omtrent 10 minute.

Bedien die gereg warm.



(foto Nina Nelson)

9/03/2014

Wit bredies, gestoof

Hierdie is ’n basiese resep vir ’n wit bredie wat gestoof word. Wit, omdat die vleis in die dis ’n bleek kleur het. Dit word in water geblansjeer om die kleur lig te hou.

Vir bredies gebruik mens goedkoper vleissnitte, wat andersins te taai is om te gebruik. Die proses wat hier gebruik word maak die vleis sag en bring die natuurlike geure na vore.

Die betse vleissnitte vir stoofgeregte is:
Bees: ontbeende dikribskyf, ondernek, mantelvlies
Skaap: middelnek, bo-nekstuk, filetkant van die boud
Kalfsvleis: bors, kneukel, bladvleis
Konyn: enige deel of heel

Week jou vleis oornag in koue soutwater. Vervang die water twee keer om van enige skerp reuke ontslae te raak. Indien jy ’n heel hoender in jou resep gebruik, hoef jy dit nie te week nie.

Die volgende dag spoel jy die vleis af en plaas dit in ’n kastrol. Bedek dit met vars koue water. As jy kalfs- of konynvleis gebruik plaas jy ’n skyfie suurlemoen en nog sout by. Blansjeer dit dan deur die water stadig tot kookpunt te bring. Skep enige skuim af. Gooi die water aan die einde af en spoel die vleis weer af. Plaas dit dan in ’n skoon kastrol saam met die vloeistof wat jou resep voorskryf. Die vliestof moet net genoeg wees om die vleis te bedek.

Indien jy ’n geurige sous verkies moet jy hoender- of kalfsaftreksel gebruik.



(foto Stijn Nieuwendijk)

7/29/2014

Hoenderlewer-sosaties

Sny skoongemaakte hoenderlewers in twee en marineer dit in ’n mengsel van 200 mℓ olyfolie, sout, peper en fyngekapte kruie van jou keuse.
Voeg dáárby klein sampioene en ’n skeut suurlemoensap.

Intussen blansjeer jy lekker dik stukke spek wat jy in repe gesny het – net so vir 3 minute.
Maak dit dan droog met handdoekpapier.

Rol nou die lewer in broodkrummels en ryg dit dan alternatiewelik op sosatiestokkies met die sampioene en spek.

Maak dit gaar onder die oondrooster of op die braai.

10/23/2013

Eend roerbraai in koolblare

300 g eendborsies, in repe gesny
40 mℓ olie
3 knoffelhuisies, fyngekap
15 mℓ vars gemmer, in dun skywe gesny
Chinese koolblare, die stam uitgesny en geblansjeer
1 ui, fyngekap
25 mℓ sojasous
1 aartappel, gerasper

Meng 15 mℓ van die olie met die knoffel en gemmer en marineer die gesnyde eend daarin vir 1 uur.

Hou die koolblare warm nadat jy dit geblansjeer het.

Verhit die oorblywende 25 mℓ olie in 'n wok en braai die ui tot sag.
Voeg die eend, sojasous en aartappel by en roerbraai oor baie hoë hitte vir 5 minute.

Bedien dit dadelik. Die koolblare word apart bedien. Die gaste eet die eend deur dit in koolblare toe te draai.

10/21/2013

Hoender met knoffel

1 heel skoongemaakte hoender
2 stokke seldery, in stukke gesny
2 takkies roosmaryn
2 takkies tiemie
2 hande vol knoffelhuisies – nie geskil nie
30 mℓ olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
2 lourierblare
1 wortel, in blokkies gesny
1 ui, in stukke gesny
250 mℓ marsala wyn

Stop die hoender met die seldery, 'n takkie roosmaryn, 'n takkie tiemie en 'n hand vol knoffel.
Plaas die ander hand vol knoffel in 'n oondbak (een met 'n deksel). Plaas die hoender op die knoffel en verf met die olyfolie.
Geur met sout en peper.
Rangskik die wortel, lourierblare, ui en die res van die kruie om die hoender.
Gooi die wyn oor die hoender.
Bedek en bak vir 1 uur 20 minute by 200°C.

10/15/2013

Hoender met amandel en room

1,5 kg se hoenderstukke
3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 mℓ vars gerasperde gemmer
5 mℓ borrie
2,5 mℓ saffraan
60 mℓ melk
45 mℓ olie
2 uie, fyngekap
15 mℓ garam masala
10 mℓ sout
125 mℓ warm water
125 mℓ room
30 mℓ gemaalde amandels
30 mℓ vars gekapte koljander

Meng die knoffel, gemmer en borrie en vryf die hoender in daarmee.

Bring die melk tot kookpunt en laat die saffraan daarin week vir 10 minute.

Verhit die olie in 'n swaarboomkastrol en braai die uie daarin tot goudbruin.
Skep die uie uit en hou eenkant.
Plaas die hoender stuk-stuk in die pot en verbruin aan alle kante.
Wanneer al die hoender verbruin is plaas jy al die vleis in die pot.
Strooi die garam masala en die sout oor en gooi die saffraan en melk, die warm water en die helfte van die uie by. Plaas die deksel op en kook tot die hoender sag is. Draai die hoender so een of twee keer om terwyl dit kook.

Verwyder die stukke hoender uit die pot en hou dit warm eenkant.
Voeg die amandels en room by die pot se inhoud en verhit alles saam terwyl jy dit roer.
Skep die sous oor die hoender en bedien op rys.

Garneer die hoender met die oorblywende uie en die koljander.

Die resep is genoeg vir 6 persone.

10/14/2013

Hoender met port

Vryf 'n skoongemaakte hoender in met 'n mengsel van sout, varsgemaalde swartpeper, 3 fyngedrukte knoffelhuisies en olyfolie.

Plaas die hoender op 'n stuk aluminiumfoelie, groot genoeg om die hoender mee toe te maak.

Pak die volgende op die hoender:
1 ui, in skywe gesny
1 vy, in skywe gesny
3 lourierblare

Gooi 120 mℓ port oor die hoender en maak dit toe met die foelie.

Plaas die hoender in 'n warm oond vir 40 minute.

Haal die foelie af en verbruin die hoender vir 15 minute.

9/27/2013

Droë hoenderkerrie

hoenderstukke met 'n totale gewig van 1,25 kg
45 mℓ olie
10 kerrieblare, fyn verkrummel
2,5 mℓ swart mosterdsaad
1 ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
15 mℓ vars gerasperde gemmer
10 mℓ kerriepoeier
2,5 mℓ gemaalde gemmer
2,5 mℓ gemaalde koljander
2,5 mℓ peper
2,5 mℓ borrie
knypie neutmuskaat
knypie gemaalde naeltjies
knypie kaneel
5 mℓ gemaalde komyn
2,5 mℓ garam masala
15 mℓ suurlemoensap
5 mℓ rissiepoeier
10 mℓ sout

Verhit die olie en braai die kerrieblare en swart mosterd daarin vir 'n minuut.
Voeg die uie, knoffel en vars gemmer by en braai tot die uie sag en goudkleurig is. Roer gereeld.
Voeg die speserye by, behalwe die sout. Braai vir nog 'n minuut en voeg dan die sout en suurlemoensap by.
Plaas die hoender in die speserymengsel en maak seker al die hoenderstukke is, het in kontak gekom met die speserye.
Plaas die pot se deksel op en laat dit oor baie lae hitte kook tot die hoender sag is. Roer dit so af en toe. As die pot droogkook voor die hoender sag is, kan jy 'n 125 mℓ kookwater byvoeg.

Bedien die kerrie op rys.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

9/16/2013

Tagliatelle met hoenderlewer

250 g tagliatelle
40 g botter
100 g hoenderlewers, skoongemaak en gewas en in dun skywe gesny
125 mℓ vleisaftreksel
sout
neutmuskaat
peper
40 g gerasperde parmesaan

Kook die tagliatelle volgens die aanwysings op die verpakking.
Dreineer en hou eenkant.

Smelt die botter in 'n souspan en braai die hoenderlewers daarin vir 3 minute.
Gooi die vleisekstrak by en 'n knippie neutmuskaat. Geur met sout en peper.
Prut dit oor lae hitte tot die vloeistof verminder het.

Strooi parmesaan oor voor jy dit bedien.

9/09/2013

Hoender en jogurt kerrie / Chicken and Yoghurt Curry

1 kg hoenderstukke
1 ui, in stukke gesny
3 knoffelhuisies
5 mℓ vars gekapte gemmer
125 mℓ koljanderblare
20 mℓ olie
5 mℓ borrie
7 mℓ garam masala
7 mℓ sout
2,5 mℓ rissiepoeier
125 mℓ jogurt
2 tamaties, in blokkies gesny
koljanderblare vir garnering

Maak die ui, knoffel, gemmer en koljander saam fyn in 'n voedselverwerker. Verwerk tot dit 'n puree is.

Verhit die olie in jou pot en roerbraai die puree vir 5 minute.
Voeg die borrie, garam masala, sout en rissiepoeier by en roerbraai vir nog 'n minuut.
Roer die jogurt en tamatie by en braai tot die vloeistof verdamp het.
Voeg die hoender by en meng goed met die sous. Draai die hitte af tot laag en plaas die deksel op. Kook tot die hoender sag is.

Garneer die hoender met die koljander en bedien met rys.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

12/09/2012

Kwartels

Twee basiese manier om kwartels gaar te maak is in die oond by 180°C of onder die oondrooster.

Vlek die kwartels oop en smeer hulle met olyfolie. Plaas op 'n oondplaat. Dit neem maksimum 25 minute in die oond. Indien jy dit onder die rooster plaas, laat dit 12 minute aan elke kant rooster.

10/27/2010

Gebraaide gans / Fried Geese

Hang ’n skoongemaakte gans vir ’n paar dae op ’n koel plek voor jy dit gaarmaak.

Stop die gans met skywe appel, werk die opening toe en bind / steek die voël se boude en vlerke vas teen die lyf.
Strooi sout en peper oor die gans en plaas twee repe spek oor die bors.
Plaas in ’n braaipan in ’n 200ºC oond vir 3 ure - tot die gans gaar en bruin is.

7/15/2008

Karibiese hoenderkerrie / Caribbean Chicken Curry

12 stukke hoender
45 ml olyfolie
2 uie, opgesny
10 ml gerasperde gemmer
30 ml kerriepoeier
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
1 blikkie (380g) Nestlé Ideal Ingedampte Melk
20 ml meel
250 ml water
30 ml sultanas
gedroogde klapper

Verbruin die hoender in die olie.
Verwyder die hoender uit die pan en braai die uie, knoffel en kerriepoeier saam.
Voeg die meel by en kook nog 1 minuut lank.
Roer die ingedampte melk en sultanas by.
Bring alles tot kookpunt en plaas die hoender terug.
Verminder die hitte, bedek en laat prut vir 30 minute tot die hoender gaar is.

Bedien met die klapper.