Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

4/30/2013

Huisgenoot Top 500 Wenresepte 2

Dit is die tweede bundel in die suksesvolle Huisgenoot Top 500 Wenresepte reeks, en bevat die beste resepte uit die Huisgenoot-kombuis van die afgelope sewe jaar.

Met sy amper 600 resepte het dié nuwe Top 500 60 bladsye meer as die vorige bundel. Die toevoeging van variasies en wenke verhoog ook die waarde van die boek.

Met 15 hoofstukke wat soet- en souttert, vis en seekos, vleisgeregte en pasteie, asook nageregte en koeke insluit. Gunstelinge soos Wildspastei, Roosterkoekhamburgers, Kaapse kerrie en Goumet-paella laat die mond water. Vir die soettand is daar Rooifluweel-kaaskoek, Baklava en die beste Wortelkoek ooit.

Al die resepte is getoets deur die hoogs ervare Huisgenoot/YOU kosredaksie: ’n flatervrye kook- en bak-ervaring is verseker.

Met ’n moderne uitleg en uitstekende foto’s is die boek ‘n moet vir elke Suid-Afrikaanse kombuis.



Huisgenoot Top 500 Wenresepte 2 / deur Carmen Niehaus -- Human & Rousseau, 2013. -- 380 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798158060 : R 330.00

4/29/2013

Soet en Sout, Staaltjies en Stories

Toeka-stories uit die Rooibosstreek.

Geniet ‘n buffet van koeke, terte en southappies, tesame met ’n groot verskeidenheid gegeurde/gemengde Rooibostee. Kom verlustig jou in die smake, staaltjies en saamtrek. ‘n Heerlike en unieke manier van kuier saam met Rooibosvriende en familie.

5 Mei, 10h30
Netmar, Clanwilliam
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R75 per persoon
Besprekings: 027 482 1007

Cederberg Kunstefees 2013

4/28/2013

Appelkoos bourdaloue

Halveer 8 appelkose en verwyder die pitte.
Posjeer die halwe appelkose in 'n suikerstroop waarby jy 'n stukkie vanilla gesit het.

Dreineer die appelkose en vee hulle af.

Vul ⅔ van 'n oondvaste glasbak met gaar semolina.
Plaas die appelkose bo-op en bedek met nog 'n lagie semolina.
Smeer 'n dun lagie appelkooskonfyt oor en plaas in 'n warm oond vir 'n kort tydjie.

Jy kan ook perskes of piesangs vir hierdie resep gebruik.

4/27/2013

Tjoklitvrugtekoek

Hierdie resep is deel van Willie Strauss se versameling van gunsteling resepte. Die resepte is vervat in die hardebandboekie wat deel is van sy verpakking van sy nuwe CD Seisoene.

Lees meer oor Seisoene >>

125 g botter
150 g bruinsuiker
100 g gesmelte donkersjokolade
125 mℓ sterk koffie
70 mℓ Van der Hum-likeur
50 mℓ Cape Velvet-likeur
100 g gemengde neute
400 g vrugtekoekmengsel
100 g gekerfde groen vye, waatlemoenstukke, ingelegde nartjiestukke en kersies, gemeng
30 mℓ kakaopoeier
200 g koekmeel
50 mℓ bruismeel
5 mℓ gemengde speserye
2 eiers, liggies geklits

Voorverhit die oond tot 160°C.

Gebruik 'n diep koekpan en onthou om die bodem met gesmeerde bakpapier uit te voer.

Klop die botter, suiker en kakao saam tot romerig.

Smelt die sjokolade en meng dit met koffie, Van der Hum- en Cape Velvet-likeur.
Gooi die koffiemengsel oor die vrugtekoekmengsel in 'n groot mengbak.
Roer die neute en ander vrugte by.
Skep die bottermengsel by en meng deeglik.
Sif die koekmeel, bruismeel en gemengde speserye by en meng goed.
Voeg die liggies geklitste eiers laaste by en meng weer goed.
Skep die mengsel in die voorafbereide pan.
Bak vir ongeveer twee uur tot gaar.

Druk 'n mes in die middel; as die lem skoon uitkom is die koek gaar.
Gooi nog Van der Hum-likeur oor sodra die koek uit die oond kom en laat dit in die pan afkoel.

Draai die koek in aluminiumfoelie toe en bêre dit vir minstens 'n maand om goed ryp te word.


Resep: Willie Strauss

Lees meer oor Seisoene >>

Die musiek van Seisoene is deel van Strauss se nuwe “kabasert” Daar is ‘n Engel in die Koskas.

4/26/2013

Nartjie-mousse

3 eiers
2 eiergele
85 g strooisuiker
15 mℓ gelatien
30 mℓ koue water
sap van 1 suurlemoen
140 mℓ room
750 mℓ nartjiesap
gerasperde skil van 3 nartjies
room vir versiering
gekapte okkerneute

Maak 'n kastrol hafvol kookwater en sit 'n mengbak daarop. Die mengbak moet nie aan die water raak nie.
Klop al die eiers saam.
Klop die strooisuiker geleidelik by. Verwyder die kastrol van die hitte en hou aan met klop tot die mengsel dik is.

Haal die mengbak van die kastrol af en hou aan met klop tot die mengsel koud is.

Week die gelatien in die water en suurlemoensap en los dit op oor hitte.

Klop die room effens styf en meng dit met die nartjiesap en voeg dit saam met die nartjieskil en gelatien by die eiermengsel.

Plaas die mengbak in 'n bak met ysblokkies en roer tot die mengsel begin dik word.
Gooi die mengsel in 'n soufflé- of glasbak en laat dit stol.

Versier die mousse met room en okkerneute.

4/24/2013

Groenboontjies in olyfolie / Green Beans in Olive Oil

Die groenboontjies moet vars wees, verkieslik nog baie jonk en klein. Die boontjies moet kraak as jy dit breek.

Was die boontjies in koue water en sny dan die punte af (top and tail).

Sny die boontjies diagonaal in repe.
Plaas dit in gesoute kookwater en kook vir 15 minute.
Dreineer die bone, terwyl jy 30 ml olyfolie in die pan verhit saam met 'n knoffelhuisie.
Verwyder die knoffelhuisie na 2 minute en voeg eers 30 ml fyngekapte salot en dan die bone in die pan. Skud die pan om te sorg dat die olyfolie die bone bedek.
Gooi 5 ml fyngekapte pietersielie by en meng deur.
Opsioneel kan jy ook 'n paar skywe tamatie byvoeg.

In Frans noem hulle hierdie groenboontjies haricots verts niçoise.

4/23/2013

Kosdemonstrasie deur Sarel van Sabie

Sarel se grootste passie is kos.

Kos is vir hom ’n vorm van kuns. Met hardnekkige vasberadenheid het hy ingeskryf vir MasterChef SA in al drie stede. Sarel is ook ‘n gesinsman wat baie betrokke is in sy gemeenskap. Hy bestuur ‘n avontuurkamp in Sabie, ‘n handwerkonderneming en ‘n klein museum, en hy is ’n pastoor. Kom kyk hoe Sarel vir ons geurige geregte met ons eie Zandrug-aartappels voorberei.

Palms Restaurant, Clanwilliam
4 Mei, 08h30
Tydsduur: 90 minute
Kaartjies: R70 per persoon
Besprekings: Verpligtend by Cederberg-feeskantoor by 027 482 1090

Cederberg Kunstefees 2013

4/22/2013

'n Nuwe waardering vir bier

Die 2013 Southyeaster Somerfees kon nie vir 'n beter dag gevra het nie. 'n Windstil, sonskyndag in April is nie te versmaai in Kaapstad die tyd van die jaar nie. Die somer in die fees se naam verwys na die seisoen waarin die bier op die fees gebrou is.


Southyeaster Somerfees 2013

Die Southyeaster fees is 'n geleentheid waarop brouers van handgemaakte bier se produkte beoordeel kan word. Die hoof pryse is die Wolfgang Beker vir die beste weiss, en 'n eerste, tweede en derde prys vir die beste bier.

Die Wolfgang Beker is vernoem na die legendariese meesterbrouer Wolfgang Knoedel. Knoedel was vir 14 jaar die meesterbrouer van die Paulaner Bräuhaus in Kaapstad. Hy is nou broumeester en mede-eienaar van die CBC (Cape Brewing Company). Knoedel se weiss bier is internasionaal bekend en hy is baie opgewonde oor sy nuwe Amber Weiss. As feesgangers se reaksie enige aanduiding was, gaan hierdie bier net weereens Knoedel se meesterskap bevestig. CBC se Krystal Wiess gaan ook 'n populêre keuse word. Jy kan die bier koop by uitgeskoekte drankwinkels en CBC se brouery in die Paarl.


Wolgang Knoedel se blik op verrigtinge

Professionele broumaatskappye soos CBC en Honingklip was by die fees ter ondersteuning van handgemaakte bier. SAB in Nuweland, Kaapstad, tree al die afgelope paar jaar op as gasheer vir die fees.


Mark ter Morhuizen van Honingklip

Die beste bier op die fees word beoordeel deur die kaartjiehouers. 'n Beperkte aantal kaartjies was beskikbaar teen R 80. Hiervoor ontvang jy 'n Southyeaster-glas en een stem in die vorm van 'n albaster. Jy plaas jou albaster in 'n spesiale bekertjie met die naam van jou gunsteling bier. Vroeër jare het proeërs meer as een stem ontvang, maar weens die toenemende gewildheid van handgemaakte bier word stemme tans beperk tot een per persoon.

Die toenemende gewildheid en stand van handgemaakte bier word weerspieël deur die Southyeaster. Vanjaar was daar merkbaar minder bier gemaak van klaar voorbereide kommersiële mengsels. Daar is ook 'n algemene verbetering in die aanbieding en verpakking van die produkte. Die feesgangers het hoofsaaklik bestaan uit 'n paar ouskool toegewyde bierdrinkers en 'n groot groep jongmense in hul twintigs.

Die Wolfgang Beker is verower deur Zebonkey se Poseidon. Die meesterbrouer van Zebonkey onderskryf die Duitse Reinheitsgebot. Hiervolgens beloof 'n brouer om slegs water, hops en gars te gebruik. Daar is egter geen reël oor die gebruik van seewater nie. Poseidon is gebrou met 10% seewater en die beoordelaars en verskeie feesgangers was beïndruk met hierdie weiss.


Zebonkey se meesterbrouer verduidelik

Die algehele derde plek het gegaan aan Timmerman Brouery se Dark Ale. Die mooi volronde donker bier, wat net die regte hoeveelheid fermentering ondergaan het, is sag op die palet, met die kenmerkende gemoute smaak van hierdie klas bier. Timmerman se bier het 'n uitstaande geroosterde aroma wat dit 'n baie goeie brown ale maak. Brown ale is 'n ander naam vir 'n dark ale. Timmerman Brouery kan uitsien na 'n opwindende toekoms met hierdie klas bier onder leiding van broumeester Johnny King, 'n distilleerder by 'n bekende handelsmerk vir brandewyn.


Timmerman se Johnny King, links

Tweede plek het gegaan aan 'n lager van Q Brew. Ongelukkig het ek nie dié bier geproe nie. Die eerste plek is verower deur 'n weiss van Lakeside. Dis fenomenaal in die lig daarvan dat die bier net sewe dae in die bottel was ten tyde van die fees. Een proe was genoeg om te raai dat dit 'n gewilde keuse sou wees op die dag. Mens wonder egter hoe die bier oor 'n maand of twee gaan proe.


Q Brew

Ander persoonlike gunstelinge was Bad Dog se Black IPA, David Viranyi se Porter, en Fools Gold ('n American Amber Ale?) waarvan Lucy Corné 'n mede-brouer was. Corne en Rudolph Reyneke is die skrywers van African Brew, Exploring the Craft of South African Beer, wat in Junie vanjaar verskyn. Volgens Corne is daar tans sowat 50 produsente van handgemaakte bier in Suid-Afrika, 'n getal wat oor die volgende vyf jaar kan verdubbel.


Lucy Corne


Bad Dog


CBC se aanbieding

Handgemaakte bier is nie 'n oornag verskynsel nie. Onbekende toegewyde brouers wy hulle al jare aan hierdie kuns. Dit is nie 'n modegier van diegene op soek na die jongste in-ding nie. Handgemaakte bier is verbruikers se nuwe waardering vir produkte wat met sorg voorberei word en hopelik met sorg verbruik word.

bydrae: Quintus van Rensburg

4/21/2013

Cederbergfees wynproe

Wynproe en gesels saam met wynmakers van die Weskus Wynroete.

Musiek deur Niel Rademan en Wilken Calitz.

Kaartjies: R60 per persoon met ligte verversings ingesluit (net 50 kaartjies beskikbaar!)

Besprekings: Cederberg-feeskantoor by 027 482 1090

Ou Tronk Museum, Clanwilliam
3 Mei, 19h30


Cederberg Kunstefees 2013

4/20/2013

Aartappel puri / poori

Die resep is genoeg vir sowat 20 puri’s.

250 g fyngemaakte aartappels, eers gekook natuurlik
500 mℓ meel
10 mℓ sout
60 mℓ louwarm water
olie, vir diepbraai

Sif die meel en sout saam en meng dit met die aartappel wanneer dit afgekoel is.
Knie en voeg van die water by soos nodig. Dit moet 'n droë ferm deeg vorm. Hoe meer die deeg geknie word, hoe ligter sal die puri’s wees. Knie die deeg vir ten minste 10 minute.
Bedek die deeg met 'n doek en laat staan dit vir 30 minute tot 'n uur.

Deel die deeg in 20 tot 24 balle.
Rol elke bal uit tot dit so groot soos 'n piering is.
Diepbraai die brode in olie. Braai een op 'n slag. Sorg dat die puri bo-op nat is; dit laat dit oppof. Draai die puri om wanneer die onderkant goudbruin is.
Dreineer die puri’s op kombuispapier.
Bedien die aartappel puri’s saam met lensies, groente of kerrie.



(foto Abhijith Rao)

4/19/2013

Rooibos-teeproe

Geniet die interaktiewe Rooibos-teeproe waar jy meer leer oor die geskiedenis en maak van Rooibos. Kies uit ’n verskeidenheid van geure en drink heerlik saam tee. Daar is meer as 100 Rooibosgeure op die spyskaart en rakke.

3 Mei, 16h30
Netmar, Clanwilliam
Tydsduur: 45 minute
Kaartjies: R20 per persoon (spesiale prys vir feesgangers)
Besprekings: NetMar by 027 482 1007 of www.netmar.co.za


Cederberg Kunstefees 2013

4/18/2013

Die Grootste Kokkedore!

Dit vat die fyn oog en geoefende oordeel van ‘n koskenner om ‘n Kokkedoor uit te ken. En ons het dubbeldore! Kokkedoor se twee hoofbeoordelaars is gesoute kosmense met ‘n passie vir onthoukos. Die deelnemers se lot is in die hande van kospersoonlikhede wat net soveel inspirasie bied as wat hulle gesag afdwing. Hulle het kooktegnieke – van die basiese tot die gevorderde – bemeester. Daarby meng hulle tradisie met hope kreatiwiteit om dit vir die toekoms te herskep.

Hetta van Deventer Terblanche: Die koshistorikus en tradisiekenner
‘Kosgeskiedkundige’ is ‘n gewigtige term vir hierdie petite koskenner wat oorloop van entoesiasme oor die kos uit ons verlede. Hetta, wat by Silwood opgelei is, se kinderjare in Swellendam was ‘n vroeë inleiding tot haar loopbaan as gerekende sjef, spysenier en kenner van ons land se boeiende kos-erfenis. “Net soos ons fynbos, is ons koskultuur geseën met ongelooflike diepte en verskeidenheid,” vertel sy.

Sy is tans kulinêre konsultant vir top restaurante.

Hetta soek die storie agter die storie van ‘n bord kos: resepte (veral dié uit die vroeë Kaap) van gister en eergister, so ver terug as Jan van Riebeek se tyd. Soms selfs verder terug. Sy delf diep om meer te weet van pannas, koningsbroodsop, rolpens (andoelie) en selfs ‘n braaivleis wat Lady Anne Barnard in die laat 1700’s op haar reise in die hinterland ervaar het. Sy sal kaalvoet oor Tafelberg loop agter die oorsprong van oblietjies, kwartier-tertjies, oester-murgpasteie en mosbeskuit.

As Hetta nie iewers op ‘n plaas outydse resepte uitsnuffel nie, kan sy in die Kaapse Argiewe gekry word besig om dagboeke van ouds na te gaan vir verwysings na kos en negosiebestellings. Jy kan haar omkoop met stadig-gekookte boere-cassoulet (‘n aanpassing van ‘n Franse volksgereg, wat sy in ‘n potjie maak met boerewors). Sy bly saam met haar wynmaker-man en 3- en 5-jarige kinders op La Motte.

Beoordelaar: Nic van Wyk: Die sjef en tegniekmeester
Sjef Nic van Wyk is tans konsultant-sjef by Diemersdal se eetplek in ‘n pragtige ou stal op die plaas. Hy het op ‘n jong ouderdom sy kulinêre merk gemaak toe hy destyds die restaurant Terroir begin het en dit as Eat Out se Restaurant van die Jaar aangewys is. Nic, wat by die befame Institute of Culinary Arts (ICA) in Stellenbosch klassieke kookkuns bestudeer het, het sy meesterskap van die kombuis verder verfyn by La Colombe (gereken onder die beste restaurante ter wêreld) saam met sy kosheld Franck Dangereux. Hy is ook deur die gesogte SA Brandewyngilde vereer vir sy bydrae.

Nic ken die fyner kunsies van kosmaak, en is ‘n kranige jagter en bobaas blokman wat ‘n karkas lag-lag oor sy skouer dra. Hy glo dat eenvoudige, respekvolle hantering van bestanddele die beste – maar ook die mees uitdagende manier is – om kos te maak. “Met eenvoudige kos is daar geen wegkruipplek vir foute nie.” Kontreikos, of dit Provençaals is, uit Patagonië of die Toskane kom, lê hom na aan die hart, maar dis die kos van sy ma, sy ouma en sy eie land wat hom week in die knieë maak. Broodbak, die proses van knie, rys en oond-toe bly vir Nic, die meesterbakker, ‘n wonderwerk.

Nic het in Pretoria grootgeword in ‘n huis ‘met twee kombuise’ (sy ma het spyseniering gedoen) en het al kleintyd gedroom van sjef-wees. Sy sportspiere kry hy nie net van meelsakke ronddra nie, want hy moes op sy dag kies tussen ‘n professionele krieketloopbaan en die kombuis. Gelukkig het die slagtersmes die krieketkolf getroef.

Die onthoukos wat hom laat verlang? “My ouma se lewerkoekies met suursous, oupa Boet se liefde vir ingelegte geelperskes met vla, die sosaties van my oom Flip se slaghuis en die groot wit mielies met die mieliebaarde van my kinderjare.”

Nic het sy vrou – ook ‘n gekwalifiseerde sjef – in La Colombe se kombuis ontmoet. Hulle bly saam met hulle dogtertjie en baldadige honde in die Kaapse Wynlande. Vir ontspanning speel hy gholf, jag en ry bergfiets.

4/17/2013

Laager Rooibos en Rooi Rose Vroueoggend

Kuier en kos loop mos hand aan hand en Rooi Rose se bekroonde kosredakteur, Vickie de Beer, wys jou hoe om maklike, smaaklike kos vir kuiers te maak.

Die gewilde aktrise, Brümilda van Rensburg, wat tans in High Rollers op SABC3 speel, is ons gasvrou. Sy vertel meer oor haar boek Vyftig, vurig en fabulous en Vital Health Foods se bemarkingsbestuurder, Sonja de Witt, fokus op vroue en hul gesondheid. André Terblanché en Winand Grundling maak musiek wat jou nuut oor die begrip “stylvolle musiek” sal laat dink.

Geen dag is volmaak sonder ‘n heerlike kuier om die kostafels nie. Gaste word ook bederf met Maizena en Bokomo se Rooibos & Honey Flavoured Instant Oats in gebak. Longridge se voortreflike Sauvignon Blanc is die perfekte pasmaat vir die middagete wat op jou wag. Vir lafenis deur die dag is daar verkwikkende Laager Rooibos en mineraalwater van Cedarberg Aqua. Elke gas kry ook ‘n groot pasella: drie maande se gratis inskrywing op Rooi Rose! Daar is ook geskenke van Vital Health Foods en Laager Rooibos-produkte, en talle ander verrassings.

Moontlik gemaak deur: Laager Rooibos en Rooi Rose

1 Mei | Augsburg Landbougimnasium, Clanwilliam

Kaartjies: R300 per persoon net vir die Vroueoggend en R380 per persoon vir die Vroueoggend en die 15:00 vertoning van Oskar en die Pienk Tannie met Sandra Prinsloo.

Besprekings: Voor 17 April by Adelé Coetzee by 027 482 2155

Cederberg Kunstefees 2013

4/16/2013

Vinnige kluitjienagereg

Hierdie resep is deel van Willie Strauss se versameling van gunsteling resepte. Die resepte is vervat in die hardebandboekie wat deel is van sy verpakking van sy nuwe CD Seisoene.

Lees meer oor Seisoene >>

125 mℓ appelkooskonfyt
375 mℓ meel
125 mℓ botter
10 mℓ koeksoda
5 mℓ sout

Stroop:
625 mℓ water
5 mℓ fyn kaneel
250 mℓ bruinsuiker
7,5 mℓ gedroogde appelkose, fyn versnipper

Meng die konfyt, koeksoda en botter saam tot romerig. Voeg al die droë bestanddele by en meng baie goed (hou eenkant).

Meng al die bestanddele van die stroop saam en roer tot al die suiker gesmelt is. Kook totdat dit net begin borrel en skep dan lepels vol van die deeg in die stroop en sit dadelik die kastrol se deksel op.
Kook vir ongeveer 20 tot 30 minute op 'n lae hitte tot gaar. Dit is baie belangrik om nie die deksel op te lig nie, want dan gaan jou kluitjies toeslaan. Al is jy nuuskierig, moet jy wag tot dit klaar gekook het, voordat jy die deksel lig om die heerlike nagereg te aanskou.

Bedien die kluitjies met lekker tuisgemaakte vla.

Resep: Willie Strauss

Lees meer oor Seisoene >>

Die musiek van Seisoene is deel van Strauss se nuwe “kabasert” Daar is ‘n Engel in die Koskas.

4/15/2013

Studie wys vinger na bekende vleishandelaars

City Press het gister berig dat gewilde supermarkte soos Pick n Pay, Shoprite, Fruit and Veg City, Woolworths en Spar tel onder die winkelgroepe wat vleisprodukte verkoop waar die vleis nie met etikette ooreenstem nie.

Dié winkelgroepe het volgens die koerant egter gesê die probleem word geskep deur vleisborde, sae, hande en toerusting wat gebruik word om een vleissoort te hanteer, wat dan in kontak kom met ander vleis.

'n Studie deur die Universiteit Stellenbosch (US) het getoon dat bykans 60% van 139 produkte wat getoets is, bestanddele bevat het wat nie op die etikette aangedui is nie, insluitend donkie en waterbuffel, sowel as bok- en varkvleis.

Altesaam 20 van die 32 Shoprite-produkte wat getoets is, se etikette was nie akkuraat nie.

Louw Hoffman, die wetenskaplike agter die studie, het gesê verkeerde etikette is "algemeen" in Suid-Afrika.

4/14/2013

SA whisky beste in wêreld

Suid-Afrika se eerste enkel graan whisky, Bain’s Cape Mountain Whisky, is aangewys as die wêreld se beste graan whisky by vanjaar se Whisky Magazine’s World Whisky Awards (WWA) in Londen. Dit is die eerste Suid-Afrikaanse whisky wat hierdie toekenning ontvang.

Bain’s Cape Mountain Whisky word gestook en verouder by die James Sedgwick Distillery by die voet van die Bainskloof pas in Wellington. Die whisky bring hulde aan Andrew Geddes Bain wat die pas beplan en gebou het in 1853.

4/13/2013

Kir Royale

'n Klassieke skemerkelkie (cocktail). Bedien dit soos jou gaste arriveer om hulle in die regte luim te kry.

Plaas 'n suikerblokkie in 'n sjampanjeglas.
Drup 'n paar druppels crème de cassis oor die suiker.
Vul die glas met sjampanje of 'n droë vonkelwyn.
Versier met 'n maraschino kersie of 'n repie suulemoenskil.

4/12/2013

Kokkedoor

Wie is die flinkste in die kombuis, wie kook oor van kreatiwiteit en wie gaan eerste Kokkedoor kraai op kykNET?

Vanaf gister kry kykers elke week die kans kry om te sien hoe 10 Kinkelkokke en 10 Onthoukokke meeding om gekroon te word as kykNET se eerste Kokkedoor.

Die reeks is tydens Februarie en Maart in die Karoo-dorp Prins Albert verfilm, waar temperature binne én buite die Kokkedoor-stoor behoorlik kookpunt bereik het. Inskrywings van regoor die land het ingestroom en na ‘n streng oudisie proses is die top 20 gekies.

Die Kokkedoor finaliste is ‘n kleurvolle lot; daar is tannie Poppie van Kriel, Ida die kwaai sjef van Bloemfontein, babbelende Trudie van George, eksentrieke Casper van Rawsonville en mooi gesondheidbewuste Mathilda van Somerset-Wes om maar ‘n paar te noem.

Die gesoute kos-kenner beoordelaars , Hetta van Deventer-Tereblanche en Nic van Wyk, word weekliks bygestaan deur ‘n reeks opwindende gas-en-glans-beoordelaars om die koring van die kaf te skei met opwindende ikoon-disse en tema’s as uitdagings.

Mariëtta Kruger neem die leisels van die program ferm in haar bekwame hande as aanbieder en duiwelsadvokaat.

Kokkedoor is meer as ‘n nuwe realiteitsprogram. Kokkedoor beoog om kykers weekliks te vermaak en vasgenael te hou, maar terselfdetyd ‘n herlweing van nostalgie in ieder en elk se kombuis verwek.

Elke Donderdagaand om 20h00.

4/11/2013

Bottervis / Butter Fish

60 g botter
15 ml olie
1 kg ferm vis, in blokkies gesny
2 uie, fyn opgekap
20 ml garam masala
20 ml fyngemaalde koljander
15 ml fyngedrukte knoffel
15 mℓ fyngedrukte gemmer
20 ml rissiepoeier
5 ml sout
3 kardemom sade
5 swart peperkorrels
150 ml gewone jogurt
30 ml tamatiepuree
150 ml helfte melk en helfte water
2 lourierblare
10 ml mielieblom
200 ml room

Verhit die botter en olie saam in 'n kastrol.
Braai die uie nou tot sag.

Meng die speserye, jogurt en tamatiepuree met die visr in 'n mengbak.
Voeg die vismengsel by die uie.
Voeg die melk en lourierblare by en laat dit prut vir 30 minute. Roer af en toe.

Meng die meel en room saam en voeg by die vis. Prut vir nog 15 minute.

Garneer die gereg met vars koljander en gekapte grasuie voor jy dit bedien.

4/10/2013

Ribbetjie à la bouquetière

Vir die bouquetière kook jy jong worteltjies, stukkies witwortel, klein groenboontjies, artisjok harte en klein blomkool blommetjies saam in soutwater tot sag.

Braai klein aartappeltjies in botter . Gooi die res van die groente by en braai vir 2 minute.

Geur jou ribbetjie met sout en peper, verf gesmelte botter oor en rooster dit by 250°C. Rooster dit 18 minute per kg rib.

Verwyder die rib uit die oondbak en plaas dit op 'n bord. Pak die groente rondom in vorms.

Kook die inhoud van die oondbak af saam met 'n bietjie madeirawyn en 'n bietjie aftreksel. Gooi dit oor die rib.

4/09/2013

Ricotta en murgpampoentjie pastei / Ricotta and Marrow Pie

'n Heerlike voedsame groentepastei. Bedien dit as 'n vegetariese hoofgereg, 'n ligte maaltyd of as bygereg by vis of vleis.

Vir 'n ryk tert kan mascarpone of room gebruik word. Gebruik andersins melk.

Voorbereidingstyd: 45 minute
Baktyd: 35 minute
Resep bedien: tot 10 persone

Vinnige jogurtkors
250 mℓ meel
7,5 mℓ bakpoeier
¼ teelepel sout
¼ koppie olie
1/3 koppie natuurlike jogurt
'n klein bietjie ekstra jogurt

Vulsel
½ koppie ricotta
4 eiers
½ mosterdpoeier of voorbereide mosterd
¼ teelepel sout
'n knippie witpeper
1 stingelui, fyn opgesny
1 eetlepel vars gekapte pietersielie
¼ koppie vars broodkrummels (± 1 sny, die kors verwyder en verkrummel)
½ koppie melk
1 koppie mascarpone / room / melk
2 koppies gerasperde murgpampoentjies (3 – 4, afhangende van die grootte)
½ gerasperde cheddar / edam / parmesaan
varsgemaalde swartpeper en gemengde kruie om oor te strooi
2 ekstra eetlepels van jou gerasperde kaas om oor te strooi



Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer 'n diep 26 cm tertbak of 'n 28 cm vlak tertbak met botter of margarien.

Plaas al die bestanddele vir die kors in 'n mengbak en meng versigtig met jou hande tot dit 'n sagte deeg vorm. Moet dit nie te veel meng nie.

Vryf nou meel oor jou hande en druk die deeg egalig vas oor die tertbak se bodem en kante. Maak seker die deeg is uitgedun op enige hoeke of voue van die bak. Dit is om te verhoed dat daar dik stukke deeg in die tert is. Sny die kante mooi netjies en verkoel die kors terwyl die vulsel voorberei word.

Plaas die ricotta, eiers, mosterdpoeier, sout en witpeper in 'n mengbak en meng goed.

Gooi die vulsel in die kors en strooi swartpeper oor.
Bak vir omtrent 35 minute. Die vulsel moet goudbruin en gestol wees.

Haal die tert uit die oond en strooi die twee eetlepels kaas oor.



Bedien dit warm uit die oond of laat dit koud word en bedien dan saam met slaai.

Variasie
Indien jy vleis verkies kan jy sowat 100 g gerookte salm of ham wat in dun repies gesny is byvoeg.


Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

4/08/2013

Mocha en choc chip ricotta kaaskoek

Vinnig, romerig en verruklik.

Voorbereidingstyd: 20 minute en 1 uur om te stol
Resep bedien: tot 12 persone

Krummelkors
125 g beskuitjies
2,5 mℓ fyngemaalde kaneel
¼ koppie botter of margarien

Vulsel
750 ml ricotta
1¼ koppie suiker
15 mℓ suurlemoensap
5 mℓ vanilla ekstrak
15 mℓ brandewyn (opsioneel)
22,5 mℓ gelatien
½ koppie sterk koffie of ½ koppie kookwater gemeng met 15 mℓ kitskoffie
1 koppie room, geklop
½ koppie gesnipperde sjokolade

Voer die basis van 'n 25 – 28 cm losboompan (springform pan) uit met bakpapier.

Plaas die beskuitjies, kaneel en botter in 'n voedselverwerker en maak 'n krummelmengsel.
Gooi dit in die losboompan en druk vas op die bodem.

Gooi die ricotta, suiker, suurlemoensap, brandewyn en vanilla in 'n mengbak en klop goed saam.

Plaas die gelatien in 'n beker en gooi die koffie by.
Mikrogolf vir 1 minuut op medium. Dit moet stroperig wees.
Roer 'n paar lepels ricotta by die gelatien en meng voor jy dit by die hoof mengsel roer.

Vou die room en sjokolade by die mengsel tot dit een egalige mengsel vorm.
Gooi die mengsel in die losboompan en strooi sjokoladeskerwe oor.
Plaas in die yskas om te stol.

Bedien dié kaaskoek teetyd of as 'n nagereg.



Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

4/07/2013

Spuitverf in die kombuis

Kort jou hoender bietjie kleur? Spuitverf is 'n nuwe oplossing.

'n Duitse maatskappy vervaardig nou die wêreld se eerste eetbare spuitverf. Beskikbare kleure sluit in goud, silwer, rooi en blou. 'n Blikkie gaan jou amper R300 uit die sak jaag.



Food Finish

4/06/2013

Doekpoeding / Jan-in-die-sak

"Die poeding kook ek elke jaar vir Kersfees op die 1ste Desember.
Berei die sak die volgende aand voor ... sodat jy nie sukkel as jy dit nodig kry nie."
- Naomi le Roux

1 dagoud brood (wit of bruin) (ek het hierdie keer bruinbrood gebruik)
Sny die korsies af en breek die snye in stukkies.
Maak die stukkies fyner in ‘n draai handsnyer- of pols dit met ‘n elektriese snyer.
3 koppies broodkrummels (dit moenie fyn krummels wees nie ... maar ook nie groot growwe stukke nie)

Sif die volgende bestanddele saam:
5 x 250 ml koekmeelblom
15 ml gemengde speserye
5 ml fyn kaneel (opsioneel) (ek het dit bygesit)
10 ml sout
Meng 125 g Stork bake margarine by die droë bestanddele in dat dit soos krummels lyk.
Sit die brood by en meng goed deur.

Voeg die volgende bestanddele by die broodmengsel:
750 ml geel sultanas
750 ml korente
750 ml ontpitte rosyne
Ek het 1 pak glanskersies en ½ pakkie versuikerde lemoenskil bygesit (opsioneel).

Klits die volgende bestanddele baie goed tot die suiker opgelos is:
6 eiers (7 eiers by die see)
500 ml wit suiker
63 ml brandewyn (¼ koppie)
125 ml fyn appelkooskonfyt

Meng die volgende en roer goed:
1 pakkie koeksoda (15 g)
375 ml melk
Meng al die bestanddele bymekaar en sit dit in die sak/doek. (Slap deeg)

Bring groot pot met water tot kookpunt op gasstoof. ± 20 liter.



SAK / DOEK
1. Jy kan ‘n kussingsloop gebruik maar ook ‘n groot genoeg ongebleikte linne doek van 80 x 80 cm groot.
2. Was die doek / sak en droog dit goed uit.
3. Sit bietjie koekmeel in die sak / doek, skommel dit en gooi die meeste meel uit.
4. Sit die doek / sak in ‘n groot genoeg skotteltjie en gooi die beslag daarin.
5. Maak die doek / sak se punte bymekaar en bind dit styf met tou toe 4 vingers bokant die deeg. Daar moet ruimte wees vir die poeding om te rys.
6. Sit bord in pot en sit dan die doek met deeg in die pot met kokende water en plaas 2 stene op die deksel. Kook poeding vir 3 – 4 uur. (myne het vir 4 uur gekook ... dit is ’n groot poeding)
7. Moenie die deksel oplig om te kyk wat daar aangaan nie. Na 2 uur kan jy die deksel lig en kyk of die water nog reg is. Gooi nog kookwater by indien nodig. Poeding moet in halfvol water lê. Na die kooktyd verby is, haal die poeding met ’n tang uit die pot water en sit dit in 'n skotteltjie.
8. Laat bietjie afkoel voordat jy die tou losmaak. Laat poeding koud word in die sak ... voordat jy dit versigtig uit die sak wikkel op 'n draadrak met kleefplastiek onder. Gooi doekie oor.
9. Laat dit heeltemal koud word. Jy kan die harde korsie afsny, maar ek los dit aan dan bly die poeding lekker vars. Draai die poeding toe in tinfoelie en laat in die vrieskas ryp word. Giet na ’n week 63 ml brandewyn oor ... maak paar gate met 'n koek-toetspen.



NS. Ek het die poeding opgesny in 4 dele en 3 dele opgesny in snye en dit so gevries.
Haal net vroeg uit sodat dit kan ontdooi voor gebruik.

Variasie: Bedien met vla of brandewynsous.
Bedien die poeding met botter gesmeer by die middag koffie.

4/05/2013

Naomi se brandewynsous

2 koppies water
4 eetlepels brandewyn of 1 teelepel brandewynessens
4 kruienaeltjies
1 koppie suiker
1 eetlepel mielieblom / Maizena (15 ml)
'n stukke droë gemmer
'n stukke pypkaneel
'n knippie sout

Kook die water, kruienaeltjies, gemmer en kaneel omtrent 10 minute, tot die water goed gegeur is.

Verwyder die speserye en voeg die suiker by.
Meng mielieblom met bietjie koue water en voeg by.
Kook tot sous deurskynend is - roer aanhoudend.
Verwyder van hitte en voeg die brandewyn by - net voor opdiening.
Steek aan die brand en bedien.

resep: Naomi le Roux

4/04/2013

Rooiheuwelmark @ Jamstreet

Kom ervaar ’n Klein Karoo-mark met vars plaasprodukte en kunstige items uit die omgewing tesame met ’n kattebak-karnaval waar interessante juwele uitgesnuffel kan word. KKNK 2013 240 minute | Gratis | Jamstreet Plaasteater, Oudtshoorn | 6 April 09:00

4/03/2013

Magic Moments

’n Onvergeetlike aand met musiek en tradisionele potjiekos in die intieme atmosfeer van ’n Oudtshoorn-huis. Gaste word vermaak met jazz, populêre en gospel musiek. 120 minute | R250 | Jan van Riebeeck 261, Oudtshoorn | 30 Maart tot 6 April 19:00 KKNK 2013

4/02/2013

Die Cordon Broers se KKNK Kossêrt

Terwyl vingerlek-lekker uitsoekresepte berei en gedeel word, vermaak Lochner de Kock en Jannie du Toit die gehoor op kitaar en djembe. KKNK 2013 50 minute | R70 CJV-saal, Oudtshoorn | tot 6 April 12:30

4/01/2013

Olifant ontbyt

Word meegevoer deur Afrika-olifante by Buffelsdrift in Oudtshoorn. Persoonlike interaksie met die olifante en foto-geleenthede sal deel uit maak van die ervaring. KKNK 2013 60 minute | R185 Buffelsdrift Game Lodge, Oudtshoorn | tot 6 April 10:00