Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

Indeks W

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

waaierstyl (hasselback)
’n Sweedse tegniek om groente, gewoonlik aartappels, halfpad deur in baie dun skyfies te sny.

waatlemoen
’n Groot, sappige rankvrug,Colocynthus, met rooi vleis.

wafel
’n Brosserige koekie wat warm met roomys en stroop bedien word.

wafeltjie (wafer)
’n Baie dun beskuitjie of koekie.

wafelyster
Kombuistoerusting wat uit twee roosterplate bestaan. Beslag word op een gegooi en die ander word bo-oor toegevou.

Waldorf-slaai
’n Amerikaanse slaai met seldery, appel, neute en piesangs met mayonnaise.
Waldorf-slaai

walkie talkies
Gestoofde hoenderkoppe en pote bedien met tamaties, rys of pap.

Walliese kaasroosterbrood (Welsh rabbit, rarebit)
’n Mengsel avn kaas, botter, bier of melk en geurmiddels (veral rooipeper) voorgesit op roosterbrood.

walvis
’n Soogdier van die orde Cetacea met die lyf van ’n vis, wat traanolie lewer en waarvan die vleis eetbaar is.

walvisolie
Olie verkry uit walvisse.

wan
Om graandoppe van die korrels te skei.

waspapier
papier met ’n waslagie wat gebruik word om te verhoed dat kos in koekpanne en ander houers vassit.

waterblommetjie
’n Kaapse blommetjie wat in vleie en damme groei.
Waterblommetjiebredie

waterbok
Die groot wildsbok Kobus ellipsiprymnus met ’n massa van tot 272 kg, wat 1,35 meter hoog word met horings van tot 1 meter. Die bok hou naby water en die opvallendste kenmerk is ’n wit kring om die stert.

waterkastaiing (water chesnut)
’n Eetbare neutagtige vrug wat gekook of gerooster word.

waterkers (watercress)
Plante met wit blomme wat in water groei waarvan die peperagtige blare geëet word. Dit staan ook bekend as bronkors.

waterment
Kruie van die kruisement-familie.

waterys (sorbet)
Gemaak van vrugtesap of –puree.

weeg
Om die gewig van ’n voorwerp te bepaal.

weegskaal
’n Toestel waarmee die gewig van dinge bepaal word. (skaal)

week
Sag maak in ’n vloeistof.

weekdier
’n Meersellige dier sonder geraamte, maar met ’n harde skulp.

Weense worsie (Vianna sausage)
Gerookte, potklaar worsie. Gewoonlik in worsbroodjies gebruik.

wei (whey)
Waterige vloeistof wat van dikmelk afgeskei word. Dit word verkry tydens die kaasmaakproses.

weikool (kale, kail, borecole kale, cole, colewort)
’n Soort kool met gekrulde en gebuigde blare wat nie ’n kop vorm nie. (boerekool, krulkool)

Weisser Riesling
’n Druifsoort gebruik vir die maak van droë tot halfsoet wyn. (Rhine Riesling)

wel (coddle; scald)
Metode om eiers in die dop baie stadig tot sag te kook. Die woord word ook gebruik vir die proses om ’n vloeistof te verwarm tot net onder kookpunt.

Wellington beesvleis
Beesfilet gebak in ’n deegomhulsel.

Wensleydale
’n Semi-sagte, ronde kaas met ’n wit skil en sagte smaak.

whiskey
Daar is twee soorte whisky, een gemaak van moutgars en die ander (whiskey) van mielies en rog. Laasgenoemde meesal in die Verenigde State van Amerika. Terwyl daar in Ierland meesal moutgars gebruik word, word dit ook whiskey genoem.

whisky
Daar is twee soorte whisky, een gemaak van moutgars en die ander (whiskey) van mielies en rog. Laasgenoemde meesal in die Verenigde State van Amerika. Terwyl daar in Ierland meesal moutgars gebruik word, word dit ook whiskey genoem.

White Russian
’n Klassieke mengeldrankie. Waarskynlik ’n Amerikaanse uitvindsel.
White Russian

Wiener schnitzel
’n Weense gereg van snye kalfsvleis in eier gedoop, met broodkrummels bedek en vlakgebraai.

wienerwurst
’n Woord gewild in die Verenigde State van Amerika vir Weense wors of Frankfortse wors.

wild
Ongetemde diere.

wilde komyn
Die plant Carum carvi waarvan die saad as spesery gebruik word. (koeksaad, karwy, kummel)

wildepatat
Eetbare bolplante.

wildeperd (sebra)
’n Mooi klein hengelvissie met ’n silwer-goue lyf en swart strepe.

wilderoket
Wilderoket het ’n sterker smaak as gewone roket en die blare is erg ingekeep, sodat dit amper lyk soos uitsteeksels.

wilderys (Indian rice)
Rys uit Noord-Amerika met ’n neuterige smaak.

wildsvleis (venison)
Vleis van wilde diere.

Wiltshire
’n Kaas met ’n sterk geur soortgelyk aan cheddar.

windmakerbos
Enigeen van verskeie struike waarvan die takke as brandhout in bakoonde gebruik word. (oondbos, bakbos)

Windsorboon (broad bean, fava bean)
’n Groot tuinboontjie met 'n niervormige saad. (fawa-boon, boerboon)

wingerdstok (vine)
’n Plant wat druiwe dra. (druiwestok, wynstok)

winterolie
Kunsmatige bevrore olie.

Winterspanspek (honeydew)
Spanspek met ’n gladde geel of wit skil en liggroen vleis.

wit asyn
Asyn met ’n wit kleur.

wit mosterd
’n Plant waarvan die sade en blare gebruik word om kos te geur.

wit muskus
’n Plant waarvan die vrugte as groente gebruik word. Die suring-agtige blare kan ook geëet word. (abelmos, goudpiesang, okra, woudklawer)
Wit muskus

wit sop
Uiesop wat soms verryk word met room of eiergeel.

wit tee
’n Delikate, geurige tee, ryk aan antioksidante. Die tee word slegs een maal per jaar gedurende die lente geproduseer wanneer die ongeopende wit knop en 2 blare gepluk word. Dit word songedroog, daarna in die skadu laat lê, voor dit weer in ’n droër gedroog word.

witbek (musselcracker)
’n Geurige hengelvis met ’n kenmerkende groot kop. Die vis het ferm wit vleis. Die vleis word growwer namate die vis ouer word. Die vis het verskeie name alhoewel daar net twee soorte in Suid-Afrika voorkom. Die name sluit in mosselkraker, poenskop, swartbiskop, bloubiskop en witbiskop.

witbiskop (musselcracker)
’n Geurige hengelvis met ’n'n kenmerkende groot kop. Die vis het ferm wit vleis. Die vleis word growwer namate die vis ouer word. Die vis het verskeie name alhoewel daar net twee soorte in Suid-Afrika voorkom. Die name sluit in mosselkraker, poenskop, swartbiskop, witbek en bloubiskop.

witloof (chicory, Belgian endive)
Witloof is ’n ander naam vir gewone sigorei (Cichorium intybus). Die geroosterde en gemaalde wortel van die plant word by koffie gevoeg. Die blare word ook as groente gebruik. Wanneer dit as groente gebruik word, word ook daarna verwys as brusselslof. (witlof)

witmossels
’n Skulpdier met ronderige, witterige skulpe wat in die sand aangetref word. Die vleis is roomwit.

witpenshaas
’n Grysbruin knaagdier met ’n pels, gesplete bolip, kort stert, lang ore en lang agterbene, Lepus capensis.

witsous
’n Witsous genaamd béchamel wat gemaak word deur melk by roux te voeg. Die sous is vernoem na die Franse finansier Louis de Béchameil, markies van Nointel. Die sous is ’n aanpassing van 'n oorspronklike resep van ’n sjef van Louis XIV wat dit na Louis de Béchameil vernoem het. Dit word vir ’n groot verskeidenheid geregte gebruik en dien ook as basis vir verskeie souse.
Witsous resep.

witsteenbras
’n Gesogte Suid-Afrikaanse hengelvis.

witvis (whitebait)
Klein silwervissies. Die vissies word normaalweg in meel gedoop en diepgebraai.

witwortel (parsnip)
’n Plant met ’n verdikte eetbare wit wortel.

wok
Groot, rondeboom braaipan gebruik vir roerbraai.

won ton
Chinese deegpakkies, gewoonlik gevul met hoender, vark, garnale en spinasie met sojasous, sprietuie en gemmer. (wun tun)

wonderpeper (allspice)
’n Spesery wat verkry word deur die gedroogde, onryp bessies van die Wes-Indiese pimentboom (Pimenta officinalis) fyn te maal. Een teelepel fyngemaalde bessie is gelyk aan 5 bessies. Indien jy nie dit het vir ’n gereg nie kan jy ’n mengsel gebruik van gelyke dele fyngemaalde kaneel, naeltjies, neutmuskaat en swartpeper. (naelbol, piment, jamaikapeper)

Worcestersous
’n Geurige, skerp, donkerbruin Engelse sous wat as geurmiddel gebruik word.

wors
Gemaalde vleisprodukte wat in ’n derm of ’n namaaksel daarvan gestop is.

worsbroodjie
’n Worsie in ’n lang broodrolletjie. Gewoonlik voorgesit met mosterd, blatjang of tamatiesous.

woudklawer
’n Plant waarvan die vrugte as groente gebruik word. Die suring-agtige blare kan ook geëet word. (abelmos, goudpiesang, wit muskus, okra)
Woudklawer

wrongel (curd)
Wrongel is gestremde melk waaruit kaas gemaak word. (kaasstof, stremsel)

wuchteln
Wuchteln is ’n soort soet gebak wat van gisdeeg berei en voor die bakproses in kluitjies gevorm word. Dit word met of sonder ’n vulsel bedien. (einback, buchteln, ofennudeln, rohrnudeln)

wulk (whelk)
’n Eetbare seeslak.

wun tun
Chinese deegpakkies, gewoonlik gevul met hoender, vark, garnale en spinasie met sojasous, sprietuie en gemmer. (won ton)

wurst (sausage)
Duits vir wors.

wyn
Sterk drank gemaak van gegiste druiwesap.

wynasyn
Asyn gemaak van gegiste druiwe.

wynsteen
Die vaste stof wat aan die binnekant van wynvate vasplak.

wynstok (vine)
’n Plant wat druiwe dra. (druiwestok, wingerdstok)

wyting (whiting)
’n Europese soutwatervis.




Wynwoordeboek

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z

1 comment :

  1. Ek het gisteraand vir die eerste keer in my lewe van witloof gehoor! Is ek die enigste mens wat so oningelig is of daar nog?

    ReplyDelete