Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/28/2008

Nougatkoek / Nougat Cake

1 koppie meel, gesif
1 koppie suiker
2 eiers
2 teelepels bakpoeier
½ koppie melk
50 g botter
sout

Klop die eiers en suiker baie goed saam tot dit dik is.
Meng die meel, bakpoeier en sout en gooi die eiermengsel by.
Kook die melk en botter. Vou dit stadig by die mengsel.
Bak in 'n vierkantige pan by 200ºC vir 15 minute.
Laat die koek afkoel en sny horisontaal in twee stukke wat in 'n lang bak sal pas.

Vir die vulsel:

230 g botter
¼ koppie botter
1 teelepel kremetart
1 blikkie kondensmelk
1 eetlepel gelatien
1 teelepel amandelgeursel
vanieljegeursel
neute en kersies
gepreserveerde gemmer

Smelt die gelatien in warm water en laat afkoel.
Verroom die botter en suiker.
Klits die gelatien geleidelik by die botter en suiker.
Voeg die kondensmelk by en klits stadig.
Voeg nou die geursel, gemmer, neute en kersies by.

Voer 'n langwerpige bak uit met waspapier.
Gooi vulsel op die bodem, sit 'n laag koek daarop, dan vulsel, weer koek en dan weer vulsel.
Vou dit toe met die papier en plaas in die yskas om te stol.

11/27/2008

Gesondheidsbeskuit / Health Rusks

1 kg volkoringmeel
500 ml koekmeel
250 ml klapper
500 ml fyngedrukte graanvlokkies
200 ml pitlose rosyne
125 ml sonneblomsaad
55 ml bakpoeier
10 ml sout
500 ml suiker
250 g margarien, gesmelt
250 ml sonneblomolie
1 liter kookwater

Meng al die droë bestanddele, behalwe suiker saam.
Giet die gesmelte margarien in ´n ander mengbak en voeg die suiker, olie en kookwater by. Meng.
Voeg by die droë bestanddele en meng goed.
Skep die deeg in twee gesmeerde broodpanne. Doop ´n mes in warm water en sny die deeg in blokkies. Bak sowat 1 uur of tot gaar in 'n 180ºC oond.
Laat effens afkoel in die panne. Keer uit, breek in stukke en droog uit.

Sagopoeding / Sago Pudding / Tapioca Pudding

1 liter melk
100 g botter
250 ml sago
180 ml suiker
sout
10 ml vanieljegeursel

Verhit die melk, botter en sago saam en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut tot die sago gaar en deurskynend is. Roer nou die suiker, vanielje en sout by. Laat afkoel.


11/26/2008

Die volledige bakboek


Die volledige bakboek is voorwaar die enigste bakgids wat jy in die kombuis benodig.

Heilie Pienaar bespreek die basisbestanddele (bv. meel, suiker, eiers en rysmiddels), gee raad oor die kies van bakware, voorbereiding van die oond, seevlakgids vir bak en vinnige omskakelings.

In Die volledige bakboek bied Heilie meer as 250 resepte wat die klassieke familie-gunstelinge insluit, maar ook 'n versameling vir die wat hou van resepte met 'n kinkel - soos Swart Woud-muffins, Spek-en-eier-muffins in fillodeeg, Naanbrood met knoffel en koljander en Lemoen-semolina koek. Die titel bied ook 'n hoofstuk met tradisionele gebak soos Koeksisters, Soetkoekies, Tipsytert, Tradisionele melksnysels en Souskluitjies.

Bêremengsels is nog 'n hoogtepunt wat bakwerk vinniger en goedkoper maak - jy maak een groot mengsel en deel dit dan in porsies om later op 'n verskeidenheid maniere te gebruik.

Die stap-vir-stap hoofstuk dien as 'n gids vir versiering, tegnieke, wat verkeerd kan loop en die aller-belangrike woordelys.

Heilie Pienaar se boeke is 'n moet in elke kombuis – haar wye kennis van kosvoorbereiding en veral bakwerk verseker dat sy 'n gesogte vryskut huishoudkundige konsultant en stilis is.

Sy is die skrywer van vyf boeke.

Die volledige bakboek is uiters bruikbaar, propvol inspirasie en die resepte 100% betroubaar.

Die anderkant van suiker

In reaksie op Frik Lombard se Suiker en jou dieet.

Ek is bly om te sien julle raak aan gesondheid omdat ek glo dat onse boerenasie al lank die kat aan die stert beet het.

So lief as wat ek my grootouers gehad het was daar altyd potte kos voorbei met hope onnodige vette. My ouma aan pa se kant het bv. die lekkerste beetslaai gemaak (geheime bestandeel in die sous sien) maar het ´n hengse lot olie bygevoeg om dit te laat BLINK!?! Ek los die olie uit en dit proe dieselfde.... blink of de not. Dan praat ons nie eers van die olie, varkvet en room in ´n gewone gekookte Sondag-middagete nie.

Die tradisie is natuurlik aan ons ouers oorgedra en dan wonder ons hoekom sukkel fikse mense soos Danie Gerber met hulle harte.

Natuurlik help dit om fiks te wees en te oefen maar die gemors wat ons dag na dag vir ons liggame voer manifesteer nie slegs deur vet te word nie!!! Dit gaan sit vas (dis reg sit vas!) in ons are. Ons liggaam kan net ´n sekere hoeveelheid vet uit die bloedstroom opneem en as jy te veel vet te vinnig inneem kan jou liggaam nie byhou nie. Mettertyd pak dit meer en meer saam in jou are en dan het die bloed minder en minder plek om deur te kom. Dan tree die hoë bloeddruk en cholesterol in.

Dit is ook skrikwekkend dat mense steeds klou aan die kalorieë in kos. Ja dit gee ´n aanduiding van die energieinhoud van ´n kossoort - maar nie die kwaliteit van daardie energie nie.

En dis nou waar ek kom by die suiker storie.

Dit is belangrik om kwaliteit kossoorte in te neem wat ´n mens langdurige energie verskaf. Jou liggaam verbrand dan op ´n konstante vlak energie en vette en jy voel nie tam en moeg of asof jy rooimiere in jou broek het nie.

Ja dis waar dat suiker nie ´n sleg-ding is nie - en in moderasie en gebalanseerd geneem is dit ´n uitstekende bron om vinnig energie in jou liggaam te kry sou jy aktief verkeer. Maar...

Sodra suiker opgeneem is in die bloed, skiet jou bloedsuikerinhoud tot sy maksimum! As jy nie besig is om te oefen of iets stremmends met jou liggaam te doen waarheen hierdie energie kan gaan nie moet jou liggaam op hou met party funksies soos om vet te verbrand en probeer eers om die bloedsuikervlak weer terug te kry na normaal. Wat erger is is dat suiker se effek in jou bloed van korte duur is - en dat die bloedsuikervlak nie net weer bedaar na normaal nie maar val tot onder dit. Dan moet jou liggaam weer omswaai en haastig seine stuur dat die vlak nou weer te laag is. En die seine is.... jy' s honger ... eet vinnig iets!! Die gevolg is dus ´n wipplank ryery met jou metabolisme.

So as jy dus aanhoudend jou dieet gaan vul met swak kwaliteit energie soos suiker, witbrood, pap en ander verfynde produkte (asook natuurlik alombekende vyand diervet en sleg-olies)... maak seker jou medies dek hartomleinings en hoop en bid dit is die ergste wat gebeur.

Ja ek weet ons almal wil dit afwaai en sê dat dit sommer nou net weer stories is wat begin word deur mense wat hul dieetprodukte wil verkoop. Maar ons moet ophou om die maklike pad te neem en ten minste die moeite doen om dit na te vors as jy nie iemand is wat blindelings glo nie.

Natuurlik gaan dit moeilik wees om dekades en geslagte se slegte gewoontes te verander. Maar vir ons kinders se toekoms en lewenskwaliteit sal ons moet ophou om die skyfies en vis wat maklik is en die brood en jam wat vinnig is op te dis. ´n Gewoonte begin en eindig by die huis. Ons sal moet begin kyk na gesonder alternatiewe.

Daar is baie boeke hieroor en ek sien al hoe meer voedselvervaardigers spesifiseer op die produkte presies wat gebruik is in die vervaardiging.

Daar is ook ´n goeie vervanger vir suiker genaamd fruktose wat die bloedsuiker 40% minder laat opskiet.

As julle dit bietjie navors sal julle ook agterkom dat tussen die op en af van bloedsuikervlakke insulien sit. Ons liggame vervaardig dit uit nature as ´n metaboliese funksie. Dit is baie keer kinders met ´n sensitiewer metabolisme (oorerflik) wat vinniger suikersiekte opdoen gedeeltelik a.g.v. swak kwaliteit kossoorte.... die res van ons se liggame kan jarre se misbruik weerstaan voordat tot hulle volwasse diabetes ontwikkel.

Sekerlik kan jy dan en wan suiker inneem (saam met koffie 8x ´n dag is nie dan òf wan nie). Alle kossoorte kan geniet word mits baie groente, vrugte, gesonde proteïne & stysel ´n reel is en die ongesonde lekkertes ´n uitsondering op daai reel is.

Hier is my lofgesang dan tot ´n einde.

deur Lizé B

11/25/2008

Feta- en artisjokslaai / Feta and Artichoke Salad

2 eetlepels olyfolie
1½ eetlepel suurlemoensap
200 g feta, ronde skywe
1 blikkie artisjokharte
225 g slaaiblare
varsgemaalde swartpeper

Meng die slaaiblare en artisjokke met die olyfolie en suurlemoesap in ´n bak. Sny die feta in kwarte en pak op ´n bakplaat. Sprinkel olyfolie en swartpeper oor. Rooster vir 5 minute. Bedien die feta bo-op die res van die bestanddele.

Die slaai gaan goed saam met pita´s.

Fritata met pikante rissies, feta en olywe / Fritata with Spicy Peppers, Feta and Olives

40 ml olyfolie
250 ml ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
8 eiers
60 ml room
125 ml feta, gekrummel
6 pikante rissies (Peppadews), gekap
125 ml swart olywe, ontpit en gekap
60 ml basielkruidblare
30 ml parmesan, gerasper
sout en peper

Braai die uie en knoffel in die olie vir 5 minute. Klits die eier en room en geur liggies met sout en peper. Roer die feta, rissies, olywe en basielkruid by die eiermengsel. Gooi die mengsel in die pan by die uie en knoffel. Kook oor matige hitte. Gebruik ´n spatsel om die rand van die fritata los te maak sodra die mengsel begin stol. Laat die rou mengsel daar inloop. Die oppervlakte van die fritata moet nog klam wees wanneer jy klaar is. Strooi nou die parmesan oor en rooster die fritata tot gaar.

Garneer met basielkruid.

Melanzane

Ingelegte melanzane soos volg: Sny eiervrug in die lengte. Laat lê met sout om te sweet vir ´n paar uur. Vee of was die ergste sout af. Kook vir ´n paar minute tot sag (nie te sag nie) in helfte water en helfte asyn. Lê in met olyfolie, kruie (origanum en roosmaryn of wat ook al jy verkies), knoffel en rissie vir die bietjie byt.

resep: Carina Liebenberg

Parmigiana di Melanzane

(bedien 4)

1 kg eiervrug
olyfolie
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 ui gekap
2 blikke gekapte tamaties
knippie bruinsuiker
500 g Mozzarella, gerasper
125 ml Parmesaan, gerasper
handvol basielkruidblare
125 ml droë broodkrummels
sout en varsgemaalde swartpeper

Sny die eiervrug in lang repe in die lengte. Plaas in ´n vergiettes en sprinkel sout oor elke laag. Laat staan vir 1 uur. Spoel af en druk droog met kombuispapier. Verhit olie in ´n pan en braai die eiervrug tot dit goudbruin is aan weerskante. Dreineer op kombuispapier. Verhit olie in ´n kastrol en soteer die ui tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir 1 minuut. Voeg die tamaties, bruinsuiker, sout en peper by. Prut tot die sous dik en geurig is. Pak ´n laag eiervrug in ´n gesmeerde oondbak met van die sous bo-oor gevolg deur Mozarella, basielkruid en parmesaan. Herhaal en eindig met eiervrug. Sprinkel parmesaan en broodkrummels oor en bak vir 45 minute tot borrelend en goudbruin.

Bitter Hartstog muffins

Klits 375 ml sagte bruinsuiker en 2 eiers.
Voeg by 125 ml Olie, 625 ml meelblom, 500 ml semels, 12 ml koeksoda, 2 ml sout, 5 ml vanielje, 200 rosyne of dadels en 500 ml melk.
Meng alles saam en sit in plastiek houer vir 24 uur in yskas. Bak teen 180°C vir 10 minute.

Sjokolade-en-grondboontjiekoekies / Chocolate and Peanut Cookies

Verroom 225 g margarien en 200 ml suiker saam. Klits 30 ml grondboontjiebotter en 1 eier by. Meng 250 ml koekmeelblom, 5 ml bakpoeier en 200 ml hawermout. Roer by die ander mengsel saam met 100 g gekapte donker sjokolade. Rol in balletjies, druk effe plat en bak 15 minute by 180°C.

Pasta Puttanesca


(bedien 6)

1 ui, fyn gesny
100 ml olyfolie
800 g geskilde tamaties
5 ml droë rissie
250 g swart olywe, ontpit
125 ml kappertjiesaad
sout en peper
500 g van jou gunsteling pasta, gekook
125 ml basielkruidblare, geskeur
8 dun snye mozzarella

Braai die uie tot sag. Voeg die tamaties by en breek. Voeg die rissie, olywe en kappertjiesaad by. Voeg sout en peper na smaak by en kook stadig. Voeg die pasta en basielkruid by en maak warm. Bedien dadelik met mozzarella.


´n Goeie merlot of cabernet saugvignon gaan uitstekend hiermee saam.

Lemoen-en-hawermoutkoekies / Orange and Oatmeal Cookies

(resep maak 40 koekies)

Verroom 125 g margerien en 150 ml strooisuiker. Meng 300 ml hawermout, 150 ml koekmeelblom, 7 ml bakpoeier en 15 ml fyn gerasperde lemoenskil. Roer dit by die ander mengsel. Knie die deeg liggies en rol in bolletjies. Pak dit op uitgevoerde bakplate en druk platter met ´n vurk. Bak 10 minute by 180°C.

Volstruisfilet / Ostrich Fillet

Hierdie is 'n heerlike gereg wat bedien kan word van jou ouma tot een van daai deftige vol nonsies mense.

1) Volstruisfilet(te)
2) Olyfolie
3) Roosmaryn
4) Basilie
5) Gedroogte knoffel
6) Sojasous
7) Mozarella

Maak die olyfolie baie warm in die pan, en voeg dan die rosmaryn en basilie by, en "bak" die twee kruie saam. Voeg dan die droë knoffel by en voeg versigtig dan die filette by.
Draai gedurig om en elke keer as jy die filet omdraai, dip die gebraaide kant in 'n bordjie met sojasous. Moet nie die filet te veel braai nie en sodra albei kante geseël is, haal af, en sit in 'n bord. Strooi mozarella kaas bo oor, en microwave vir so een minuut.

resep: Gert Brits

Sonskynkafee


Mariette Crafford neem die leser saam op 'n herinneringstog, terug na die Noord-Kaapse dorp Kakamas, met sy felle sonlig en smaaklike kosvreugdes. Dis hier, in die huis tussen die wingerde, waar sy en haar susters grootgeword het, en waarheen Mariette en haar kinders terugkeer.

Alles is dieselfde, en alles is anders. Mariette se onthou-stories vou voor jou oop soos 'n gestyfde wit lapservet, terwyl jy aansit vir jou gunsteling trooskos.

Die stories is deurspek met resepte wat strek van gunstelinge soos haar ma Hanna se boontjiesop en melksnysels tot vriendin Izanne se knoffelsop met pesto en parmesaan en die Pellasusters se dadels en kwepers in lemoensous. Al haar hartsmense deel die tafel - haar ma, susters, vriende en koksmaters.

Malvalekkers

Wie ken nie daardie smelt in die mond wit en pienk sagte lekkergoed nie? Almal hou seker nie daarvan nie, maar dit is een van die tydlose treffers. So nou en dan kom daar ´n variasie malvalekkers uit met vrugtegeure. Of hulle maak sulke gedraaide marshmallows. Maar die toets van die tyd is maar die beste beoordelaar van smake, en natuurlik seëvier die wit en pienk malvalekkers nog altyd. Die heerlikste slaai (of dalk is dit nagereg) wat ek nog geëet het is Marshmallowslaai.

In die 1800's het dokters die sap van die marsh mallow plant se wortels onttrek. Hulle het dan die sap gekook saam met eierwit en suiker. Hulle het dan die konkoksie geklits totdat dit ´n skuimerig meringue gevorm het. Die mengsel het dan verhard. Hierdie mengsels is dan vir kinders gegee om te eet as hulle kele seer was. Maar dit was nie al waarvoor die konkoksie gebruik was nie. Dit het ook gehelp om hoesbuie te onderdruk, die immuunstelsel te versterk en ook om wonde te genees.

Dit is nie net in die 1800's wat die sap van die Marsh Mallow gebruik is nie. Die eerste gebruik en die maak van marshmallows dateer terug na die ou antieke Egipte. Daar het hulle heuninglekkergoed verdik met die sap van die marsh mallow.

In die laat 1800's het die mense gelatien begin gebruik in plaas van die marsh mallow se sap. Toe hulle dit begin doen het was dit ook die einde van die helende eienskappe van malvalekkers. In 1948 het Alex Doumak uitgevind dat mens marshmallow-mengsel in pype kan sit en dan in ewe lang stukke kan sny. Dit het produksie versnel.

Hier is my gunsteling marshmallow slaai resep:

300g Malvalekkers
1 Blikkie fyn pynappel
175 ml Grenadella jogurt

Sny die malvalekkers in kwarte. Meng al die bestanddele saam. Laat staan oornag en geniet dit die volgende dag.

Wie sê dat lekkers nie goed is vir ´n mens nie?

deur Frik Lombard

11/24/2008

Vetkoek

4 koppies meel
1 teelepel bakpoeier
1 derde koppie botter
sout
4 eetlepels suiker
´n knippie neutmuskaat
2 eiers
dikmelk

Meng die droë bestanddele saam (behalwe die bakpoeier) en vryf die botter in met jou vingers. Klits die eiers en bakpoeier saam en voeg by die meelmengsel. Voeg genoeg dikmelk by om ´n deeg te maak en meng goed. Knie, rol uit en sny in stukke wat jy diepbraai in olie.

Spaghetti met sampioene, knoffel, lemmetjie en rissie / Spaghetti with Mushrooms, Garlic, Lime and Chilli

(bedien 4)

400g spaghetti, gekook
80ml olyfolie
4 knoffelhuisies, fyn opgesny
sout en varsgemaalde swartpeper
3 rooi rissies, ontpit en fyn opgesny
1 bossie snylof
500g sampioene, in kwarte gesny
sap en skil van 3 lemmetjies

Verhit die olie en braai die knoffel en rissies vir 1 minuut. Voeg die uie en sampioene by en braai vir 5 minute tot die sampioene sag is. Meng nou alles saam oor lae hitte en bedien dadelik.

Hoender Korma / Chicken Korma


(bedien 8)

2kg hoenderstukke
500g jogurt
100g klapper
sout
2 teelepels masala
½ teelepel kerriepoeier
100g gemmer-en-knoffelsmeer
1 teelepel borrie
2 teelepels fyngemaalde koljander
1kg uie, in dun skywe gesny
300ml olyfolie
1 takkie vars koljander
1 takkie vars kruisement
1 koppie water

Marineer die hoender vir ten minste ´n halfuur in sout, die gemaalde koljander en die smeer. Verhit die olie in ´n groot kastrol en braai die uie tot goudbruin. Voeg die hoender by en braai vir 10 minute. Voeg die water en jogurt by en kook vir 5 minute. Die res van die bestanddele kom nou by. Bedek en kook vir 20 minute.

Bedien met rys.

Lemoenjogurt- en amandelkoek / Orange Yogurt and Almond Cake

3 eiers
1 koppie Strooisuiker
1 ½ koppie koekmeel
knypie sout
1½ teelepel bakpoeier
½ koppie gemaalde amandels
1 koppie Jogurt
4 eetlepels olie
1 teelepel lemoenskil baie fyn gerasper
2 teelepels likeur
Stroop:- 3/4 koppie water
2 eetlepels botter
1 koppie strooisuiker
3/4 koppie lemoensap

Klits eiers en voeg suiker by. Klits tot donserig, Sif droë bestanddele en voeg by eiermengsel . Voeg amandels by. Verhit olie en voeg by asook jogurt. Roer tot goed gemeng. Voeg lemoenskil en likeur by. Bak by matige hitte vir 30 minute.
Stroop:- Kook al die bestanddele, behalwe lemoensap. Haal van hitte af en voeg lemoensap by. Gooi oor koek sodra dit uit die oond kom.
Laat koek afkoel en gooi dik laag versiersuiker oor. Versier met vars vrugte en gooi bietjie room oor die vrugte.

Knoffel-kalamari / Garlic Calamari

1 kg kalamari-buise, kleintjies werk beter
groot knoffel toontjies gekneus
vars lemoensap van 1 lemoen
sout en vars gemaalde swart peper
100ml olyfolie
100 g margarien
peri peri na smaak
vars pietersielie en swart olywe om te versier

Plaas kalamari in bak. Meng lemoensap en knoffel, peri peri, olyf olie, sout en peper en gooi oor kalamari. Sit in yskas vir ± 1 uur. Verwarm dikboomkastrol. Dreineer kalamari en braai droog, bietjie vir bietjie, en roer aanhoudend sodat dit nie aanbrand nie. ´n Bietjie sous kan bygevoeg word indien nodig. Dit moet mooi bruin wees. Haal uit en hou warm. Bak dan die res op dieselde manier. Voeg botter in pan en smelt. Voeg pietersielie by. Gooi oor kalamari en versier met olywe. Bedien dadelik.

Lam Korma / Lamb Korma

(resep bedien 4 persone)

500g lamsvleis, in blokkies gesny
4 eetlepels jogurt
3 uie, gekap
6 knoffelhuisies
1 duimlengte gemmer
3 eetlepels olyfolie
6 swartpeperkorrels, fyngemaak
4 kardamomsade, fyngemaak
3 naeltjies, fyngemaak
1 teelepel sout
1 teelepel kerriepoeier
2 teelepels gemaalde koljander
500ml water
2 eetlepels vars koljander

Plaas 2 uie, knoffel en gemmer in ´n voedselverwerker en maak fyn. Braai die oorblywende ui tot goudbruin. Voeg die speserye, sout en vleis by. Braai vir 8 minute tot bruin. Voeg die mengsel uit die voedselverwerker by en braai vir nog 10 minute. Voeg die rissie, koljander en jogurt by. Voeg die water by, meng, bedek en prut vir 1 uur tot die vleis sag is en die sous verdik het.

Bedien warm saam met rys.

Lemoenpampoentjiegereg / Patty Pan Dish

4 lemoenpampoentjies middeldeur gesny en ontpit
3 koppies melk
1 ½ eetlepel suiker
3 eiers
2 eetlepels meelblom

Kook pampoentjies tot gaar. Meng res van bestanddele en klits goed. Rangskik pampoentjies in bakskottel en gooi sous oor. Bak vir 20 minute of tot gaar.

Lepelbrood

450ml melk
300ml mieliemeel
1 teelepel sout
50ml margarien gesmelt
4 eiers geskei.

Verhit melk tot kookpunt. verwyder van hitte en roer meel by, tot glad. Plaas terug op hitte en laat mengsel kook tot dik. roer nou en dan. Voeg sout en margarien stadig by. en verwyder van hitte . Laat goed afkoel. Klits eiergele en voeg by. Klits eier witte styf en vou by mengsel in. Bak in bakskottel in oond vir 35 minute.

Jogurtkoek / Yogurt Cake

175 ml appel jogurt
175 ml olie
3 eiers liggies geklits
175ml strooisuiker
3 x 175ml bruismeel
½ koppie baie fyn amandels
Versiersel:
250ml versiersuiker
175ml Appel Jogurt

Meng al die bestanddele vir die koekmengsel en klits vir 3 minute met elektriese klitser of 6 minute met hand. Gooi mengsel in pan en bak vir ± 1 uur tot gaar. Gooi koek uit en laat afkoel. Meng versiersel en gooi oor koek.

Wenk: Gebruik jogurthouertjie om bestanddele in gelyke dele af te meet.

Potbrood

Lekker potbrood saam met braaivleis.

klaar brooddeeg
250 ml room
1 pakkie sop (sampioen is baie lekker)
bietjie knoffel
swartpeper
enige ander vars kruie
grasuitjie gekerf
pietersielie
basielkruid

Meng alles saam en sit in gesmeerde ysterspot. Kan bak in oond, maar die lekkerste as dit op die vuur gedoen word. Sit kole om die pot en bo-op deksel en los vir ± 40 min. - tot mooi bruin bo-op is.


Bedien warm saam braaivleis, potjie of sop.

Resep: Yris du Plessis

Gesinskos


Maaltydbeplanning bespaar hope tyd, geld en moeite en verseker boonop interessanter en meer gebalansseerde etes.

In hierdie unieke kookgids is die beplanning reeds vir jou gedoen - kies net 'n maandspyskaart, doen jou aankope aan die hand van die volledige inkopielys, en volg die beproefde resepte agter in die boek. Die meer as 150 geregte is sonder fieterjasies maar lekker.

Omdat gesinne se behoeftes en omstandighede verskil, maak Christelle Barnard en Eric Erasmus se spyskaartstelsel net voorsiening vir 365 hoofmaaltye. Volledige instruksies om eie spyskaarte vir ontbyt en middagete op te stel word egter verskaf; met 'n bietjie moeite kan die bestaande spyskaarte en inkopielyste dus aangevul word om alle gesinsetes in te sluit.

Voedsel as ´n seksstimulant

Of jy nou ´n straatveër is en of jy ´n rekenaarprogrameerder is, een of ander tyd in jou lewe gebeur dit dat die wil om romanties te wees nie meer daar is nie. Maar wat moet jy doen om daardie wil terug te kry? Eerstens kan jy apteek toe hardloop en een van daardie blou pille gaan koop of jy kan ´n natuurlike metode gebruik, voedsel.

Om iets te eet is in elk geval meer romanties as om pille te drink. Die koning van hierdie stimulante is oesters. Die vorm en smaak sal jou mond laat water vir dit wat voorlê. Knoffel, uie, tiemie en roosmaryn is ook hoog op die lys. Die bestanddele vorm natuurlik die basis van pastasouse. Hier moet ek net noem dat knoffel ook die teenoorgestelde uitwerking kan hê as dit deur net een van die twee vennote in die liefdespel geëet word.

Speserye soos kardemom, naeltjies, gemmer en neutmuskaat kan ook nie weggegooi word nie. Hierdie speserye vorm natuurlik die basis van Indiese geregte. Hierdie speserye laat jou ´n warm gevoel kry en dit is natuurlik ´n voorvereiste in die liefdespel. Naeltjies en neutmuskaat word baie gebruik in disse wat voorberei word vir Kersfees.

Sekere kosse bevat geen chemiese middels om jou te prikkel nie, maar net die vorm kan baie suggestief wees. Wanneer jy dit saam met jou geliefde eet in ´n romantiese omgewing weet mens nooit waar dit kan eindig nie. Die kos waarvan ek hier praat (wat meer suggestief is as iets anders) is aspersies.

Seldery bevat androsterone. Dit is ´n manlike hormoon wat in staat is om dinge wakker te maak in vrouens. Verder word daar beweer dat piesangs goed is vir mans om hulle stamina te verhoog. Maar ongelukkig bestaan daar geen wetenskaplike bewyse hiervoor nie.

Daar word altyd beweer dat ontbyt goed is vir ´n mens. Maar nou is daar bewyse hiervoor. Wanneer jy Hawermoutpap eet in die oggend laat dit jou dinge doen in die aand. Hawermout is ´n katalisator wat testosteroon by mans vrystel.

Die stimuleerders kan nie vir romanse instaan nie. Daar is geen beter prikkelaar as ´n ete, saam met ´n heerlike bottel wyn en die regte atmosfeer wat die vuurtjie kan aansteek nie.

Hou matigheid voor oë en moet net nie te veel eet nie.

deur Frik Lombard

11/23/2008

Kersfees met Nigella


Nigella Christmas: Food, Family, Friends, Festivities is die beste geskenk wat jy vir jouself, familie of vriende kan koop.

Die boek bevat betroubare en praktiese resepte wat maklik is om na te volg. Nigella gee praktiese raad oor hoe om te beplan en vooraf te kook.

Nigella Christmas bevat 150 uitstekende, kleurvolle foto's deur Lis Parsons, insluitende foto's wat die metodes illustreer.

Die resepte sluit alles in van Kersfeespoedings en -koeke tot maklike resepte vir inlê en koekies. Eenvoudige resepte wat dit maklik maak om vriende en familie oor die Kerstyd te onthaal met die minimum stres.

Nigella deel die geheim van vooraf kook, dan vries en agterna stadig gaarmaak in die oond. Dit maak die Kerspartytjie 'n genot en gee jou meer tyd om te spandeer aan almal se drankies, waarvoor daar ook resepte in die boek is.

Die boek is vol inspirasie en nuwe variasies van ou temas. Daar is resepte vir kalkoen, ham in gemmer gebak, 'n Sweedse Kersfees a la Nigella of wat van 'n vegetariese Kersfees.

Nigella Christmas: Food, Family, Friends, Festivities gaan nooit iewers vergete raak op 'n boekrak nie. Jy sal jaar na jaar hierdie boek kan gebruik, vir inspirasie of net om die lewe bietjie makliker te maak tydens Kersfees.


11/20/2008

Mopaniewurms

1 pakkie gedroogde mopaniewurms
bottel rooiwyn
botter
knoffel, gemaal
sout en peper

Spoel die wurms deeglik af onder lopende water. Gooi dit in 'n pot saam met die wyn en laat dit week vir die beste deel van die dag.

Kook die wurms in die wyn tot die wyn so te sê verdamp het.
Plaas ´n homp botter in die pot sowel as die res van die bestanddele.
Braai vir ´n paar minute oor hitte.

Bedien op geroosterde Franse brood.

resep: Makwas

11/19/2008

Koffie okkerneutkoek / Coffee Walnut Cake

115 g margarien
115 g strooisuiker
2 eiers
1 eetlepel fyn kitskoffie
140 g bruismeel
2 teelepels bakpoeier
50 g gekapte okkerneute
½ koppie melk

Room die margarien en suiker tot baie lig.
Voeg die eiers een vir een by en klop baie goed.
Voeg nou die kitskoffie by en klop.
Sif die bruismeel en vou in by die mengsel saam met die neute en melk.
Bak in 'n matige oond van 190ºC vir ongeveer vir 30 minute.

Vir die vulsel klop jy die volgende bestandele saam:

115 g margarien
230 g versiersuiker
2 teelepels fyn kitskoffie
4 teelepels melk

Sit dit tussen die koeklae en om die koek. Sprinkel ekstra gekapte okkerneute oor.

Anysbeskuit / Aniseed Rusk

375 g botter
450 ml suiker
4 eiers
2 kg bruismeel
15 ml anys
10 ml sout
2,5 ml kremetart
1 liter kookmelk

Smelt die botter en suiker, laat afkoel en klop die eiers by.

Sif die droë bestanddele saam en voeg saam met die kookmelk by die eiermengsel. Voeg anys by en maak aan tot ‘n deeg.
Laat die deeg 5 minute staan.

Rol in balletjies en pak teen mekaar in twee gesmeerde broodpanne van 220x120 mm.
Bak vir sowat 1 uur in 'n voorverhitte oond by 180ºC tot gaar.

Laat afkoel en droog die beskuit uit in 'n koel oond met die oonddeur oop.

Kook met Jamie


Volgens Jamie Oliver is hierdie die boek wat hy altyd wou skryf. Dit is sy grootste en mees praktiese gids tot op hede wat jou die basiese tegnieke van kookkuns sal leer, net soos dit by Jamie se Fifteen restaurant vir eerstejaars geleer word.

Leer hoe om die restaurant se gewilde disse te maak met eenvoudige resepte wat glad nie so eenvoudig smaak nie. Hy gee ook raad oor kombuisgereedskap en aankope.

Leer meer oor die verskillende vleissnitte en hoe om dit gaar te maak. Slaan jou tande in die meer as 100 nuwe resepte wat jou kookpassie sal aanwakker en van jou 'n baaskok kan maak.

Die instruksies is eenvoudig om te volg en daar is duidelike foto's indien jy dalk sou wonder. Hier en daar gee Oliver ook 'n wenk om dinge nog makliker te maak.

Oor sy boek sê Jamie Oliver: "I'm going to be treating the reader like one of my students at Fifteen. I've broken down recipes to their simplest and I talk about buying and shopping tips, techniques and short cuts, but I have also given a great background of encyclopedic-type info at the start of each chapter which is really helpful stuff."

11/18/2008

Outydse doekpoeding

1½ koppie suiker
1 koppie botter
3 eiers
2 eetlepels appelkooskonfyt
4 koppies meelblom
1 teelepels elk naeltjies (fyn), kaneel, gemmer en sout
3 teelepels koeksoda
1 koppie elk sultanas, korente, versuikerde skil, pitlose rosyne en melk
¼ koppie warm water, afgekoel
2 eetlepels brandewyn
Sif meelblom, naeltjies, gemmer, kaneel en sout saam.

Klop suiker en botter tot room. Voeg dan eiers een vir een by en klop goed.
Voeg appelkooskonfyt by.
Meng koeksoda met melk en voeg by bottermengsel.
Voeg vrugte en droë bestanddele by bottermengsel en meng beurtelings met melk en water.
Voeg brandewyn by mengsel en roer goed.

Maak groot 'n doek klam en bestrooi met meelblom.
Skep die mengsel daarop in die middel, laat bietjie ruimte toe vir rys, en bind goed vas.
Sit 'n ou piering in kastrol met kokende water en sit poeding in. Kook vir ongeveer 4 uur. Kyk dat water nie droog kook nie. Voeg kookwater by indien benodig.

Bedien met brandewynsous.



Brandewynsous:
750 ml kookwater
2 stukke gemmer -vars - gekneus
2 stukke pypkaneel
4 naeltjies
1 lemoen se skil
250 ml suiker
25 ml mielieblom
knippie sout
25 ml brandewyn
Kook water, speserye en lemoenskil stadig saam totdat wat gegeur is.

Syg deur en gooi water terug in die kastrol. Meng suiker, mielieblom en sout en voeg bietjie warm gegeurde water by en meng tot glad. Gooi die mensel by gegeurde water en kook dan alles saam tot sous dik en gaar is. Dit neem ongeveer 3 minute. Voeg brandewyn by net voor opdiening.

Glühwein / Kruiewyn


750ml lae-alkohol rooiwyn
75g suiker
1 suurlemoen in skywe gesny
3 lemoene in skywe gesny
2 naeltjies
1 stuk pypkaneel

Verhit al die bestandele stadig saam. Moet NIE kook NIE. Roer aanhoudend. Verwyder van hitte en gooi deur ´n sif. Bedien dadelik.

Platsak hoenderpastei / Budget Chicken Pie

Kors:
1 koppie meelblom
1 teelepel bakpoeier
knippie sout
¼ koppie botter
1 ekstra groot eier
1 eetlepel olie

Vulsel:
750g gaar hoender
3 teelepels olie
2 klein uie, fyngekap
2 koppies gaar rys
2 koppies melk
4 ekstra groot eiers
2ml gedroogde oreganum
100ml mayonaise
knippie rissiesout
sout en peper na smaak
1 koppie cheddar, opsioneel

Voorverhit oond tot 200ºC. Smeer tertbord.

Kors: Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf botter in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Klits olie en eier saam. Voeg meelmengsel by en meng deeg. Bedek met kleefplastiek en sit in yskas vir 20 minute.

Sny hoender in stukkies en sit eenkant. Verhit olie en soteer ui daarin tot sag. Voeg hoender en rys by en roer deur. Haal van hitte af en voeg al die ander bestanddele by, behalwe kaas. Rol deeg uit en voeg tertbord met deeg. Prik die tertkors met vurk. Bak vir 10 minute in oond. Voeg vulsel in kors en gooi kaas oor. Bak vir 30 minute en laat staan vir 5 minute voor u inskep.

´n Formele middagete

Desiree Huysamen het geskryf en gevra of ek enige voorstelle het vir ´n goue bruilof-middagete. Wat volg is nie net my voorstelle vir die ete nie, maar ook ´n paar wenke vir so ´n formele ete. Ons kan gerus meer so aansit by die huis.

OPDIENING
Wit eetgerei is altyd ´n treffer! Maak borde warm in die winter. ´n Gasvrou moet verkieslik al die geregte klaar maak VOOR die onthaal. As die gaste nie goed bekend is nie, los liewers skulpvis en knoffel uit.

´n Spyskaart kan gerus gebruik word. Ek gebruik dit sefls vir my kinders op spesiale dae, bv. Kersdag.

Bedien altyd voorgereg in klein porsies. Dit moet die aptyd wek en nie bevredig nie. Voorgeregte is nooit juis soet nie. Dit moet geurig en aantreklik wees. Neem altyd jou spyskaart in ag. As die maaltyd groot en swaar is, moet die voorgereg lig wees en ook andersom. Dit bestaan net uit een gereg. Die voorgereg se bestandele mag nie weer in hoofmaal voorkom nie. Onthou die voorgereg-eetgerei.

Kry ´n kelner om te help met bediening. Die persoon moet altyd baie stylvol en netjies aangetrek wees. Kos word altyd van die linkerkant af bedien. Opskeplepels se handvatsels moet na die gas wys indien die gas self moet inskep. Dit is heeltemaal aanvaarbaar dat kos in die kombuis ingeskep word. Met vreemde gaste gaan dit moeilik wees, want jy ken nie hul smaak nie. Vuil borde word ook van die linkerkant verwyder, maar asseblief moet dit nie opgestapel nie want daar kan ´n glips kom. GEEN kos word by die tafel van die borde afgeskraap nie.

Die kelner begin by die dameseregas wat aan die gasheer se regterkant sit. Na die eregas word die damesgas aan die linkerkant van die gasheer bedien. Daarna die ander dames en dan die die die manseregas en dan die ander mans.

Bedien eers die groentes, dan vleise en dan souse. Verkieslik kan slaai op die tafel gelos word. Voorgeregte kan ook voor die tyd op die tafel gesit word. Dit vergemaklik die bediening. Onthou goeie bediening kan selfs ´n swak ete red.

Wynglase kan as voorgereg en nagereg bakkies gebruik word. Sit ´n klein blommetjie in die voorgeregbordjie.

By die koffie, gewoonlik geperkoleerd, moet ten minste sjokolade of sjokoladebeskuitjies bedien word.

Indien kerse gebruik word vir versiering MOET dit aangesteek word. Blomme moet nie te hoog wees nie, die gaste moet mekaar kan sien. Blomme op die tafel moet ook nooit verlep lyk nie.

DRANKIES
Sjerrie kan in die voorportaal op ´n tafel gesit word, MET sjerrie in glase en ook ´n bottel sjerrie of soveel as wat nodig sal wees. Daarby kan klein soutbeskuitjies en kaashappies ook neergesit word.

Daar is vandag so ´n groot verskeidenheid wynglase op die mark. Onthou net groot is vir rooiwyn en klein vir witwyn. Bespreek jou keuse van wyn met die winkelassistent.

Indien dit ´n groot onthaal is stel ek voor jy kontak ´n drankwinkel vir hulp. Hulle het gewoonlik kelners wat die drank bedien.

Wyn word in dieselfde volgorde as die kos bedien. Die gasrou kan daarmee begin deur eerste haar servet uit haar glas te haal. Die gaste sal wel volg. Jy kan ook dat die gasheer die wyn toets. ´n Gasvrou moet altyd gemaklik lyk - sonder aansitterigheid - en altyd in beheer wees. Probeer om nie die tafel te verlaat nie. Gedurende ´n klein onthaal kan die wyn in ´n wynhouer naby die gaste of by die gasheer gehou word.

Moet nooit wyn uit ´n doos bedien nie. As joy moet stel ek voor jy gebruik eerder ´n mooi houer.

Vrugtesap en water is altyd welkom.

VOORGEREG
Helder sop - Behou ´n paar groot stukke groente stapel op in die sopbak met bietjie room bo-oor. Wyn: ´n chenin blanc of selfs ´n halfsoet sjerrie. Of gevulde pannekoekies met suurlemoen-mosterdsous bo-oor. Wyn: sauvignon blanc.

HOOFGEREG
Gegeurde rys. Koop dit sommer by die winkel. Sny groterige stukke tamatie in rys voordat jy die uitskep. Dit moet net warm wees maar nie gekook. Dit lyk mooi. Pynappelstukke kan ook bygevoeg word.
Klein vars boontjies, toegedraai in spek en met ´n tandestokkie vasgesteek, in min water stadig gekook tot gaar. Moenie te veel sout byvoeg nie want spek is reeds sout.
Koop blikkies klein wortels. Dit werk vinnig en is sag. Roerbraai dit vinnig in botter en bruinsuiker. Dit moet nie pap kook nie. Hou warm.
Kook klein aartappeltjies tot gaar. Braai dan vinnig in olyfolie en gekneusde knoffel. Net voor jy dit uit pan haal voeg vars gekapte pietersielie by en roer goed deur.
Probeer bietjie ontbeende varknek of gerookte varkboud. Dit is anders en altyd ´n treffer.
Skaaprol - Vra jou slagter om ´n ribbetjie te ontbeen. Hy kan dit vir jou stop of jy kan dit self doen. Kap die ontbeende ribbetjie met ´n vleishamer. Sout en peper na smaak (kan ook eers met olyfolie gesmeer word en met knoffel gevryf word). Neem vars spinasie (maak skoon en blanseer) pak dit op rib, volg dan met fyn gesnyde sampioene. Rol stewig op en werk vas met lyn. Bak in oond tot gaar. Wyn: merlot / shiraz.
´n Slaai is nie nodig nie maar dit is jou keuse. Komkommer kan net in skyfies gesny en op slaaiblare gerangskik word met gekleurde soetrissierepies.

NAGEREG
Kaaskoek is altyd ´n treffer maar wat van ´n korslose melktert met room? Wyn: port.

bydrae: Petro van der Westhuizen

Suurlemoen-mosterdsous / Lemon Mustard Sauce

300 ml room
1 teelepel suurlemoenskil, gerasper
2 teeelepels suurlemoensap
2 teelepels mostertkorrels
1 blokkie hoenderaftreksel
2 teelepels maizena
1 eetlepel water
2 eetlepels gekapte spruituitjies

Meng maizena met water tot glad. Meng al die ander bestanddele en kook in mikrogolf op hoog vir drie minute, roer so twee keer gedurende die drie minute. Vul pannekoekies met fyn hoendervleis en gebruik hierdie sous daarby.

Witsjokolade-cappuccino / White Chocolate Cappuccino

2 koppies volroommelk, geklits met skuim bo-op
100 g wit sjokolade in blokkies gebreek
2 eetlepels brandewyn
1 teelepel vanielje geursel
2 koppies sterk, warm koffie
kakaopoeier

Laat die melk opkook en haal dan van die hitte af.
Klits die sjokolade vinnig in tot gesmelt.
Klits die brandewyn en geursel in tot dit skuimerig is.
Giet warm koffie in koppies en skep die melk en skuim bo-op.
Strooi kakao bo-oor.

(vir 4 persone)

Marokkaanse kruisementtee / Moroccan Mint Tea

1 teelepel kruisement
warm water
´n druppel heuning
1 lemmetjie skyfie
1 teelepel vars gekapte gemmer

Meng al die bestanddele saam, behalwe die heuning, en gooi deur ´n siffie. Voeg die heuning by.

Patatkoek / Sweet Potato Cake

250 ml botter
500 ml suiker
750 ml gekook en fyngemaakte soetpatats
4 eiers
3 koppies meel
¼ teelepel koeksoda
½ teelepel neutmuskaat
1 teelepel kaneel
1 teelepel vanielje
½ koppie gekapte pakaneute
½ koppie klapper

Verroom die botter en suiker. Voeg die patats by en klits tot die mengsel lig is. Voeg die eiers een vir een by en klits goed tussenin. Kombineer al die droë bestanddele en roer by die koekmengsel. Voeg die vanielje, neute en klapper by. Bak in ´n gesmeerde koekpan teen 180ºC vir 1 uur en 15 minute.

Maak 500g versiersuiker aan met die skil en sap van 1 lemoen en suurlemoen vir die versiering.

resep: Hennie

Die nuwe, beter kortpadkos


Vir die haastige kok – resepte met selgs 3 tot 6 bestanddele

Hierdie nuutste publikasie van Suid Afrika se immer-gewilde skrywer van kookboeke, Annette Human, is vir die haastige kok bedoel. Dit bevat meer as 570 maklike resepte, almal met 6 of minder bestanddele.

Nadat Annette etlike jare voltyds saam met haar man geboer het, werk sy nou weer aan resepte vir ’n splinternuwe boek. Naas die Bybel is Annette se boeke die grootste verkopers in Afrikaans!

Dis nuut, dis beter, maar die pad tot liplekker-kos bly ewe kort.

Ongewone kosse

Wanneer dit by ongewone kosse kom sit ons nasie nie te ver van die tafel af nie. Hier dink ek maar net aan skaapkop eet, biltong en snaaks genoeg monkey gland-sous. Die buiteland dink ons is barbaars om gedroogde vleis te eet. Hulle kan dit nie verstaan dat ons vleis ophang om droog te word en dan te eet nie. Daar is ook ´n persepsie dat ons monkey gland-sous maak van ape se kliere. Maar wanneer hulle eers die delikatesses proe en eet dan is daar geen keer aan hulle nie.

Maar dit is nie net by ons wat ons ongewone kosse eet nie. Die Japanese is bekend en beroemd vir Sushi. Ek verneem dat ´n goeie Sushi sjef ´n aantreklike salaris kan verdien. In een van die gewildste restaurante in Taiwan, waar die mense tou staan elke aand om te eet, is die spesialiteit vis. Maar dit is nie snaaks nie. Sodra jy inkom in die restaurant is daar ´n groot vistenk. Jou aandete swem so voor jou verby en jy kies die mooiste en lekkerste vis. Hulle vang dan jou vis vir jou. En net hier hardloop die papaja in die fan vas.

Die sjef gooi die vis net so heel in die warm water en kook hom. Die vis word dan net so netjies opgesny in soveel porsies as wat daar mense in die geselskap is. Hier moet julle net let op my woordkeuses, nie oopgesny en skoongemaak nie maar opgesny met die derms en al. Die stuk wat jy in jou bord kry moet jy net so opeet met die derms en al. Of dalk kry jy die kop met oë. "Jig", is al wat ek kan sê.

Franse en Italiaanse sjefs is lief om hane se kamme te gebruik om hulle disse mee te versier. Die haankamme is blykbaar heerlik maar so effe aan die taai kant. Die Aborigines van Australië is versot daarop om suikermiere en gekapte gemarineerde kangeroesterte te eet. In Oos-Europese lande en veral Rusland is beerpoot en beerskyf ´n delikatesse.

In veral China is haaivinsop baie gesog. Daar hou hulle ook daarvan om gedroogde voëlneste te eet. In China en Taiwan is daar ook een honderd jaar oue eiers te koop. Dit word geëet op baie spesiale geleenthede, soos bv. wanneer ën groot saketransaksie afgehandel word.

Gebraaide sprinkane en mopanie wurms is weer konigskos in Afrika terwyl miere gedoop in sjokolade bo aan die gourmet lys is in Japan. In Europe is skilpadvleis gesog en in sekere dele van Amerika is krokodilvleis gewild. In Meksiko is beespere gesog, veral van die beeste wat gesneuwel het in stiergevegte. Die lekkerny word gebraai in botter en olyfolie en met verskillende souse bedien.

As ek so na die snaaksste disse kyk sal ek maar by biltong en monkey gland-sous hou. Die twee geregte waarvoor die res van die wêreld hulle neus optrek bly maar baie lekker en ek sal beslis nie my stukkie biltong ruil vir ´n beespeertjie nie.

deur Frik Lombard

11/17/2008

Gesondheidsbrood / Health Bread

Hierdie wonderlike broodjie word in ´n mikrogolfoond gemaak en bak perfek elke keer.

250 ml semels
500 ml volkoringmeel
250 ml gerolde koring
125 ml sonneblomsaad
50 ml pitlose rosyntjies
5 ml bakpoeier
5 ml sout
500 ml karringmelk
5 ml koeksoda
25 ml sagte bruinsuiker
25 ml olyfolie

Smeer ´n 1,5 liter mikrogolf-broodpan van 25x10x7,5cm uit met botter. Voer die boom met ´n papierhanddoek uit. Strooi semels om die kante en bedek die bodem daarmee. Gooi die res van die semels in ´n mengbak. Meng die meel, koring, saad, rosyntjies, bakpoeier en sout met die semels in die mengbak. Meng die karringmelk en koeksoda saam in ´n aparte bak. Roer nou die suiker en olie by die melkmengsel. Voeg die melk-mengsel by die semelmengsel en meng goed. Skep die deeg in die pan en maak die bokant effens rond. Strooi bietjie gerolde koring oor. Plaas die pan op ´n onderstebo piering in die mikrogolfoond en mikrogolf vir 17 minute by 70% krag. (850 watt oond)

Jy sal nooit weer ander brood wil eet nie.

Wortels met druiwe / Carrots with Grapes

100 ml botter
15 ml mielieblom
100 ml heuning
10 ml suurlemoensap
1 kg gaar warm jong worteltjies
300 g druiwekorrels

Smelt die botter. Roer die mielieblom by tot glad. Voeg die heuning en sap by en roer oor matige hitte tot dit begin kook. Voeg die wortels en druiwe by en roer totdat dit deurwarm en geglaseer is. Bedien dadelik.

CNN-skottel

(bedien 6 persone)

350g hoenderborsies
sout en varsgemaalde swartpeper
1 lourierblaar
1 ui, dun gesny
150g spek
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 groen soetrissie, dun gesny
15ml witwyn
30ml droeë oreganum
60ml olyfolie
½ blikkie sampioensop
300g noedels
1 stuk pypkaneel
handvol gerasperde cheddar
handvol gekapte pietersielie

Bedek die hoederborsies met water in ´n pan en voeg die lourier, peper en kaneel by. Bring tot kookpunt en prut vir 30 minute. Verwyder die hoender en hou warm. Verwyder die kruie en voeg sout by. Kook die noedels vir 7 minute in die water. Gooi die water af en spoel af met koue water.. Braai die ui, knoffel, rissie, oreganum, witwyn en spek saam tot sag. Sny die hoender in klein stukkies en voeg alles saam in ´n oondskottel. Bedek met kaas en bak teen 180ºC vir 30 minute.

Versier met pietersielie.

Aarbeiroomys / Strawberry Ice Cream

1 blik Ideal melk, verkoel
1 blik kondensmelk
250 ml room
5 ml vanielje-geursel
5 ml aarbei-geursel
paar druppels rooi voedselkleursel

Klop al die bestanddele saam. Plaas in die vrieskas tot kristalle begin vorm. Verwyder uit vrieskas en klop tot romerig. Vries en geniet.

Oondgebakte salm / Baked Salmon

1 Kaapse salm (geelbek), skoongemaak en kop en stert verwyder
6 tamaties, in skywe
3 uie, in skywe
2 rissies
vars dille
vars pietersielie
1 suurlemoen, in skywe

Stop die vis met die die bestanddele en plaas in ´n oondbak met deksel. Bedek en bak vir 1 uur.

Sjokoladekoek / Choclate Cake

125 g botter
1 koppie strooisuiker
1 koppie water
1½ koppie bruismeel
35 g kakao
½ teelepel koeksoda
2 eier geklits

Voer 'n mikrogolf koekbak - ringbak met bakpapier uit. Meng in ander bak botter, suiker en water. Kook onbedek vir 4 minute. Roer eenkeer om. Laat koud word by kamertempratuur. Sif droë bestandele saam. Meng met verkoelde mengsel en voeg eiers by. Die mengsel moet glad wees. Gooi in koekpan en kook onbedek vir 10 minute. Bedek en laat staan vir 10 minute in mikro.

Resep 2

Stroop:
200 ml suiker
250 ml kookwater
Deeg:
250 ml koekmeel
30 ml bakpoeier
5 ml sout
250 g margarien
100 g suiker
400 g donker sjokolade
30 ml brandewyn
5 eiers
30 ml melk
250 g sjokolade, gesmelt

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Smelt die margarien, 100 g suiker, 200 g sjokolade en brandewyn saam. Klits die eiers een vir een by die margarien-mengsel. Voeg by die droë bestanddele. Bak die koek 45 minute teen 180ºC. Maak die stroop aan en gooi oor koek. Smelt die res van die sjokolade en die melk en gooi oor koek.

Versier met iets van jou keuse.
resep: Petro van der Westhuizen

Lensie-en-sampioenbredie / Lentil and Mushroom Stew

2 uie, fyn gekap
olyfolie
3 knoffelhuisies, fyn gekap
500 ml bruin lensies
250g klein Portobello sampioene
400 g geblikte tamaties
2 teelepels paprika
1 l groente-aftreksel
sap van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
´n handvol kruisementblare

Braai die uie en knoffel in olyfolie tot sag. Voeg die lensies, sampioene, paprika en aftreksel by. Die lensies moet bedek wees. Voeg water by indien nodig. Bring tot kookpunt. Verstel die hitte en prut vir 30 minute. Nou is dit tyd vir sout en peper en die suurlemoensap. Versier met die kruisementblare.

Droë spaghetti / Dry Spaghetti

(bedien 6)

3 knoffelhuisies, fyn gekap
olyfolie
1 ui, fyn gekap
5 ml bruinsuiker
2 ml neutmuskaat
115 g tamatiepasta
500 g spaghetti, gekook

Braai die uie in olyfolie tot sag. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die pasta, by. Laat prut vir 20 minute. Voeg die spaghetti by en meng alles oor lae hitte tot die spaghetti oraloor met sous bedek is.

Dien op as hoofgereg saam met ´n groenslaai of by gebakte vis.

Lensie dahl met komkommer raita / Lentil Dahl with Cucumber Raita

(bedien 6)

10 ml knoffel, fyn gekap
olyfolie
1 ui, fyn gekap
500 ml bruin lensies
7 ml borrie
12 ml swart mosterdsaad
15 ml komynsaad
1 kardamomsaad
10 ml sout
2 groen rissies, saad verwyder en fyn gekap
7 ml vars gemmer, fyn gekap
250 ml tamaties, geskil en fyn gekap
1,75 l water
5 ml basielkruid
5 ml roosmaryn
vars koljander

Week die lensies in water vir 3 ure / oornag. Gooi water af. Braai die ui en knoffel en sade saam tot uie sag is. Voeg die lensies by en braai vir 2 minute. Voeg die res van die bestanddele by. Bring tot kookpunt, bedek en prut oor matige hitte vir 1 uur. Versier met koljander en bedien met
Komkommer raita:

250 ml jogurt
60 ml water
5 ml sout
8 ml rooipeper
1 komkommer, gerasper
1 ml fyn komyn
60 ml vars koljander, gekap

Meng die jogurt en water en voeg die sout en rooipeper by. Voeg die komkommer by en meng. Sprinkel komyn bo-op en versier met koljander.

Suurlemoene

Suurlemoene, so word geglo, kom oorspronklik van Indië en die Suide van China af. Daar het handelaars die wonderlike vrug, wat klaar verpak is in ´ dik skil, se wondere besing. Honderde jare gelede het die handelaars al geweet dat suurlemoene kos preserveer en ook as geurmiddel gebruik kan word. Dit was ook gebruik as geneesmiddel en kon ook as ´n verfrissende drankie gebruik word.

Alexander die Grote word daarmee gekrediteer dat hy in sy togte mense saamgeneem het wat hulle kennis oor suurlemoene aan ´n groot deel van die wêreld bekend gemaak het. So het die suurlemoen begin versprei. Suurlemoene word gebruik in alles en nog wat. Van kook tot in skoonheidsmiddels en ook in gesondheidsmiddels word suurlemoene gebruik.

Suurlemoensap is ´n natuurlike voorbehoedmiddel en HIV bekamper. In studies wat onlangs in Australië gedoen is het hulle bevind dat suurlemoensap sperm en HIV selle vernietig. Hoe hulle hierdie teoretiese kennis in die praktyk gaan laat werk weet ek nie en wil my liewers nie daaroor uitspreek nie.

Die suurlemoen en veral die suurlemoenskil bevat heelwat limonene (olie). Hierdie olie is ´n natuurlike geneesmiddel vir die genesing van krampe, inflammasie en artritis omdat dit die vloei van limfstowwe aanhelp. Maar dit is nie net die skil wat van waarde is nie maar ook die blare. Wanneer ´n tee gemaak word van suurlemoenblare en gedrink word help dit om spanning te verlig asook om simptome van asma te verlig en slaaploosheid die nek in te slaan.

Meeste van die smaak en aroma van suurlemoene kom van die skil af. Dit is waarom in die meeste disse aanbeveel word dat gerasperde suurlemoenskil gebruik moet word. Jy kan self so jou gunsteling disse ´n bietjie opkikker met suurlemoenskil.

Wanneer jy kook moet jy die suurlemoensap bygooi net voor jy die kos afhaal. Anders word die vitamien C vernietig deur die kookproses. Wat nog nuttig is, is om suurlemoene uit te druk en dan die sap te vries in ´n ysblokkie houer. Wanneer die sap gevries is haal net die blokkies uit en sit in ´n plastiese sak. Sit in vrieskas tot benodig. So kan jy ook die skil rasper en vries. Daar is niks lekkerder in kos as vars suurlemoensap nie.

Wanneer jy Sondag die hoender in die oond braai kan jy gerus so ´n paar wiggies suurlemoen in die holte van die hoender sit. Die suurlemoensap en die hoender se sous vorm saam een heerlike sous. Suurlemoensap kan ook gebruik word om vleis mee te marineer. Moet net nie die vleis in die sap verdrink nie. Om groente hulle kleur te laat behou kan jy net so ´n paar druppels in die groente gooi wanneer dit kook. Suurlemoensap is ook ´n heerlike plaasvervanger vir asyn. Gebruik eerder suurlemoensap in slaaie en natuurlik op vis.

Suurlemoene en suurlemoensap is nie net vir kook nie. Suurlemoensap alleen kan gebruik word om jou vel te verkwik. Maar nou kan jy ander plante ook byvoeg of as jy wil sommer net ´n bietjie water byvoeg. Meng sap met sout en plaas dit mengsel op ouderdomsvlekke. Na ´n paar van die behandelings sal die vlekke ligter word. Eksperimenteer maar gerus met die wonderlike sap.

Verder kan jy ook dieselfde mengsel van suurlemoensap en sout gebruik om jou koper weer ´n mooi en wonderlike glans te gee. Daar sal ook seker soos die jare aanstap meer gebruike vir die suurlemoen gevind word. Indien U enige ander gebruike het vir suurlemoene laat weet my gerus.

deur Frik Lombard

Hummus tortillas

(bedien 6)

6 tortillas
2 rooi rissies, in repies en saggebraai in olyfolie
100 g okkerneute, gekap
´n handvol Italiaanse pietersielie, fyn gekap
suurlemoensap
sout en varsgemaalde swartpeper

Verwarm die tortillas. Skep bietjie hummus op ´n tortilla, gooi ´n paar repies rissie oor en eindig met die neute en pietersielie. Besprinkel met die sap en sout en peper. Rol toe en geniet.

11/16/2008

Tjou-Tjou slaai

6 porsies

6 piesangs
1 blik vrugte kelkie (fruit cocktail) (410g)
1 blik kondensmelk (397g)
1 bottel Koo Picalilly (390g of 400g)
knippie sout

Sit jou piesangs met skille aan in ´n bak.
Gooi kookwater bo oor en laat lê so vir ´n minuut of 2. Die skille van die piesangs word swart.
Haal uit kookwater, skil jou piesangs en sny in skyfies.
Gooi piesang skyfies, fruit cocktail, kondensmelk, sout en picalilly in ´n bak en meng goed deur.

Bedien koud.

resep: Chantelle Geldenhuys

Worsrolletjies / Sausage Roll

Vulsel:
1 kg maalvleis
knypie neutmuskaat
15 ml sout
2 snye witbrood, gekrummel
25 ml asyn
25 ml spekvleis, swoerdloos en gesnipper
10 ml koljander
knypie kaneel

Meng die bestanddele saam en braai die vleis verbruin.
Laat afkoel.


Deeg:
4 x 250 ml koekmeelblom
500 g botter
1 eiergeel
5 ml sout
12,5 ml suurlemoensap
250 ml water

Sif die meelblom en sout saam. Vryf botter in tot dit lyk soos broodkrummels. Voeg eiergeel, suurlemoensap en genoeg water by om ‘n hanteerbare deeg te vorm. Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte. Plaas bietjie vleis bo-op die deeg. Smeer kante met eierwit. Rol op. Verf mengsel van geklitste eiergeel en melk bo-oor. Bak vir 45 minute lank in ‘n voorverhitte oond teen 180ºC tot goudbruin. Sny in worsrolletjies.


Lewer ongeveer 5 dosyn worsrolletjies.

foto Craig

11/04/2008

Boerebeskuit / Boerbeskuit

Vir die suurdeeg het jy nodig:

22 ml droë gis / 37 g vars gis
7 ml suiker
500 ml louwarm water
60 g meel

Die res van die bestanddele is:

500 g botter
300 ml melk, gekook
50 ml kookwater
7 ml sout
2,5 kg meel, gesif

Vir die suurdeeg los jy die gis en suiker in die water op.
Sprinkel die meel oor, roer, bedek met 'n lap en laat staan op 'n warm plek vir 2 ure.

Intussen meng jy die melk en kookwater.
Smelt die botter in die melk en water.
Voeg die sout by en laat afkoel tot louwarm.
Plaas die meel in 'n mengbak en maak 'n holte in die middel.
Gooi nou die melk- en gismengsel in die holte.
Roer met 'n houtlepel tot dit 'n stywe deeg vorm.
Knie die deeg. Moet nie dat jou deeg koud raak nie.
Smeer gesmelte botter oor jou deeg. Bedek die deegbak met kleefplastiek en maak dit toe in 'n warm kombers. Laat dit staan op 'n warm plek vir 4 ure.

Wanneer jou deeg goed gerys het maak jy rolle met 'n deursnee van 4 cm elk. Sny 4 cm-grootte stukke hiervan af en pak dit regop en styf teen mekaar in beskuitpanne.
Smeer bietjie gesmelte botter oor die deeg.
Bedek die beskuitpanne met 'n lap en laat staan op 'n warm plek om te rys vir 3 ure. Die deeg moet verdubbel.

Bak nou 1 uur lank in 'n 180°C oond.

Wanneer die beskuit afgekoel het breek jy dit in stukke. Pak dit op 'n draadrak in 'n baie koel oond met die deur oop om uit te droog.