Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

3/30/2013

Nigellissima

In Nigellissima fokus Nigella Lawson op die Italiaanse kookkuns, meer spesifiek geregte sonder enige pretensie.

Nigella dek alles, van vis, vleis, groente en natuurlik pasta. Die lam ragu is perfek vir wintersaande. Die spaghettini met suurlemoen en knoffel broodkrummels is binne minute gereed. Suid-Afrikaners behoort te hou van Nigella se Meatzza. Dit is 'n frikkadelmengsel wat platgedruk word in 'n pan, 'n pizza gemaak van vleis. Dit word gegeur met die bestanddele vir 'n tradisionele Margherita. Die klein eiervruggies met oreganum en rooi uie is 'n baie oulike voorgereg. Nog oulike kombinasies is groenboontjies met pistasiepesto en fynaartappels met mascarpone.

Soos altyd is soetgoed baie belangrik vir Nigella. Daar is heelwat resepte om uit te kies, maar die sjokolade en lemoen mousse gaan baie aanhangers hê.

Die boek bevat 120 resepte, met metodes vir voorbereiding wat eenvoudig en vinnig is – perfek vir 'n feesmaal sonder fieterjasies en perfek vir diegene wat nie hou van stres oor 'n resep nie.

3/29/2013

Tango van smake

Wyne en brandewyne uit die omgewing sal saam met interessante disse voorgesit word. Met: Francois Ferreira en Junel Vermeulen KKNK 2013 90 minute | R90 | Oudtshoorn Wijnhuis | 30 Maart 10:00 en 15:00, 1 tot 6 April 10:00 en 15:00

3/28/2013

Kuier en kook in jou taal 2013

Absa en Rapport bied jou ’n lekker kook- en kuierprogram saam met bekende sangers en akteurs.

Vier persoonlikhede word daagliks genooi om saam te kook, elk met die hulp van ’n assistent uit die gehoor. Hulle kry elkeen ’n mandjie met produkte en moet dan tydens die vertoning met ’n eetbare dis vorendag kom. Gaskunstenaars verskaf musiek. Wyn, olywe, kaas en volstruisvleis word te koop aangebied.
KKNK 2013

90 minute | R100 | Sy-saal in die Absa Wynsaal, Oudtshoorn | 30 Maart tot 1 April 10:30

Ouderdomsperk vir wynproe: 18 jaar

3/27/2013

Paella

Het jy geweet die 27ste Maart is Spanje se Nasionale Paella Dag? Vier die dag saam met aanhangers van die gewilde gereg oral oor die wêreld met hierdie resep uit Art of Cooking.

Lande se nasionale kookkuns-erfenis word lank nie meer ingeperk deur grense nie. Deur jou kombuis oop te maak vir geregte van die wêreld, word resepte 'n interessante ontdekking van kleure en geure in jou hande. Art of Cooking is die skatkis wat die wêreld se kookkuns vir jou sal ontsluit.

Paella se naam kom van die wye vlak pan wat gebruik word vir die gereg met die wonderlike kontrasterende kleure, geure en tekstuur. Om tyd te spaar en die proses te vereenvoudig kan jy die onderskeie bestanddele ter gelyke tyd kook in twee kleiner souspanne en die groot paella-pan.

Let Wel:
1. Deel van die sukses van jou paella gaan afhang van die rys. Moet nie rys gebruik wat klewerig is nie. Gebruik halfgekookte of gepoleerde rys.
2. Saffraan word gewoonlik gebruik vir kleur en geur, maar dit kan vervang word met die goedkoper borrie.
3. Gevriesde of geblikte mossels en oesters word gewoonlik gebruik vir die gereg. Dit kan net so of gekrummel (doop in meel, geklitste eier en broodkrummels, braai in olie) gebruik word as garnering.

150 ml sonneblom- of olyfolie, of helfte van elk
2 groot uie, grof gekap
2 – 3 naeltjies of knoffel, fyngedruk
2 groot ryp tamaties, geskil en in klein blokkies gesny
1 medium groen soetrissie, die saad verwyder en in repies gesny
250 g / 300 mℓ halfgekookte of gepoleerde rys
750 ml kookwater
7,5 ml hoenderaftreksel
1 ml saffraan of 2,5 ml borrie
200 ml witwyn (semisoet of droog)
7,5 mℓ sout
± 300 g gerookte of gekookte ham, in dik repe gesny
250 ml gevriesde ertjies
± 1 kg ontbeende hoenderborsies, vel verwyder en in blokkies van 2 cm gesny
60 g / 125 ml koekmeel
nog 'n knypie saffraan of 1 mℓ borrie
1ml swartpeper
± 1 kg seekos, byvoorbeeld ferm wit vis en skoongemaakte steurgarnale – die steurgarnale kan in die dop gelos word, maar onthou om die aar te verwyder
'n paar druppels Tabasco of 'n skeut rooipeper

Vir bediening en garnering: ± 200 g geblikte afgedopte mossels of mossels in die halwe skulp, gedreineer en afgespoel OF gevriesde mossels of mossels in die halwe skulp, afgespoel met kookwater en gedreineer – oesters kan in plaas van of saam met die mossels gebruik word
swart calamata olywe
gekapte pietersielie
takkies kruie



Jy het 'n groot souspan nodig of 'n paella-pan, en 2 kleiner souspanne. Gooi 50 mℓ olie in elke pan. Sauté die uie en knoffel liggies in die groot pan tot sag, terwyl jy van tyd tot tyd roer.

Voeg die tamatie, soetrissie en rys by en roerbraai vir nog 5 minute.

Voeg die water, hoenderaftreksel, 1 mℓ saffraan, wyn en 2,5 mℓ sout by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat liggies kook tot die vloeistof net-net die rys bedek.

Plaas die ham, ertjies, mossels en oesters op die rys. Plaas die deksel op en kook liggies tot die rys sag en droog is en die bestanddele bo-op gaar is.

Meng die hoender met die meel, 2,5 mℓ sout, knypie saffraan en swartpeper. Verhit die olie in een van die kleiner panne en roerbraai die hoender tot goudbruin. Hou dit eenkant.

Indien jy gevriesde seekos gebruik, spoel dit af in 'n vergiettes en verwyder enige stukkies ys en droog goed af. Sny die vis in 2 cm blokkies. Verhit die olie in die ander kleiner pan en roerbraai die seekos tot dit gaar is en begin verbruin. Strooi 2,5 mℓ sout oor en hou eenkant.

Plaas nou die twee kleiner panne se inhoud op die rysmengsel en meng, alles behalwe die steurgarnale. Bedien die gereg in die paella-pan, garneer met die steurgarnale en, indien so gebruik, gekrummelde mossels en oesters. Strooi gekapte pietersielie oor. Strooi die swart olywe oor en garneer met takkies kruie.

Bedien met vars brood en 'n groenslaai.

Die resep is genoeg vir 8 tot 10 persone.

Behou: Paella moet liefs voorberei word net voor dit geëet word. Indien nodig kan jy dit vir 'n klein tydjie warm hou. Dit wat oorbly kan gevries word en later in 'n mikrogolfoond warm gemaak word op medium.
Vries: Paella moet nie voorberei word om te vries nie, maar dit wat oorbly kan op bogenoemde manier gevries en verwarm word.
Vermeerder: Om vir meer mense paella te maak gaan jy meer souspanne nodig kry om te sorg dat die rys droogkook en die ander bestanddele reg kook.

Variasies:
Seekos Paella
Los die hoender en ham uit en vermeerder die seekos met omtrent 2 kg.

Groente Paella
Los die hoender, ham en seekos uit. Voeg sowat 2 kg gemengde groente by wat liggies gekook of gerooster is.


Art of Cooking wys jou ook hoe om die hoeveelhede vir die resep aan te pas, hoe om die gereg lank te laat hou, te vries en nóg variasies van dié resep. Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

3/26/2013

Sjokolade oondpankoek / Chocolate Oven Pan Cake

“Die koek het ek die 23ste Februarie 2013 gebak met ons 48 ste troudag herdenking.
Hoe langer die koek staan, hoe lekkerder raak dit.”
- Naomi le Roux

Voorverhit die oond na 190°C.

Sif 3 koppies meel saam met:
4 teelepels bakpoeier
2 koppies suiker
1 teelepels koeksoda

Meng nou:
80 ml kakao
2 ml sout
2 k kookwater
2 t vanieljegeursel
en 50 ml asyn goed deur

Meng die sousbestanddele met die meel en maak ‘n slap deeg aan. Roer baie goed en giet die beslag in ‘n gesmeerde oondpan.
Lig die pan effens en laat val dit op die werkplank sodat die lugborrels kan ontsnap.
Bak vir 20 minute in ‘n oond van 180°C.

Sous:
Sit 1 koppie suiker
50 ml mielieblom
50 ml kakao
7 ml kitskoffie poeier
375 ml water en 50 g margarine in 'n kastrolletjie en roerkook tot dik en gaar.

Sodra die warm gaar koek uit die oond kom, giet die stroop oor die warm koek. Sodra die koek bietjie afgekoel het kan jy met 'n vurk patroontjies daaroor trek of dit net so laat staan.

Variasie: Om dit as poeding te bedien ... los dan die sous weg.

Wenk:
Voorverhit altyd jou oond 10 grade warmer as die aangegewe hittegraad.
Wag tot die liggie weer doodgaan nadat jy die gereg in die oond gesteek het ... en stel dit dan op die regte hittegraad. So bespaar jy krag.

Resep: Naomi le Roux

3/25/2013

Steurgarnaal-salpicon / Shrimp Salpicon

Salpicon is 'n mengsel waarmee jy tertdoppies vul of pluimvee stop.

225 g steurgarnale, skoongemaak en afgedop
30 g botter
1 klein ui, fyngekap
225 g tamaties, geskil en in kwarte gesny
5 mℓ paprika
5 mℓ tamatiepasta
sout
varsgemaalde swartpeper
knippie suiker

Smelt die botter in 'n kastrol en voeg die ui by. Sit die deksel op en smoor oor lae hitte tot die ui sag is.

Voeg die paprika by en kook vir 1 minuut.

Roer die tamatiepasta by, geur met sout en peper en voeg die knippie suiker by en prut vir 3 minute.

Sit die tamaties by en prut nog 5 minute.

Roer die steurgarnale by en roer oor die hitte tot die garnale gaar en alles warm is.

3/24/2013

Vark en afval / Pork and Offal

Jy het 'n gesmeerde oondskottel nodig vir die resep. Die bak moet 'n deksel hê.

Op die bodem pak jy 'n laag sout varkvleis, gevolg deur 'n laag afval wat in repe gesny is. Die volgende laag is geskilde wortels wat in ringe gesny is. Strooi vars gekapte pietersielie en tiemie oor en sit 'n lourierblaar by. Nou pak jy weer 'n laag vark en 'n laag afval. Hou so aan tot jou vark en afval op is. Tussen hierdie lae vark en afval moet jy 'n bouquet garni ook indruk.
Nou gooi jy droë witwyn oor alles. Die wyn moet alles bedek.
Pak 'n laag spek bo-op.
Bedek en plaas in 'n 150°C-oond vir 4 uur.

Verwyder die kasserol, roer 'n groot klont botter by en plaas dit terug in die oond vir nog 30 minute.

Bedien dit baie warm. Onthou om die bouquet garni te verwyder voor jy dit bedien.

3/23/2013

Groenboontjies in botter / Green Beans in Butter

Die groenboontjies moet vars wees, verkieslik nog baie jonk en klein. Die boontjies moet kraak as jy dit breek.

Was die boontjies in koue water en sny dan die punte af (top and tail).

Sny die boontjies diagonaal in repe.
Plaas dit in gesoute kookwater en kook vir 15 minute.
Dreineer die bone, terwyl jy 'n groot klont botter smelt in 'n pan.
Gooi die bone in die pan en sorg dat dit met die botter bedek is. Geur met sout en peper en 5 mℓ vars gekapte pietersielie.
Braai vir nog so 30 sekondes en bedien dadelik.

3/22/2013

Haaksel

Haaksel is Suid-Afrikaners se weergawe van die Skotte se haggis. Die resep is genoeg vir 4 persone.

1 varklewer, skoongemaak en gewas in soutwater
harslag van 'n vark – hart en die longe met die lugpyp nog daaraan, skoongemaak en gewas
110 g vet
3 uie
110 g hawermeel
sout
peper
2 mℓ foelie
2 mℓ tiemie
125 mℓ asyn
lourierblaar

Kook die lewer en uie in water saam met die lourierblaar vir 30 minute. Verwyder die uie na 15 minute, sny in blokkies en hou dit eenkant.

Behou 250 mℓ van die vloeistof wanneer die lewer klaar gekook het.
Kook die harslag nou in die water. Gooi nog water by indien nodig.
Hang die lugpyp oor die kastrol se kant om die skuim uit die longe af te voer. Wanneer die skuim ophou uitkook is die vleis gaar en kan die lugpyp afgesny word. Gee die lugpyp vir jou hond.
Maal die lewer, hart en longe saam fyn.

Skroei die hawermeel vinnig in 'n droë swaarboompot. Roer aanhoudend.

Meng die vleis, vet, uie en hawermeel en geur met sout en peper. Meng die asyn en behoue vloeistof by.
Gebruik 'n stoompot om die haaksel gaar te maak. Plaas die vleis bo en kookwater onder. Die water moet net-net kook. Stoom vir 2 uur.

3/21/2013

Ertjie-flamande / Ertjies en wortels

450 g klein geelwortels
15 g botter
knippie sout
5 mℓ suiker
280 mℓ water
350 g gevriesde ertjies
'n takkie kruisement
varsgemaalde swartpeper

Plaas die wortels in 'n kastrol saam met die sout, suiker en die helfte van die botter. Gooi die water by en kook vinnig vir 20 minute.

Voeg die ertjies en orige botter by en die kruisement. Kook sonder die deksel tot die wortels sag is. Die water moet ook verdamp.

Verwyder die kruisement, geur met swartpeper en bedien.

3/20/2013

Groenboontjies met knoffel / Green Beans with Garlic

Onthou die groenboontjies moet kraakvars wees.

Was die boontjies in koue water en sny dan die punte af (top and tail).

Sny die boontjies diagonaal in repe.
Plaas dit in gesoute kookwater en kook vir 15 minute.
Dreineer die bone, terwyl jy olyfolie verhit in 'n pan.

Braai die bone vinnig vir 'n paar sekondes in die olie saam met 'n skoongemaakte knoffelhuisie en 10 ml fyngekapte salot.

Gooi 5 ml vars fyngekapte pietersielie by en braai nog 'n paar sekondes.

Verwyder die knoffelhuisie en bedien.

3/19/2013

Beet en uie / Beet and Onions

Sny 500 g gekookte beet in baie dun skywe.

Sny 2 uie fyn op.

Kook 250 mℓ melk, 15 mℓ meel, 5 mℓ asyn, 'n knippie suiker en sout en peper saam vir 5 minute terwyl jy aanhoudend roer.

Smelt 'n groot klont botter in 'n swaarboompot en gooi die beet en uie by.
Gooi die melkmengsel by, plaas die deksel op en laat dit oor lae hitte stoof vir 30 minute.

3/18/2013

Kachori

'n Kachori is 'n puri met 'n vulsel. Jy volg die resep vir puri’s en laat die deeg dan rus vir so 15 minute.

Jy kan 18 balle deeg kry uit die puri resep. Rol elke bal so plat as moontlik, maar nie te dun sodat die deeg breek met die vulsel nie.

Plaas 'n bietjie kerrie in die middel van elke sirkel. Vou die kante na bo en druk dit vas.

Braai die kachori’s in olie in 'n pan.

3/17/2013

Grasshopper

Die grasshopper is 'n klassieke cocktail. Niemand gaan ongelukkig weet waarvan jy praat as jy die naam gaan probeer vertaal nie.

Skud 30 mℓ pippermentlikeur saam met wit crème de cacao en 30 mℓ vars room – op ys.
Gooi uit en strooi kakaopoeier oor.

3/16/2013

Lamsboud à la boulangère

Geur 'n 2,5 kg lamsboud met sout en peper en knoffel. Vryf dit in met botter en plaas dit in 'n 220°C-oond. Hou in die oond vir 40 minute.

Sny 750 g aartappels en 300 uie in dun skywe en pak dit om die boud.
Gooi 50 g gesmelte botter oor en van die vleissappe.
Geur met sout en peper.
Stel die oond se hitte laer tot by 200°C en los die boud en groente vir nog 50 minute in die oond. Elke 10 minute skep jy van die vleissappe oor die boud en groente.

Met die hitte af en die oonddeur oop bedek jy die gereg en laat staan dit so vir 15 minute in die oond voor jy dit bedien.

3/15/2013

Beesvleis-sauté met port en sampioene

Die resep is vir 6 persone, so jou vleis moet in totaal omtrent 1 kg wees.

beesvleis
40 g botter
300 mℓ port
15 mℓ meel
400 mℓ aftreksel
sout en peper
450 g sampioene, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
pietersielie vir garnering

Smelt die helfte van die botter in 'n kastrol en braai die vleis bruin aan alle kante.
Haal die vleis uit en hou warm eenkant.

Gooi die port in die kastrol en bring tot kookpunt. Kook tot die wyn met die helfte verminder het.
Gooi die wyn oor die vleis.

Smelt nou die orige botter in die kastrol waarin die wyn was.
Roer die meel by en kook tot die mengsel begin verkleur.
Voeg nou die aftreksel by en roer aanhoudend tot die mengsel begin kook.
Draai die hitte af tot laag, voeg die vleis en wyn by, geur met sout en peper, plaas die deksel op an laat 1 uur lank prut.

Voeg die sampioene en knoffel by die vleis. Prut verder tot die sampioene sag is. Maak ook seker dat die vleis baie sag is.

Strooi gekapte pietersielie oor wanneer jy dit bedien. Sit dit voor saam met geroomde aartappels en ertjie-flamande.

3/14/2013

Langtafel met Louis Jansen van Vuuren

Kom sit aan saam met die kunstenaar, Louis Jansen van Vuuren, by 'n langtafel wat opgetower is met boerekos deur Isabella Niehaus, in die agterplaas van die Breytenbach Sentrum in Wellington op 16 Maart.

Ontmoet op dié Bolandse skemeraand om 18:00 in die bekorende digterstuin vir ’n glasie vonkel. Distrik 7 se boeremusiekklanke sal sorg vir ’n tikkie nostalgie en later dans ons langarm op die stoep.

Prys: R750. Die winste van hierdie aand gaan ten bate van visuele kunsopleiding, by die Breytenbach Sentrum, aan talentvolle kunstenaars uit armkansige gemeenskappe.

Kom besigtig verder Jansen van Vuuren se boeiende uitstalling, Anamnese, in die Breytenbach Galery. Die uitstalling duur tot 5 April 2013. Belangstellendes kan die galery weeksdae vanaf 9:00 tot 17:00 besoek en Saterdae vanaf 9:30 tot 13:00.

(via Roekeloos.co.za)

3/13/2013

Katjie van die Baan Bistro

Baanbreek nooi almal in die laan om te gly op ‘n ander baan!

Kom geniet ‘n verbeeldingryke spyskaart waar die befaamde feesroosterkoek ‘n nuwe baadjie kry en ‘n koel knertsie vir die dors aangebied word as skild teen Oudtshoorn se fel hitte.

KKNK 2013

Baanbreek, Oudtshoorn | Elke dag | 30 Maart - 6 April

3/12/2013

Gebraaide afval

Al gedink om afval met 'n vingerete te bedien? Hierdie resep maak dit moontlik.

Sny jou afval in repe en kook dit vir 2 uur in hierdie blanc.

Dreineer na 2 uur en doop dan die repe in meel, gevolg deur geklitste eier en laastens fyn broodkrummels.

Smelt 40 mℓ botter in 'n pan en braai die repe daarin vir 'n paar minute.

Strooi vars gekapte pietersielie oor en bedien.

3/10/2013

Puri [poe-rie]

Hierdie Indiese brood is chapatis wat diepgebraai word.

Berei die deeg voor soos vir chapatis.

Verhit nou olie wat 2,5 cm diep in die pot lê.
Skep die olie oor die puri terwyl dit braai. Dit behoort op te pof.
Draai dit om en doen dieselfde aan die ander kant. Dit moet braai tot dit amper goudbruin wil raak.

Bedien die puri dadelik saam met kerrie.



(foto Bryan Alexander)

3/09/2013

Salm en croûte met jong spinasie

Maak 'n kastrol warm en skakel dan die hitte af. Plaas 400 g jong spinasie, 40 mℓ olyfolie, die skil en sap van 'n klein suurlemoen, 20 mℓ gemaalde amandel en sout en varsgemaalde swartpeper in die kastrol en meng.

Sny 500 g skilferkorsdeeg in 4 dele. Rol elke stuk uit in 'n reghoek.

Sny 'n 500 g stuk skoongemaakte salmfilet in 4 dele.
Plaas 'n stuk vis op die helfte van elke stuk deeg.
Deel die spinasiemengsel tussen die vis. Plaas dit bo-op die vis.

Smeer die kante van die deeg met geklitste eier.
Vou die ander helfte van die deeg oor die vis en seel die kante met 'n vurk.
Jy het nou 4 vispakkies wat jy in die yskas plaas vir 10 minute.

Bak die pakkies in 'n 200°C-oond vir 20 minute of tot die pakkies goudbruin is.

Bedien die vis saam met 'n groenslaai.

3/08/2013

Stokvis à la boulangère

Geur jou skoongemaakte stokvisfilette met sout en peper. Plaas dit in 'n gesmeerde oondbak (een met 'n deksel).
Sny aartappel en uie in baie dun skywe en pak dit om die vis. Geur dit met sout en peper en 'n knippie tiemie.
Sprinkel gesmelte botter oor.
Bak die vis in 'n 190°C-oond vir 40 minute. Bak dit aanvanklik sonder die deksel, maar sodra die vis begin verkleur plaas jy die deksel op.

Bedien dit warm en strooi vars gekapte pietersielie oor.

3/07/2013

Middagete met Dana Snyman

Neil Ellis spog met sy wyne, terwyl die gewilde Dana Snyman gaste trakteer op staaltjies oor sy reise regoor Suid-Afrika. ’n Verteller, gepaar met wyn!

8 Maart 12:00 | Neil Ellis Wyne, Stellenbosch | 120 minute | R280

Woordfees 2013

3/06/2013

Boerekos met Dine van Zyl

Dine van Zyl, aanbieder van die gewilde reeks Boerekos op kykNET, gesels oor boerekos en die bewaring van ons koskultuur.

Sy praat oor ons mooi taal en ons mooi mense en oor die saamstel van Die Groot Boerekosboek. Kom geniet ’n bietjie nostalgie, ’n bietjie lekkerkry en baie trots!

7 Maart 12:30 | Towerbosch Aardkombuis, Stellenbosch | 120 minute | R200

Woordfees 2013

3/05/2013

Artisjok-eiers

Halveer hardgekookte eiers en verwyder die geel versigtig.

Maak die geel fyn saam met geblikte artisjokharte. Geur met sout en peper.
Vul die wit van die eiers met die mengsel.

Garneer met fyngekapte rooi soetrissie.

3/04/2013

Indiese lam met rys

Vir hierdie gereg gaan ons 2 resepte gebruik van kookkuns.com. Die gereg is genoeg vir 6 persone.

Berei die lam voor soos in die resep vir lam korma. Kook 1 kg lam.

Kook rys in aftreksel.

Week 1 mℓ saffraan in 200 mℓ warm melk vir 'n paar minute.
Roer dan 30 mℓ rooswater by die melk.

Smeer 'n oondskottel en maak lae met die lam en die rys. Sprinkel die melkmengsel oor elke laag rys. Eindig met 'n laag rys.
Plaas die skottel se deksel op.

Bak in 'n 150°C oond vir 30 minute.

Garneer die gereg met die volgende voor jy dit bedien:
1 komkommer, in dun skywe gesny
3 tamaties, in skywe gesny
1 ui, in skywe gesny
2 rissies, ontpit en in dun repies gesny
3 hardgekookte eiers, in kwarte gesny
50 mℓ gevlokte stukkies amandel, verbruin in 'n pan

3/03/2013

Hoe om marsepein te maak (marzipan)

Sif 500 g versiersuiker en 450 g fyngemaalde amandels saam – sif dit 3 keer.

Voeg 2 groot eierwitte by en 5 mℓ vanillaekstrak. Meng om 'n stywe pasta te vorm.
Knie tot dit glad is.

Draai die marsepein styf toe in plastiek en hou dit in die yskas. Jy kan dit vir so 7 dae hou.

3/02/2013

Hoe gemaak met opgekookte vleis?

Die vleis wat jy gebruik het vir die kook van aftreksel, byvoorbeeld bouillon of consommé, kan op verskeie maniere gebruik word.

Gebruik dit vir 'n boeuf à la hongraise: Sny dit in blokkies en braai dit saam met uie in botter tot die uie sag is. Meng dit met 'n romerige sous en bedien baie warm. Gebruik 100 g uie vir elke 500 g vleis.

Jy kan dit ook à la provençale voorsit: braai dit op dieselfde manier saam met uie as bogenoemde, maar bedien dit met 'n tamatiesous en strooi vars gekapte pietersielie oor voor jy dit bedien.

3/01/2013

Wat is in jou biltong?

Die meeste van Suid-Afrika se biltong het volgens DNS-toetse min te doen met wat op die etiket staan.

Wildsbiltong, wat gewild is onder gesondheidsbewustes omdat dit vleis bevat van diere wat vry kan loop, word dikwels verkeerd geëtiketteer, toon 'n studie deur wetenskaplikes van die Universiteit van die Wes-Kaap.

Van die 146 monsters wat getoets is, het meer as 100 onverklaarde vleisspesies bevat. Al die monsters wat as bief gemerk is, is korrek geëtiketteer, maar die meeste wat verkeerd geëtiketteer is, is 92% van pakkies koedoe-biltong, wat spesies soos perd, kameelperd, vark, bees en selfs kangaroe insluit.

Navorsers is bekommerd dat een monster was as sebra gemerk is, die vleis van 'n bergsebra – 'n bedreigde spesie – insluit.

Die studie, wat in die Europese wetenskapjoernaal BioMed Central verskyn het, is tussen 2009 en verlede jaar gedoen.