Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

5/31/2014

Lekker vir later Plus!

Die boek is ’n herdruk van die eerste Lekker vir later met heelwat resepte en inligting wat bygevoeg is.

Lekker vir later plus is ’n allesomvattende kookboek oor bottel en bêre.

Die boek bevat nie net konfyte en ingemaakte groente nie, maar sluit ook ander vorme van preservering in soos biltong, beskuit en vrugtekoeke – voorwaar die Suid-Afrikaanse A–Z van preservering.

Die boek bevat Annette Human se persoonlike versameling resepte asook nuwe lekkernye en beproefde gunstelinge van familie en vriende.




Lekker vir later Plus! [teks] / deur Annette Human -- Human & Rousseau, 15 April 2014. -- 236 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798165792

5/28/2014

Vark-afval

Jy hoef nie ’n aanhanger van afval te wees om van hierdie gereg te hou nie.

Indien moontlik moet mens die hart en longe van ’n vark vir hierdie resep gebruik as dit nog vars is. Die lewer en niertjies werk ook goed. Jy het 400 g daarvan nodig vir die resep. Sny dit in skywe of kleiner stukke, soos jy verkies. Jy kan selfs maalvleis daarvan maak.

Jy het ook 200 g varklende nodig, ook in skywe gesny.
Verbruin al die vleis in 50 g botter.
Voeg nou 4 fyngekapte tamaties by die vleis. Bedek jou pot en kook dit stadig tot die vleis baie sag is. Roer dit af en toe en voeg ’n bietjie water by indien nodig. Die ideaal is dat die sappe ’n lekker dik sous maak.



Jy kan ook die smaak aanpas met vars fyngekapte kruie soos pietersielie of basilie.

Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.

Bedien met rys of pasta.

5/27/2014

Muscat

Muscat is nie net gewild as tafeldruiwe nie, maar is ook die basis van baie gewilde wyne.

In Suid-Afrika is muskadel een van die gewildste soetwyne. Dit is ook hier bekend as Hanepoot. Die hanepoot verwys na die vorm van die blaar wat soos ’n haan se poot lyk.
Die Italiaanse vonkelwyn Asti word van Muscat gemaak, in Australië maak hulle Liqueur Muscat en dan is daardie bekende Muscat d’Aleandrie wat in beide Frankryk en Spanje gewild is.


5/26/2014

Pesto

Sowaar, so baie resepte en nog nie een vir basiese pesto nie. Hier is dit dan:

30 g dennepitte
’n hand vol basilieblare
2 knoffelhuisies, skoongemaak natuurlik
90 mℓ olyfolie
die sap van ¼ suurlemoen
30 g gerasperde parmesaan
sout na smaak

Rooster die dennepitte baie liggies in ’n pan.
Plaas nou al die bestanddele, behalwe die parmesaan, in ’n voedselverwerker en maak fyn soos jy verkies.
Roer die parmesaan by en proe vir sout.

5/25/2014

Kaas en roosterbrood

Cheshire kaas werk baie lekker in hierdie resep, maar ’n ou cheddar sal ook werk. Rasper die kaas en meng dit dan met ’n eiergeel, ’n bietjie broodkrummels, droë mosterd en sout en peper.

Smeer snye brood lekker dik met botter en bedek dit met die mengsel. Plaas dit dan onder ’n oondrooster tot lekker bruin.

5/24/2014

Poulette-sous

Poulette-sous is ’n fantastiese sous om te gebruik saam met vis of hoender.

Smelt 15 mℓ botter in ’n pan en braai 6 fyngekapte sampioene daarin tot dit begin verbruin.
Voeg 2 fyngekapte salotte by en roer 120 mℓ room by. Kook die mengsel stadig tot dit omtrent met die helfte verminder het.
Roer nou 240 mℓ witsous by. Bring tot kookpunt en roer 2 eiergele by wat jy liggies geklop het saam met ’n skeut room.
Bring dit weer tot kookpunt, maar roer aanhoudend. Moet nie dat dit kook vir ’n tyd nie. Roer die sap van ½ suurlemoen by en 5 mℓ fyngekapte pietersielie.



(foto Harlen Harris)

5/23/2014

Tannie Poppie se boerewors en eier ontbyt

8 groot tamaties, grofgekap en stingels verwyder
olyfolie vir die groente en om te braai
Six gun grill spice, na smaak
1 ui, fyngekap
10 ml suiker
swartpeper, na smaak
1 pakkie Ouma se boerewors
6 eiers

Sit die tamaties in 'n oondbak, sprinkel met 'n bietjie olyfolie en growwe sout.
Laat dit rooster vir 30 minute, of totdat die kante lekker verbruin is.

Verhit die olie in 'n pot en laat die uie braai tot dit sag en deurskynend is.
Voeg die geroosterde tamaties en suiker by en geur na smaak met Six Gun Grill spice.
Laat die sous oor 'n stadige hitte prut vir ongeveer 15 tot 20 minute.

Braai die boerewors in 'n warm pan totdat dit gaar is.
Plaas die stukkies boerewors in die tamatiesous.
Breek nou versigtig die eiers op verskillende plekke in die pot met die sous.
Laat dit stadig prut, met die deksel op, totdat die eiers gaar is na jou smaak.

Bedien met vars pietersielie en stukke vars brood.

5/22/2014

Rys in ’n vorm

Mens kan rys in verskeie vorms bedien. Die bekendste is seker die gebruik van ’n koppie. Die gaar rys word eenvoudig vasgedruk in ’n koppie en dan uitgedop op ’n bord.

Nog ’n idee is om iets in die rys weg te steek. Ek gebruik byvoorbeeld skywe gaar eier wanneer ek kerrie of iets soortgelyk bedien. Jy vul jou vorm halfpad met rys, druk vas, plaas jou skyf eier op die rys, vul verder met rys en druk vas.

Wanneer ek ’n groot bak rys voorsit doen ek dieselfde, dan gebruik ek stukkies groente en kruie wat ek vooraf met die rys meng daarom meer kleurvol te maak.



(foto Janne Moren)

5/21/2014

Pangebraaide sampioene

Klein sampioene werk die beste vir hierdie resep. Die ou grotes moet mens maar kleiner sny.

Braai die sampioene in ’n lekker groot knoets botter. Daar moet so een of twee takkies tiemie in die pan wees terwyl jy dit braai.
Geur dit met ’n goeie sout en ’n klein bietjie varsgemaalde swartpeper.

Dis heerlik saam met amper enige maaltyd, van ontbyt tot aandete.

5/20/2014

Gemarineerde beesfilet sosaties

Vir die marinade meng jy:
200 mℓ olyfolie
sout en peper
varsgekapte kruie waarvan jy hou

Sny 500 g beesfilet in blokkies van ongeveer 3 cm. Ons gebruik ook repe gerookte varkspek vir die sosaties – sowat 200 g. Plaas al die vleis in die marinade en laat dit staan vir ten miste 30 minute.

Intussen ontpit jy ’n groen soetrissie en sny dit in groot blokke vir die sosaties. Sny ook groot knopiesampioene se stele gelyk met die kop af. Drup suurlemoensap oor die sampioene en braai die soetrissie en sampioene in olie tot die soetrissie begin sag raak.



Jy benodig ook klein wit uitjies en klein tamaties vir die sosaties.

Ryg die sosaties soos volg in: 1 ui, 1 tamatie, 1 sampioen, 1 stuk soetrissie, 1 stuk spek, 1 stuk filet en eindig weer met ’n ui.

Plaas die sosaties onder die oondrooster van ’n baie warm oond vir sowat 8 minute, of jy kan die sosaties braai volgens jou voorkeur.

(foto Alessandro Ricciardi)

5/19/2014

Gekookte rys

Daar is verskeie manier om rys te kook. Indien jy sukkel om die proses onder die knie te kry, kan jy dié metode probeer: 55 g is omtrent die regte hoeveelheid rys per persoon.

Wat water betref kan jy werk om 3,1 liter per 225 g rys. Gooi sout en ’n suurlemoenskyfie by die water vir geur. Wanneer dit begin kook roer jy dit met ’n vurk om sodat die rys nie vassit aan die bodem nie. Kook die rys vir 12 minute.

Wanneer die kooktyd om is gooi jy die rys deur ’n vergiettes. Spoel die rys in die vergiettes vinnig af met warm water. Dit verwyder enige oorblywende stysel. Laat die rys nou staan om te dreineer. Steek ’n paar gate daarin met ’n houtlepel om die dreinering te bespoedig.

Keer die rys nou uit in ’n bak en laat dit op ’n warm plek staan om uit te droog. Keer dit af en toe om met ’n vurk.

Om die rys te verhit voor opdiening plaas jy dit in ’n vlak oondbak wat jy met botter gesmeer het. Plaas bottergesmeerde bakpapier bo-oor. Verwarm dit by 180°C vir 30 minute.

5/18/2014

Tongvisfilette met Mornay-sous

900 g tongvis, gefileer met die vel af
sout
1 klein ui, in skywe gesny
6 peperkorrels
1 lourierblaar
100 mℓ water

Plaas die filette in ’n oondbak met die lourierblaar.
Strooi sout, die peperkorrels, die ui oor. Gooi die water by.
Bedek die vis met bottergesmeerde bakpapier en bak 12 minute in ’n 180°C-oond.

Berei die Mornaysous volgens dié resep >>

Bedek die vis met die sous en strooi nog Gruyere oor.
Plaas dit onder die oondrooster tot dit begin verbruin.
Bedien dadelik.

5/17/2014

Gevulde kool / Chou farci

Om hierdie kool te maak het jy ’n ferm wit kool nodig wat gemaklik in jou swaarboompot sal pas. Jy het ook ’n net nodig waarin jy die kool kan braai.

1 kool
500 g strepiespek
5 mℓ fyngekapte ui
125 g sampioene, in dun skywe gesny
5 mℓ vars gekapte pietersielie
125 mℓ broodkrummels
1 eier, geklits
6 klein uitjies, geskil
3 wortels, fyngekap
’n takkie tiemie of 5 mℓ gedroogde tiemie

Plaas die kool net so heel in ’n pot kookwater en kook vir 10 minute.

Dreineer die kool. Terwyl die kool dreineer begin jy met die vulsel.
Knip 250 g van die spek in klein blokkies. Braai die blokkies saam met die 5 mℓ ui vir 2 minute in ’n pan.
Voeg nou die sampioene en pietersielie by en braai vir ’n verdere 3 minute.
Voeg die broodkrummels by, verwyder die pan van die hitte en roer die eier by.
Maak nou die blare van die kool versigtig oop, sonder daarom af te breek. Vul die spasie tussen die blare met die gebraaide mengsel.
Maak die blare toe en plaas die kool in ’n net om alles bymekaar te hou.

’n Alternatief is om die hart van die kool te verwyder, die mengsel in ’n bal te vorm en die hart daarmee te vervang. Dan kan dit sommer met ’n tou vasgebind word. Vir ’n happie kan jy bietjies van die mengsel toedraai in individuele koolblare.

Neem jou swaarboompot en pak die res van die spek op die bodem.
Strooi die klein uitjies, wortel en tiemie oor die spek.
Plaas die kool bo-op, bedek en braai dit so oor lae hitte vir 1½ uur.


5/16/2014

Gestoofde ertjies

Kook ertjies op die normale manier.

Plaas die gekookte ertjies in 'n kastrol saam met 'n handvol fyngekapte pietersielie, 'n fyngekapte ui, sout en peper, en 30 g botter.
Plaas die deksel op en laat dit stadig smoor, maar maak seker dat dit nie aanbrand nie.

5/15/2014

Innibos kos-crawl

By Innibos se splinternuwe kos-crawl gaan daar rondom kos, kokkedore en kunstenaars gekuier word.

Die Mbombela-stadion - waar die kameelperde die stad uit die hoogte bespied - is die plek waar daar na uithaler demonstrasies gekyk, smullekker geregte geproe en na wonderlike klanke geluister gaan word.

Daar word by verskillende plekke in en om die stadion aangedoen en so kry feesgangers die kans om Nelspruit se spogstadion van nader te verken.

Kevin Leo is die eerste wat sy kookvernuf ten toon stel. Hy het nie net bekendheid verwerf met sy ongelooflike sang nie, maar is ook ’n bekende in ’n verskeidenheid film- en televisierolle. Nou het Kevin besluit om sy gewig agter een van sy ander passies te gooi – kos! Hy is ’n bobaas sjef met ’n voorliefde vir onthaal, en bied die singende sjef aan waar hy sing terwyl hy heerlike kos berei. Vermaak uit die boonste rakke.

Dan gaan die vorige wen-kokkedore Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert van KykNET se werklikheidsreeks en Makietie-aanbieders wys waarom hulle as top-sjefs beskou word. Hulle gaan die nederigste tamaties omtower in heerlike geregte: van tamatiesous tot tamatiekonfyt, van tamatiedrankies tot gerookte tamaties. Hulle gaan ook wys hoe bottels opgetower word om as geskenke gebruik te word.

By die volgende aandoenplek gaan feesgangers Sarel van Sabie en Sarah Theron wys dat kos en musiek vir ’n heerlike saamkuier-geleentheid kan sorg. Sarel gaan demonstreer hoe skaapboud met verskillende soetrissies gevul kan word terwyl Sarah Theron haar treffers soos "Skil die tamaties", "My Ouma Sêra" en "Briefie aan Madiba" gaan sing.

Dan beweeg die feesgangers na die stadion se ouditorium waar die produksie Voorskoot en lipstiek hierdie genotvolle kosreis voortsit. Kokkedoor–deelnemer Marinda Engelbrecht en Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, is koskenners en liefhebbers in hulle eie reg. Dit is net twee van die bestanddele wat hierdie teater-produksie uniek maak. Voeg nog Marion Holm se teks en regie saam in die pot en jy het ’n vuurwarm produksie wat kook. Hierdie is ’n volwaardige produksie met ’n weldeurdagte storielyn - beslis nie net ’n kosdemonstrasie nie. Al die sintuie word geprikkel: jy sien, ruik, hoor en ervaar hoe die liefde vir kos mense saambring – ’n sakkie-SPEKKO rys aan die einde van die produksie sal sorg dat jy ook die vreugde van kos huis toe kan neem. ’n Skerm gaan verseker dat die gehoor tot binne die pot sal kan sien sodat die ervaring van teater en kos een kan word.

Die kykNET koscrawl word afgesluit met ’n reuse verrassing. Kom ontmoet die Kokkedoor 2 se wenners! Dit is hulle heel eerste publieke verskyning aangesien die wenners eers op 3 Julie aangekondig word. Kom geniet een van hulle spesiale soet verleidings saam met ’n heerlike koppie gourmet koffie.

Let daarop dat hierdie nie ’n ete insluit nie en dat feesgangers net ’n peuselhappie kry van al die demonstrasies.

Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.

Met: Kevin Leo, Kokkedore Tiaan en Mynhardt, Sarel van Sabie, Marinda Engelbrecht en Herman Lensing
Datum en tyd: Vr 4 Julie om 10:00, 14:00 en 18:00
Plek: Mbombela Stadion, Nelspruit
Tydsduur: 240 minute (4 ure)
Ouderdomsbeperking: Volwassenes
Kaartjieprys: R 202

innibos 2014

5/13/2014

Melkbrood / Milk Bread

1 kg broodmeel
15 mℓ botter
2 eiers
1 pakkie droë gis
15 mℓ suiker
sout
melk

Sif die meel en sout saam en voeg die suiker by.
Vryf die botter in.
Meng die gis met ’n bietjie lou melk en voeg dit saam met die eiers by.
Gebruik nog melk om dit te meng tot dit ’n slap deeg vorm.

Knie die deeg goed en laat dit ’n rukkie staan om te rys.

Smeer broodpanne of voer dit uit met bakpapier, plaas die deeg daarin en laat staan om nog te rys.

Smeer melk oor die deeg en bak in ’n taamlike warm oond tot die brood ligbruin is.


5/12/2014

Wacky @ Klipdrift

By vanjaar se Wacky Wine Weekend vanaf 5 tot 8 Junie kan jy elke 45 minute by Klipdrift van hulle brandewyne proe saam met ietsie gepas en soets.

Jy kry ook by die fees die geleentheid om die skaars Legend Brandy aan te skaf en die nuwe Klipdrift Black Gold, met koffie en sjokolade aromas, probeer.

Dan is daardie Klipdrift Burger. Die hamburger word gemaak van suiwer beesvleis, spek, en uie wat gemarineer is in Klipdrift en Cola.

Daar is ook meeste van die tyd ’n band in Klip-Inni-Bos: die Klipdrift kroeg met Klipdrift cocktails en eetgoed.

Skakel 023 626 3027 / 082 337 9649 vir besonderhede.

5/09/2014

Wacky @ Graham Beck

Die Wacky Wine Weekend vind van 5 tot 8 Junie 2014 oudergewoonte plaas in Robertson. Een van dié plekke tydens vanjaar se fees is beslis Graham Beck Wyne.

Eerstens natuurlik vir hulle bekroonde reeks wyne, veral die Cap Classique vonkelwyn, maar ook vir die voorreg om Graham Beck se privaat kunsversameling te bewonder terwyl jy wyn proe.

Vir diegene wat hul wynkennis wil verbreed is daar Meesterklasse in wynproe onder leiding van die wynmaker. Die klasse sluit ook mini-canapés in.

Vir vermaak het die plaas Arno Carstens en aKing gekombineer met die opdrag vir ’n akoestiese tour de force op 7 Junie. Daar sal ’n verskeidenheid wyn en voedsel te koop wees tydens hulle konsert.

Skakel 072 108 1251 vir meer besonderhede of stuur 'n e-pos aan marguerite@grahambeckwines.co.za

5/08/2014

Tarentaal

Die resep is vir ’n tarentaal van so 1 kg.

sout
varsgemaalde swartpeper
60 mℓ olie
2 wortels, fyngekap
2 stokke seldery, fyngekap
’n hand vol pietersielie, fyngekap
2 takke roosmaryn – gebruik net die blaartjies
100 g botter
200 mℓ droë witwyn

Die tarentaal moet aan die binne- en buitekant goed ingesmeer word met sout en peper. Plaas dit dan in ’n roosterpan en drup die olie oor. Braai dit in ’n 180°C-oond vir 1 uur. Draai die voël nou en dan en bedruip dit met die sous wat in die bak vorm.

Intussen braai jy die groente en kruie in die botter tot sag.
Voeg nou die wyn en ’n bietjie water by en prut dit tot die vloeistof effens afgekook het. Dit sous moet nie te dun wees nie.

Wanneer die tarentaal uit die oond kom knip jy dit in stukke en benat die stukke met die sous. Jy kan dit bedien saam met aartappelskyfies, gebraaide sampioene en kraakvars brood of groente.

5/07/2014

Vinho verde

Die Portugese wyn vertaal is “groen wyn”. Die wyn word “groen” genoem omdat dit jonk gedrink word.

Die klassieke Portugese wit vinho verde is ’n droë, verfrissende wyn. Die rooi is perfek vir braaivleis.

5/06/2014

Geroosterde knoffel

Hier is ’n aanbevole manier om ’n knol knoffel te rooster:

Bedruip die knoffel met olyfolie en maak dit toe in foelie.
Plaas dit in ’n 180°C-oond vir 1 uur.

Wanneer jy die knoffel uit die oond gehaal het en die foelie verwyder het, moet jy dit laat staan vir 10 minute.

Sny die bokant van die knol af om by die knoffel uit te kom. Jy kan dit met ’n eetlepel verwyder, of sommer uitdruk.



(foto Marisa McClellan)

5/05/2014

Uit die spens - Hawermout

Hawermout kan as pap geëet word, dit kan gebruik word in koekies en jy kan dit by sop roer om dit te verdik.


Loer in die spens ...

5/04/2014

Kaas en eier pakkie

Hierdie is ’n eenvoudige resep wat jy op ’n kreatiewe manier voorsit – veral vir ontbyt.

90 g gerasperde cheddar
200 mℓ broodkrummels
2 eiers plus 2 eiergele, geklits
250 mℓ room

Klits alles saam en kry ’n bak wat jy in die oond kan gebruik waarin die mengsel gemaklik sal pas. Maak ’n houer uit bakpapier wat jy in die oondbak plaas. Gebruik jou verbeelding en vou enige vorm. Gooi die mengsel in die papiervorm en bak by 180°C vir 30 minute.

Sit dit voor in die papier waarin jy dit gebak het.

5/03/2014

Soubise sous

Sny ’n ui in skywe en dompel dit in kookwater vir 5 minute.

Verwyder en dreineer die ui en braai dit in ’n bietjie botter tot bruin. Die uie moet nie verbruin nie.

Voeg 500 mℓ witsous by en kook vir 15 minute.

Gooi die sous deur ’n fyn sif. Druk die uie fyn in die sif, om seker te maak jy kry die maksimum sap daaruit.

Verhit die sous en roer 250 mℓ room by. Proe vir sout en peper en bedien.

Die sous word bedien saam met vis, lam en kalfsvleis.

5/02/2014

Tannie Poppie maak boerewors sop met rissie

1 pakkie Ouma se boerewors
olyfolie vir braai
1 ui, grofgekap
3 knoffelhuisies, fyngemaak
3 selderystokkies, gesny
4 wortels, in ringe gesny
3 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
2 rape, geskil en in blokkies gesny
1 rooi soetrissie, pitte verwyder en grofgekap
2 lourierblare
1 rooi rissie, sny in die helfte, maar nie heeltemal deur nie
1 liter biefaftreksel
sout en peper na smaak
Taco skyfies
gerasperde cheddar

Sny die rou wors in klein ringe.
Verhit 'n groot pot en braai die stukkies wors, tot dit gaar is.

Voeg die uie, knoffel en seldery by.
Braai dit stadig tot sag, maar nie bruin nie.

Voeg die wortels, aartappels, rape, soetrissie, lourierblaar en die oopgesnyde rissie by.
Voeg die biefaftreksel by.
Verhit tot kookpunt en laat dit stadig prut vir 30 minute of tot die groente sag is.

Proe en geur met sout en pepper.
Verwyder die lourierblaar en rissie.
Breek Taco skyfies en strooi dit oor elke individuele sop. Strooi die kaas oor.
Bedien met vars wit broodrolletjies.

5/01/2014

Geelrys / Yellow Rice

Hierdie resep is vir ’n geurige delikate geelrys wat in klappermelk gekook word. Indien jy soek vir ’n resep vir geelrys met rosyntjies, probeer die twee:

Geelrys met rosyntjies
Geurige geelrys met rosyntjies

750 mℓ rys
60 mℓ botter
2 uie, fyngekap
6 naeltjies
20 swart peperkorrels
12 kardemomsade, gekneus
7,5 mℓ borrie
17,5 mℓ sout
12 kerrieblare
1 stingel suurlemoengras
1 vanielje peul
1,25 liter klappermelk

Smelt die botter in jou ryspot en braai die uie tot dit goudbruin begin verkleur.

Voeg die peperkorrels, kardemom, borrie, sout, kerrieblare, suurlemoengras en vanielje by.
Gooi die rys by en braai vir 3 minute terwyl jy aanhoudend roer.

Gooi die klappermelk in en bring tot kookpunt.
Stel die hitte so laag moontlik, plaas die deksel op en kook vir 25 minute – sonder om die deksel op te lig.

Wanneer die rys gaar is, sal meeste van die heel speserye bo-op lê. Verwyder die speserye wat jy kan sien en bedien warm.

Hierdie rys is heerlik saam met kerrie of vark. Vir garnering kan jy vars koljander gebruik.

Die resep bedien 6 tot 8 persone.