Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/28/2008

Bagel


Dit is nie net in New York waar hulle van bagels hou nie. Hierdie Joodse broodrolletjies is ook gewild onder Suid-Afrikaners.

Vir 12 bagels het jy nodig:

60 ml sonneblomolie
30 ml suiker
2 ml sout
250 ml warm water
7 ml droë gis
1 eier, geklits
450 g meel

Meng die olie, suiker en sout met die warm water.
Roer die gis by en laat staan die mengsel vir 10 minute, tot dit begin skuim.
Klits die eier by.
Sif die meel en roer die gismengsel by.
Knie goed vir 15 minute tot die deeg mooi glad is.
Bedek en laat rys tot die deeg verdubbel het, omtrent 2 ure.
Knie die deeg weer tot dit mooi glad en elasties is.
Verdeel die deeg in 12 gelyke dele.
Rol elke deel uit in die vorm van 'n dik stuk wors.
Maak 'n ring met die wors, benat die punte en knyp dit aanmekaar.
Bedek jou ringe en laat dit rys vir 10 minute.
Kook 'n groot pot water.
Plaas jou ringe in die kookwater, een op 'n slag. Haal dit uit met 'n gaaitjieslepel indien dit na bo kom.
Nou plaas jy jou ringe op 'n geoliede bakplaat en bak vir 20 minute teen 200°C.
Eet jou bagel soos in New York, dik gesmeer met roomkaas en groot stukke gerookte salm.

8/27/2008

Brie-koek / Brie Cake

'n brie kaas, horisontaal deurgesny
'n houertjie roomkaas
amandelvlokkies, gerooster
jou gunsteling konfyt

Plak die twee helftes van die kaas weer met die konfyt vas. Smeer die maaskaas bo-oor en besprinkel met die amandelvlokkies.

Bedien met brood of beskuitjies.

Aarbei-daiquiry / Strawberry Daiquiry

Verpulp die volgende bestandele in 'n voedselverwerker:

90 ml suurlemoensap
30 ml suiker
30 ml Cointreau
375 ml wit rum
375 ml aarbeie
6 ysblokkies

Die perfekte partytjie

10 Stappe vir die perfekte cocktail party die somer:

1. Dis oggend en jy skuif die meubels reg. Waar gaan die kos staan? Waar gaan die drank staan?

2. Maak skoon die badkamers en sit die blomme reg.

3. Pak uit die botteloopmaker, asblik vir die drank, ysbak (het jy genoeg ys?), glase vir die verskeidenheid drank, 'n skudfles, roerstokkies, sambreeltjies en lappies.

4. Pak die drank, koeldrank, sodawater en sap uit.

5. Sny jou lemmetjies en suurlemoen. Het jy suiker nodig?

6. Kry die speellys vir jou musiek reg.

7. Berei jou happies voor.

8. Dis twee ure voor die tyd en jy is aangetrek en reg. Skakel die oond aan.

9. Voltooi die happies wat nie gister/vanoggend klaargemaak is nie of op aanwysing van jou spysenier en pak dit uit op borde.

10. Kry iets om te drink.

Gekrummelde sampioene / Crumbed Mushrooms

Neem vars sampioene. Doop in geklitste eier en dan in broodkrummels. Die krummels kan jy met sout en peper meng of ander speserye na jou smaak is. Plaas in 'n gesmeerde bak en bak in 'n warm oond vir ± 5 minute.

resep: Petro van der Westhuizen

Tarte Tatin / La tarte des Demoiselles Tatin

Jou ouma sou dit dalk 'n onderstebo tert genoem het. Tarte Tatin is vernoem na die Tatin susters. Die twee het 'n klein hotelletjie bedryf op 'n klein dorpie in Frankryk. Hulle was bekend vir die heerlike onderstebo tert wat hulle gemaak het, oorspronklik la tarte des Demoiselles Tatin.

200 g koekmeel
1 ml fyn neutmuskaat
1 ml gemaalde koljander
1 ml gemaalde gemmer
15 ml strooisuiker
100 g koue botter, in blokkies gesny
1 eiergeel
45 ml yskoue water

Vir die vulsel gaan jy die bestanddele nodig kry:
175 g ongesoute botter
400 g strooisuiker
2 kg geskilde en ontpitte perskes, in kwarte gesny

Meng die meel, speserye en 15 ml strooisuiker.
Vryf die botter by tot die mengsel lyk soos broodkrummels.
Voeg die eier by en meng tot jy 'n deeg het. Knie vir een minuut. Bedek met plastiek en hou in die yskas vir 30 minute.

Smelt die ongesoute botter in 'n pan en sprinkel die 400 g strooisuiker daarin.
Plaas die perskes in die pan met die gesnyde kante na bo. Laat stadig kook vir 15 minute.
Verwyder die pan van die hitte en laat vir ten minste vyf minute afkoel.

Rol jou deeg rond uit tot dit ten minste bietjie groter is as die pan. Plaas dit bo-op die perskes.
Plaas in 'n 220ºC oond en bak vir sowat 35 minute.
Verwyder en laat afkoel vir ten minste 10 minute.
Dop om in 'n bord.

Bedien die tert met room of roomys.

Tagliatelle met tamatie, rissie en crème fraiche / Tagliatelle with Tomato, Chili and Crème Fraiche

500 g tagliatelle
1 houertjie crème fraiche
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
2 rissies, opgesny
'n handvol basielkruid
200 g songedroogde tamaties in olie

Kook die pasta volgens die aanwysings.
Dreineer en roer die crème fraiche, rissie en knoffel by.crème fraiche Voeg nou die tamaties en basiel by.
Geur met varsgemaalde swartpeper en bedien.

Linguine met suurlemoen en safraan / Linguine with Lemon and Safron

500 g linguine
skil van 1 suurlemoen, gerasper
sap van 1 suurlemoen
knypie safraan
250 ml warm groenteaftreksel
250 ml room
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
varsgemaalde swartpeper en sout

Dompel die suurlemoenskil vinnig in kookwater. Week dit nou saam met die safraan in die aftreksel.
Verhit die room en knoffel saam en kook af.
Kook die pasta volgens aanwysings, dreineer en gooi saam met al die ander bestanddele terug in die kastrol.
Skep die pasta hieruit op.
Bedien met pietersielie, parmesan en ekstra swartpeper.

Sampioene

So versot was die koninklikes van antieke Egipte op hierdie kampioen swam dat die man op straat nie toegelaat is om daaraan te raak nie. Sampioene tel moontlik vandag nog onder ons gunsteling groente, maar eintlik is dit 'n swam wat dooie plante eet om aan die lewe te bly.

En gaan kies maar eerder jou sampioene by die plaaslike supermark. Net kundiges kan 'n sampioen in die veld pluk. 'n Verkeerde keuse kan jou met jou lewe laat boet.

Hoe kies jy 'n sampioen in die supermark? Dit moet ferm wees en moet verkieslik net een kleur wees.

Die wit knopiesampioen is die volopste en soms die enigste sampioen by plaaslike winkels. Hulle het 'n ligte houtagtige smaak en is veral geskik vir slaaie.

Portabellini sampioene is omtrent so groot soos die knopiesampioen, net bruiner van kleur. Die geur is intenser as die van die knopiesampioen.

Portabello sampioene is 'n gunsteling onder die braaiers. Dit is die naam vir die volwasse portabellini. Ander name is die portabella, bruinsampioen of swartsampioen. Hulle is groot en geurig met baie vleis.

Die Crimini is soortgelyk aan die knopiesampioen, maar is donkerder van kleur en het 'n ryk smaak. Dit is veral geskik vir gebruik saam met vleis en souse.

Oestersampioene is die beste van die supermarkreeks. Hulle het 'n delikate geur en kan rou geëet word, net liggies gebraai word of gebruik word in sop, risotto en pasta. Dit is 'n goeie sampioen om te gebruik saam met vleisdisse.

Shimeji het 'n neutagtige smaak en gaan veral saam met roerbraai, Thaise disse of net so met rissie of knoffel. Gebruik hulle ook saam met vis of hoender.

Porcini het 'n sterk geur. 'n Gereg met room en sampioene vra vir hierdie soort. Braai dit in botter of gebruik in sop, bredies, pasta, souse en risotto.


Enoki het net 'n paar sekondes nodig in die pan. Hulle delikate voorkoms gee enige dis 'n ekstra dimensie. Hulle is ook geskik vir sop.

Eringii het baie vleis en is veral geskik vir hoendergeregte.

Shitake het 'n sponserige tekstuur en 'n rokerige geur. Dit is nommerpas by tuna, in sop, in roerbraai of net so in skywe in Teriyake-sous met gemmer, knoffel en rissie.

Onthou tog dat jy nooit 'n sampioen was nie. Die voedingswaarde, wat meesal in die skil sit, word daardeur geaffekteer. Vee dit af met 'n klam lap.

Geroosterde tamatiesop / Roasted Tomato Soup

2 kg tamaties
200 ml olyfolie
8 knoffelhuisies, gekneus
4 lourierblare
4 takkies tiemie
4 takkies roosmaryn
4 uie, fyn gekap
4 selderystingels, fyn gekap
1 vinkelbol, fyn gekap
10 ml tamatiepasta
1 rissie, ontpit
10 ml suiker
sap van een suurlemoen

Halveer die tamaties en plaas dit met die snykant na bo onder die oond se roosterelement. Rooster tot dit sag is en begin verkleur.
Verhit die olyfolie saam met die knoffel en al die kruie.
Voeg die groente by en soteer tot die groente sag is.
Plaas die groente in 'n oondpan en bak teen 190ºC vir 30 minute lank.
Gooi nou alles in 'n voedselverwerker en verwerk tot 'n puree.
Gooi terug in 'n kastrol, verhit, geur en gooi water by indien dit te dik is na jou smaak.

(bedien 6)

Nog stories oor kos

Frik Lombard

Hier volg nog so ´n paar kos stories.

So ´n ruk gelede was ek en my vrou by ´n buffet ete gewees. So in die ry gestaan met ons borde en gesels met vriende van ons wat voor ons gestaan het. Soos dit maar gaan het ek rys ingeskep met bitter min groente en net gewag tot ek by die vleis kan kom.

Net voor die vleis is daar ´n bak met sous in. Ons vriende skep toe van die heerlike sous waarin stukkies groente dryf oor hulle rys. Nadat hulle vleis gekry het staan die Chef daar en skud sy kop. Hy sê toe mense darem kyk daardie man het van my sop oor sy rys geskep. Nou nog as ons die vriende sien praat ons oor die sop oor die rys episode tot hulle ontsteltenis.

In elke dorp is daar maar mos ´n deel waar die sout van die aarde woon. Baie goeie mense maar die vernis is maar dun opgeverf. Op so ´n troue hoor ek dat die bruid se ouers heerlike soetkoekies gebak het. Deel van die resep op een of ander manier was dagga gewees. Of dit nou fyngemaak was en in die deeg gegooi is en of hulle dit getrek het en die water gebruik het om die deeg aan te maak weet ek nie. Maar ek hoor die troue was ´n sukses gewees want almal was blykbaar vrolik gewees.

Nog ´n oulike storie met ´n les is die volgende. ´n Pasgetroude vrou wil die Sondag haar man beïndruk en haal ´n heerlike stuk beesvleis uit en braai dit in die pot. Voor sy die vleis in die pot sit om te braai sny sy egter ´n stuk van die vleis af. Haar man hou haar dop en vra aan haar hoekom sy dit doen. Haar antwoord was ek weet nie ek het altyd gesien my Ma doen dit.

Die eerste geleentheid wat sy kry vra sy haar Ma hoekom sny sy elke keer ´n stuk vleis af voordat sy die vleis in die pot braai. Haar Ma se antwoord was sy het dit by haar Ma gesien. So kom die Ma by haar Ma aan en vra haar Ma hoekom het sy altyd ´n stuk vleis afgesny voor sy die vleis gebraai het. Die Ma se antwoord was dood eenvoudig omdat my pot te klein was en die vleis nie daarin gepas het nie.

Die les daaruit is ons moet nie net alles aanvaar nie maar vrae vra oor hoekom dinge op die manier gedoen word waarop dit gedoen word.

Partykeer dink ek dat ons ons kinders faal met sekere dinge. So ´n ruk gelede stop ek by ´n kafee om vir ons koeldrank te koop. My seun vra my wat wil ek drink. Ek se aan hom lemonade. Hy kom terug met Coke. ´n Paar keer het dit gebeur. Eendag gaan koop hy weer koeldrank en kom terug met Sprite. Hy se toe aan my Pa die Coke was warm gewees toe koop ek maar vir jou ´n Sprite. Toe ek vir hom sê dat Sprite eintlik Lemonade is het hy lekker gelag.

Kos is en bly interessant. As julle enige kos stories of staaltjies het om met my te deel stuur dit asb gerus aan.

8/26/2008

Salmpasta / Salmon Pasta

500 g van jou gunsteling pasta gaargemaak volgens die aanwysings op die verpakking
20 ml olyfolie
120 g gerookte salm
250 ml room
50 ml tamatiepasta

Braai die salm liggies in die olyfolie.
Gooi die room en tamatiepasta by en kook tot die sous dik is. Roer aanhoudend.
Gooi die gedreineerde pasta terug in die kastrol en gooi die sous by en meng.

(bedien 6)

Tamatie- en rissie-risotto / Tomato and Chili Risotto

1 blik gekapte tamaties
2 rissies, pitte verwyder en gekap
500 ml groenteaftreksel
250 ml rooiwyn
45 ml olyfolie
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, gekap
400 g Arborio
varsgemaalde swartpeper
'n handvol parmesan

Braai die ui en knoffel in olyfolie tot glanserig en voeg dan die rys by en braai tot dit rys deurskynend begin raak.
Meng die tamaties, rissies, groenteaftreksel en rooiwyn saam oor lae hitte. Voeg die mengsel lepel vir lepel by die rys. Geur met die peper.
Draai die hitte af, gooi die parmesaan by en laat 5 minute staan voor opdiening.

(bedien 6)

Rooibos-salm / Rooibos Salmon

± 1 kg salm, in filette gesny
250 ml rooibos, gemaak met 2 sakkies en vir 10 minute laat trek
125 ml sojasous
125 ml ryswynasyn
1 eetlepel gemmer, gekap
1 knoffelhuisie, fyn opgekap
2 rissies, die pitte verwyder en fyn opgekap
2 eetlepels bruinsuiker
10 ml olyfolie

Braai die rissie en knoffel in die olyfolie vir 2 minute in 'n pot.
Gooi die sojasous, tee, asyn, suiker en gemmer by en kook vir 10 minute tot dit 'n stroop vorm. laat afkoel.
Marineer die vis in die stroop vir 10 minute.
Plaas die vis op 'n gesmeerde oondpan en gooi die stroop oor.
Bak vir 10 minute teen 200ºC.

(bedien 4)

Marokkaanse eiers / Shakshouka / Chakchouka

Daar word soms na hierdie gereg verwys as Marokkaanse eiers, maar die gereg het moontlik verder oos ontstaan, in Tunisië.

4 eiers
500 g tamaties, geskil en pitte verwyder
60 ml olyfolie
4 sprietuie, gekap
4 knoffelhuisies, fyn gekap
5 ml komynsaad
varsgemaalde swartpeper en sout
handvol pietersielie, gekap

Braai die uie, knoffel en komyn in die olyfolie tot dit begin verkleur. Roer die tamaties by en geur. Prut vir 10 minute.
Breek die eiers oop in die sous. Laat prut tot dit gaar is.
Strooi die pietersielie oor voor opdiening.

Bedien op brood.

(bedien 4 persone)

Focaccia

’n Focaccia is ’n plat Italiaanse brood, amper soos ’n pizza.

250 ml meel
2 g gis
2 ml sout
1 ml suiker
100 ml water
30 ml olyfolie
1 knoffelhuisie, fyn opgekap
1 takkie roosmaryn
sout en peper

Gooi die meel, sout en suiker in 'n groot mengbak. Strooi die gis oor en voeg 10 ml olyfolie en 50 ml water by. Meng met die terwyl jy deurentyd nog water bygooi. Knie tot dit 'n sagte ferm deeg is.
Bedek die bak met kleefplastiek en laat rys tot dit verdubbel het.
Meng die res van die olyfolie, knoffel en roosmaryn in 'n bakkie.
Rol die deeg uit en plaas op 'n bakplaat. Vryf die olyfolie mengsel oor. Geur met sout en peper.
Bak vir 20 minute by 260ºC tot ligbruin.

Salm



Suid-Afrikaners eet glo by die dag meer salm en met 'n beoogde salmplaas naby Gansbaai is dit hoog tyd ons haal 'n vis uit die water en bekyk dit van nader.

Salm is grootendeels seevis, maar gaan altyd terug na 'n rivier om voort te plant, 90% van die tyd na die een waarin hulle uitgebroei het.

Die salm wat ons in supermarkte koop is waarskynlik wild indien dit vanaf Kanada of Alaska afkomstig is, maar Noorweegse en Britse salm is 99% van die tyd afkomstig van salmplase. Selfs sommige van die "Noorweegse" salm is van Britse afkoms aangesien dit geteel word op plase aan die Britse kus wat behoort aan Noorweegse maatskappye. Die salm by Gansbaai sal ook heel moontlik as Noorweegse salm bemark word aangesien dit aan 'n Noorweegse maatskappy behoort.

Kyk vir 'n natuurlike pienk kleur wanneer jy salm koop. Die vis se pienk kleur is te wyte aan die feit dat hulle hoofsaaklik van skulpvis leef. 'n Vleis wat egter helder pienk is kan 'n aanduiding wees dat die vis sintetiese kleurstowwe gevoer is op 'n plaas. Die wit strepies vet tussen die spiere moet so klein as moontlik wees en die spiere so groot as moontlik. Te groot vetstrepe kan dui op ongesonde salm afkomstig van 'n plaas en klein spiere kan daarop dui dat die vis nie genoeg ruimte gehad het om behoorlik te swem en te ontwikkel nie.

Dit word algemeen aanvaar dat die vis een van die gesondste voedselbronne is. Dit is ryk aan omega-3 vetsure en is 'n goeie bron van proteïene. Geblikte salm is boonop ryk aan kalsium weens die bene wat saam met die vis verbruik word.

Indien jy dalk gewonder het hoekom gerookte Skotse salm soveel lekkerder smaak as sy Noorweegse neef? Skotse salm word gerook met skraapsels uit houtvate waarin whisky verouder is. Kenners meen egter dat Ierse salm die koning van alle gerookte vis is.

Spanokopitas

Spanokopitas is ’n gewilde Griekse voorgereg of happie.

1 eetlepel olyfolie
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
200 g spinasie, geblansjeer, stingels verwyder en fyn gekap
1 eier, geklits
125 ml feta, gekrummel
2 ml neutmuskaat
sout en varsgemaalde swartpeper
½ pakkie blaardeeg
80 ml botter, gesmelt

Verhit die olie en soteer die ui en knoffel tot sag. Voeg die spinasie en al die bestanddele, behalwe die deeg en botter, by.

Rol die deeg oop en bedek met 'n klam lap. Neem een vel en borsel die helfte liggies in die lengte met die botter. Vou in die helfte, lengtegewys, met die botter aan die binnekant. Nou het jy 'n lang strook van twee lae. Plaas twee eetlepels vulsel in by die een kant.
Vou die hoek oor die vulsel om 'n driehoek te vorm. Hou aan vou tot al die deeg gebruik is.
Borsel die pakkie met botter.
Plaas op 'n geoliede vel bakpapier.
Bak vir 10 minute teen 180ºC.

Naan / Naanbrood

2½ koppies meel
½ pakkie gis
5 ml sout
125 ml warm melk
125 ml karringmelk
½ geklitste eier
20 ml botter, gesmelt
10 ml suiker
nog botter om mee te borsel

Meng die sout, gis en 5 ml meel in 'n mengbak.
Roer die melk, karringmelk, eier, botter en suiker by.
Klits tot glad.
Meng die res van die meel by tot jy deeg het en knie dit dan vir 5 minute.
Plaas die deeg in 'n geoliede bak, bedek en laat rys vir 45 minute.
Slaan die deeg plat en maak ag balletjies.
Rol elke bal 1 cm dik uit in sirkels.
Borsel die sirkels met botter.
Bak teen 260ºC vir ag minute.

Hoe om wyn te stoor

Die sleutel tot 'n goeie wynversameling is hoe jy jou wyn stoor. Indien jy wyn versamel dan sal jy wil kyk na al die beste opsies om wyn te stoor. Afgesien van die metode waarop jy uiteindelik besluit, jy sal moet sorg dat die omstandighede konstant bly.



Die temperatuur van enige stoorplek sal konstant tussen 10 en 15 ºC moet wees. Daar moet genoeg ventilasie wees en dit moet weg wees van die besige dele van jou huis. Jou versameling kan skade ly weens vibrasie. Lig moet ook tot die minimum beperk word. Geen sonlig mag by die stoorplek inkom nie.

Jy kan 'n spesiale wynkelder bou of jy kan 'n spesiale wynverkoeler koop. Wynrakke is 'n noodsaaklike komponent van jou stoorplek. Dit kan van hout of metaal wees, afhangende van persoonlike smaak. Dit is normaalweg 'n goeie idee om jou rakke te kies om by jou stoorplek te pas.

Vir tydelike stoorplek, soos voor bediening, sal jy normaalweg 'n yskas gebruik, afhangende van die kultivar.

8/25/2008

Salm met groente / Salmon with Vegetables

Jy gaan die volgende nodig hê vir elke persoon:
200 g salm
1 wortel, opgesny in klein stukkies
1 witwortel, opgesny in klein stukkies
1 raap, opgesny in klein stukkies
1 aartappel, opgesny in piepklein blokkies
20 ml olyfolie
80 ml suurroom
80 ml witwyn
tiemie
varsgemaalde swartpeper

Rooster die groente gaar terwyl jy die salm braai in die olie.
Haal die salm uit, gooi die witwyn in en sodra die pan se bodem skoon lyk gooi jy die suurroom by en kook dit af vir 3 minute.
Bedien die salm op die groente met die sous oor.

8/24/2008

Ayam Kuning / Geel hoender

Ayam Kuning (geel hoender) is 'n dis van die Nederlandse rijstafel. Die rijstafel is 'n versameling geregte van Indonesiese oorsprong. Die geregte weerspieël die Indonesiese eilande se kulturele verskeidenheid.

1 hoender, in stukke
½ teelepel gemaalde koljander
½ teelepel gemaalde gemmer
10 ml sout
60 ml olie
1½ teelepel borrie
1 ui, in dun skyfies gesny
2 knoffelhuisies, opgekap
knypie fyngekapte suurlemoengras
5 ml suurlemoenskil
15 ml suurlemoensap
500 ml kokosneutmelk

Meng die koljander, gemmer en sout en vryf die hoenderstukke in daarmee.
Braai die hoender in die olie tot bruin.
Voeg die borrie by en braai vir nog 2 minute.
Gooi die uie en knoffel by en braai vir 'n verdere minuut.
Voeg die suurlemoengras, suurlemoenskil, suurlemoensap en kokosneutmelk by. Roer alles deur en prut vir 45 minute.

Bedien rys saam met die hoender.

8/21/2008

Geskroeide tuna / Seared Tuna

6 x 100 g tunafilette
90 ml lemmetjiesap
20 ml gemmer, gerasper
20 ml vissous
10 ml sesame-olie
1 rissie, pitte verwyder en gekap
20 ml lemmetjieblare, fyn gekap
20 ml sitroengras, fyn gekap
'n handvol koljanderblare
125 ml grondbone, gerooster en fyn gekap

Meng alles saam vir 'n marinade waarin jy die vis laat lê vir 30 minute. Skroei die filette vinnig aan beide kante en bedien dadelik.

Paasfees

Die Joodse Pasga of Paasfees val saam met die Pagans se Lente-fees. Lente is natuurlik tydperk in die natuur waar daar vernuwing is. Om dit te vier het die Pagans offers gebring aan die Lente-godin. Die godin is natuurlik in elke land ´n ander naam genoem. In Skandinawië word sy Friga genoem. Die ou Saxons het haar Ostara genoem. Die Engelse woord Easter is van Ostara afgelei.

Die Pagans het baie koek gebak om hulle gode te eer. Die Egiptenare het ´n koek gebak met ´n kruis op om die maan te eer. In Griekeland en in Rome is daar ´n ronde koek gebak met ´n kruis op om die godin Diana te eer. Die ronde koek het die maan voorgestel en die kruis die 4 kwarte van die maan.

Die Christine het ook hierdie gebruik van die Pagan's oorgeneem en aangepas by hulle omstandighede. Die eer word gegee aan Vader Rocliff van die St Albans Klooster. In 1361 word daar geskyf van hom dat hy ´n groot hoeveelheid klein, soet spesery koeke met ´n kruis op gebak het. Hierdie heerlike en voedsame koekies is dan oor die Paasfees aan die arm mense uitgedeel om te eet. Voorheen met Paasfees het die arm mense slegs ´n gratis bord sop ontvang. Dit is nie nodig om te sê dat die koek wat hulle gekry het ´n welkome verandering vir hulle was nie.

In die ou tyd is daar geglo dat indien jy koek of brood op Goeie Vrydag bak dit nie sal afgaan nie en dat dit die hele jaar sal hou. Daar is niks lekkerder as ´n warm Hot Cross Bun wat met botter gesmeer is en lekker koppie tee nie. Wanneer ek dit geniet dink en nie juis veel van waar dit afkom nie.

Nog ´n Paas tradisie wat spruit uit die Pagan fees is die uitruil van eiers. Die Romeine en Egiptenare het eiers uitgeruil om op ´n simboliese manier aan te dui dat daar lewe na dood is. Daar word beweer dat Rooms Katolieke Nonne naby Rome patrone op eiers geverf het, en dan die eiers na die kerk geneem het waar die priester die eiers geseën het. Die eiers is dan ook aan die arm mense uitgedeel is om te eet oor die Paastyd.

Vandag ken ons almal daardie mooi, lekker en onweerstaanbare eiers in alle ondenkbare vorms en grotes. Die eiers word vandag net uitgeruil om iemand gelukkig te maak en sover ek kan sien het dit geen gelowige konnotasie nie.

- Frik Lombard

8/19/2008

Rissies


Rissies wat ons daagliks in die kombuis gebruik in volgorde van hul Scofield-telling.

Cayenne
Die rissie is meesal rooi en kan in meeste geregte gebruik word. Dit brand nie te erg nie en in klein hoeveelhede gee die net 'n aangename warm geur.

Jalapeno
Die rissie en het 'n baie aangename geur en is heerlik vars. Dit het 'n matige hitte.

Serrano
Hierdie rissie is groen of rooi en veral geskik vir souse of slaaie wat vra vir ekstra byt.

Bird's Eye
Piepklyn, maar die rissie maak op in brand. Roerbraaigeregte baat veral by die gebruik hiervan.

Thai
Die gebruik hiervan word net aanbeveel vir persone wat beslis van sterk kos hou.

Habanero
Beslis nie vir sissies nie. Wees versigtig!

Glutenvrye beskuit resep / Gluten Free Rusks

Ek het onlangs die resep ontdek. Dit maak die lekkerste beskuit. Dis 'n uitstekende resep vir mense wat 'n glutenvrye dieet moet volg sowel as die wat alles kan eet. Vandat my vriendin die resep met my gedeel het kan ek nie byhou met die bak nie. Manlief, wat alles kan eet, kan net nie genoeg van die beskuit kry nie. Sover het almal wat 'n stukkie beskuit gehad het gevra vir die resep. 'n Mens kan nie die verskil tussen gewone beskuit en glutenvrye beskuit proe nie.

2 koppies bruin rysmeel
2¾ cup Freedom foods all purpose flour pre-mix gluten free of enige ander gluten free flour mix waarby guar gum gevoeg is
2 koppies klapper
2 koppies amandelmeel
1 koppie sesame saad
2½ koppies of 625 ml skaapjogurt
500 g sojamargarine
5 ml sout
4 eiers
4½ teelepel bakpoeier (gluten vry)
375 ml suiker

Klits die margarine en suiker. Voeg die eiers by een op 'n slag. Sif al die droë bestandele. Voeg jogurt by die eiermengsel en meng al die droë bestandele. Dit maak 'n redelike soliede deeg. Gebruik twee groot broodpanne wat gespuit is met cook and spray. Bak vir 55 min of tot goud bruin op 180. Haal uit die oond laat die beskuitbrode afkoel in die pan. Sny die brood en sny die broodsnye in vingers. Droog die beskuit vingers by 90 tot die beskuit hard en droog is. Laat die beskuit afkoel voor jy dit bêre in a Tupperware.

Dit maak sowat 40 stukkies beskuit.

resep bygedra deur: Grietjie



10 minute koekies / 10 Minute Biscuits

Meng 400 g amandelmeel met 140 g versiersuiker, 3 drupples amandelgeursel, 2 eetleples rooswater en twee geklitste eiers. Plaas waspapier oor 2 oondpanne en skep met twee lepels die koekiemengsel op die waspapier. Daar behoort so 30 individuele koekies te wees. Bak op 180ºC vir 15 - 20 minute. Die koekies het 'n heerlike rooswater smaak.

resep bygedra deur: Grietjie

Skaapblad

"Ek het 'n skaapblad gekry maar het nie 'n idee wat om daarmee te maak nie." - Erica

Petro: "Dit kan op dieselfde manier behandel word as 'n skaapboud. Dit kan ook ontbeen word en dan gevul word met spinasie, uie, knoffel en kruie na smaak. Bind dit was en draai toe in foelie sit in oond vir ± 2ure op 180°C. Daar kan ook murg ingestop word. Neem sopbene en haal die murg uit en vul die blad dan met dit."

Petro van der Westhuizen

Mexikaanse vleis / Mexican Steak

500 g beeshaas (steak)
1 blikkie gekapte tamaties
1 blikkie rooi bone
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, gekap
1 blokkie vleisaftreksel
20 ml mosterdpoeier
2 ml varsgemaalde swartpeper
2 ml sout
20 ml rissiepoeier
olyfolie

Meng al die geurmiddels en knoffel saam; die aftreksel uitgesluit. Smeer die mengsel op die vleis.
Sny die vleis in repe.
Verhit 'n bietjie olyfolie in 'n pan en verbruin die vleis.
Voeg die ui, aftreksel en tamaties by. Bedek en kook stadig tot die vleis sag is, sowat 15 minute.
Voeg die bone by en kook (stadig) vir 'n verdere 15 minute.

Tamaties / Tomatoes

Die algemene soorte tamaties en hul gebruike:

Beesharttamaties: Hierdie tamatie is pampoenvormig en kan tot 500 g weeg. Die ferm tekstuur maak dit geskik vir toebroodjies en slaaie.

Geeltamaties: Indien jy wil inlê gebruik enige geel tamatie. Dit is ook geskik vir slaaie.

Groen tamaties: Die tamatie is veral gewild in Mexiko. In Suid-Afrika gebruik ons dit vir blatjang en atjar. Dit kan ook in slaaie gebruik word.

Kersietamaties: Soet tamaties wat heel gekook en gebraai word of net so in slaaie gebruik word.

Lemoentamaties: Dié delikate, effe soet tamatie word in souse en slaaie gebruik.

Pruimtamaties: Enige Italiaanse dis wil graag pruimtamaties hê. Dit is die beste kooktamatie wat jy kan gebruik.

Vinnige Fudge / Fast Fudge

400 g witsuiker
5 ml sout
1 ml kremetart
150 ml melk
25 ml margarien
3 ml vanielje

Meng melk, suiker en sout op oondplaat totdat suiker gesmelt het. Bring tot kookpunt en laat tempratuur tot 15°C bokant die kookpunt van water styg. Koel af tot amper lou. Voeg geursel en margarien by. Klits tot lig en romerig - totdat dit begin dof word. Gooi in 'n gesmeerde pan. Sny net tot voor dit koud is.


resep: Petro van der Westhuizen

Chakalaka noedelslaai / Chakalaka Noodle Salad

1 pakkie skulpnoedels (of 'n ander pasta)
1 blikkie Chakalaka met mielies
½ koppie suiker
½ koppie olie

Kook noedels tot sag spoel af. Gooi ½ koppie suiker, ½ koppie olie en Chakalaka by die noedels en roer goed. Sit in vrieskas tot koud.

Dit is 'n baie lekker en vinnige resep. Jy kan kies of jy dit medium warm of baie warm wil hê met die Chakalaka wat jy byvoeg.

resep: Ilze Tromp

Ouma Grietjie se Hollandse botterkoekies

150 g sagte egte botter
100 g strooisuiker
200 g koekmeel

Meng bestanddele en maak bolletjies wat jy moet platduk met 'n vurk.
Bak in 180 grade oond vir ongeveer 15 - 20 minute - of totdat ligbruin.

resep: Linda Malherbe

Skaapliesrol

Kap vleis met hammertjie. Vul met spinasie wat net vinnig opgekook is met sout en peper. 'n Rissie en / of knoffelhuisie kan ook bygevoeg word. Meng spinasie met feta kaas of tofu. Opsioneel: spek, sampioene ens.

1 bossie spinasie
1 ring fetakaas of helfte van tofu blok
sout en peper na smaak
2 rissies ontpit - dan brand dit nie so baie nie
1 gekneusde knoffelhuisie
125 g sampioene
125 g gaar spek

Werk toe met lyn en sit in vrieskas tot gebruik.
Sit 'n oond van tussen 170°c tot 180°C. Ek verkies 'n laer hitte. Jy gebruik wel meer krag. Jy kan met 'n pen daardeur druk om te sien of dit gaar is.

resep: Petro van der Westhuizen

Plek van wyn

Suid-Afrika is een van die wêreld se grootste wynprodusente. 2,8% van alle wyn se oorsprong is Suid-Afrika. Daar staan wingerd op 106 000 hektaar van die land.

Suid-Afrika het 4 390 wynprodusente en 388 kelders. Die kelders bestaan uit 11 groothandelaars wat wyn produseer, 67 koöperatiewe, 91 landgoedere en 219 privaat wynkelders.

50% van alle gebottelde Suid-Afrikaanse wyn wat uitgevoer word eindig in Brittanje, 21% in Nederland, 9% in Skandinawië en 6,5% in Duitsland. Die land se markaandeel brei ook goed uit in die VSA, Indië, China en Japan.

43% van alle toeriste wat Suid-Afrika besoek maak ´n draai op ´n wynplaas.

Gesondheid!

Waar kom die vonkel vandaan?

Frik Lombard

Wanneer ek vonkelwyn drink wonder ek hoe kry hulle daardie aangename en tintelende borrels in die wyn. As u ook al daaroor gewonder het is sal u binnekort u antwoord kry. Maar ek gaan ook sommer oor die algemeen praat oor sjampanje, vonkelwyn en alles wat daarmee saamgaan.

La Champagne is ´n streek in Frankryk. Die streek se naam kom van die Latynse woord "Campus", "Campania". In die ou Frans het dit Champaign geword en later Champagne. In opgrawings wat gedoen is in die streek is daar afgekom op fossiele wat druiwe lote in gehad het. Die fossiele is gedateer terug na sowat ´n miljoen jaar gelede.

Die Romeine het jare kalk gesoek wat hulle gebruik het in bouwerke. Die spelonke wat hulle agtergelaat het, het in latere tye wynkelders geword. In die jaar 92 A.D. het die Romeinse keiser ´n dekreet uitgevaardig waarin hy gesê het dat al die wynlande in Frankryk vernietig moet word om te voorkom dat die Franse wyne kan kompeteer met die Italiaanse wyne. So gemaak, maar die Franse het in die geheim nog aangehou om wynlande aan te plant. Toe die verbod uiteindelik opgehef is, het die Franse wyne afkomstig van Champagne ´n treffer geword.

In die jare 1600 het daar ´n wyn-oorlog in Frankryk tussen die wynboere van Burgundy en dié van Champagne begin. Die boere van Champagne het besluit om eerder nie die wyne van Burgundy na te maak nie maar eerder ´n nuwe styl wyn gaan te ontwikkel. In 1660 is hierdie besonderse wyne van Champagne uitgevoer Engeland toe.

Meeste van die Vin Gris wyne (Grys Wyne) is baie jonk in Frankryk gedrink. Met die verskeping van die wyne in die vate na Engeland, het die hitte veroorsaak dat daar ´n tweede fermentasie proses begin. In Engeland aangekom is die wyn gebottel en met kurk verseël. Dit het veroorsaak dat die lewendige vonkel van die wyn behoue gebly het. Hierdie wyn met die vonkel het die akademici en wetenskaplikes gaande gehad.

Die monnike-kelders van Pierry en Epernay het eerste begin om die vonkel in die wyn te sit. Die keldermeesters wat daarmee gemoeid was, was Frere Jean Oudart en by Epernay die keldermeester Dom Pierre Perignon. Vir ´n paar honderd jaar is dié metode van wyn maak gevolg. Maar daar was baie probleme want tot 40 % van die bottels het ontplof as gevolg van die sekondêre fermentasie. In 1836 het ´n Franse apteker bepaal dat soet druiwe hoër alkohol inhoud en meer koolstofdioksied produseer. Die apteker het haarfyn uitgewerk hoeveel addisionele suiker bygevoeg moet word om die regte hoeveelheid koolstofdioksied te produseer om nie die bottels te laas bars nie.

Na die uitvinding is daar nie keer aan die aan die wynmakers nie en hulle het almal begin om Saute-bouchon te maak. In 1911 het daar amper ´n oorlog uitgebreek omdat daar wynmakers was wat goedkoop wyn ingevoer het van die suide om Sjampanje te maak. Om die mense te kalmeer is daar besluit dat slegs druiwe van Champagne gebruik mag word om Champagne te maak. Dit is nog steeds die rede die naam Champagne nie in enige ander wêrelddeel gebruik mag word nie, slegs die naam vonkelwyn.

8/18/2008

Yorkshire-poeding / Yorkshire Pudding

Yorkshire-poeding is ’n ligte brood; nie wat ons tradisioneel verstaan onder poeding nie. Dit dateer uit ’n tyd in Engeland toe verskeie kossoorte “pudding” genoem is. Historici is ook van mening dat oorspronklike poedings meer met wors in gemeen gehad het as met iets wat ons sou poeding noem.

Yorkshire-poeding is oorspronklik van Yorkshire in Engeland. Sommige maatskappye in Yorkshire beywer hulle tans daarvoor dat slegs Yorkshire-poeding uit dié omgewing onder die naam verkoop mag word.

Oorspronklik is Yorkshire-poeding bedien as voorgereg. Vandag word dit eerder met ’n vleissous saam met die hoofmaal bedien.

250 g meel
2 eiers
125 ml melk
125 ml water
sout
olyfolie

Plaas al die bestanddele, behalwe die olie, in 'n voedselverwerker en meng vir een minuut. Laat staan vir twee ure.

Gebruik 'n muffin-pan, smeer met bietjie olie, en plaas in 'n 200ºC oond vir vyf minute.
Gooi die deeg in die pan en bak vir 30 minute.


Asynpoeding

Stroop
500 ml kookwater
300 g suiker
125 ml asyn

Meng alles saam en kook vir 5 minute en laat afkoel.

25 ml margarien
125 ml suiker
25 ml appelkooskonfyt
2 eiers, geklits
375 ml koekmeel
5 ml koeksoda
2 ml sout
10 ml gemmer
2 ml neutmuskaat
50 ml melk

Room botter en suiker.

Roer konfyt en eiers by en meng goed.

Sif die droë bestanddele saam en roer afwisselend met melk en eiermengsel.

Skep die beslag en afgekoelde stroop in ’n oondvaste bak. Bak vir ± 35 minute in oond - 180°C tot gaar.

Dien op met vla.


(resep bedien 6 persone)

resep: Petro van der Westhuizen

Boerewors

Gebruik goeie gehalte vleis. Verwyder senings van vleis. Sny in klein stukkies om te maal. Moenie te veel vet byvoeg nie want die wors kan galsterig word. Ek hou van geen vet nie, maar 'n bietjie moet bygevoeg word. Week die derms in water sodat die sout afgespoel word.

50 ml koljander - rooster dit tot ligbruin en maal goed
1,5 kg beesvleis
1,5 kg varkvleis
500 g spek
2 ml neutmuskaat
1 ml fyn naeltjies
2 ml tiemie - opsioneel
2 ml fyn piment
5 ml peper
25 ml sout
125 ml asyn
50 ml worcestersous
70 g worsderms

Maal die vleis GROF
Meng alles saam en stop!
Onthou net 'n resep is net 'n voorstel. Jy kan alles insit wat jy wil en/of weglaat. Ek weet in Europa is nie al die bestanddele beskikbaar nie maar daar moet beslis alternatiewe wees.

resep: Petro van der Westhuizen

Koejawelslaai / Guava Salad

Ek het self dit nog nie geproe nie maar dit klink na 'n lekker slaaisous vir ingelegde koejawels.

1 eiergeel
1 blik kondensmelk
5 ml droë mosterd
3 ml sout
1 ml peper
50 ml asyn
50 ml gesmelte botter

Meng alles saam.

resep: Petro van der Westhuizen

Glanspatats / Glazed Sweet Potatoes

5 medium patats
125 ml suiker
25 ml botter
3 ml sout
25 ml suurlemoensap
5 repies nartjie- of suurlemoenskil
2 ml koeksoda
250 ml water

Skil patats en sny in skywe. Verbruin suiker en botter in dikboomkastrol. Voeg patats, sout, suurlemoensap, en skil by. Los koeksoda in water op en gooi oor patats. Dit bevorder verbruining. Sit die deksel op en laat gaar word en onder bruin word. Draai patats om en laat anderkant bruin word. Onder in die kastrol behoort 'n geurig stropie te wees; gooi dit oor die opgeskepte patats.

resep: Petro van der Westhuizen

Screwdriver

Vul jou glas met ys, 60 ml wodka en 60 ml lemoensap.

Heerlike Groenteslaai / Vegetable Salad

Brokkoli
Blomkool
1 Rooi en 1 Groen Appel
Cheddar kaas
Feta kaas
Murgpampoentjies
1 pakkie spek
Maak spek in mikrogolf gaar op papierbord. Sny al die groente in byt happies op en voeg die spek by.

Maak die volgende sous aan:
1 teelepel mosterd of na eie smaak
1½ teelepel mielieblom
125 ml asyn
125 ml water
250 ml suiker (ek voeg net 125 ml suiker by)
2 eiers
2 eetlepels mayonaise

Meng die mielieblom, mosterd, asyn en water. Klits die eiers en voeg by. Klits. Voeg die suiker by en klits goed. Mikrogolf dit vir 'n paar minute en roer. Mikrogolf weer en roer totdat dit dik word. Laat afkoel. Voeg 2 eetlepels mayonaise by. Dit kan oor verdubbeld word en in die yskas in 'n bottle gebêre word vir 'n paar dae lank. Dit is ook baie lekker op broodjies en sommer saam met enige iets wat 'n sousie soek.
Net voor opdiening voeg sous by die groente.
NS: Moenie te veel sous met die groente meng nie, want die slaai trek water wanneer dit in die yskas gebêre word.

Lekker eet!

resep: Susan van Rooyen

Mosterdsous / Soet mosterdsous (nie mostertsous) / Mustard Sauce

Vir 'n worsbroodjie:

blik kondensmelk
2 eiergele
350 ml bruinasyn 1 blik mosterdpoeier
Klits kondensmelk en eiergele meng die mosterdpoeier en asyn goed saam (dit sal klonte maak maar roer goed). Klits by die kondensmelk. As dit te dik is verdun 150 ml asyn met 150 ml water en roer goed by mengsel kan maande hou in yskas.

bydrae: altyd raad

(onthou dit is mosterdsous, nie mostertsous)

Resep 2

Een minuut slaaisous:

250 ml kondensmelk
125 ml asyn
125 ml gesmelte botter
10 ml droë mosterd
3 ml peper
geel van 2 eiers
Meng droë bestanddele en voeg dit by kondensmelk. Klits geel van eiers en voeg by, dan die gesmelte botter en laastens die asyn. Roer goed. Laat staan vir 'n paar minute op koel plek sodat dit kan dik word.

bydrae: Petro van der Westhuizen

(onthou dit is mosterdsous, nie mostertsous)

Resep 3

Doopsous:

150 ml ingedampte melk
50 ml mosterdpoeier
1 ui gekap
10 ml suiker
3 ml sout
Verhit alles saam en kook vir 5 minute. Sit warm voor.

bydrae: Petro van der Westhuizen

(onthou dit is mosterdsous, nie mostertsous)


Bief Stroganoff / Beef Stroganoff

Bief Stroganoff is in Rusland ontwikkel. Dit was vir 'n kookkompetisie in St. Petersburg in die 1890's. Die resep het eerste prys gekry en is daarna vernoem na die bekende Russiese familie vir wie die sjef, wat dit uitgedink het, gewerk het.

1 kg beesfilet
250 g gesnyde vars sampioene
500 ml vleisaftreksel
10 ml sterk mosterd
250 ml suurroom
30 g botter
1 groot ui, gekap
25 ml meelblom
25 ml tamatiepasta
60 ml sjerrie
gekapte pietersielie

Sny die vleis in strokies en soteer die sampioene in botter.
Haal uit en soteer die ui. Plaas eenkant.
Seël die vleis maar moenie gaarmaak nie. Verwyder die vleis.
Braai die meelblom liggies bruin in die botter en voeg die aftreksel geleidelik by om 'n gladde sous te vorm.
Voeg sjerrie, tamatiepasta en mosterd by en meng goed.
Voeg uie, sampioene en vleis by.
Prut vir 20 minute.
Voeg room by net voor opdiening.
Garneer met pietersielie.

Tradisioneel word dit met rys of noedels bedien.


resep: Petro van der Westhuizen

Ontdek "nuwe" kultivars

Hoekom nog ´n cabernet of nog ´n chardonnay drink as daar soveel ander kultivars is om van te kus en keur. Meeste supermarkte en drankwinkels se rakke beur onder die groot vier: cabernet sauvignon, merlot, chardonnay en sauvignon blanc. Rakspasie word verder opgemaak deur shiraz, chenin blanc, Cape riesling en Suid-Arika se eiesoortige pinotage.

Maar indien waagmoedig genoeg is, is daar ´n hele nuwe spektrum van minder bekende kultivars om te geniet. Die feit dat verskeie kultivars deesdae oral geniet word is ´n relatiewe nuutjie en iets wat ons aan die onderdane van Kroon Lissie kan toeskryf. Die Eilanders se dors het te groot geword vir die Franse om te les en dit het die deur oopgemaak vir die innoverende Australiërs om die wêreld se vierde grootste uitvoerder van wyn te word na Frankryk, Italië en Spanje. Franse wyne word deur ingewikkelde stelsel ("Appelation de Controleé") geproduseer en bemark om kwaliteit te verseker. Hiervolgens word cabernet en merlot byvoorbeeld net in Bordeaux gegroei tesame met cabernet franc, petit verdot en malbec. ´n Bordeaux-versnit bestaan dus uit enige kombinasie van ten minste twee van die genoemde kultivars. Die etiket sal ook nie aan die koper enige aanduiding gee van wat in die bottel is nie. Daar word van die koper verwag om te weet. So weet ons dat ´n wit burgundy ´n chardonnay is, en ´n rooi burgundy is ´n pinot noir. Hierdie stelsel is moeilik om te verstaan en die Australiërs het besluit om dinge eenvoudig te maak. Gevolglik het hulle wynbemarking volgens kultivar aan die wêreld gegee. Hulle is ook die wêreld se voorste marknavorsers op die gebied van wynverkope. Suid-Afrika het sedert die vroeë 90´s baie vinnig geleer. Ons worstel egter nog met die vraag oor wat presies pinotage se rol in ons wynproduksie en -bemarking is.

Buiten die groot vier, maak ons in Suid-Afrika ook baie goeie chenins op groot maat. Kyk ook uit vir goeie voorbeelde van colombar vanuit die Robertson distrik. Vir ´n algemeen beskikbare handelsmerk probeer Robertson Kelder of die beste colombar voorbeeld, Bon Courage.

Andersins, hier volgens ´n lys van interessante kultivars wat gerus probeer kan word. Die wyn is egter nie geredelik beskikbaar nie. Bel die produsent om uit te vind waar dit verkoop word. Drie stere (***) is toegeken aan kultivars wat goed op eie bene staan en produsente wie se produkte goeie voorbeelde is van die genoemde kultivars.

KULTIVARPRODUSENT
Barbera***Altydgedacht
BukettraubeSimonsvlei, Swartland
Cabernet franc ***Bellingham, Warrick, 5 Heirs, Avontuur Uiterwyk
CarignanFairview
Cinsaut Landskroon ***Perdeberg, Swartland
Fernao PiresVan Loveren
Gamay NoirWoolworths, Asara, Signal Hill***
GewürztraminerNeetlingshof, Bon Courage, De Wetshof, Delheim
HársleveluZevenwacht
Malbec***Bellevue, Fairview***, Backsberg, Nederburg***
Mourvedre***Beaumont Wines***
Petit VerdotNederburg***, Signal Hill
PontacHartenberg
TempranilloDie Krans
Tinta BaroccaAllesverloren***
Touriça natíonalDie Krans
ZinfandelBlaauwklippen***, Fairview***, Glen Carlou, Hartenberg Ashanti***
RieslingDe Wetshof, Groot Constantia, Klein Constantia, Rhebokskloof, Weltevrede
Viognier***Fairview, Spier, Uiterwyk
Sangiovese***Graham Beck Wines
Pinot GrisL'Ormarins
SylvanerOvergaauw
NebioloSteenberg***


deur Kris-Jan Alleman

Sout van die aarde

Ons almal ken die verwysings seker die bekende deel in die Bybel waar daar gesê word dat "Julle is die sout van die aarde maar as die sout laf (verslaan) geword het dan word dit uitgegooi en vertrap." So van die begin van die mens het sout al iets beteken.

Vandag dink ons aan sout as iets wat ons oor ons kos gooi om die smaak van die kos te verbeter en om die kos nie te laf laat proe nie. Verder dink ons nie juis daaraan nie. Sout bestaan uit Natruim en Chloor. Op sy beste is Natruim en Chloor baie gevaarlik vir die mens. Maar saam is Natruim Chloried iets wat ons nie sonder kan klaarkom nie.

Soos alle kossoorte het sout ook ´n agtergrond en geskiedenis. Aangesien sout so skaars en kosbaar was is dit in verskeie tye van die geskiedenis gebruik as betaal middel. Verskeie oorloë is ook al gevoer om beheer te kry oor sout. Die Egiptenare het ook sout gebruik in die balsemings proses.

Sowat 4 700 jaar gelde is ´n farmakologiese verhandeling geskryf in China. Die verhandeling het ongeveer 40 verskillende soorte sout beskryf. Verder is die prosesse hoe om sout te uit seewater te haal haarfyn beskryf. Die prosesse word vandag nog gebruik. Soos dit enige goeie regering betaam het die Chinese regering vinnig agtergekom waar hulle brood gebotter is, of te wel waar die geld in die sout lê. Toe sout gewild begin word het die Chinese regering sout belasting ingestel.

In Egipte is daar rekords gevind dat sout so ongeveer 3 450 jaar gelede vervaardig is. In Griekeland is sout geruil vir slawe. Die uitdrukking "hy is sy sout werd" kom uit die tydperk. Aan Romeinse soldate is daar daagliks ´n sout rantsoen gegee en die rantsoen is genoem Salarium Regetum. Nou kan julle seker ´n baie goeie afleiding maak van waar die engelse woord "salary" sy afkoms het.

In die Bybel is daar meer as 30 verwysings na sout. As gevolg van die wit kleur is sout geassosieer met reinheid. Daar is verwysings dat sout ook op die altare gebruik is. ´n Interessante feit is dat die Nazis die kuns skatte wat hulle in die Tweede Wêreld oorlog gebuit het in gange van soutmyne weggesteek het.

Deur die eeue heen is sout gebruik om vleis en vis te preserveer. Ons voorouers het die kuns ook aangeleer en hier dink ons maar net aan bokkoms en biltong. Gedurende die Tweede Wêreld oorlog was daar baie min wat die mense kon koop. My Pa het altyd vertel dat vleis baie skaars was en mense net ´n sekere hoeveelheid vleis per dag kon koop. Daar was, soos ek kon aflei, nie ´n verbod gewees op die verkoop van verwerkte vleis nie. So wat hulle gedoen het om vleis aan die mense te verkoop was om ´n laag sout om die vleis te smeer en dan te verkoop as sout vleis. Dit was blykbaar nogal baie effektief gewees.

Sout kan nie net gebruik word om kos se smaak te verander nie maar ook gebruik word as ontsmettingsmiddel. Indien jy jouself raak sny en daar is nie ontsmetting middels naby nie kan jy gerus maar die soutpot nader bring en oor jou wond gooi.

Hier volg nou nog ´n paar nuttige sout wenke:
· Om water vinniger op ´n hoë temperatuur te laat kook, gooi net ´n knippie sout by.
· Om te help dat eierwitte vinniger stol gooi sout in die water.
· Gooi sout oor ´n slaai voor die slaai bedien word. Dit sal verseker dat die slaai vars en bros bly.
· ´n Knippie sout in koffie verbeter die koffie se smaak.
· Melk bly langer vars as daar sout ingegooi word.
· Gooi sout by gelatien, die sout laat die gelatien vinniger stol.
· Vir bysteke maak ´n pasta van sout en water aan en smeer dit oor die bysteek. Dit sal die pyn wegneem.

deur Frik Lombard

8/15/2008

Boere-croissant

900 ml koekmeelblom
25 ml bakpoeier
2 ml sout
1 ml rooipeper
125 g botter
500 ml cheddar, gerasper
300 ml melk
1 eiergeel

Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat die mengsel soos broodkrummels lyk.
Voeg die kaas en die melk by om 'n stywe deeg te vorm wat uitgerol kan word. Verdeel die deeg in vier stukke.
Rol elke stuk dun uit op 'n meelbestrooide deegplank sodat dit sirkels van 20 cm in deursnee vorm.
Sny die buiterande mooi rond en verdeel elk van die sirkels soos die speke van 'n wiel in agt ewe groot stukke.
Rol elke stuk van die buiterand na die punt toe op. Buig die 32 rolletjies effens om hulle halfmaanvormig te kry en plaas 'n entjie uitmekaar op die gesmeerde bakplaat.
Klits die eiergeel met die orige melk en bestryk die rolletjies daarmee.
Plaas die rolletjies hoog in die oond en bak ongeveer 15 minute lank by 200ºC tot gaar of goudbruin.

Die resep lewer 32 croissants.

resep: Anna van Wyk

8/13/2008

Broccolislaai / Broccoli Salad

Bestanddele:
10 repies spek
1 kop vars broccoli, gesny in klein stukkies
1/4 koppie rooi uie, fyn gesny
1/2 koppie rosyne
3 eetlepels wit wynasyn
2 eetlepels wit suiker
1 koppie mayonaise
1 koppie sonneblomsaad

Plaas spek in 'n groot braaipan en maak gaar tot eweredig bruin. Dreineer en krummel, plaas eenkant.
In 'n medium bak, meng die broccoli, uie en rosyne.
In 'n klein bakkie, meng die asyn, suiker en mayonaise saam. Gooi oor die broccoli en meng goed deur. Plaas in yskas vir ten minste 2 ure.
Meng die spek en sonneblomsaad in net voor opdienning.

resep: Antonet Booyens

Resep 2

Ansie wou 'n resep hê vir 'n broccoli slaai, maar die broccoli moes nie gekook word nie.

1 liter broccoli, gesny
250 ml mayonnaise
250 ml room / aangesuurde room
50 ml asyn
3 ml sout
knypie peper
3 ml mosterdpoeier
1 groot geelwortel, gesrasper
½ komkommer, in ringe gesny
50 ml fyngekapte pietersielie

Gooi room in mengbak. Roer asyn bietjiesgewys by. Meng mosterd met mayo voordat u dit by die room voeg. Geur met sout en peper. Voeg groentemengesel in slaaibak. Gooi roommengsel oor en meng liggies. Kan reeds vorige dag gemaak word. Piekelkomkommers kan in plek van gewone komkommer gebruik word. Strooi sultanas oor.

Patats / Sweet Potatoes

Christie wou weet wat maak mens saam met snoek.

Skrop patats skoon. Sit in oondbak en sprinkel olyfolie oor. Gooi sout en gemaalde swartpeper oor en bedek met foelie. Bak by 200°C vir ± 30 minute tot sag. Verwyder foelie en bak nog 10 minute.

resep: Petro van der Westhuizen

Koolslaai

Christie wou weet wat maak mens saam met snoek.

Kerf kool fyn en meng met avokadopeer - wat baie sag is. Sprinkel met olyfolie en balsemasyn en sout en peper. Gooi koljanderblare bo-oor.

resep: Petro van der Westhuizen

Resep 2

Rou, gesnipperde kool met 'n bietjie sonneblomolie, asyn, sout & peper met 'n bietjie anys by, is net so lekker.

resep: Anneke Swanepoel

Smeerkaas / Cream Cheese

Met geld so vas en skaars deesdae is hierdie beslis 'n staatmaker!

350 gram Berg geprosseseerde kaas
250 gram margarien
375 ml melk

Kook melk en margarien
Gooi gerasperde kaas in en kook tot opgelos.
Gooi gerasperde biltong in en bottel.

resep: Andrie Brown

Sondagpoeding / Sunday Pudding

BESLAG
1 Eier
125 ml Suiker
250 ml Koekmeelblom
5 ml Bakpoeier
5 ml Koeksoda
Knypie Sout
25 ml Fyn Appelkooskonfyt
30 ml Asyn
250 ml Melk

SOUS
250 ml Suiker
125 ml Kookwater
250 ml Ingedampte/vars Melk
60 ml Botter
5 ml Vanieljegeursel

Klits eier en suiker goed saam tot lig en donsig. Voeg meel, bakpoeier, koeksoda, sout, konfyt en asyn by en meng goed. Roer melk by tot 'n gladde deeg. Gooi in 'n gesmeerde bakskottel en bak 45 minute by 180ºC.
Verhit res van bestanddele en gooi oor poeding net na dit uit die oond gehaal is. Sit voor met room of warm vlasous.

(lewer 6 porsies)

resep: Elize Fuller

Walvisbaai se viskoekies

Kook eers die vis (steenbras / kabeljou) gaar.

Voeg dan die volgende bestanddele by: (na smaak)

uie, pietersiele, knoffel, gemmer, tamatie, greenpepper, sout, pepper, nutmeg, knypie kruie, rissiesous en brood met eier.

Meng alles saam en maak lekker medium bolletjies.
Maak pan lekker warm met kookolie en bak tot goudbruin en gaar.

resepte: Elize Fuller

Appeltert / Apple Pie / Apple Tart

Kook:
1 Groot Blik Tertappels (gekerf) saam met
1 en 'n halwe Koppie Suiker
5 Eetlepels Botter / Margarien
3 T/lepels Vanielje geursel
kwart T/lepel Sout
laat net opkook tot botter en suiker gesmelt is.

Klits tot room:
1 koppie Suiker
3 e/lepels Botter
3 Eiers - een vir een by en klits na elke byvoeging
Sif in:
1 Koppie Koekmeel
1 T/lepel bakpoeier
Knippie sout

Voeg kwart Koppie melk by. (Die deeg moet slap wees)
Skep in gesmeerde bakskottel - krap gelyk.
Skep appelmengsel bo-oor deeg en krap gelyk. Bak by 160 Grade tot gaar (plus minus 40 min.) Toets met tandestokkie.

Kook intussen saam:
1 Koppie Vars Room
1 Koppie Suiker
Knippie Sout
Kook net vir 'n kort rukkie tot dit effens verdik. (Karamel)
Skep dit oor warm tert sodra dit uit die oond kom.

Vingerlek-lekker!

resep: Elize Fuller


Mavrou

'n Tradisioneel Suid-Afrikaanse dis.

1 kg beeshaas in blokkies gesny
10 ml sout
10 ml fyngemaalde koljander
10 ml fyngemaalde vinkel
15 ml gekapte rooi rissies
3 naeltjies
10 ml gemaalde gemmer
10 ml gemaalde knoffel
3 kardemom sade
3 stokke kaneel
'n paar toutjies saffraan
4 uie, dun gesny
2 tamaties, gerasper
olie

Kombineer al die speserye met die vleis en marineer so vir een uur.
Verhit olie in 'n groot pot en braai die uie tot sag. Voeg die vleis by en kook tot sag. Gooi water by indien nodig.

Bedien met baie vars koljander en rys.

Calamari steak

Calamari
knoffel, in skyfies gesny
sout
peper
vars tiemie

Braai die steaks oor medium hitte indien dit gevries was. Braai net tot dit ontdooi en deurwarm is. Indien die calamari vars is moet die steaks in 'n BAIE warm pan gebraai word. Braai dan die steaks net vinnig aan beide kante saam met die kruie en speserye

Calamari wat te lank gebraai is raak rubberagtig en is nie 'n plesier om te eet nie.

Waterford

deur Kris-Jan Alleman

Ek val so ´n ruk gelede op Waterford in op die Blaawklippen pad. Plaas ek verby gehou het. Ek word verwelkom deur ´n paar javels wat soos nat wasgoed oor die stoele en tafels hang en hulle verbeel hulle is op ´n GQ "shoot". Toe ek uiteidelik aandag trek (my labels is mos onder my klere en nie op my mou nie) bied ´n javel my ´n proe aan met die entoesiasme van ´n ou plaashond wat in die winterson lê en bak. Ek hou toe my Platimum kaart in die holster.

Diegene wat ingestel is op die esteties en hedendaagse wynlandargitektuur kan wel die plekkie besoek. Geniet dan koffie en koek daar eerder as om die marteling in die proelokaal te beleef. Indien julle wyn bestel mag julle dalk die GQ´s in die proelokaal verontrief en die lieplappers se traagheid mag dalk die voornemende koper se bloeddruk onnodig laat styg.

Die wyn is nie onaansienlik nie, maar let daarop dat dit eerder ´n nuwe-wêreldse skouwyn is. Anders gesê, hoe groter pronker, hoe kaler jonker. Die eerste sopie is oorweldigend, synde fisiologiese ryp druiwe gebruik is wat pap gepars is vir maksimale ekstraksie. Verder is dit met ´n plank in nuwe vate geboender en met ´n houtprop geseël. Elke sopie daarna begin afneem in intensiteit, tipies van die opulente styl. Die wyn kort finesse en elegansie maar mag verbeter met tyd.(Maar wie wil nou wag?) Mynsinsiens regverdig dit nie die prys nie, behalwe as jy ´n GQ is wat met die regte sopie in die hand gesien wil word.

8/12/2008

Denningvleis

Tradisioneel Suid-Afrikaanse gereg.

1 kg vleis van 'n skaapboud
500 g uie, dun gesny
60 ml olie
10 ml gemmer, fyn gekap
10 ml knoffel, fyn gekap
20 ml rissies, fyn gekap
15 ml sout
15 ml varsgemaalde swartpeper
4 lourierblare
4 kerrieblare
8 all spice bessies
15 ml suiker
30 ml bruin asyn
10 ml suurlemoensap
½ bossie vars koljander
2 vars groen rissies

Meng die gemmer, knoffel, fyngekapte rissies, sout, peper, lourierblare, kerrieblare, all spice, suiker, bruin asyn, suurlemoensap en marineer die vleis daarin vir een uur.
Verhit die olie en braai die uie tot goudbruin.
Gooi die vleis by en kook oor medium hitte. Gooi water by om uitdroging te verhoed.
Kook tot die vleis sag is en die sous dik.
Gooi die koljander en groen rissies by.

Bedien met groente en rys.

Fudge

Fudge is 'n gewilde Suid-Afrikaanse lekkerny.
900 g suiker
225 g botter
1 blik ingedampte melk
¼ van die bogenoemde blikkie vol koue water
1 ml vanielje geursel

Spoel 'n 4 liter kastrol uit met koue water. Plaas al die bestanddele hierin. Verhit stadig tot die suiker gesmelt het. Roer nou en dan en borsel die kante van kastrol nou en dan met warm water om seker te maak daar vorm nie suikerkristalle nie.
Bring die mengsel tot kookpunt sodra die suiker gesmelt het. Kook vinnig tot die temperatuur 114ºC bereik.
Haal van die plaat af en laat afkoel vir drie minute.
Roer met 'n houtlepel tot die mengsel voel asof dit begin dik raak.
Voer 'n 20 cm plaat uit met waspapier en gooi die fudge daarin.
Merk af in blokkies sodra dit begin stol.
Sny in blokkies wanneer dit afgekoel het en bewaar in 'n lugdigte houer.

Kaasballetjies / Cheese Balls

10 porsies
3 groot eierwitte, styf geklits
250 g kaas, gerasper
rooipeper
50 g ham, fyngekap

Vou al die bestandele by die eierwitte. Gebruik twee lepels om klein balletjies te vorm en dompel in warm olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Verandering: Meng gekapte salami, gaar beesvleis, garnale of sampioene by.

Knoffelsout kan ook bygevoeg word.

resep: Petro van der Westhuizen

Kaneeltert / Cinnamon Tart

Amelia wou 'n resep hê vir kaneeltert. Die onderstaande resep is letterlik 'n paar eeue oud.

1 voorbereide tertkors
250 g gekapte amandels
100 g botter, gesmelt
die wit van sewe eiers
30 g fyn kaneel
250 g suiker
rooswater
Meng die botter, eierwit en amandels saam.
Voeg die kaneel by en meng.
Voeg die suiker by en meng goed.
Plaas alles in die kors en plaas in yskas tot alles mooi gestol is.

Kruisskyfrepe met pepersous / Meat Strips with Pepper Sauce

Maak omtrent 20 kebabs.

50 ml geblikte groen peperkorrels, gekneus
5 ml Dijon mosterd
250 ml room
30 ml brandewyn
1 dik kruisskyf (rump)
sout

Meng al die bestanddele behalwe die vleis saam in 'n kastrol en kook vir 5 minute tot die sous begin dik word.
Verhit 'n roosterpan en rooster die vleis vir sewe minute aan 'n kant. Verwyder en laat staan vir 10 minute voor jy dit in repe sny wat jy in sosatiestokkies inryg.
Gooi sout oor en bedien saam met die sous.

Kaas- en spekvleiskrulle / Cheese and Bacon Rolls

400 g skilferdeeg
250 g streepspek
100 g gerasperde cheddarkaas
sout
peper
knoffelsout
rooipeper

Rol deeg uit - 35 x 20 cm x 5mm dik. Bedek deeg met spekrepe. Strooi kaas en geurmiddels oor. Rol deeg styf op en draai in kleefplastiek toe. Sit in yskas tot dit ferm is. Sny 1cm-skywe wanneer reg is en bak op bakplaat aan albei kante vir 4 - 5 minute onder warm rooster of in oond by 200ºC.

resep: Petro van der Westhuizen

Gestopte hoenderborsies / Stuffed Chicken Breasts

4 groot hoenderborsies
80 g songedroogde tamaties
80 g feta
20 g knoffel, gekap
40 g basielie, gekap
40 g tiemie, gekap
olyfolie
sout
peper

Glanslaag:
100 ml appelkooskonfyt
20 g rissies, gekap
30 ml tamatiesap
sout
peper

Sny die hoenderborsies in filette, strooi sout en peper oor en plaas eenkant.

Meng die res van die bestanddele met 'n bietjie olyfolie.
Stop die hoenderborsies met die mengsel en draai dit toe in foelie.
Plaas in 'n oond teen 180ºC vir 15 - 20 minute of tot deurgekook.

Verwyder foelie en smeer met die appelkoosmengsel.
Plaas in die oond tot goudbruin, omtrent 5 - 7 minute.

Bedien met roket, bronkors en parmesan.

resep: Amori Burger

Whisky Sour

Gooi 45 ml whiskey, 30 ml suurlemoensap en 15 ml suikerstroop in 'n shaker met ys en skud goed. Filtreer in 'n glas.

Wanneer is ’n riesling nie ’n riesling nie?


Kris-Jan Alleman

Hoekom sal die vraag belangrik wees? In Suid-Afrika is ´n riesling meestal ´n crouchen blanc en so baie soos ek van ´n riesling hou, so min genot put ek uit die suur dun stropie van crouchen blanc. Vrind Gerrie het mos nie veel om te doen nie en ek vra hom toe om my oor die verskil tussen die twee druiwe en die verwarring daarom in te lig. Hiervolgens ´n opsomming van wat vrind Gerrie toe te vertelle het:

"So jy het moontlik gedink ´n riesling is ´n riesling - lekker vars, vrugtige witwyn met sy herkoms in Duitsland. Toe nou nie. Daardie bekende en gewilde Theuniskraal riesling is toe al die tyd nie ´n riesling nie!

Die feit van die saak is dat veral wynmense dinge verwar, dit verkeerde name gee en dan beswaarlik later dit kan regstel. Soos die Chilene destyds gedink het als wat hulle plant is merlot (wat toe carminere blyk te wees), so het die voorvader-wynbouers in ons geliefde land mos gereken ´n Franse stief-druif met die deftige naam van crouchen blanc, is riesling. Eers toe die ware jakob later aangeplant word, kom die klompie agter hulle riesling is eintlik crouchen. Maar wat nou gemaak? ´n Slim javel besluit toe ons moet die crouchen doop Kaapse (Cape) riesling en die regte riesling moet volgens sy regte naam, weisser riesling heet. Later word die crouchen blanc ook Paarl riesling genoem en die weisser riesling ook Rhine riesling (verwysend na die druif se oorsprong in Duitsland). Dis vandag aanvaarbaar om Paarl riesling en Kaapse riesling as sinonieme te gebruik, asook so met weisser / Rhine Riesling.

Dit was nie net ons boere wat die fout gemaak het nie, maar ook die Ossies Doer-Onner. Die Aussies doop toe crouchen blance as clare riesling en in die bekende Barossa Vallei word dit sommer herdoop tot semillon. Gelukkig kom die manne hulle fout agter met die semillon-verwarring, maar die naam clare riesling, soos Kaapse riesling, het bly voortleef. Praat van ´n druif met ´n identiteitskrisis!

Hoe dit nou ookal sy, nie crouchen blanc of weisser riesling is baie gewild in Suid-Afrika nie. Net sowat 0,4% van alle wingerd in Suid-Afrika word deur riesling beslaan en ongeveer 1,5% deur crouchen blanc. Daar is tans slegs vyftien produsente wat nog crouchen blanc as enkelkultivar bemark, waarvan Theuniskraal riesling en Nederburg Paarl riesling sekerlik die gewildste en beste voorbeelde is. Crouchen blanc word egter meestal in versnitte gebruik en jy drink miskien baie meer daarvan as wat jy dink, synde hierdie druif een van die hoofkomponente is van die singende, dansende ens. wyntjie, Graça. Wynmakers hou van die crouchen blanc in versnitte, omdat dit ´n bietjie suurstruktuur gee, sonder om te veel geure by te bring. Op sy eie is brouchen blanc eintlik maar ´n bleeksiel. ´n Goedgemaakte voorbeeld sal op die neus sagte nuanses van kruie, koejawel of groen appels ten toon stel en op die tong sal hy vrugtig en vars voorkom. Gewoonlik het die wyn ook nie hoë alkohol nie en dis die perfekte maklik-slukbare somerwyn saam met ´n ligte slaaitjie (as jy suur tande het - kja). Anders as sy Duitse naamgenoot, verouder crouchen blanc nie goed nie en is dit ´n wyn wat liefs binne een jaar na oesdatum gedrink moet word.

Vir die van julle wat wonder: Weisser riesling (of net riesling in die res van die wêreld) is ´n baie meer komplekse en veelsydige druif as crouchen blanc. Die Duitse rieslings van die Mosel-vallei wissel van droog tot edelsoet en om hierdie wyne te proe is om op die hemel se voorstoep te vertoef. In Suid-Afrika is daar self ´n paar ordentelike voorbeelde en jy kan gerus volgende keer die verveling breek deur ´n bottel Groot Constantia of Paul Cluver te probeer saam met jou gunsteling Chinese dis. Jy sal verras word deur ´n neus vol van tropiese vrugte, blommegeure en geparfumeerde pynappel. Met ouderdom raak die wyn nog meer kompleks en kry ´n tipiese olierige terpentyn en heuning karakter. Terpentyn klink nie aptytwekkend nie, maar probeer ´n ouer riesling en jy sal gewis lieflike geure op neus en palet ervaar. Díe met ´n soeter tand kan gerus Neethlingshof se Noble Late Harvest probeer om te sien hoe wonderlik die Botritis-vrot met die natuurlike geure van die riesling-druif kombineer."

Dankie vrind Gerrie!

Watter wyn met watter kos?

Frik Lombard

Die algemene opvatting van watter wyn saam met watter kos gaan, is soos volg: Rooiwyn saam met rooivleis en witwyn saam met wit vleis. Die rede hiervoor is dat rooiwyn byvoorbeeld die delikate smaak van die vis sal oorheers. Daar is uitsonderings op elke reël en hier is dit ook natuurlik so.

Saam met gebraaide hoender, tuna en salmon kan jy gerus ´n vrugtige rooiwyn bedien. As jy ´n gunsteling wyn het waarvan jy hou om te drink, doen dit. Niks keer jou om jou gunsteling chardonnay saam met jou steak te geniet nie. Tradisionaliste sal my seker ophang oor hierdie stelling. Vir my gaan dit daaroor dat jy behoort te eet en drink wat jy geniet. Dit help nie jy drink chardonnay saam met jou vis maar jy geniet nie die wyn nie.

Soos ek voorheen gesê het: kos en wyn saam maak goeie en mooi herinneringe. Die afgelope vakansie het ek en my vrou een aand ´n strand-piekniek gehou. In ons kos mandjie was daar vis en skyfies, kaas, Fairview 2001 Shiraz en vrugte. By die strand aangekom het ek wyn vir ons geskink en ons het dit saam met die vis en skyfies geniet. Daardie aand het ek goeie geselskap gehad saam met goeie wyn. En ek kan julle belowe ons het ook wonderlike herinneringe aan daardie aand.

Indien ek by die tradisionele reëls gehou het sou ek nie shiraz kon drink nie, maar dan sou ek chardonnay moes drink wat ek definitief nie sou geniet het nie. Hier volg nog so ´n paar reëls. Indien jou slaai ´n asyn basis slaaisous het, probeer maar om die wyn weg te hou want die asynsmaak in jou mond kan dalk vir jou met ´n onaangename smaak in die mond laat.

Onthou net die reëls is nie in klip uitgekap nie en hoef nie slaafs nagevolg te word nie. Saam met steaks, geroosterde bees en lam gaan cabernet sauvignon, pinot noir en shiraz goed. Saam met vis is die beste wyn om te bedien ´n sauvignon blanc. Saam met mossels kan jy gerus probeer om ´n rooiwyn te bedien. Maar saam met kreef kan dit ´n ramp wees so bly maar saam met die wit daar.

Saam met hoender, vark en kalfsvleis is dit ook partykeer goed om byvoorbeeld ´n chardonnay te bedien. Maar as die geregte gebraai word dan kan jy kyk daarna om ´n merlot te bedien want dit gaan goed saam met gebraaide hoender. Daar is ietwat van ´n probleem wanneer kerrie bedien word. Die wyn veroorsaak dat die brand net so effens erger is as normaal. Hier sal ek voorstel dat indien jy wel alkohol wil gebruik moet jy dan eerder ´n vonkelwyn voorsit.

Met vegetariese disse is dit heelwat moeiliker om wyn by disse te plaas maar hier stel ek voor dat met die swaarder disse soos boontjies ´n rooiwyn voorgesit word en met die ligter groener groente, ´n witwyn.

By Kaas en Wyn is daar ook maar reëls wat gevolg moet word. Maar ek het al baie gesien dat op ´n Kaas en Wyn daar net gesorg moet word dat daar ´n goeie verskeidenheid kase en wyne is. Want die mense drink en eek volgens hulle voorkeure op so ´n partytjie.

Geniet u wyn en kos en eksperimenteer maar met verskillende disse en verskillende soorte kos. Dit doen nie skade nie.

8/11/2008

Geroosterde soetrissies met fetta / Roasted Peppers with Fetta

Hierdie is 'n voorgereg wees asook 'n heerlike bykos.

3 groot soetrissies
olyfolie
3 anjovisfillette
2 knoffelhuisies fyn, gesny
vars gemaalde swart peper
en
6 sirkels fetta
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 rooi brandrissie, fyngekap
vars gemaalde peper
olyfolie
basiliekruidblare

Voorverhit oond tot 180ºC. Halveer soetrissie en ontpit . Plaas rissie halwes op gemeerde plaat. Snykante na bo. Halveer anjovisfillette en kap fyner. Verdeel saam met knoffel tussen soetrissies. 5 ml olyfolie in elke soetrisiehalwe. Plaas oondskottel met soetrissie oop onderste oondrak en oondrooster vir 45 minute.

Plaas elke ring feta op 'n stukkie foelie wat groot genoeg is om dit in toe te vou. Sprinkel bietjie knoffel op sirkel en geur met gemaalde peper. Druip bietjie olyfolie daarop en plaas basilieblaar Bo-op. Vou elke pakkie toe en plaas laaste 30 minute saam met soetrissie in oond.

Lig soetrissie versigtig uit bakskottel om nie die vloeistof te mors nie. Skep op bord. Garneer met vars tiemie blaartjies. Sit voor met gebakte fetta kaas en brood.

Diabete koek / Diabetes Cake

2 koppies rosyntjies
2 koppies water
2 eiers, liggies geklits - jy kan ook net die eierwit gebruik of enige substituut vir eier
1 teelepel vanielje ekstrak
½ koppie afgeroomde melk
2 koppies onversoete appelsous
3 teelepels Canderel
1 teelepel kaneel
1 teelepel neutmuskaat
1 teelepel sout
1 teelepel bakpoeier
2 koppies meel
1 koppie gekapte neute

Verhit jou oond tot 180ºC.
Kook die rosyntjies in die water tot al die water absorbeer is, ± 30 minute.
Meng al die nat bestanddele saam in een bak en al die droë bestanddele in 'n ander bak.
Voeg die droë bestanddele by die nat bestandele.
Vou die rosyntjies in by die mengsel.
Bak vir 45 minute.

Manhattan

Gooi 45 ml whisky, 15 ml rooi Vermouth en 'n bietjie Angostura bitters in 'n glas en meng.

Biltonghappies / Biltong Bites

Marineer 100 g dun gesnyde biltong vir ten minste een uur in:

15 ml wynasyn
30 ml olyfolie
1 ml sout
10 ml pietersielie, gekap
12 ml grasuie, fyn gekap
knippie peper

Maak 'n sous van die volgende:

50 ml mayonnaise
50 ml suurroom
1 ui, gerasper
5 ml pietersielie, gekap
10 ml suurlemoensap
1 ml mosterdpoeier
knippie peper
knippie sout

Bedien die biltong op saadbrood en skep bietjies van die sous op die biltong.

Chili Bites

2 medium aartappels
1 ui
1 eier
2 teelepels peri-peri
2 teelepels bakpoeier
2 teelepels rooipeper
1 teelepel sout
¼ teelepel paprika

Rasper aartappel en ui op growwe rasper. Voeg res van bestanddele behalwe eier by. Klits eier en voeg by.

Bak lepels vol in warm olie en dreineer.

resep: Petro van der Westhuizen

Hoender met suurlemoenmosterdsous / Chicken with Lemon Mustard Sauce

(Vir die mikrogolf)

30 g botter
1 eetlepel olie
1 medium ui, fyn gekap
1 knoffeltoontjie, gekneus
4 hoenderborsies
2 teelepels paprika
300 ml room
1 teelepel suurlemoenskil, fyn gerasper
2 teelepels suurlemoensap
2 teelepels mosterdsaad
1 blokkie hoenderaftreksel
2 teelepels mielieblom
1 eetlepel water

Meng botter, olie, uie en knoffel in groot mikrogolfbak. Kook sonder deksel op hoog (100%) vir 4 minute. Roer 1 keer. Haal uie uit bak. Vryf paprika op hoender en sit in bak. Sit deksel op en kook op medium (70%) vir 10 minute. Haal uit bak en hou eenkant warm. Gooi uiemengsel weer terug saam met room, skil, sap en mosterd. Krummel die blokkie hoenderaftreksel en meng mielieblom met water. Kook sonder deksel op hoog vir drie minute. Sny hoenderborsies in drie stukke en bedien saam met sous.

resep: Petro van der Westhuizen

Kerriegroente- en spekkoekies / Curried Vegetables with Bacin Biscuits

(Vir die mikrogolf)

4 medium aartappels, geskil en in blokkies gesny en kook in water in mikro vir ± 10 minute tot sag op hoog - 100% - bedek
30 g margarien
2 eetlepels room
1 eiergeel
Druk aartappels fyn en meng die boonste bestandele met die aartappels.
6 repe (Back or shoulder bacon) spek
1 ui, fyn gekap
1 knoffeltoontjie
1 eetlepel kerrie of na smaak
1 medium wortel, gerasper
2 koppies kool, fyn geskeur
3 koppies ou broodkrummels
½ koppie Corn Flake Crumbs

Meng spek, uie en knoffel en sit in bak, bedek en kook vir 4 minute - hoog 100%
Roer een keer deur in die vier minute.
Meng kerrie en groente daarin. Cook vir drie minute op hoog - 100% - bedek. Meng aartappelmengsel en broodkrummels in en sit in yskas vir ten minste een uur. Maak ag koekes en druk in corn flake crumbs. Sit op kante van draai glas bord in mikro en kook onbedek vir vyf minute. Draai eenkeer om in die vyf minute. - hoog 100%

resep: Petro van der Westhuizen

Suikerstroop / Sugar Syrup

Suikerstroop is een van die basiese bestanddele van sekere cocktails (skemerkelkies).

Verhit 125 ml water en 125 ml suiker saam. Kook en roer tot die suiker opgelos het. Hou in die yskas tot benodig.

Pina Colada


Gooi 30 ml Bacardi, 120 ml pynappelsap, 30 ml kokosneutlikeur en 15ml Suikerstroop in 'n menger en verwerk tot glad. Gooi 125 ml ys by en meng weer.
Bedien.

Gooi 30 ml Bacardi, 120 ml pynappelsap, 30 ml kokosneutlikeur en 15ml in 'n menger en verwerk tot glad. Gooi 125 ml ys by en meng weer. Bedien.

(foto Mario Trefz)

Kaashappies / Cheese Snacks

150 g bruismeel
130 g cheddar, gerasper
ruim knippie rooipeper
knippie sout
250 ml melk of bier of mengsel van die twee

Smeer kolwyntjiepan. Verhit oond tot 180ºC. Meng al die bestandele tot slap deeg.
Skep in pan en bak vir 15 - 20 minute. Opsioneel: Strooi sesamesaad of semels bo-oor.

(10 porsies)

resep: Petro van der Westhuizen

Radyse met wodka en seesout / Radish with Vodka and Sea Salt

2 bossies vars radyse, verkieslik baba-radyse, skoongemaak, nie geskil, en nog met 'n stukkie steel aan
wodka
sout, verkieslik goeie sout soos byvoorbeeld Maldon

Sit bakkies uit met wodka en sout. Die gaste doop eers die radyse in wodka en dan in sout.


(die resep is genoeg vir 12 persone)

Aartappelkrulle / Potato Curls

1 aartappel per persoon
olie vir braai
sout

Skil vir jou lang, dun repe aartappel en diepbraai dit in olie. Hou die krulle vooraf in water sodat hulle nie so maklik breek nie. Besprinkel met sout.

Middagete by Hartenberg

deur Quintus van Rensburg

Op die pad vanaf Bellville 12 km noord van Stellenbosch draai jy regs af na die Hartenberg landgoed. Tussen die wingerde deur tot by die kelder wat skuinslê teen die Bottelary-heuwels.

Ek was ´n gas vir middagete en kon rustig agteruitsit by die tafel onder die bome en teug aan ´n Nicaraguaanse sigaar terwyl ek wag op middagete en ´n verskeidenheid van Hartenberg se wyne wat ons gasheer bestel het.

Middagete by Hartenberg bestaan uit ´n voorafbereide bord met ´n verskeidenheid vleise, goente, en kaas. Die idee is die van plaaskos onder die bome.

Ons gasheer het ´n bottel Hartenberg pontac saamgebring. Soos ek verstaan het pontac nie net ´n rooi skil soos meeste rooi kultivars nie, maar ook rooi vlees. Die kultivar is by Hartenberg geplant op die punte van elke ry wingerd. Die druif gee ´n rooi sap af en bobbejane wat die druiwe kom roof dink hulle bloei en hardloop weg.

Pontac is van Franse oorsprong en volgens die etiket het Jan van Riebeeck ook moontlik ´n glasie geniet. Die wyn is reeds in 1772 verskeep vanaf Kaapstad na Amsterdam.

Hartenberg het glo die enigste pontac in die land gemaak, maar het besluit om produksie daarvan te staak. Tog jammer, want van al die wyn wat ons gehad het het die pontac die meeste beïndruk.

Op aanbeveling van die dame in die proelokaal het ons ´n verskeidenheid kraffies wyn bestel om aan te proe. Eerste aan die beurt was Bin 3, ´n droë witwyn versnit teen R22 ´n bottel op die landgoed.

Ek kan nie veel uitwei oor die karaktertrekke van Bin 3 nie, want ek kon nie veel opspoor nie. Dit was ´n baie jong wyn met lae alkohol en baie effe van geur. Die tipe drankie vir mense wat nie eintlik van wyn hou nie, maar in sekere omstandighede ´n glasie sal tolereer.

Volgende aan die beurt was die Occasional blanc de noir 2002 (R25). ´n Gebalanseerde wyn vol bessiegeure, maar te soet na my sin.

Daar is geen verskoning vir middelmatigheid nie en dus het ek ook nie veel meer te sê oor die halfsoet L´Estreux (R25) nie.

Die Weisser Riesling 2003 het ´n besondere tropiese neus. Ek soek egter ´n meer volronde karakter van ´n wyn wat 3½ sterre gekry het in die Platter Guide 2004.

My gunsteling vir die dag was die Chatillon 2002 (R22). Dit is ´n versnitwyn wat bestaan uit 35% semillon, 22% chenin blanc en 43% chardonnay.

´n Geurige droë witwyn met perske en suurlemoen wat sterk na vore kom. Goeie waarde vir geld!

Jou Chatillon kan tot drie jaar op ´n koel plekkie hou. Oor die tydperk sal die semillon-karakter van die wyn meer prominent word.

´n Bord kos en ´n bottel Chatillon is die geld werd onder die bome by Hartenberg.

Rissies

Frik Lombard

In Viëtnam noem hulle dit ot. Maar hier by ons word dit sommer chillies genoem. Rissies is al sedert 7 500 vC deel van die mens se dieet. Daar is bewyse dat sedert 3 500 vC rissies op ´n georganiseerde wyse gekweek is. Rissies word geklassifiseer as ´n vrug, alhoewel mense dit ´n spesery noem.

Daar bestaan 27 verskillende variëteite rissies waarvan 22 wild groei en net 5 gekweek word. Rissies het baie goeie kwaliteite en een daarvan is dat ´n sekere variëteit in Mexiko die minimum daaglikse vitamien C bevat, maar die rissies moet groen wees. Indien daardie selfde rissies gelos word om ryp te word, rooi, dan bevat hy twee keer soveel vitamine A as wat ´n wortel bevat.

Die brand kom voor in die vlies waar die pitte sit. Dit is ´n olie wat capsaicin genoem word. Aangesien die "brand" ´n oliebasis het help dit nie om water te drink as jy so ´n lekker hap rissies geneem het nie. Die water en olie meng glad nie. So ´n ander oplossing moet gesoek word. Daar word genoem dat dit sal help om rys te eet om die brand weg te neem. Nog ´n moontlike oplossing is om ´n lepel suiker te eet. Verder kan jy ook warm tee drink of ´n komkommer eet.

Natuurlik moet mens kan sê hoe sterk die brand gevoel van die rissies is. ´n Amerikaanse apteker genaamd Wilbur Scofield het ´n metode opgetoor om dit te bepaal. Suiker word in ´n glas water opgelos. Rissies word verpulp en dan word daar ´n sekere hoeveelheid druppels rissies in die suikerwater gegooi. Elke druppel rissies verteenwoordig ´n aantal punte. Hulle kry nou ´n paneel mense om die konkoksie te drink, en met elke sluk wat hulle neem word daar minder rissiesap ingegooi. Die paneel hou aan proe totdat die mengsel hulle monde nie meer brand nie. Daar kan nou gesê word dat Jalapeno's ´n Scofield-telling van 2 500 tot 4 000 het. Habanerao's het ´n Scofield-telling van 100 000 tot 300 000.

Die wêreld oor word rissies gebruik in die voorbereiding van kos, maar veral in die meer warmer streke van die wêreld. rissies word gebruik om kerries te maak in Thailand. In sekere dele van China gebruik hulle baie rissies in hulle kos. In Korea word rissies ingelê saam met gemmer en knoffel. In Tibet gaan hulle so ver as om rissies met kaas te meng.

Ek het in Dullstroom ´n ander gebruik van rissies gesien. Daar maak een entrepreneur toiletsitplekke van perspex waarin hy rissies sit. Dit lyk nie te sleg om na te kyk nie maar ek weet darem nie of ek die moed sal hê om op een van daardie sitplekke te sit nie. Daar is ´n spesialiteitswinkel in Sandton waar hulle rissie-roomys verkoop. So met die tyd het rissies hulle begin vestig in ons kultuur. So sien ek dat Mev Balls nou ook rissies saam met haar blatjang meng. Daar is ook nou rissie-tamatiesous.

Ek myself is lief om rissies in te lê en dan saam met my kos te eet. Die beste gebruik van rissies kom in die volgende resep voor. ´n chef van Kaapstad het hierdie voorgereg opgedis. Knoffel en rissies gebraai in botter. Dan word garnale bygevoeg. Sodra die garnale gaar is word dit gevlam met whiskey. Daarna word daar sjokoladesous oorgegooi en voorgesit. Dit klink miskien nie lekker nie maar ek kan my voorstel dat die brand van die rissies en die soet van die sjokolade ´n groot smaak ontploffing in jou mond kan veroorsaak.

8/08/2008

Peking-eend / Peking Duck

Die geheim van die Peking-eend is die bros vel. Dit word na die kookproses verwyder en apart bedien.

Dit is belangrik dat die eend se vel kurkdroog is voor daar begin word met die kookproses. Droog die eend goed af en sprei dan die vlerke oop. Dit sal ideaal wees indien jy die voël iewers kan ophang met oopgespreide vlerke. As jy die voël afvee met skoon brandewyn sal dit die droogproses aanhelp. Plaas 'n waaier so dat dit lug op die eend blaas en laat dit so staan vir 4 ure. Jy kan ook die voël oornag in 'n trek hang.

Jy gaan borsels van sprietuie nodig hê. Die sprietuie moet nie langer as 10 cm wees nie. Maak hulle mooi skoon en sny die punte af. Maak 2 vertikale snitte van so 2 cm lank regoor mekaar aan die wit kant van die uie. Dan maak jy nog 2 soortgelyke snitte regoor mekaar tussen die ander snye.

Plaas die uie in 'n bakkie yswater in die yskas. Die gesnyde punte sal opkrul en jou uie sal soos klein borseltjies lyk.

Die eend word bedien met 'n tipe pannekoek. Daarvoor het jy nodig:

450 g meel
600 ml kookwater
30 ml sesame-olie

Sif die meel en meng met die water om 'n sagte deeg te vorm.
Knie die deeg vir 10 minute tot dit 'n rubberagtige struktuur ontwikkel.
Bedek met 'n teedoek en laat met rus vir 20 minute.

Rol die deeg 5 mm dik uit en sny 5 cm-sirkels uit met jou dukker wat jy vir skons gebruik.
Smeer die een kant met sesame-olie en plaas 'n ongesmeerde sirkel bo-op.
Rol albei saam uit, so dun as moontlik. Hulle behoort uiteindelik 'n deursnee van ongeveer 15 cm te hê.

Verhit 'n skoon swaarboompan vir 30 sekondes en draai dan die hitte tot op die laagste merk.
Plaas 'n pannekoek in die pan en draai sodra daar lugborrels begin vorm.

Laat jou pannekoeke afkoel en draai hulle dan toe in foelie en hou hulle in die yskas tot benodig.

Jou eend gaan ook 'n sous nodig hê:

125 ml Hoisin (of pruimsous)
20 ml suiker
20 ml sesame-olie
20 ml koue water

Meng al die bestanddele in 'n klein kastrolletjie tot dit begin kook. Draai die hitte af tot by die laagste merk en roer vir 3 minute.

Gooi die sous in 'n opdienbakkie.

Jy het ook 'n sous nodig vir die bakproses. Meng 45 ml sojasous, 20 ml strooisuiker en 150 ml koue water en verf jou eend daarmee.

Plaas jou eend op 'n draadrak in 'n roosterpan met die bors na bo.

Gooi kookwater in die pan tot dit 6 mm diep is.

Die oond moet aanvanklik verhit wees tot 200ºC.

Plaas die eend onder in die oond vir 'n uur en 'n kwart.
Verf elke 15 minute met die drupsous.

Na 45 minute moet die hitte verhoog word na 230ºC.

Op die stadium kan jy die pannekoeke sommer so in die foelie in die oond sit om dit te verhit.

Voor opdiening verwyder jy die vel en sny of knip dit in 5 cm-blokkies. Hou dit warm.

Sny die eend in lang repe vir bediening.

Plaas nou die vel, eend, pannekoeke, sous en uiborsels (so in die yswater) op die tafel in hul eie opdienborde.

Jy eet die eend deur die twee helftes van die pannekoek versigtig van mekaar af te trek. Gebruik jou borseltjie om die sous op die klam een van die 2 pannekoeke te smeer.

Sit stukke hoender en vel op die sous, vou toe, rol op en eet.