Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/02/2008

S - Glossarium, Woordelys van Kookterme - voedsel en wyn

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


saadbal
Die manlike geslagklier wat die saad voortbring. Veral die van ’n ram, bul of lam word graag geëet. (testis, testikel, teelbal)

saal (saddle)
’n Vleissnit wat uit albei lendestukke bestaan met ’n T-vormige rugbeen tussen hulle.

saameet
Saam met iemand anders eet, of meer as een kossoort gelyk eet.

saamklont
Wanneer ’n mengsel klonte vorm.

saamkook
Gemengde bestanddele in ’n pot kook.

sabayon [sa-ba-john]
Die Frans vir die Italiaanse zabaglione. Dit is ’n klassieke nagereg van geklitste eiergeel en suiker met gefortifiseerde wyn of vrugtesap. Dit kan ook as ’n sous gebruik word by ander nageregte.

sabayon-sous (Sabayon sauce)
’n Sous van wyn en eiers.

saffraan
Saffraan is ’n spesery berei uit die stampers van die krokusplant Crocus sativus.

saggarien (saccharine)
’n Baie soet stof uit steenkoolteer gemaak wat as suiker gebruik word. (sakkarien)

sago
’n Soort voedsel wat verkry word uit die die murg van sekere palmsoorte, veral die sagopalm. Dit word ook van aartappels verkry.

sagopalm
’n Soort palm waarvan sago verkry word, veral van die geslag Metroxylon

sagopoeding
’n Poeding berei uit sago.
Sagopoeding resep

sagte bal (soft ball)
’n Stadium in die kook van suiker wanneer die stroop 112° - 118°C bereik en ’n sagte bal vorm wat maklik platgedruk kan word.

sagtevrugte
Vrugte van bladwisselende bome.

saignant [sien-jo] (rare; underdone)
Frans vir “rou vleis”.

saisir [sie-seer]
Frans vir om oor hoë hitte te kook.

saké
’n Japannese alkoholiese drank wat uit rys vervaardig word. (saki, ryswyn)

saki
’n Japannese alkoholiese drank wat uit rys vervaardig word. (saké, ryswyn)

sakkarien (saccharine)
’n Baie soet stof uit steenkoolteer gemaak wat as suiker gebruik word. (saggarien)

salami
Sterk gekruide droëwors met uie en knoffel.

salie (sage)
Salie is ’n kruid met ’n sterk, pikante smaak.

salietee
Tee berei van salie.

Salisbury steak
’n Vleiskoekie gemaak van gemaalde beesvleis. Dit word met ’n sous voorgesit.

Sally Lunn
’n Bekende soet brood, koek of bolletjie, wat oorspronklik in Bath, Engeland verkoop is.

salm (salmon)
’n Groot eetbare sportvis gesog vir die delikate pienk vleis.

salmforel (salmon trout)
’n Varswatervis waarvan daar 3 soorte voorkom (see-forel).

salmis [sal-mie]
Salmis is ’n tipiese ragoût, gewoonlik met wildevoels of pluimvee. Die vleis word eers gebraai, dan opgesny in porsies en dan geprut in ’n sterk bruinsous. (salmi)

salomi
’n Opgerolde Maleise roti met ’n vulsel van kerrieboontjies, skaapvleis, maalvleis of hoender.

salot (shallot)
’n Salot is ’n klein soort ui met die geur en vorm van knoffel.

salpeter
’n Kristalvormige delfstof (kaliumnitraat) waarvan potas ’n hoofbestanddeel is.

salpicon [sal-pie-kon]
Salpicon is ’n fyngekapte Franse mengsel waarmee jy tertdoppies vul of pluimvee stop. Gewoonlik word gemaalde hoender of tong en sampioene gebruik. Dit kan ook voorberei word as klein frikkadelle.

salsa
’n Skerp Meksikaanse sous gemaak van onder meer rissies, uie en tamaties. (salsasous)

salsa verde [salsa vêrdé]
’n Italiaanse sous van fyngekapte kruie, met ’n sterk geur.
Salsa verde

salsafis [sal-si-fi]
Frans vir “hawerwortel”.

saltimbocca alla Romana [sal-tim-bok-ka alla roh-mah-na]
Dun Italiaanse kalf-schnitzels of beesvleisskywe met ham, kaas, sampioene en geurmiddels bo-op en dan opgerol en in olie gebraai.

sambal
’n Gekruide Maleisiese slaai wat tradisioneel saam met vleis geëet word.
Sambal resep
Uie sambal resep
Piesang sambal resep

samie
’n Toebroodjie, veral een met ’n vulsel.

samma
’n Wilde waatlemoen, Citrullus vulgaris, wat in woestynagtige streke groei (tsamma).

samoesa
’n Diepgebraaide driehoekig gevoude Indiese pasteitjie met gekerriede groente of vleis. (samosa)

samosa
’n Diepgebraaide driehoekig gevoude Indiese pasteitjie met gekerriede groente of vleis. (samoesa)

samovar
’n Russiese ketel wat gebruik word om water vir tee te verwarm.

sampioen (mushroom)
’n Groep fungi (sien fungus) met ’n sambreelagtige voorkoms. Slegs party soorte is eetbaar, ander is giftig. Die soort Agaricus campestris kan kunsmatig gekweek word. (kampernoelie, paddastoel, duxelles

sandappel
’n Struik, Parinari capense, met ’n donkerbruin, sterk ruikende, soet vrug met grys spikkels. Dit word in dele noord van die Vaalrivier in Suid-Afrika aangetref.

sandkruiper
’n Soort eetbare seevis> wat in vlakkerige water voorkom en in die sand wegkruip.

sandloper (egg timer)
’n Toestel met ’n nou middel met sand wat loop van bo na onder in ’n spesifieke getal minute. Dit word gebruik om die gaarheid van eiers te bepaal. (eierkoker)

sandsuiker
Suiker wat gekristalliseer het.

sangria
’n Spaanse pons met onder meer rooiwyn, suiker, speserye, vrugte en sodawater of limonade.

sap (juice)
Die vloeistof van ’n plant wat suiker, gom of hars bevat.

sappig (juicy)
Vol sap.

sapryk (juicy)
Vol sap.

Sapsago
’n Harde Switserse kaas gemaak van afgeroomde en volroom melk. Die groen kleur word verkry deur klawer by die wrongel te voeg. (groenkaas)

Saratoga tjops
Saratoga tjops word gemaak van ontbeende en opgerolde lende wat in ewe groot skywe gesny word. Die skywe word met vleispenne aanmekaar gehou.

sardien
’n Klein tipe haring. (sardientjie)

sardientjie
’n Klein tipe haring. (sardien)

sardyn
’n Tipe klein haring, maar dit is groter as ’n sardien.

saronvrug
’n Eetbare vrug van die genus Diospyros.

saté
’n Suidoos-Asiese gereg wat bestaan vleissosaties voorgesit met grondboontjiesous.

satecoy
’n Growwe spanspek met oranje vleis en ’n groen skil.

satésous
’n Suidoos-Asiese soet spesery-en-kerriesous met grondbone en klapper as basis.

satéstokkie
’n Sosatiestokkie gemaak van die steel van kokospalmblaar of bamboes.

satsoema
’n Pitlose Japanese sitrusvrug met ’n sagte skil. (satsuma)

satsuma
’n Pitlose Japanese sitrusvrug met ’n sagte skil. (satsoema)

saucisse [sou-sies]
Frans vir “wors”. (saucisson)

saucisson [sou-sie-sohn]
Frans vir “wors”. (saucisse)

sauerbraten
’n Duitse gereg van gematineerde potgebraaide beesvleis voorgesit met kluitjies of gekookte aartappels en rooikool.

sauerkraut
Fyngesnyde witkool wat gesout en gefermenteer word. Dit is ’n Duitse woord wat "bitter kruid" beteken. (suurkool)

saumon [so-moh]
Frans vir “salm”.

saupoudrer [so-poe-drê]
Frans vir om ’n droë bestanddeel te strooi.

sauté [so-tê]
Franse term vir wanneer jy voedsel verbruin met vet of olie in ’n pan. Wanneer die voedsel ter sprake dik is, soos byvoorbeeld met hoender, dan moet die pan na die verbruining bedek word. Wanneer die pan of pot bedek is word dit van tyd tot tyd wild geskud om te verseker dat alles eweredig aan alle kante kook. Die vloeistof wat oorbly na die kookproses word gewoonlik gebruik as ’n sous. Die woord beteken 'spring' en verwys na die manier wat die kos beweeg as jy die pan skud. ’n Afrikaanse woord wat vir die proses gebruik word is opskud of soteer.

sauteuse [so-tus]
Frans vir ’n vlak pan met skuins kante.

sautoir [so-twa]
Frans vir ’n diep sauté-pan.

sauvignon blanc [soe-wie-john blahn]
’n Witdruifsoort uit Bordeaux in Frankryk.

savarin
’n Ryk suurdeegkoek, in ’n ringvorm gebak, geweek in likeur en koud voorgesit met room of vrugte in die middel van die ring. Die naam word ook gebruik om net na die metaalring te verwys.

savojekool (savoy cabbage)
Groen kool met gekreukelde blare.

scallion
Lees sprietui. Die Amerikaanse benaming hiervoor.

scallopa [ska-lo-pa]
Italiaans vir klein skyfies kalfsvleis.

scampi
Oorspronklik Italiaans vir ’n groot garnaalsoort. ’n Klein seediertjie met lang knypers wat soos steurgarnale voorberei word. (Dublin Bay prawn, langoustine, langoestien, nieroogkreef, Norwegian lobster)

scarole [ska-rol]
Frans vir groente met breë krulblare, bv. sigorei en andyvie. Dit is beter bekend as escarole.

schnitzel
’n Dun, sagte skyf vleis (gewoonlik kalf) wat in meel of krummels en eier gedoop word en dan in olie gebraai word.

schmaltz
Gesmelte vet wat as plaasvervanger vir botter of margarien gebruik kan word.

Schwartzbrot
’n Ongesuurde Duitse swart brood gebak van growwe, ongesifte rogmeel. Dit is oorspronklik van Wesfale in Duitsland. (pompernikkel, pumpernickel)

Scotch woodcock
Gekapte eier en ansjovissmeer op roosterbrood.

see-egel (sea urchin)
’n Stekelrige seedier wat in rotspoele aangetref word.

see-forel (sea trout)
’n Varswatervis waarvan daar 3 soorte voorkom (salmforel).

seebaars
’n Seevis met delikate vleis.

seeduiwel (monkfish, anglerfish)
’n Groot vis van die rogfamilie. Ook bekend as die manta.

seegarnaal
’n Weekdier wat voorkom in riviermondings en strandmere in KwaZulu-Natal.

seegras
’n Plant wat in vlak seewater groei.

seekat
’n Weekdier met slymerige vangarms met suiers. (oktopus)

seekomkommer
Dit is ’n wurmagtige seedier. Dit word in die Ooste as ’n lekkerny beskou. (holoturium)

seekool (sea kale, sea kail, sea cole)
’n Plant van die mosterd-familie met groot blare.

seekos (seafood)
Alle eetbare soorte voedsel wat uit die see kom.

seepastei (sea pie)
’n Pastei met vleis, groente en kluitjies, in ’n kors gebak.

seesout
Sout verkry deur seewater te laat verdamp.

seevis
’n Vis wat in die see leef. (soutwatervis)

seldery (celery)
’n Plant waarvan die blare, stingels en wortel as groente gebruik word.

selderykrul (celery curl)
’n Dun reep seldery wat in yswater geplaas word tot dit krul.

selery (celery)
Lees seldery.

selle d’agneau [sel dan-jou]
Frans vir “lamsaal”.

selonspampoen
’n Soort pampoen wat soos ’n kalbas lyk. (kalbaspampoen)

selyodka
’n Russiese gereg van gesoute haring.

semels (bran)
Die fyngemaalde doppe van graankorrels wat uitgesif is.

semillon [se-mi-john]
’n Franse druifsoort. (sémillon, groendruif)

sémillon [se-mi-john]
’n Franse druifsoort. (semillon, groendruif)

semisoet
Wyn wat tussen soet en mediumdroog is.

semolina
Semolina is ’n korrelrige meel.

sermeinpeer
’n Suur peersoort.

serrano
’n Klein, groen rissie met ’n hoë hitte.

servelaatwors
Gemaalde bief- en varkvleiswors.

servet
Materiaal of papier waarmee jy jou hande en mond afvee terwyl jy eet. Dit beskerm ook jou klere.

serviette [ser-wi-et]
Frans vir “servet”.

sesam
Saad van ’n tropiese plant. (sesamsaad)

sesamsaad
Saad van ’n tropiese plant. (sesam)

setmeel
Fyn meel gemaal van koring, neute, styselagtige wortels en aartappels. (farina)

Seviche
’n Peruviaanse gereg van vis gemarineer in suurlemoen- of lemmetjiesap. Alternatiewe spellings is Ceviche of Cebiche.

shakshouka
’n Gereg uit Noord-Afrika van eiers geposjeer in tamatiesous saam met groente en speserye. (chakchouka)
Shakshouka

shandy
’n Mengsel van helfte bier en helfte lemonade.

Sharp se grysbok
’n Soorte wildsbokkie, Rhaficerus sharpei, wat in die Noordelike Provinsie van Suid-Afrika en Swaziland tot Malawi voorkom.

shashlik
’n Kaukasiese gereg van vleis op ’n vleispen gaargemaak en voorgesit met ’n pilaf. (shashlyk)

shashlyk
’n Kaukasiese gereg van vleis op ’n vleispen gaargemaak en voorgesit met ’n pilaf. (shashlik)

sheba
Lees tamatiesmoor.

Shimeji
’n Sampioen met ’n neutagtige geur.

shiraz
’n Druifsoort; ’n rooiwynkultivar.

Shitake
’n Shitake met 'n sponserige tekstuur en 'n rokerige geur.

shooter
Lees skopdop.

sider
Drank berei uit gegiste vrugtesap van appels of pere. (appelwyn)

sierertjie
Lees pronkertjie.

sif
’n Komvormige bak vol gaatjies, gebruik of growwe en fyn bestanddele van mekaar te skei.

sifdoek
Dun materiaal gebruik as sif.

siffie
Lees sif.

sifsel
Wat met die sifproses deurval.

sigorei (chicory)
Die geroosterde en gemaalde wortel van die plant word by koffie gevoeg. Wanneer dit as groente gebruik word, word meesal daarna verwys as witloof, of soms ook brusselslof.

sillabub
’n Nagereg of drankie gemaak van geklopte room en suiker en gegeur met sjerrie.

silwersuikerbrood (angel food cake)
’n Ligte koek met of sonder versiersel. (suikerbrood)

silwervis
’n Suid-Afrikaanse rifvis.

Singapore Sling
’n Mengeldrankie ontwerp deur ’n kroegman met die naam van Ngiam Tong Boon in 1915 by die Raffles Hotel in Singapoer.

sirkhomo
Sirkhomo is ’n tradisionele Moslem melkdrankie.

siter
’n Geel vrug wat soos ’n suurlemoen lyk, maar ’n dunner skil het. Beter bekend as ’n sitroen.

sitroen (citron)
’n Geel vrug wat soos ’n suurlemoen lyk, maar ’n dunner skil het. (siter)

sitroengras (lemon grass)
Geurige gras wat in kos gebruik word.

sitroenkruid (lemon balm)
Suurlemoen-gegeurde krui wat in kos gebruik word. (sitroenmelisse)

sitroenmelisse (lemon balm)
Suurlemoen-gegeurde krui wat in kos gebruik word. (sitroenkruid)

sitrus
’n Algemene naam vir vrugte van die geslag Citrus met sagte huisies en 'n dik skil. Dit word aangetref aan bome wat immergroen is.

sitrusskil (zest)
Die gekleurde, geurige deel van sitrusvrugte.

sitrusskiller
’n Instrument wat gebruik word om sitrusvrugte mee te skil.

sjampanje
Sjampanje is vonkelwyn uit die streek Champagne in Frankryk.

sjebeen
’n Drinkplek of kroeg in Suid-Afrika.

sjef
Die kok van ’n restaurant.

sjerrie
’n Wit of donker gefortifiseerde wyn met ’n neutgeur. Die naam is afgelei van die plek van oorsprong, Jerez in Spanje.

sjiffonkoek (chiffon cake)
’n Koek lig van tekstuur.

sjimiaan
’n Alkoholiese Suid-Afrikaanse drank gebrou van sorghumbier en suurdeeg.

sjokolade (choclate)
Lekkers gemaak van kakao, suiker en kakaobotter.

skaal
’n Toestel waarmee die gewig van dinge bepaal word. (weegskaal)

skaaldier (crustacean)
’n Seelewende dier met ’n harde, kalkagtige dop.

skaap
’n Herkouende, woldraende hoefdier, waarmee veral ter wille van sy wol en vleis geboer word.

skaapkop
Die kop van ’n skaap. In Suid-Afrika word ook daarna verwys as Smileys.
Skaapkop resep

skaapstert
Die stert van ’n skaap wat uitgebraai word om die vet en kaiings te kry.

skaapsuring (sorrel)
’n Kruid met pylvormige blare wat veral gebruik word slaai.

skaapvleis (mutton)
Vleis van ’n ouer skaap. Een wat nie meer ’n lam is nie.

skaldeer (scald)
Om tot net voor kookpunt te verhit.

skeen (shin)
Die deel van ’n dier se agterpoot wat ooreenkom met ’n mens se onderbeen. (skenkel)

skeepsbeskuit (hardtack)
’n Ongesoute droë koekie. (klinker)

skeet
’n Haai met ’n plat lyf. (rog, vleet)

skei (seperate)
Om dele van ’n voedselsoort of mengsel apart te maak.

skelvis (haddock)
’n Seevis met ’n swart systreep en ’n donker kol.

skelvissop
Dit is ’n ryk sop, veral van kreef gemaak. (bisk, bisque, ).
Skelvissop resep

skemerkelkie
’n Drankie wat teen die aand se kant gedrink word - veral ’n alkoholiese mengeldrankie.

skenkel (shin)
Die deel van ’n dier se agterpoot wat ooreenkom met ’n mens se onderbeen. (skeen, skinkel) By ’n skaap of vark word die Engelse woord shank gebruik.

skep
Met ’n lepel of ander hol voorwerp oplig.

skerptandbaber
’n Groot aalagtige varswatervis. Dit word kommersieel geteel as eetvis. (katvis, grootbekbaber)

skietmielies
Mielies wat oopbars tot sagte, ronde vorms wanneer dit verhit word. (kiepiemielies, springmielies, kuikenmielies)

skif (curdle)
Wanneer kos klontjies vorm.

skil (rind)
Die buitenste laag vanl van vrugte. Die woord word ook gebruik vir die aksie om hierdie laag te verwyder.

skilferdeeg
’n Ligte deeg wat lagies vorm wanneer dit gaar is.

skilferkors (flaky pastry)
Tertdeeg wat, nadat dit gebak is, bros skilfers afgee.

skilpad
’n Plantvretende reptiel met ’n beenagtige buitenste dop.

skilpadjie
’n Gereg wat bestaan uit lewer wat in netvet toegedraai word. Dit word gewoonlik oor die kole gebraai.

skilpadsop
Sop gekook van die seeskilpad.

skimmel
’n Draadvomige plant wat ’n swamvlok en swamdrade vorm en deur spore voortplant.


skink (pour)
Vloeistof uit ’n houer in iets laat vloei waaruit dit gedrink gaan word.

skinkbord
’n Plat bord waarop voedsel of eetgerei na gaste gebring word.

skinkel
Lees skenkel.

skokiaan
’n Sterk alkoholiese drank.

skol
’n Soort ruitvormige platvis.

skommel (shake)
’n Koue drankie gemaak van melk en roomys.

skon
’n Broodjie van fynmeel wat onder andere by ontbyt en middagtee geëet word.

skoolvoeding (school nutrition)
Die voorsiening van kos aan kinders op skool.

skopdop
’n Klein, sterk sopie.

skorsenier (scorzonero)
Soortgelyk aan ’n hawerwortel, maar net swart.

skorsenierwortel
Lees hawerwortel.

skorsie
’n Groentesoort van die pampoen-familie.

Skotse eiers (Scots eggs / Scotch eggs)
Skotse eiers word hardgekook en dan omring met ’n mengsel van worsvleis en broodkrummels. (eierfrikkadel)

Skotse gort-en-groentesop (Scotch broth)
Sop wat bestaan uit vleis, groente en gort.

skottel (dish)
’n Platterige houer met lae kante waarin kos gaargemaak en/of bedien word.

skouerstuk
’n Stuk van die skouer van ’n dier. (voorbeen).

skroei (parching)
Om kos te rooster, te verbruin of uit te droog.

skuimpies
Eierwitte wat saam met suiker styfgeklop en gebak word. Beter bekend as meringues.
Resep vir skuimpies

skuimspaan
’n Plat lepel met gaatjies wat gebruik word om skuim mee af te skep.

skuinskoek
Tradisioneel gemaak met van oorskiet-mosbolletjiedeeg wat diepgebraai word in olie.
Skuinskoek resep

skulp (scallop)
Om ’n geskulpte of geriffelde rand vir ’n gereg te maak.

skulppasta
Pasta in die vorm van skulpies.

skulpvis (shellfish)
’n Vars- of soutwaterdier met ’n harde eksoskelet en geen ruggraat.

skumbani
’n Kwart brood, uitgehol en gevul met vleis, aartappels of enige van jou gunsteling bestanddele.

skyf (steak)
’n Vleis of vissnit.

slaai
’n Gereg gemaak van groente. Dit is ook die naam vir ’n plant, Lactuca sativa, ook bekend as blaarslaai.

slaaikop
Vaste blare van ’n slaaiplant. (slaaikrop)

slaaikrop
Vaste blare van ’n slaaiplant. (slaaikop)

slaailepel
Die lepel vir slaai.

slaaiolie
Olie vir slaai.

slaaisous (salad dressing)
’n Sous gemaak van olie, asyn en geurmiddels. Dit word saam met slaai voorgesit.

slagbank
’n Bank waarop vee geslag word.

slagbees
’n Bees wat geskik is vir slag.

slagblok
’n Blok waarop geslagte vleis gekap word.

slagdier
’n Dier wat geskik is vir slag.

slagding
’n Dier wat geskik is vir slag.

slaggewig
Die gewig van ’n dier nadat dit geslag is.

slaggoed
Lees slagvee.

slaghoender
’n Hoender wat geskik is vir slag.

slaghuis
’n Winkel wat vleis verkoop.

slagkoei
’n Koei wat geskik is vir slag.

slagmes
’n Mes wat vir slag gebruik word.

slagos
’n Os wat geskik is vir slag.

slagpale
’n Plek waar diere geslag word.

slagplaas
Lees slagpale.

slagplek
’n Plek waar diere geslag word.

slagroom (heavy cream)
’n Dik room.

slagskaap
’n Skaap wat geskik is vir slag.

slagter
Iemand wat diere slag.

slagtersblok
’n Blok waarop geslagte vleis gekap word.

slagtershaak
Lees vleishaak.

slagtery
’n Plek waar diere geslag word.

slagtyd
’n Tyd wanneer diere geslag word.

slagvark
’n Vark wat geskik is vir slag.

slagvee
’n Vee wat geskik is vir slag.

slak (snail)
’n Eetbare skulpdier. (escargot)
Slakke in knoffel en wyn

slaphakskeentjies
’n Tradisioneel Suid-Afrikaanse gereg van gekookte klein uitjies koud voorgesit in ’n romerige soetsuur sous.
Slaphakskeentjies

slaplemmes (spatula)
Kombuisgereedskap met ’n plat, buigbare lem. Dit word gebruik vir smeer, uitkrap en meng. (spatel)

slaptjip (chip)
’n Lang, dun stukkie aartappel, in warm olie gebak. (tjip, skyfie)

slinger-om-die-smoel
’n Ou naam vir melkkos.

slingerheuning
Heuning wat met behulp van ’n toestel uit die koeke geslinger word.

smaakmiddel (flavouring)
Iets wat die smaak prikkel en smaak aan kos moet gee.

smeer (shortening; spread)
Botter of vet wat vir bak gebruik word. Die woord word ook gebruik wanneer iets met ’n sagte voedsel soos botter bedek word.

smeerkaas
Sagte kaas om op brood te smeer.

smeerperskes
Droëperskes wat gemaal en uitgerol word.

smeerwortel (comfrey)
’n Kruid soortgelyk aan bernagie.

smelt (melt)
Iets deur hitte van vastestof na vleoistof te verander.

smeltsous (hard sauce)
’n Soet bottersous. Dit word verkoel totdat dit hard is. Wanneer dit op warm nagereg geplaas word smelt dit.

smetana
Suur of aangesuurde room. (smetena)

smetena
Suur of aangesuurde room. (smetana)

Smiley
Die kop van ’n skaap of bees. Dit word so genoem as gevolg van die "glimlag" wat ontstaan wanneer die lippe opkrul as die kop gebraai word. Onder suidelike Afrika se inheemse bevolking is dit tradisioneel net deur mans geëet. Dit word gewoonlik saam met pap geëet.
Smiley resep

smirnavy
Oorspronklik ’n Turkse vyesoort.

smoor (braise)
Langsaam gaar maak oor lae hitte in ’n toe pan, gewoonlik met ’n bietjie vog en vet.

smoorbraai
Langsaam gaar maak oor lae hitte in ’n toe pan, gewoonlik met ’n bietjie vog en vet.

smoorpan
’n Pan om kos stadig ingaar te maak.

smoorsnoek
’n Tradisioneel Suid-Afrikaanse gereg gemaak van gerookte snoek, groente, rys en rissies. (smoorvis)
Smoorsnoek resep

smoorvis
’n Tradisioneel Suid-Afrikaanse gereg gemaak van gerookte snoek, groente, rys en rissies. (smoorsnoek)
Smoorvis resep

smoorvleis
Vleis wat stadig in ’n toe pot gaargemaak word.

smoothie
’n Gladde, dik drank gemaak van vars vrugte of groente verpulp saam met ’n vloeistof. (gladdejantjie)

smorgasbord
’n Sweedse ete wat uit baie gange bestaan en in ’n spesifieke volgorde geëet word. (smörgåsbord)

smörgåsbord
’n Sweedse ete wat uit baie gange bestaan en in ’n spesifieke volgorde geëet word. (smorgasbord)

smörresbröd
’n Oop Deense brood met botter op. Die word voorgesit met ’n verskeidenheid van smere en ander eetgoed.

smul
Lekker eet.

smulkos
Kos wat lekker genoeg is dat mens daaraan kan smul.

smullekker
So lekker dat jy daaraan wil smul.

smulpaap
Iemand wat graag lekker eet en drink. (lekkerbek)

smulparty
’n Fees waartydens daar lekker geëet en gedrink word.

smulsmaak
Die smaak van iets waaraan jy smul.

snaps
’n Drankie.

snawelvrug (unicorn plant)
’n Rankplant met klein krom vruggies wat gewoonlik gepiekel word. (horingblom)

snelbuffet
’n Buffet waar mens staande iets te ete kan kry.

snelrestaurant
Lees kitskosrestaurant.

snipper (shred)
Om in klein stukkies te sny.

snipperkoek
’n Koek gegeur met stukkies vrugte.

snoek
’n Byna gladde, getande seevis, Thyrsites atun, blouswart met klein skubbetjies, tot 102 cm lank, wat aan die Suid-Afrikaanse kus op gesette tye in skole voorkom en as eetvis veral gesout verkoop word. Die naam word ook gebruik vir ’n vraatsugtige Europese soetwatervis, Esox lucius. Die Hollanders het ons snoek vernoem na laasgenoemde.
Gebraaide snoek

snoep
Baie lief vir eet.

snoepdingetjie
’n Lekker happie. (snoepgoed)

snoeper
Iemand wat van lekkernye hou.

snoeperig
Lief vir lekkernye.

snoeperye
Lekkernye. Dit verwys ook na die aksie van lekkernye eet.

snoepgereg
’n Lekkerny.

snoepgoed
’n Lekker happie. (snoepdingetjie)

snoepie
Lees snoepwinkel.

snoepkroeg
Lees peuselkroeg.

snoepseltjie
’n Klein hoeveelheid van iets eetbaar.

snoepwinkel
’n Winkeltjie waar eetgoed verkoop word.

snybeet (Swiss chard, white beet, strawberry spinach)
’n Soort beet met spinasieagtige blare. (spinasiebeet)

snyboontjie (French bean, kidney bean, haricot)
’n Lang, plat boon wat in die peul gebruik word.

snykoekie
’n Koekie uit platgerolde deeg gesny en in vet gebak.

sodabrood
’n Ierse brood wat sonder suurdeeg gemaak word. Die koeksoda in die mengsel is soortgelyk aan die wat in skons gebruik word.

sodawater
’n Verfrissende drank bestaan uitwater waarin koolsuurgas gespuit is. (spuitwater)

sodomsappel
Die appelvormige geel vrug van ’n kruipplant met ’n bitter smaak (Solanum sodomaecum).

soe-soe
Soe-soe is ’n geel peervormige groente. Dit is beter bekend as botterskorsie.

soentjies (kisses)
Klein koekies met vanielje gegeur.
Soentjies resep

soesie
’n Ligte tertdeegdoppie met ’n roomvulsel.

soesji
Rou visrepies en ander bestaddele opgerol in klewerige rys. Dit word gewoonlik voorgesit met gemmer, wasabi-pasta en sojasous.

soet nagereg (sweets)
Enige soet nagereg.

soetgoed
koekies, lekkers en ander lekkernye.

soetigheid
Iets wat soet is, soos lekkers.

soetkoekies
’n Tradisioneel kaneel-gegeurde Suid-Afrikaanse koekie met ’n halwe amandel bo-op. (soetkoek)
Soetkoekies resep

soetklontjie
Lees suikerklontjie.

soetlemoen
Lees lemoen.

soetmelk
Vars melk.

soetolie
Slaai- of olyfolie.

soetpappie
’n Eetbare plant met ’n blomkoolsmaak wat in die Hardeveld voorkom. Dit kan rou geëet of gebraai word. (kannie, jakkalskos, kanika)

soetriet
’n Plant wat lyk soos sorghum en gekou word vir die soet sap.

soetrissie (green pepper, sweet pepper)
Rissies wat nie brand nie.
Geroosterde soetrissies met fetta

soetsuur (sweet-and-sour)
’n Sous van suiker en suurlemoensap / asyn wat gereeld in die Chinese kookkuns gebruik word. Dit verwys ook na ’n smaak tussen soet en suur.

soetsuurdeeg
’n Suurdeeg wat aan brood ’n soet smaak gee.

soetvleis (sweatbread)
Die ligpienk pankreas van ’n kalf of lam. (sweserik)

soetwyn
Enigeen van ’n aantal wyne waarvan die soet smaak deur fortifikasie verkry word.

soewlaki
’n Griekse gereg van stukkies gemarineerde vleis en groente wat aan ’n pen geryg en gebraai word.

soiree [swha-ry]
Frans vir “aandpartytjie”.

soja
Gewoonlik gebruik om te verwys na die verwerkte vorm van die sojaboontjie.

sojaboontjie
’n Ronde, romerige geel boontjie met ’n hoë proteïen-inhoud.

sojamelk
’n Oplossing van sojaboonmeel in water.

sojaolie
Olie gepers uit sojaboontjies.

sojasous
’n Sous berei uit wit sojabone.

sojawrongel (bean curd)
’n Sagte Chinese kaas gemaak van die verdikte melk van sojabone. Beter bekend as tofu.

sommelier [so-my-jêr]
Frans vir “wynkelner”.

sondroog
Deur die son gedroog.

songedroog
Deur die son gedroog.

sonneblomolie
Olie uit sonneblomsaad gepers.

sonvis (John Dory)
’n Silwergrys vis met ’n swart merk aan elke kant. (jandorie)

sooi
Die proses om kos in ’n bietjie kokende water vinnig gaar te maak oor medium hitte.

sop (soup)
Vloeibare voedsel wat gemaak word deur die bestandele in water te kook.

sopbeen
’n Been, met die vleis aan of murg in, om sop van te kook.

sopblokkie
’n Blokkie van saamgeperste groente of vleisekstrak ens., waarvan sop gemaak word.

sopbord
’n Diepbord of bakkie waaruit sop geëet word.

sopie
’n Glasie sterk drank.

sopkombuis
’n Liefdadigheidsinrigting wat kos aan hulpbehoewendes verskaf.

sopperig
Soos sop.

sopskilpad
’n Groenseeskilpad van subtropiese en tropiese streke waarvan skilpadsop gemaak is.

sopvleis
Vleis en bene waarvan sop gekook word.

sorbe
Vrug van die sorbeboom. (lysterbessie)

sorbeboom
Die boom dra rooi bessies wat gebruik word vir drankies.

sorbekruid
’n Kruid wat veral in slaaie gebruik word.

sorbet
Gevriesde water wat sagter is en ’n meer korrelrige tekstuur het as roomys. Die basiese bestanddele is water, vrugtesap of vrugtepuree, wyn, spiritus, likeur of ’n aftreksel van tee of kruisement. Die woord is afkomstig van die Turkse woord chorbet en die Arabiese woord sjarbat, wat beteken "om te drink". Die dis is van Arabiese afkoms. Sneeu is oorspronklik gebruik om die gereg te maak. Dit was die eerste gevriesde nagereg, roomys het eers in die 18de eeu verskyn. Dit word bedien as nagereg of tussen gange in ’n maal. Sorbets met ’n alkoholiese basis word bedien tussen hoofgeregte.
Suurlemoen sorbet

sorbose
’n Soet, kristallyne suiker verkry uit lysterbessie.

sorghum
’n Soort gras wat gebruik word vir die maak van pap of ’n soet stroop.

sosatie
Vleisrepe wat eers ingelê is en dan aan 'n spit geryg en gebraai is. (kebab)

sosys
’n Gekruide worsie.

soteer
Wanneer jy voedsel verbruin met vet of olie in ’n pan. Wanneer die voedsel ter sprake dik is, soos byvoorbeeld met hoender, dan moet die pan na die verbruining bedek word. Wanneer die pan of pot bedek is word dit van tyd tot tyd wild geskud om te verseker dat alles eweredig aan alle kante kook. Die vloeistof wat oorbly na die kookproses word gewoonlik gebruik as ’n sous. Die woord beteken 'spring' en verwys na die manier wat die kos beweeg as jy die pan skud. (sauté, opskud)

soubise [so-bies]
Frans vir ’n puree van uie verryk met room.

soufflé [soe-fly]
’n Gereg berei met witsous, eiergeel en styfgeklopte eierwit, gebak met ’n smaakmiddel soos kaas. Die gereg rys met die ontwikkeling van stoom daarin. Dit moet vinnig gebak en vinnig bedien word, anders slaan dit neer. Dit kan ook as werkwoord gebruik word om te verwys na die proses van die gereg in ’n oond te bak.
Kaas-soufflé

soupe [soep]
>Frans vir “sop”.

souper [soe-pher]
Frans vir “aandete”.

sous
’n Bereide vloeistof wat gebruik word om die smaak van kos te verbeter.

sous américaine
’n Sous gemaak van kreef, botter en vis-velouté.

sous la cendre [soe la san-dre]
Frans vir “onder die as”. Die metode om onder houtas te kook.

sousbone
Gekookte suikerboontjies gemeng met botter, water, suiker en geurmiddels. (sousboontjies)
Sousboontjies resep

sousboontjies
Gekookte suikerboontjies gemeng met botter, water, suiker en geurmiddels. (sousbone)
Sousboontjies resep

sousbrood
Brood deurweek met sous.

souskluitjies
Kluitjies van meel of rys voorgesit met botter, suiker en kaneel.

souskom
’n Kom vir vleissous.

souslepel
’n Groot, diep lepel om sous mee te skep.

sout (salt)
’n Wit harde stof, NaCl, wat gebruik word om ’n spesifieke smaak aan kos te gee of om dit teen bederf te bewaar.

sout-en-peper-stel
Houers vir sout en peper vir gebruik aan tafel.

soutagtig
Lees souterig.

soutbeesvleis (corned beef)
Beesvleis gepreserveer met sout.

souteer
Lees soteer.

souterig
Met ’n sout smaak.

soutgees
’n Suur bestaande uit ’n oplossing chloorwaterstof in water. (soutsuur)

soutgereg (savoury)
Gegeurde gereg - dikwels met sout. (soutigheid)

southappie
Ligte, souterige happie.

soutigheid (savoury)
Gegeurde gereg - dikwels met sout. (soutgereg)

soutigheidjie
Lees southappie.

soutlepel
’n Lepel gebruik om sout oor kos te strooi.

soutloos
Sonder sout.

soutpotjie
’n Potjie met sout wat aan tafel gebruik word.

soutribbetjies
Die borsstuk van ’n skaap of lam wat met sout ingevryf is en in pekelwater geweek is. Daarna word dit gedroog voor dit gekook word. Die laaste stap is om dit oor kole te braai.

soutstrooier
’n Potjie met gaatjies wat gebruik word om sout oor kos te strooi.

soutsuur
’n Suur bestaande uit ’n oplossing chloorwaterstof in water. (soutgees)

souttert (savoury tart, quiche)
’n Oop tert met ’n onderkors en soutige vulsel.
Korslose souttert – ’n eenvoudige resep

soutvis
Vis wat gesout is.

soutvleis
Vleis gepreserveer met sterk soutwater.

soutwatervis
’n Vis wat in die see leef. (seevis)

souvlaki
’n Griekse vleissosatie. Die pen word verwyder voor dit voorgesit word.

Spaanse ertjie
Die eetbare peulgroente, Cicer arietinum, is van die oudste groente wat deur die mens verbou word. Die ertjie bevat baie proteïene. In Afrikaans is dit ook bekend as die keker, kekerertjie, dwergertjie, Indiese ertjie en garbanzo.

Spaanse omelet
’n Omelet gemaak met uie en aartappels en voorgesit met tamatie- en soetrissiesous.

Spaanse peper
Sterk peper waarvan die hoofbestanddeel fyngemaalde rooi rissies is. (rooipeper)

Spaanse rys
Rys gekook met uie, soetrissies en tamatie.

Spaanse ui
’n Ui met ’n rooi skil.

spaetzle [spêts-le]
’n Duitse deeg vir noedels wat deur ’n spesiale sif gedruk is. Dit word normaalweg gebruik vir bredies en ghoelasj. (spätzle)

spaghetti
’n Tipe pasta. "Spago" beteken tou in Italiaans. Die pasta is oorspronklik ’n produk van die Italiaanse stad Napels. Dit bestaan uit toue pasta wat tradisioneel met ’n tamatiesous en parmesaan bedien is as ’n bykos vir pluimvee of kalfsvleis. Die inwoners van Napels eet dit graag saam met sampioene, ertjies en mozzarella.
Spaghetti Bolognaise

spaghettimurgpampoen
’n Kort murgpampoen met ’n wit skil en vleis wat soos spaghetti lyk.

spanakopita
Spanakopita is ’n Griekse pastei van fillodeeg gevul met spinasie en feta.
Spanakopita

spanspek
’n Soet, sappige vrug.
Spanspek met port

spatel (spatula)
Kombuisgereedskap met ’n plat, buigbare lem. Dit word gebruik vir smeer, uitkrap en meng. (slaplemmes)

spatlo
’n Kwart brood, uitgehol en gevul met vleis, aartappels of enige van jou gunsteling bestanddele.

spätzle [spêts-le]
’n Duitse deeg vir noedels wat deur ’n spesiale sif gedruk is. Dit word normaalweg gebruik vir bredies en ghoelasj. (spaetzle)

speenvark
’n Baie jong varkie.

spek
Die laag vet tussen die vel en vleis van varke.

spekulaas
’n Plat, harde, bruin, Nederlandse soetkoekie met figuurtjies daarop gedruk.

spekvark
’n Vark wat geteel word vir spek.

spekvleis
Gesoute vleis van die rug en flanke van vark. Dit word gewoonlik verkoop in repe. (ontbytspek)

spelt
’n Haweragtige soort koring.

speltmeel
Gemaalde spelt wat gebruik word om soppe of bredies te verdik. Dit het ’n neutagtige geur.

spens
’n Vertrek waarin voedsel gestoor word.

speserye
Kruie en ander stowwe wat by voedsel gebruik word vir geur. Ook genoem kruidery.

Spesiale Laatoes (Special Late Harvest)
’n Soet witwyn wat tussen 20 en 50 g/l suiker bevat.

spieëleiers (shirred eggs)
Eiers wat in ’n vlak bak met botter, room en broodkrummels gebak word.

spinasie (spinach)
’n Groente met ’n subtiele smaak en hoë voedingswaarde. Jong spinasie kan in slaai gebruik word en hoef nie gaargemaak word nie.
Gebakte spinasie

spinasiebeet (Swiss chard, white beet, strawberry spinach)
’n Soort beet met spinasieagtige blare. (snybeet)

spinnekop (spider)
’n Stuk gietyster raamwerk met drie pote wat gebruik word om ’n pan oor die vuur te hou.

spinsuiker (spun sugar)
Suikerdrade wat as ’n dekoratiewe garnering vir nagereg gebruik word. Dit is ook waarvan spookasem gemaak word.

spiritualieë
Sterk alkoholiese drank met uitsluiting van bier en wyn.

spitskool
Kool met ’n spits kop.

splinter (sliver)
In lang stukke sny of knip.

splitertjies (split peas)
Droë ertjies in twee gesplits om te kook.

spoelkombuis
Die deel van die kombuis waar skottelgoed opgewas word.

spogbroodpoeding (queen of puddings)
’n Nagereg wat bestaan uit ’n laag frambooskonfyt, gevold deur ’n vlalaag van melk, eier en krummels. Dit word dan bedek met meringue en dan gebak.

sponskoek
’n Ligte, sponserige koek gemaak van eiers, meel en suiker.
Sjokolade en neut sponskoek

sponslekker
’n Baie sagte, ligte lekker, gewoonlik wit of ligpienk, wat sponserig is wanneer jy dit kou. Dit word van suiker en eierwit gemaak. Dit is beter bekend as ’n malvalekker.

sponsvinger
Lees vingerbeskuitjie.

spookasem
Lekkergoed met ’n donsige struktuur wat van suiker gemaak word. (suikerdons, suikerwol)

sportdrankie
’n Drankie wat vir ’n uitputtende aktiwiteit gebruik word.

sprietui (scallion, spring onion)
’n Klein ui wat nie ’n groot knol vorm nie. (stingelui, scallion)

springer
Enigeen van verskeie soorte eetbare seevisse. Ook bekend as ’n harder.

springmielies
Mielies wat oopbars tot sagte, ronde vorms wanneer dit verhit word.
Dit word ook genoem kiepiemielies, skietmielies of kuikenmielies.

spring roll
’n Chinese rolletjie van deeg wat ’n verskeidenheid van groente en/of vleis omhul en diepgebraai word.

springbok
’n Wildsbok gewild onder jagters.

springmielie
Sagte, ronde balletjies gevorm deur dit in ’n toe pot in olie te verhit. (kiepiemielies, skietmielies, kuikenmielies)

sprinkel
Die proses om ’n nat bestanddeel oor kos te drup.

spritzer
’n Drankie gemaak van sodawater en witwyn.

sprot (sprat)
’n Haringagtige seevis wat veral in die Baltiese see voorkom.

spruitkool (Brussels sprouts)
Kool met ’n aantal klein knoppies in die blaaras. (knoppieskool, Brusselse spruitjies, spruit)
Engelse spruitkool

spuitsak
’n Keëlvormige sakkie wat gebruik word vir garnering en versiering. (versiersak)

spuitversier (piping)
’n Proses van versiering. ’n Suikerpasta word deur ’n dun buis geforseer en vorm strepe en patrone op die koek. (buisversier)

spuitwater
’n Verfrissende drank bestaan uitwater waarin koolsuurgas gespuit is. (sodawater)

spys
Kos; voedsel.

spysenier
Iemand wie se werk dit is om kos en drank vir onthale en partytjies te verskaf.

spyseniering
Die werk van ’n spysenier.

spyskaart (menu)
’n Lys van verskillende geregte wat vir ’n maaltyd voorberei kan word. (menu)

spysvertering
Die omsetting in die liggaam van voedsel tot stowwe wat deur die bloed opgeneem kan word. (digestie)

spysverteringsemels
Die buitenste omhulsel van koringkorrels wat verwyder is.

staantyd (standing time)
Die tyd wat kos gegee word om nog te kook nadat dit uit die oond verwyder is nie.

stamp and go
Stamp and go in Jamaika is ’n poffertjie gemaak van ’n gekruide puree van groente of vis wat bedek word met deeg. Dit is veral gewild in die Karibiese Eilande. Dit word baie warm bedien as voorgereg of as ’n happie met 'n skemerkelkie. Stamp and go is beter bekend as acras maar word ook genoem marinades, bonbons à l'huile en surullitos in Puerto Rico.

stamper
’n Voorwerp wat gemaak is om mee te stamp.

stampkoring
Koring waarvan die doppe in ’n stampblok afgestamp is.

stampmielies
Mielies waarvan die doppe in ’n stampblok afgestamp is.

stamppot
Gereg wat bestaan uit fyn aartappels waarin groente gemeng is.

steen
’n Druifsoort waarvan wyn gemaak word. Oorspronklik verbou in die Loire-vallei in Frankryk. Dit is beter bekend as chenin blanc. (steendruif, steenwyn)

steenbras
’n Hengelvis met ’n groot kop en sterk kake. Die vleis is sag as die vis jonk is.

steendruif
’n Druifsoort waarvan wyn gemaak word. Oorspronklik verbou in die Loire-vallei in Frankryk. Dit is beter bekend as chenin blanc. (steen)

steensout
Sout verkry van ’n gesteente. (klipsout)

steentym
’n Europese plant wat gebruik word in sop en bredies.

steenvrug (drupe)
’n Sagte vrug met een groot pit.

steenwyn
Lees steen.

stein
’n Gewilde, halfsoet wit versnitwyn.

steindruif
Druifsoort waarvan stein gemaak word.

steranys (star anise)
’n Plant, Illictum anisalum, waarvan die stervormige sade ’n anysagtige smaak het

sterilisasie
’n Proses wat bakterieë en organismes met hitte vernietig.

sterkgekruide (devilled)
Sterk gegeur met smaakmiddels.

sterkgras
Lees sterkkos.

sterkkos
Kaapse bronkors (sterkgras) is ’n waterplant wat as slaai gebruik word. Die woord word ook vir Europese bronkkors gebruik - ook ’n waterplant. (brongras, bronkhorstslaai, bronslaai, waterkers)

stertstuk (aitchbone)
Vleissnit uit die dy.

stertvet
Vet wat uit die stert van ’n vetstertskaap gekook word.

steur (sturgeon)
’n Eetbare, kraakbenige soutwatervis, Acipenser sturio. Die eiers word gebruik vir kaviaar.

steurgarnaal (prawn)
’n Skaaldier wat soos ’n garnaal lyk, maar groter is. (krewel)
Steurgarnaal en stingelui sosaties

stingelui
’n Klein ui wat nie ’n groot knol vorm nie. (sprietui, scallion)

Stilton
’n Semi-harde, blou-beaarde Engelse kaas gemaak van koeimelk.

stockfisk
’n Ongesoute Noorse kabeljou. Hulle noem dit ook lutfisk.

stokboon
’n Boon wat langs stokke groei. (rankboontjie)

stokbrood
Brood gemaak deur rou deeg om ’n stok te sit en oor kole te braai.
Stokbrood resep

stokkielekker
’n Lekker waardeur ’n stokkie gesteek is sodat dit afgesuig kan word sonder om die hande taai te maak. (suigstokkie)

stokvis (hake)
’n Donkerkleurige seevis wat tot 1,2 meter lank word en veral aan die Suid-Afrikaanse Weskus gevang word.
Gebakte sout stokvis

Stollen [sjtol-len]
’n Ryk Duitse brood met speserye, neute en vrugte.

stompneus
’n Silwer vis met ’n kenmerkende stomp kop.

stoof
Die woord kan beteken die kombuistoestel met ’n oond, vir kook en verwarming. Dit verwys ook na die kookproses waar voedsel met ’n bietjie vloeistof langsaam in 'n geslote pot gaargemaak word.

stoofappel
’n Appel geskik om getowe te word. (stoweappel)

stoofpatat
’n Patat geskik om getowe te word. (stowepatat)

stoofpeer
’n Peer geskik om getowe te word. (stowepeer)

stoofsteen
Vuurvaste steen wat vir stowe gebruik word.

stoofvleis
Vleis geskik om getowe te word. (stowevleis)

stook
Alkoholiese drank maak deur die bestanddele in ’n ketel te verhit en dan af te koel. (distilleer)

stookwyn
Wyn wat gebruik word om spiritualieë te stook.

stoom
’n Kookproses waartydens voedsel blootgestel word aan die stoom van vogtigheid met ’n egalige hitte.

stoombehandelde rys (parboiled rice, malekized rice)
Halfgaar, gestoomde rys.

stoomeier
’n Geposjeerde eier. (kaaleier, kalfsoog)
Kalfsoogeier / Geposjeerde eiers

stoomkastrol
Lees stoompot.

stoompoeding (steamed pudding)
’n Klam poeding wat tradisioneel in ’n doek gaargemaak word.

stoompot
’n Pot met ’n tweede, geperforeerde boom waaronder water tot stoom verwarm word om voedsel in te kook.

stout
Sterk, donkerbruin bier.

stowe (stew)
Deur stadig te kook.

stowepan
Dit is n reghoekige pan gerond by die hoeke, met handvatsels weerskante. Die Franse naam is 'n braisière [bra-zie-êr]. Die woord word ook gebruik vir aftreksel wat by die bereiding van souse gebruik word.

strandvy
Lees suurvy.

streepvis
’n Eetbare Kaapse vis.

strem (curdle)
Die proses van verdikking.


stremsel (curd)
Stremsel is voedsel wat verdik is. Dit verwys normaalweg na die preparaat uit die maag van diere wat gebruik word om melk te verdik.

stremselpoeding
’n Gegeurde Engelse melknagereg met suiker en stremsel. (junket)

strikkiepasta
Noedels in die vorm van strikkies.

stroganoff [stro-gha-nof]
Dun repies vleis gaargemaak en voorgesit met uie, sampioene en suurroom.
Bief Stroganoff

stromboli
’n Toegevoude pizza met verskeie lae tamatiesous, kaas en ander vulsels. Dit verskil van ’n calzone wat net een keer gevou word.

stronk
Stingel van ’n plant.

strooi
Om droë bestanddele oor kos te gooi of sif.

strooibus (dredger)
’n Houer met suiker of meel waarmee kos bestrooi word.

strooisuiker
Dit het fyner korrels as suiker en los vinniger op. Dit room makliker en verleen ’n ligter tekstuur aan gebak.

stroop (syrup)
’n Dik, soet vloeistof.

stroopkoek
Lees koeksister.

strooppot
’n Pot om stroop in te kook.

strudel
Tert gemaak met strudel-deeg.
Sien Apfelstrudel.

struif
Eiers met melk, kaas en ander bestandele geklits en soos ’n pannekoek gebak. Beter bekend as 'n omelet.

stuitjie (parson’s nose, pope’s nose)
Die stertdeel van pluimvee wat effe vetterig is en soos ’n neus lyk. (stuitjiestuk)

stuitjiestuk (parson’s nose, pope’s nose)
Die stertdeel van pluimvee wat effe vetterig is en soos ’n neus lyk. (stuitjie)

stukkonfyt
Konfyt met stukke vrugte daarin.

stysel (starch)
’n Meelproduk uit aartappels, graan of ander plante.

styselkos
Kos waarvan stysel ’n belangrike bestanddeel is.

stywe pap
’n Mieliepap gemaak van ongesifte mieliemeel en voorgesit met vleissous of uie- en tamatiesous.

sub gum
’n Chinese gereg van een of meer soorte vleis of vis gemeng met groente. (subgum)

subgum
’n Chinese gereg van een of meer soorte vleis of vis gemeng met groente. (sub gum)

suédoise
’n Suédoise is ’n gestolde nagereg, gewoonlik van vrugtepuree, bedien met room of vla.

Suid-Afrikaanse Riesling
Druifsoort gebruik vir die maak van ’n droë wit wyn. (Kaapse Riesling)

suiglekker
’n Lekker waaraan mens suig.

suigstokkie
’n Lekker aan ’n stokkie waaraan mens suig.

suiker
’n Soet plantaardige stof wat uit die sap van verskillende plantsoorte verkry word.

suikerbeet
’n Soort beet wat suiker lewer.

suikerboontjie
Naam gebruik vir verskeie soorte boontjies.

suikerbrood (angel food cake)
’n Ligte koek met of sonder versiersel. (silwersuikerbrood)

suikerbroodvinger
Beskuitjies in die vorm van vingers. (vingerbeskuitjie)

suikerdons (candy floss)
Lekkergoed met ’n donsige struktuur wat van suiker gemaak word. Beter bekend as spookasem. (suikerwol)

suikerertjie
’n Jong soort dopertjie.

suikergehalte
Die perasentasie suiker teenwoordig as ’n bestanddeel.

suikergoed (sweetmeat)
Versuikerde vrugte of neute. (heelstukkonfyt)

suikerkan
’n Kan om suiker in te bewaar.

suikerklontjie
Suiker, min of meer, in die vorm van ’n blokkie. (klontjiesuiker, klontsuiker, klontjie, blokkiesuiker, suurklontjie)

suikerlepel
’n Klein lepel om suiker in koffie of tee te skep.

suikermielies (sweetcorn)
Jong sagte mieliepitte. Normaalweg is dit geblik, net so of geroom.

suikerpeer
’n Soet vroeë peer.

suikerpot
’n Pot om suiker in te hou.

suikerskil
Vrugteskil in suikerstroop gekook.

suikerspanspek
Klein, ronde soet spanspek.

suikerstrooier
’n Lepel of houer met gaatjies gebruik om suiker oor ’n gereg te strooi.

suikerstroop
Lees melasse.

suikervrugte
Vrugte wat in suiker gekook is.

suikerwol (candy floss)
Lekkergoed met ’n donsige struktuur wat van suiker gemaak word. Beter bekend as spookasem. (suikerdons)

suki-yaki
’n Japanese gereg van dun repies vleis gesoteer met uie, bamboesspruite, sampioene, noedels en sojawortel. Dit word gemeng met ’n sous en voorgesit met rou eier.

sult (brawn)
Sult is ’n koue, jellieagtige gereg wat gemaak word van die afkooksel van die kop en pote van diere. (hoofkaas)

sultana
Gedroogde geurige geel pitlose druiwe.

sultanadruiwe
Die druifsoort wat sultanarosyne lewer.

sultanarosyne
Sultanadruiwe, gedroog en sonder die pit.

sumak
’n Baksteenrooi bessie uit die Midde-Ooste en Italië wat gedroog en fyngemaal word. Dit word gebruik as spesery.

sundae
Roomys voorgesit met stroop of vrugte en neute, en soms met geklopte room.

suprêmes [soe-prem]
Franse kookkuns term gebruik vir ontbeende pluimvee-borsies of –wild. Dit word ook soms gebruik vir visfilette.

suring (sorrel, sour-sour, masha)
’n Plant met ’n suur smaak. Dit word rou geëet of gaargemaak.

surullitos
Surullitos is ’n poffertjie gemaak van 'n gekruide puree van groente of vis wat bedek word met deeg. Dit is veral gewild in die Karibiese Eilande. Dit word baie warm bedien as voorgereg of as ’n happie met ’n skemerkelkie. Surullitos is beter bekend as acras maar word ook genoem marinades, bonbons à l'huile, sowel as stamp and go in Jamaika.

sushi
Rys gebind in klein porsies met tradisionele bestanddele; normaalweg seekos.

sussie (shad)
Lees elf.

suur
’n Skeikundige verbinding wat suurstof met ander elemente bevat.

suurbessie (burberry)
’n Bessie wat gebruik word vir konfyt of distillasie. Dit kan ook in asyn ingelê word soos kappertjiesaad.

suurdadelboom
’n Boom (Tamarindus indica) uit tropiese Afrika waarvan die peule en sade as spesery gebruik word (tamarinde).
Suurdadel

suurdeeg (leaven)
Versuurde deeg wat as rysmiddel gebruik word.

suurdeegekstrak
’n Bruin vloeistof wat van suurdeeg verkry word.

suurdruiwesap (verjuice)
Suur vloeistof verkry van vrugte wat nie ryp is nie.

suurkool (pickled cabbage)
Fyngesnyde witkool wat gesout en gefermenteer word. Die oorspronklike Duitse naam hiervoor is "sauerkraut", wat "bitter kruid" beteken.

suurlemoen (lemon)
’n Liggeel sitrusvrug ryk aan vitamine C, met baie suur sap.

suurlemoentiemie (lemon thyme)
’n Soort tiemie wat na suurlemoen ruik.

suurmelk
Melk wat deur bakteriese werking dik geword het.

Suurtjie
Enige groente of vrugte wat gebruik is vir die maak van atjar.

suurvy
Die vrug van die kruipende vetplant Carpobrotus edulis. (strandvy, hotnotsvy, hottentotsvy)

swaardvis
’n Diepseevis verwant aan die marlyn. Die vleis is baie gesog.

swam
’n Soort plant wat nie blare het nie, op ander plante en verrottende plantaardige stowwe groei en voortplant deur middel van spore.

swartaalbessie (black currant)
’n Swartrooi bessie waarvan konfyt, stroop en likeur gemaak word.

swartbaars
’n Silwergroen varswaterroofvis met swart rugstekels. (kleinbekbaars, kleinbekswartbaars)

swartbekboontjie (black-eyed bean)
Die saad van ’n soort peulgroente.

swartbiskop (musselcracker)
’n Geurige hengelvis met ’n kenmerkende groot kop. Die vis het ferm wit vleis. Die vleis word growwer namate die vis ouer word. Die vis het verskeie name alhoewel daar net twee soorte in Suid-Afrika voorkom. Die name sluit in mosselkraker, poenskop, bloubiskop, witbek en witbiskop.

swartkoppersie
’n Swartkoppige Persiese skaap, Alaris alario.

swartmossel
’n Weekdier met twee skulpe wat op rotse naby die strand hou.

swartpeper
Die gedroogde bessie van ’n Asiatiese plant.

swartstroop (treacle)
’n Swart stroop wat in bakwerk gebruik word. (melasse)

Swartwoud-roomkoek (Black Forest Cake)
’n Baie ryk kersie- en sjokoladelaagkoek.
Swartwoudkoek resep

sweserik (sweatbread)
Die ligpienk pankreas van ’n kalf of lam. (soetvleis)

Switserse eiers
Eiers gebak op Gruyere-kaas, met room, geurmiddels en nog ’n laag kaas bo-oor.

Switserse kaas
’n Stewige liggeel kaas met groot gate.

Switserse rolkoek (Swiss roll)
’n Laag sponskoek bedek met ’n laag konfyt of jellie, dan opgerol en met suiker bestrooi. (konfytrol)

Switserse skyf
Kalf-, bees- of lamsvleis wat stadig in ’n vleis- en tamatiesous gaargemaak word.

swoerd (rind)
Die vel van varkvleis.

syg
Die proses van 'n vloeistof deur ’n poreuse voorwerp, bv. ’n doek, te laat loop om dit te suiwer.



Wynwoordeboek

5 comments :

  1. Anonymous6/12/10 09:27

    Wat is "sprietuie"? en wat is dit in Engels?

    ReplyDelete
  2. Anonymous6/12/10 10:55

    Sprietuie is "spring onions". Elke supermark hou dit aan.

    ReplyDelete
  3. Ek merk op dat 'n persoon appelkose eers vir 5 ure moet swawel voordat jy dit droog. Ek weet egter nie hoe swawel 'n mens 'n appelkoos nie. Kan enige iemand my asb uithelp?

    ReplyDelete
  4. Anonymous6/12/11 15:06

    Ek is op soek na 'n resep vir skaapstertjies. Kan iemand help? DUP

    ReplyDelete
  5. Anonymous15/2/12 10:31

    http://www.kookkuns.com/2012/02/skaapstertjies.html

    ReplyDelete